Genesis 47-48 – Jakob seën die farao sowel as Josef se twee seuns
Die laaste vier hoofstukke van Genesis brei uit oor die wyse waarop Jakob en sy seuns in Egipte vestig vir die fase van nasiebou, hoewel dit nie net ‘n lang tyd sou neem nie, maar ook groot ontberinge sou insluit. Die volgende temas word aangestip in die proses:
- Jakob seën die farao met hulle eerste ontmoeting – Gen. 47:1-12
- Josef verstewig die farao se greep op die mense en sy land – Gen. 47:13-26
- Jakob seën Josef se twee seuns – Gen. 47:27-48:22
- Jakob seën die res van sy seuns – Gen. 49:1-28
- Josef stel sy broers gerus met Jakob se dood dat God steeds vir hulle sal sorg – Gen. 49:29-50:21
- Josef herinner sy broers met sy eie dood dat God hulle sal terugneem na die beloofde land – Gen. 50:22-26
Ons lees die eerste drie temas as ‘n eenheid en daarna ook die laaste drie temas in die volgende bydrae.
Jakob seën die farao met hulle eerste ontmoeting – Gen. 47:1-12
Josef neem duidelik verantwoordelikheid vir die hele proses van Jakob en sy familie se vestiging. Eers neem hy vyf van sy broers saam – ons weet nie watter vyf nie – om die onderhandelinge rondom die verblyf in Gosen te reël.
Let op dat hulle: “as vreemdelinge” daar wil woon, in lyn met hulle verstaan dat hulle toekoms eintlik in die beloofde land lê. ‘n Mens sal dié sentiment weer hoor in die lewe van Moses wanneer hy sy eersteling by Sippora Gersom noem, “want,” het hy gesê, “ek woon as vreemdeling in ’n vreemde land.” (Eks. 2:22; 18:3 – die naam herinner aan die Hebreeuse woord vir “vreemdeling”).
Hierdie belydenis van vreemdelingskap sou ‘n belangrike deel van die Israelietiese credo word, soos Moses in Deuteronomium die volk leer om in die beloofde land te sê: “My vader was ’n Arameër wat van plek tot plek getrek het. Hy het na Egipte toe gegaan en met min mense daar as vreemdeling gaan woon. Daar het hy ’n groot, sterk en talryke nasie geword.” (Deut. 26:5 vv).
Farao is só beïndruk met die onderhandelinge dat hy voorstel dat van Josef se broers verantwoordelikheid neem vir die farao se eie vee.
Dit open die weg vir ‘n ontmoeting tussen Jakob en die farao. Twee keer vertel die skrywer vir ons dat Jakob die farao geseën het, met hulle voorstelling aan mekaar, sowel as toe hulle afskeid neem van mekaar.
Die Hebreeuse werkwoord wǎy·ḇā·rěḵ in vers 7 en 10 kan wel met: “en hy het gegroet” vertaal word, soos in die NAV, maar die ander betekenis van dié werkwoord: “en hy het geseën” maak vir my baie meer sin. Dit is immers waartoe die aarsvaders geroep is, om tot ‘n seën vir die nasies te wees. Daarom het die OAV dit dan ook briljant soos volg vertaal: “gegroet met ‘n seënwens” soos verskeie ander vertalings en kommentators dit ook gedoen het.
Dit is merkwaardig dat Jakob – die een wat sy tweelingbroer Esau uit sy eersgeboortereg gemanupileer het, en sy pa Isak bedrieg het om die seën wat bedoel was vir Esau in sy plek te ontvang – die een word wat hier vir farao seën. Trouens, in lyn met die belofte en roeping aan al drie aartsvaders, neem Jakob sy posisie in as die fasiliteerder van God se seën vir al die families op aarde. Dat hy nou sy roeping om tot ‘n seën te wees volledig kan omhels, getuig van ‘n totale transformasie van karakter.
Let op dat Jakob daarby homself nie net as ‘n ou man wat baie swaargekry het, voorstel nie, maar veral as: “’n vreemdeling hier op aarde.” Daarmee sluit Jakob nie net aan by wat sy seuns oor hulle verblyf in Egipte vroeër gesê het nie, maar maak hy self ‘n fundamentele uitspraak oor die geloofsgemeenskap.
Soos die Hebreërskrywer later van al drie die aartsvaders sou sê, het hulle: “uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.” (Hebr. 11:10). Dit het hulle nie afgesit dat hulle in dié lewe die belofte van God nie volledig in ontvangs kon neem nie, want hulle: “het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.” (Hebr. 11:13).
Dit is só ‘n belangrike ding vir ons as geloofsgemeenskap om vir ons eie tyd te omarm. Ons word ook geroep om nie só vas te gryp aan die tydelike verblyf wat ons hier op aarde het nie. Ons word ook geroep om te lewe met die uitsig op die stad van God wat vir ons wag. Trouens, sê die Hebreërskrywer: “Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ’n vaderland. As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. Maar hulle het na ’n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak.” (Hebr. 11:14-16).
Josef het hulle daarom in Rameses – hulle sou later voorraadstede vir die farao daar bou (Eks. 1:11) – laat woon in die land Gosen, soos hy voorgestel het en die farao hom beveel het. Daar was hulle almal goed versorg, al was dit ook baie duidelik dat hulle as vreemdelinge daar sou vertoef, totdat daar ‘n dag sou kom dat hulle die roepstem van God terug na die beloofde land sou hoor.
Josef verstewig die farao se greep op die mense en sy land – Gen. 47:13-26
Die hongersnood het nie net die hele ekonomie in Egipte verander nie, maar op ‘n beslissende wyse die manier waarop grond en grondeienaarskap hanteer is, verander. Die kosvoorsiening aan honger mense het nie net die farao ryk gemaak nie, maar hom die alleenbesitter van alle lewende hawe en grond gemaak. In effek het die bevolking sy slawe geword, behalwe vir die priesters wat ‘n mate van onafhanklikheid kon handhaaf.
Die gebruik om ‘n vyfde van die opbrengs vir die farao as teëprestasie vir sy voorsiening te gee, sê die skrywer, dateer ook uit dié tyd. Dit moet ‘n mens natuurlik laat besef dat hierdie konsep van slawerny anders is as die tipe slawerny waarvan die Westerse samelewing met reg afstand gedoen het, ‘n sisteem wat per definisie onderdrukkend en mensonterend was.
In ‘n sekere sin kon die lewe egter eenvoudig aangaan met die voorsiening van die farao vir sy mense, behalwe vir die 20% “belasting” en die gebrek aan private eiendomsreg. Dié reëling was dus op die oog af ‘n wedersydse voordelige een, hoewel dit later met die slawerny van die Israeliete ‘n bose wending sou neem. Die gevaar van uitbuiting en onderdrukking was dus steeds onderliggend deel van dié sisteem.
Wat egter duidelik is, is dat die hongersnood die Egiptiese gemeenskap fundamenteel verander het. Soos Robert de Vaux in sy History of Israel dit opsom: “Two facts that are established beyond doubt … are the sovereign right of the Pharaoh over the whole land and the extent of the crown domains and of those belonging to the priests, between them covering almost the whole of the land of Egypt. The most striking characteristic of this system was that the principal landowners were institutions and that the right of private ownership was … hardly developed at all”.
Josef en sy mense het ‘n belangrike rol hierin gespeel, iets wat ten diepste op God se ingrype in die geskiedenis van die wêreld berus.
Jakob seën Josef se twee seuns – Gen. 47:27-48:22
Dit wil voorkom asof die Israeliete ‘n groter mate van vryheid geniet het deurdat hulle die Gosenstreek as eiendom ontvang het. Die feit dat hulle vrugbaar was en baie geword het, sou natuurlik later vir hulle ‘n probleem word met toekomstige faraos. Hier was dit egter nog die teelaarde vir die belofte van vrugbaarheid waarmee die Here hulle geseën het.
Na sewentien jaar in Egipte het Jakob egter sy sake in orde begin kry toe hy agterkom dat sy einde nader kom. Hy vra dat Josef beloof om hom in Kanaän te gaan begrawe in die Makpelagrot, soos Josef dit dan ook na sy dood doen, soos ons later in Genesis lees.
Hoe roerend staan dit nie daar dat “Israel” daar op sy bed gebuig het voor God nie. Jakob was die een wat met God en met mense gestry het, en toe agtergekom het by die Jabbokrivier dat dit eintlik God is wat vir hom stry. Waar hy voorheen téén mense en selfs téén God gestry het, het God die Een geword wat vír hom gestry het!
Soos Paulus jare later dit sou uitroep in sy diep oordenking oor die stryd en lyding wat ons ervaar in hierdie lewe: “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? … Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons … Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom. 8:31-39).
’n Rukkie hierna bring Josef sy twee seuns Manasse en Efraim na die siekbed van Jakob. Jakob herinner Josef aan God se verskyning en belofte van vrugbaarheid by Bet-El (Lus). Hy verseker Josef dat dit sy twee seuns, Efraim en Manasse insluit: “Jou twee seuns wat hier in Egipte vir jou gebore is voordat ek hier na jou toe gekom het, Efraim en Manasse, is vir my soos my eie, soos Ruben en Simeon is hulle vir my.” Dit sluit ook sy toekomstige kinders in. Hulle sal saam met hulle broers erf.
Jakob begin daarom met ‘n seën vir Josef waarin hy baie spesifiek die seën van die voorvaders nie maar net vir Josef afbid nie, maar vir Josef se kinders. Daarmee bid Jakob dat dié God naby wie Abraham en Isak geleef het, dié God wat vir Jakob van sy geboorte af tot nou toe gesorg het, wat deur sy Engel hom uit elke moontlik gevaar gered het, dat dié God Josef se seuns sal seën.
Jakob weet dat daardeur sy naam, en ook dié van sy voorvaders, sal voortleef in hulle, sowel as in die vrugbaarheid van hulle nageslag. Die laaste gedeelte van hierdie meer algemene seën kan ook soos volg vertaal word: “mag die seuns vermeerder en baie word op die aarde.” Daar is heel waarskynlik ‘n meer universele toepassing van dié seën merkbaar in Jakob se visie vir die toekoms, soos Peterson vertaal: “And may they grow covering the Earth with their children.” (The Message).
Jakob seën ook in ‘n baie besondere gebaar dié twee seuns meer spesifiek, maar anders as wat Josef verwag, die jongste Efraim bó dié oudste Manasse, soos dit ook in die geskiedenis van die Godsvolk uitgespeel het. Die tema van die jongste wat bó die oudste verkies word, word voortgesit soos dit die geval was met Abel en Kain, Peres en Serag, en natuurlik Jakob en Esau. Hierdie keer is dit egter nie die blinde Isak wat bedrieg word nie, maar die amper blinde Jakob wat self besluit hoe hy die seën gaan gee.
Jakob herinner Josef daaraan dat hulle eintlike toekoms in Kanaän lê: “God sal by julle wees. Hy sal julle terugbring in die land van julle voorvaders.” Hy gee ook ‘n meer persoonlike erfenis vir Josef, die stuk grond wat hy in Sigem van die seuns van Gamor gekoop het. Josef se beendere is ook later met die Intog daar begrawe (Jos. 24:32). Die verwysing na ‘n skermutseling met die Amoriete om dié stuk grond te kry, is nie baie duidelik nie, hoewel dit na die ongelukkige geskiedenis van Simeon en Levi kan verwys wat al die mans van Sigem uitgemoor het ter wille van hulle suster Dina.
View all posts in this series
- God gee Genade vir Geloofsgemeenskappe - Oct 5, 2016
- Die Pentateug
- Hoe lees ons die verhale in die Bybel?
- Lees, Luister, Leef
- Genesis – Die oorsprong van alle dinge - Oct 6, 2016
- Genesis in sy ontstaanswêreld
- Die verskille oordonder die ooreenkomste
- Indeling
- Genesis 1:1-2:3 – In die begin het God die hemel en die aarde geskep - Oct 7, 2016
- Genesis 2:4-25 – Dit is nie goed dat die mens alleen is nie - Oct 8, 2016
- Genesis 3 – Die mens kruip vir God weg weens die sonde - Oct 10, 2016
- Genesis 4 – Kain oorweldig vir Abel en maak hom dood - Oct 11, 2016
- Genesis 5 – Adam het ‘n seun na sy beeld - Oct 12, 2016
- Genesis 6 – God is bedroef dat Hy die mens gemaak het, maar begenadig Noag - Oct 13, 2016
- Genesis 7 – Ek het jou gesien en bevind jou regverdig - Oct 15, 2016
- Genesis 8 – Toe het God gedink aan Noag en al die diere in die ark - Oct 16, 2016
- Genesis 9 – God sluit ‘n verbond met alle lewende wesens - Oct 18, 2016
- Genesis 10 – Uit Noag en sy nageslag versprei die nasies oor die aarde
- Genesis 11 – God bring ‘n taalverwarring en beweeg Tera om na Kanaän te trek - Oct 19, 2016
- Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwys - Oct 21, 2016
- Genesis 13 – God herhaal sy belofte van die land en ‘n groot nageslag aan Abram
- Genesis 14 – Abram seën en straf nasies op die wêreldverhoog - Oct 22, 2016
- Genesis 15 – Die Here belowe beskerming en beloning in ‘n verbond met Abram - Oct 24, 2016
- Genesis 16 – Abram val vir die versoeking om self ‘n nageslag te voorsien - Nov 14, 2016
- Genesis 17 – Lewe naby My en wees onberispelik - Nov 15, 2016
- Genesis 18 – Abraham se gasvryheid sluit die lewe vir almal oop - Nov 16, 2016
- Ekskursus: Kan God van gedagte verander?
- Genesis 19 – Losbandigheid en bloedskande bedreig familiewees - Nov 17, 2016
- Genesis 20 – Abraham tree as profeet op ten spyte van sy onbehoorlike gedrag - Nov 18, 2016
- Genesis 21 – Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het - Nov 19, 2016
- Genesis 22 – Nou weet ek dat jy My dien - Nov 21, 2016
- Genesis 23 – Sara word begrawe in die Makpelagrot as vervulling van die landsbelofte - Nov 22, 2016
- Genesis 24 – God gee vir Isak ‘n gasvrye vrou wat hom vertroos na die dood van Sara - Nov 23, 2016
- Genesis 25:1-18 – Abraham omhels die roeping van God enduit - Nov 24, 2016
- Genesis 25:19-34 – Esau minag sy eersgeboortereg en verkoop dit aan Jakob - Nov 25, 2016
- Genesis 26 – Isak beweeg van rusies na die ruimte wat die Here hom gee - Nov 26, 2016
- Genesis 27:1-45 – Rebekka en Jakob se bedrog bedreig die geloofsgemeenskap se voortbestaan - Nov 30, 2016
- Genesis 27:46-28:22 – Die Godsverhouding en die beskerming van die huwelik bevestig die geloofsgemeenskap - Dec 1, 2016
- Genesis 29-30 – Jakob word sterk in die stryd met Laban - Dec 2, 2016
- Genesis 31 – Die Here stuur Jakob as ‘n ryk man weer terug na Kanaän - Dec 3, 2016
- Genesis 32 – Jakob worstel enduit met God en word verander van bedrieër na begenadigde - Dec 5, 2016
- Genesis 33 – Jakob bely teenoor Esau dat God goed was vir hom - Dec 6, 2016
- Genesis 34 – Dina se verkragting word met koelbloedige moord beantwoord - Dec 7, 2016
- Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin het - Dec 8, 2016
- Genesis 36 – Esau verlaat die beloofde land en slaan sy eie koers in - Dec 9, 2016
- Genesis 37 – Josef die dromer word ‘n slaaf in Egipte - Dec 10, 2016
- Genesis 38 – Tamar tree as verlosser op in Juda se afvalligheid en losbandigheid - Dec 12, 2016
- Genesis 39:1-20 – Josef weerstaan Potifar se vrou om aan God en sy baas getrou te bly - Dec 13, 2016
- Genesis 39:21-40:23 – Josef lê drome uit in die tronk met God se hulp - Dec 14, 2016
- Genesis 41 – Josef se lot word dramaties verander van vergete na vrugbaar - Dec 15, 2016
- Genesis 42 – Jakob se seuns word deur God uitgedaag in Egipte - Dec 16, 2016
- Genesis 43 – Jakob stuur Benjamin na Egipte in die hoop dat God hulle barmhartig en genadig sal wees - Dec 17, 2016
- Genesis 44 – Juda offer sy lewe vir Benjamin op toe God hulle sonde aan die lig bring - Dec 19, 2016
- Genesis 45 – Josef omhels sy broers en verklaar dat alles God se werk was - Dec 20, 2016
- Genesis 46 – Jakob trek Egipte toe en herenig met Josef - Dec 21, 2016
- Genesis 47-48 – Jakob seën die farao sowel as Josef se twee seuns - Dec 22, 2016
- Genesis 49-50 – Jakob seën sy seuns met die oog op die toekoms - Dec 23, 2016
- Oor die woord van Sarai - Jun 20, 2018