Skip to main content

Genesis 42 – Jakob se seuns word deur God uitgedaag in Egipte

Ons is geneig om God se teenwoordigheid in ons lewe te meet aan die goeie dinge wat met ons gebeur.  Hierdie episode in die lewe van Josef se broers wys ons dat God ook teenwoordig is in die slegte dinge wat met ons gebeur.  Die hongersnood wat Jakob se seuns na Egipte dryf, die beskuldiging van Josef dat hulle spioene is, die drie dae in die tronk, die gevangeniskap van Simeon, die geld in hulle sakke wat hulle as diewe kan brandmerk, dit alles is dinge wat lei tot die groeiende besef by die broers dat hierdie dinge nie maar onbeplande ongelukke langs die pad is nie.

In hulle radelose vrees kom hulle agter dat God daarin teenwoordig is: “Wat het God ons nou aangedoen?”  Die slegte dinge wat in Egipte met hulle gebeur, word algaande vir hulle tekens van God se teenwoordigheid, hoewel hulle nie die volle boodskap daarvan nou al kan raakvat nie.  Wat die leser egter begin agterkom, is nie net dat God agter die slegte dinge is wat met hulle gebeur nie, maar dat Hy met ‘n proses besig is om hulle tot selfinsig te bring oor die leed wat hulle Josef aangedoen het wat uiteindelik sal lei tot versoening.

Die hongersnood in Kanaän is duidelik baie swaar sodat Jakob inisiatief neem en sy seuns na Egipte stuur.  Hoe hy gehoor het dat daar koring in Egipte is, word ons nie vertel nie, maar hy is duidelik in sy opdrag dat hulle daar koring moet gaan koop.

Jakob trek egter steeds Ragel se enigste oorblywende kind, Benjamin, voor en stuur hom nie saam nie: “netnou gebeur daar iets met hom!”  Let op dat hy steeds as Josef se broer beskryf word.  Jakob kon net nooit die herinnering aan Josef laat gaan nie.

Let ook op hoe die skrywer die broers: “seuns van Israel” noem, want dit is juis in Egipte wat die nageslag van Jakob die nasie van Israel sou word.  Saam met ‘n klomp ander mense uit Kanaän het hulle dus gaan koring koop in Egipte.

In Egipte buig die boers diep voor Josef wat self streng beheer oor die verkoop van die graan aan die mense uitgeoefen het.  Josef het sy broers herken, maar hulle nie laat agterkom wie hy is nie, en hulle baie bruusk hanteer.

Met sy navraag na hulle plek van oorsprong word weereens gesê dat hy hulle herken het, maar dié keer is dit duidelik dat hy ook aan sy drome van vroeër begin dink en sin probeer maak van wat hom te doene staan.  Hy kies om hulle as spioene te brandmerk wat die land kwaad wil aandoen.

Dit ontlok by hulle ‘n stuk eerlikheid oor wie hulle is, en laat hulle interessant genoeg fokus op die eenheid tussen hulle as kinders van een pa.  Hulle gee selfs meer inligting as wat nodig is deur van die jongste te praat wat nog in Kanaän is, sowel as van die een wat nie meer leef nie, dit is natuurlik Josef, hoewel hulle nie sy naam noem nie.

Josef se reaksie is om hulle aan ‘n toets te onderwerp of hulle die waarheid praat.  ‘n Mens dink onmiddelik aan die leuen wat hulle oor Josef vir Jakob vertel het dat hy deur diere opgevreet is.  Josef weet natuurlik self wat die waarheid is, maar sy toets is gemik daarop dat daar selfinsig kom by die broers oor wat hulle aan hom gedoen het, die een wat nie meer leef nie.

Josef laat hulle ook drie dae aanhou in die tronk, waarskynlik in presies dieselfde tronk waar hy vir dertien jaar onregverdiglik aangehou is.  Dit sou hulle iets laat ervaar van sy wroeging in die onsekerheid van wat die toekoms regtig inhou.

Op die derde dag gee Josef vir hulle ‘n baie verrassende stukkie inligting oor homself: “Ek dien God!” Hy versag ook sy voorwaardes en hou net vir Simeon agter en stuur hulle om hulle jongste broer te gaan haal, sodat Josef kan weet hulle is eerlike mense wat die waarheid praat.

Let op hoe hulle onmiddelik verstaan dat hier iets met hulle gebeur wat hulle konfronteer met die leed wat hulle hulle broer Josef aangedoen het: “Dit het ons nou van alles wat ons destyds ons broer aangedoen het. Ons het sy angs gesien toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie. Nou sit ons met dieselfde angs.

Toe Josef hoor hoe Ruben hulle herinner daaraan dat hy vir Josef opgekom het – iets wat hy waarskynlik nie geweet het nie – kan Josef sy emosies egter nie beheer nie, en het eers eenkant gaan huil voor hy sy verdere plan in werking gestel het.

Hy stuur hulle met padkos terug, en versteek ook hulle geld in hulle sakke. Toe een van die broers die geld in sy sak ontdek, het die insig uiteindelik begin opdaag dat hier iets meer aan die gang is as wat hulle gedink het.  God was hierin teenwoordig. Dit is Hy wat dié dinge laat gebeur het.  Die vraag was net, wat was God se doel daarmee?  Sou God se werk ‘n straf wees of ‘n seën?

Toe hulle terug is by die huis het hulle alles vir Jakob vertel wat gebeur het, redelik uitvoerig, maar een detail verander.  In plaas daarvan om Jakob van Josef se negatiewe planne te vertel – hy het gesê hy sal hulle doodmaak as hulle Benjamin nie saambring nie – verander hulle dit in ‘n positiewe boodskap dat hulle dan vry sal kan rondbeweeg in die land.

Waarskynlik doen hulle dit om Jakob te oorreed om vir Benjamin saam te stuur.  Groot was hulle ontsteltenis egter toe hulle met die leegmaak van die graansakke agterkom dat elkeen se beursie met geld in die sakke geplaas is.  Die uitdaging om terug te gaan, het skielik eksponensieel groter geword.

Jakob se emosionele reaksie – let op hoe egosentries hy dit stel: “En ek ly daaronder” – kan egter nie die uiteindelike terugreis na Egipte voorkom nie, veral toe Ruben volledig verantwoordelikheid aanvaar om Benjamin terug te besorg vir sy pa.  Jakob moes uiteindelik instem, soos ons in die volgende hoofstuk sal sien.

Die proses om die broers tot inkeer te laat kom – om hulle gewetens deur die proses van versoening skoon te maak – dié proses sou nog ‘n hele tyd lank neem voor die lug tussen die broers en Josef en tussen die broers en God gesuiwer sou wees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar