Skip to main content

Genesis 17 – Lewe naby My en wees onberispelik

655804-breathtaking-space-artHoofstuk 17 en 18 is verbind aan mekaar deur twee verskynings van die Here aan Abram kort na mekaar in sy nege en negentigste jaar, dertien jaar ná die vorige episode met Hagar en Ismael.

Met die eerste verskyning in hoofstuk 17 herbevestig die Here sy verbond met Abram, hierdie keer met die teken van die besnydenis en verander sy naam na Abraham.  Die twee name is eintlik variante van mekaar: “vader van vele”, en is net betekenisvol omdat dit aan die belofte verbind word dat hy die: “vader van ‘n menigte nasies” sal wees.  Ook Sarai se naam verander na Sara.  Weereens is die twee name variante van mekaar: “prinses”, en is net betekenisvol omdat dit verbind word aan die eerste direkte belofte aan haar dat die nageslag uit haar gebore sal word.

Met die tweede verskyning in hoofstuk 18 herbevestig die Here in die gedaante van drie persone sy belofte aan Abraham en Sara van ‘n nageslag, dié keer met ‘n definitiewe datum daaraan gekoppel en lig Abraham in oor wat die Here met Sodom en Gomorra gaan doen.

Lewe naby My en wees onberispelik

God gebruik die lewe van Noag as ‘n voorbeeld vir Abram soos ‘n mens kan sien in die ooreenkoms van die beskrywing van Noag se lewe met God wat hier as ‘n opdrag deurgegee word aan Abraham: “Lewe naby My en wees onberispelik”.  “Onberispelik” is hier ‘n beter vertaling van die Hebreeuse woord tā·mîm wat in die NAV vertaling as: “opreg” weergegee word.  Vergelyk die opdrag aan Abram met die beskrywing van Noag: “Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef”.  (Gen. 6:9).  Dit kom ook ooreen met die beskrywing van die lewe van Henog (Gen. 5:24).

Om naby God te leef – om met Hom te wandel, soos dit ook vertaal kan word – is een van die wonderlikste werklikhede wat vir elkeen wat hom- of haarself ‘n gelowige noem beskikbaar is, soos Miga baie jare later sou sê: “wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Mig. 6:8).  Luther sou dié frase met die bekende Latynse coram Deo in sy lewensveranderende traktaatjie The Babylonian Captivity of the Church, weergee wat in 1520 tot ‘n wydverspreide herlewing as deel van die Hervorming aanleiding gegee het.

Maar, dan vra dit ‘n doelgerigte fokus om “onberispelik” in jou lewenswandel te wees, sodat dit God waardig kan wees.  Soos Psalm 119:1 sê: “Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here.” God vra dus van Abram om net so moreel blaamloos en in gedrag onberispelik te lewe soos wat Noag dit voor hom gedoen het.

Dit sluit in om te doen wat reg is en met ‘n mens se hele hart die waarheid te praat (Ps. 15:2). Dit beteken dat ‘n mens jou weerhou van opsetlike sondes en nie toelaat dat dit oor jou heers nie (Ps. 19:14).  Dit is dan wat ‘n mens kan staatmaak op God se beskerming (Spr. 2:7, 21; 11:20).  God het ons immers: “uitverkies om heilig en onberispelik (amōmos – moreel gesproke blaamloos) voor Hom te wees,” soos Paulus in die NT in Efesiërs 5:27 verkondig, veral uitgespel in terme van gedrag (Tit. 1:6 – anenklētos – sonder beskuldiging, dw.s. blaamloos).

God se verbond sluit ‘n nageslag en ‘n grondgebied in

Die verbondsluiting word herhaal om nie net nog duideliker uit te spel wat die voordele daarvan vir Abraham en sy nageslag sal wees nie – d.w.s ‘n “menigte nasies” en die hele land Kanaän (die eerste keer wat dit gespesifiseer word) – maar om ook twee ekstra dinge te beklemtoon: die blywende karakter daarvan en die besnydenis as teken van die verbond.

Waar Noag die reënboog in die hemel gekry het as teken van die verbond, kry Abraham die besnydenis van elke manlike nasaat as teken van die verbond.

Die reënboog is iets wat God op ‘n natuurlike wyse laat verskyn as ‘n teken van sy verbintenis aan die aarde.  Dit is eintlik ‘n herinneringsteken vir God self.  Elke keer wat die reënboog op aarde sou verskyn, sou dit God herinner daaraan dat Hy die aarde en sy mense genadig moet wees.

Die besnydenis darenteen is iets wat van Abraham gevra word as verbintenis aan die verbond.  Met elke manlike geboorte sou dit die geloofsgemeenskap herinner aan hulle blywende verbintenis aan God.  Net so permanent as wat die besnydenis in die vlees van elke man sou wees, so permanent is die verbintenis aan God in die verbond wat Hy met hulle gesluit het.

Trouens, elke keer wat ‘n man met ‘n vrou gemeenskap sou hê, sou die besnydenisteken hulle herinner aan die feit dat God van hulle vra dat hulle naby Hom en onberispelik moet leef.  ‘n Kragtige herinnering nie net aan ‘n moreel-etiese lewe binne die uitdagings van die Kanaänitiese afvallige seksuele praktyke nie, maar ook ‘n herinnering daaraan dat hulle onberispelik voor God moet leef.

Dit is interessant dat die Joodse skrywer Philo, ‘n tydgenoot van Jesus en Paulus, vier redes lys waarom die besnydenis as teken gekies is.  Dit was volgens hom vir: 1) gesondheid, 2) reinheid, 3) ‘n herinnering aan voortplanting en 4) vrugbaarheid (Special Laws).  Hy lys dan twee redes wat sy eie denke verteenwoordig, maar wat hy as die mees belangrike beskou:

  • eerstens om die volk op ‘n simboliese manier te leer dat hulle wellus moet vermy en hulle gedagtes rondom seks moet beheer;
  • tweedens om die volk te leer dat ‘n mens nie geestelik volmaak kan word as jy nie alle boosheid uit jou hart weer nie.

Uiteraard het dié teken dus om baie meer gegaan as net die moreel-onberispelike seksuele lewe wat daarmee van die volk gevra is.  Dit het oor die hele wandel met God gegaan.  Reeds in Deuteronomium word die besnydenis as ‘n teken van ‘n dieper geestelike realiteit gebruik – die besnydenis van die hart – wat dui op ‘n onberispelike gehoorsaamheid aan die wet en Woord van God (Deut. 10:16; 30:6), iets waarop Jeremia (Jer. 4:4; 9:25) en later Paulus ook klem gelê het, met spesifieke verwysing na Abraham (Rom. 2:28-29; 4:11-12; 1 Kor. 7:19: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God”; Gal. 5:6,11; 6:15; Fil. 3:3: “Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie.”).

Abraham vind die belofte uiters onwaarskynlik

Abraham vind die belofte uiters onwaarskynlik vanweë hulle ouderdom en dink steeds dat Ismael die enigste moontlike uitkoms vir hulle sal wees.  Die Here herhaal egter sy belofte sonder om Abraham te erg tereg te wys en belowe dat Isak oor ‘n jaar vir hulle gebore sal word.  God sal só sy verbond nakom as ‘n bevestiging aan Abraham dat hy God kan vertrou.

Tot Abraham se krediet gehoorsaam hy die Here en vat “op daardie selfde dag” alle manlike lede van sy uitgebreide huishouding, slawe ingesluit, en laat hulle almal besny.  Abraham is self ook besny.  En daarmee het die die afwagting vir die vervulling begin wat ‘n jaar later ‘n werklikheid geword het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda