Genesis 25:19-34 – Esau minag sy eersgeboortereg en verkoop dit aan Jakob
Ons kom by die derde fase van die verbond met die aartsvaders, die verhaal van Isak. Die eerste fase was die uitgebreide verhaal van Abraham met die tweede fase die kort geslagsregister van Ismael met twee kort opmerkings oor hom in die vorige perikoop.
Soos dit die geval was met Abraham se verhaal wat as deel van sy pa Tera se storie vertel is, is dit ook nou weer die geval. Jakob se verhaal word van die begin af as deel van Isak se storie vertel. Dit wys net hoe integraal die verhale van die groot Godsfigure met dié van hulle families en geloofsgemeenskappe verweef is.
Getrou aan die aard van die wyse waarop die boek Genesis die verhale van die aartsvaders aanbied, is dit weereens duidelik dat die verhaal van Isak, Jakob en uiteindelik Josef die verhaal van die “verkose” families is. Die hele verhaal van die “verkose” families met al sy intriges word vertel, soos dit ook die geval was met die verhaal van Abraham. Net die geslagslyste van die “verwerpte” families word egter vertel, soos dit in die vorige perikoop die geval was met die verhaal van Ismael.
Die verkose families raak deel van God se storie met hierdie wêreld. Die verwerpte families staan God se storie met die wêreld teë.
Die tweeling Esau en Jakob
Isak se verhaal begin met twee belangrike mededelings wat die tafel dek vir die ontwikkeling van die res van sy verhaal. Die eerste mededeling is sy huwelik met Rebekka waarin spesifiek genoem word dat sy die suster van Laban die Arameër was. Die kort verwysing laat ‘n mens alreeds in afwagting van die verhaal van Jakob se stryd met Laban om ‘n billike hantering waarin Laban se gierigheid gekontrasteer word met God se genade in die lewe van Jakob.
Die tweede mededeling is dat Rebekka kinderloos was wat Isak in beweging gebring het om die Here te vra vir ‘n kind vir Rebekka. Die profesie wat oor haar uitgespreek is van tienduisende kinders het nie gou tot vervulling gekom nie. Gelukkig was sy ook die vrou wat Isak regtig liefgehad het. Kyk sommer vorentoe hoe Abimelek “per toeval” gesien het hoe Isak vir Rebekka “liefkoos” (Gen. 26:8)! Daar was ‘n goddelike vonk tussen dié twee.
Isak word met sy gebed vir haar ‘n Intersessor, net soos sy pa dit was, en hier spesifiek vir sy eie familie. Die feit dat dit amper in een sin vertel word dat sy gebed verhoor is, moet jou egter nie mislei dat dit vinnig gebeur het nie. Dit neem amper net so lank vir hom as vir Abraham om sy eerste kind uit die hand van die Here te ontvang, want die tweeling word eers twintig jaar later gebore.
Waar Isak menigmaal eintlik as ‘n diep introvert geteken word, staan sy gebedskrag en liefde vir sy vrou duidelik uit as uitstaande kenmerke van dié Godsman. Waar sy pa Abraham op die internasionale verhoog gedy het en konings verslaan het, blink Isak uit in die meer private omgewing van sy eie familie … hoewel hulle sy saggeaardheid liederlik misbruik het. Maar nou gryp ek te ver vooruit.
Die gebedsverhoring na twintig jaar beteken ook nie dat dit ‘n tydperk van maanskyn en rose ingelei het vir Isak en Rebekka nie. Inteendeel. Dit stel hulle bloot aan die enorme magspel wat van vóór die tweeling, Esau en Jakob, se geboorte al geheers het tussen hulle. Die kinders het letterlik mekaar probeer “breek” in die baarmoeder! Rebekka is só raadop daarmee dat sy die Here (deur ‘n plaaslike profeet of priester?) raadpleeg oor die oorlog wat binne haar gevoer word.
Die antwoord voorspel ‘n voortdurende stryd soos dit inderdaad tussen die Edomiete (Esau) en Israeliete (Jakob) van dié punt af geheers het. Dit het eeue later selfs ‘n poging tot ‘n Joodse volksmoord deur Haman, ‘n Edomiet, in die verhaal van Ester, ingesluit. Meesal het die skoen egter aan die ander voet gepas, want Israel het talle veldslae teen Edom gevoer en gewen (bv. Saul in 1 Sam. 14; Dawid in 2 Sam. 8; 2 Konings 8:22 sê: “Tot vandag toe is Edom in opstand teen die gesag van Juda.”).
Die rede vir die negatiewe oordeel oor Edom in die Skrif is die minagting wat Esau heel gou betoon teenoor sy eersgeboortereg. Die agtergrond daarvan lê onder andere in die feit dat sy pa Isak – ‘n gesonde en waarderende wildsvleis eter, wil dit voorkom! – Esau voorgetrek het. Daarteenoor het Rebekka weer vir Jakob voorgetrek. Dit het natuurlik ook nie gehelp in die broeiende konflik tussen dié twee broers nie!
Maar die feit dat Esau sy eersgeboortereg verkoop vir ‘n pot lensiesop (eintlik net ‘n bredie) kan waarskynlik onder andere uit sy witbroodjie status by Isak verklaar word. Hy het regtig nie gedink dat sy pa hom enigsins anders sou behandel, selfs al het hy sy eersgebore reg aan sy broer met ‘n eed beloof.
Dieper as dit het Esau hom egter misgis nie net met sy pa nie, want dié het hom gehou aan sy eie dwase optrede, maar hy het homself misgis met God. Esau verloor met hierdie een onbesonne daad die dubbele erfdeel wat aan die eersgeborene volgens wet behoort het (Deut. 21:17). Esau minag dus nie net homself nie, maar ook die gawe wat die eersgebore in die oë van die Here toegekom het. Daarmee minag hy eintlik die Here.
Wat ‘n vreeslike vergissing. Soos die skrywer van die Hebreërbrief later vir ons waarsku: “Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het.” (Hebr. 12:16). Ons moet dié patrone by ons mense nie net optel nie, maar inderdaad ook intree vir hulle sodat hulle nie in die sonde val van ‘n minagting vir die waardes waaraan God ons meet nie.
Regdeur die profete is daarom negatief oor Edom geoordeel. Vergelyk maar net die boodskap van Obadja wat net oor Edom handel en hulle striem vir hulle verwaandheid en afsydigheid. Dié verwaandheid en afsydigheid wat hulle nasie teenoor Juda betoon het in die ballingskap, stem ooreen met Esau se minagtende houding wat hom verhoed om die impak van sy dwase dade te besef: “en hy het geëet. Toe hy klaar was, het hy uitgestap.” Asof niks van belang gebeur het nie.
Jakob word egter ook nie gespaar in die proses nie. Hy word as ‘n baie berekende listige persoon geteken. Hy help juis nie sy broer nie, maar buit sy broer se honger en moegheid uit om ‘n voordeel te kry wat hom nie toegekom het nie. Dié onderduimse optrede sou vir Jakob hier ‘n voordeel bring, maar later in sy onderhandelinge met sy oom Laban, sou hy dubbeld en dwars self aan die kortste end van Laban se gierigheid trek.
Boodskap
Hierdie verhale in Genesis is regtig besonders. Dit help ons die dinamika van menswees in verhouding nie net met mekaar nie, maar ook met God verstaan. Ons kan onsself ook herken in die verhale wat jou uitnooi om te identifiseer met die wyse waarop die verhaal vertel word en die boodskap van die dele daarin wat jou aanspreek, vir jouself toe te eien. Ons hoor hier ook nuwe lewensmoontlikhede wat ons uitnooi om ons eie oorspronklike geloofservaringe te beleef.
Die effek wat kinderloosheid op Rebekka en Isak gehad het, spreek my aan. Sy moes twintig jaar lank ‘n pad stap met die belofte van tienduisend kinders voor dit vervul is. Isak moes twintig jaar lank vir haar intree voor die belofte vervul is. Gebed vra ‘n volharding wat bereid is om jare lank aan te hou totdat dit vervul word.
Die konflik tussen die tweeling wat deur die voortrekkery van hulle ouers aangevuur is, laat my besef dat konflik hande kan uitruk as ‘n mens dit nie gou genoeg aanspreek nie. Dit gaan uiteindelik ook nie eers net oor wat tussen Esau en Jakob gebeur nie, maar wat ná hulle in die komende geslagte gebeur. Onoploste konflik raak onhanteerbare vetes.
View all posts in this series
- God gee Genade vir Geloofsgemeenskappe - October 5, 2016
- Die Pentateug
- Hoe lees ons die verhale in die Bybel?
- Lees, Luister, Leef
- Genesis – Die oorsprong van alle dinge - October 6, 2016
- Genesis in sy ontstaanswêreld
- Die verskille oordonder die ooreenkomste
- Indeling
- Genesis 1:1-2:3 – In die begin het God die hemel en die aarde geskep - October 7, 2016
- Genesis 2:4-25 – Dit is nie goed dat die mens alleen is nie - October 8, 2016
- Genesis 3 – Die mens kruip vir God weg weens die sonde - October 10, 2016
- Genesis 4 – Kain oorweldig vir Abel en maak hom dood - October 11, 2016
- Genesis 5 – Adam het ‘n seun na sy beeld - October 12, 2016
- Genesis 6 – God is bedroef dat Hy die mens gemaak het, maar begenadig Noag - October 13, 2016
- Genesis 7 – Ek het jou gesien en bevind jou regverdig - October 15, 2016
- Genesis 8 – Toe het God gedink aan Noag en al die diere in die ark - October 16, 2016
- Genesis 9 – God sluit ‘n verbond met alle lewende wesens - October 18, 2016
- Genesis 10 – Uit Noag en sy nageslag versprei die nasies oor die aarde
- Genesis 11 – God bring ‘n taalverwarring en beweeg Tera om na Kanaän te trek - October 19, 2016
- Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwys - October 21, 2016
- Genesis 13 – God herhaal sy belofte van die land en ‘n groot nageslag aan Abram
- Genesis 14 – Abram seën en straf nasies op die wêreldverhoog - October 22, 2016
- Genesis 15 – Die Here belowe beskerming en beloning in ‘n verbond met Abram - October 24, 2016
- Genesis 16 – Abram val vir die versoeking om self ‘n nageslag te voorsien - November 14, 2016
- Genesis 17 – Lewe naby My en wees onberispelik - November 15, 2016
- Genesis 18 – Abraham se gasvryheid sluit die lewe vir almal oop - November 16, 2016
- Ekskursus: Kan God van gedagte verander?
- Genesis 19 – Losbandigheid en bloedskande bedreig familiewees - November 17, 2016
- Genesis 20 – Abraham tree as profeet op ten spyte van sy onbehoorlike gedrag - November 18, 2016
- Genesis 21 – Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het - November 19, 2016
- Genesis 22 – Nou weet ek dat jy My dien - November 21, 2016
- Genesis 23 – Sara word begrawe in die Makpelagrot as vervulling van die landsbelofte - November 22, 2016
- Genesis 24 – God gee vir Isak ‘n gasvrye vrou wat hom vertroos na die dood van Sara - November 23, 2016
- Genesis 25:1-18 – Abraham omhels die roeping van God enduit - November 24, 2016
- Genesis 25:19-34 – Esau minag sy eersgeboortereg en verkoop dit aan Jakob - November 25, 2016
- Genesis 26 – Isak beweeg van rusies na die ruimte wat die Here hom gee - November 26, 2016
- Genesis 27:1-45 – Rebekka en Jakob se bedrog bedreig die geloofsgemeenskap se voortbestaan - November 30, 2016
- Genesis 27:46-28:22 – Die Godsverhouding en die beskerming van die huwelik bevestig die geloofsgemeenskap - December 1, 2016
- Genesis 29-30 – Jakob word sterk in die stryd met Laban - December 2, 2016
- Genesis 31 – Die Here stuur Jakob as ‘n ryk man weer terug na Kanaän - December 3, 2016
- Genesis 32 – Jakob worstel enduit met God en word verander van bedrieër na begenadigde - December 5, 2016
- Genesis 33 – Jakob bely teenoor Esau dat God goed was vir hom - December 6, 2016
- Genesis 34 – Dina se verkragting word met koelbloedige moord beantwoord - December 7, 2016
- Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin het - December 8, 2016
- Genesis 36 – Esau verlaat die beloofde land en slaan sy eie koers in - December 9, 2016
- Genesis 37 – Josef die dromer word ‘n slaaf in Egipte - December 10, 2016
- Genesis 38 – Tamar tree as verlosser op in Juda se afvalligheid en losbandigheid - December 12, 2016
- Genesis 39:1-20 – Josef weerstaan Potifar se vrou om aan God en sy baas getrou te bly - December 13, 2016
- Genesis 39:21-40:23 – Josef lê drome uit in die tronk met God se hulp - December 14, 2016
- Genesis 41 – Josef se lot word dramaties verander van vergete na vrugbaar - December 15, 2016
- Genesis 42 – Jakob se seuns word deur God uitgedaag in Egipte - December 16, 2016
- Genesis 43 – Jakob stuur Benjamin na Egipte in die hoop dat God hulle barmhartig en genadig sal wees - December 17, 2016
- Genesis 44 – Juda offer sy lewe vir Benjamin op toe God hulle sonde aan die lig bring - December 19, 2016
- Genesis 45 – Josef omhels sy broers en verklaar dat alles God se werk was - December 20, 2016
- Genesis 46 – Jakob trek Egipte toe en herenig met Josef - December 21, 2016
- Genesis 47-48 – Jakob seën die farao sowel as Josef se twee seuns - December 22, 2016
- Genesis 49-50 – Jakob seën sy seuns met die oog op die toekoms - December 23, 2016
- Oor die woord van Sarai - June 20, 2018
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar