Skip to main content

Genesis 25:19-34 – Esau minag sy eersgeboortereg en verkoop dit aan Jakob

655804-breathtaking-space-artOns kom by die derde fase van die verbond met die aartsvaders, die verhaal van Isak.   Die eerste fase was die uitgebreide verhaal van Abraham met die tweede fase die kort geslagsregister van Ismael met twee kort opmerkings oor hom in die vorige perikoop.

Soos dit die geval was met Abraham se verhaal wat as deel van sy pa Tera se storie vertel is, is dit ook nou weer die geval.  Jakob se verhaal word van die begin af as deel van Isak se storie vertel. Dit wys net hoe integraal die verhale van die groot Godsfigure met dié van hulle families en geloofsgemeenskappe verweef is.

Getrou aan die aard van die wyse waarop die boek Genesis die verhale van die aartsvaders aanbied, is dit weereens duidelik dat die verhaal van Isak, Jakob en uiteindelik Josef die verhaal van die “verkose” families is.  Die hele verhaal van die “verkose” families met al sy intriges word vertel, soos dit ook die geval was met die verhaal van Abraham. Net die geslagslyste van die “verwerpte” families word egter vertel, soos dit in die vorige perikoop die geval was met die verhaal van Ismael.

Die verkose families raak deel van God se storie met hierdie wêreld.  Die verwerpte families staan God se storie met die wêreld teë.

Die tweeling Esau en Jakob

Isak se verhaal begin met twee belangrike mededelings wat die tafel dek vir die ontwikkeling van die res van sy verhaal.  Die eerste mededeling is sy huwelik met Rebekka waarin spesifiek genoem word dat sy die suster van Laban die Arameër was.  Die kort verwysing laat ‘n mens alreeds in afwagting van die verhaal van Jakob se stryd met Laban om ‘n billike hantering waarin Laban se gierigheid gekontrasteer word met God se genade in die lewe van Jakob.

Die tweede mededeling is dat Rebekka kinderloos was wat Isak in beweging gebring het om die Here te vra vir ‘n kind vir Rebekka.  Die profesie wat oor haar uitgespreek is van tienduisende kinders het nie gou tot vervulling gekom nie. Gelukkig was sy ook die vrou wat Isak regtig liefgehad het. Kyk sommer vorentoe hoe Abimelek “per toeval” gesien het hoe Isak vir Rebekka “liefkoos” (Gen. 26:8)!  Daar was ‘n goddelike vonk tussen dié twee.

Isak word met sy gebed vir haar ‘n Intersessor, net soos sy pa dit was, en hier spesifiek vir sy eie familie.  Die feit dat dit amper in een sin vertel word dat sy gebed verhoor is, moet jou egter nie mislei dat dit vinnig gebeur het nie.  Dit neem amper net so lank vir hom as vir Abraham om sy eerste kind uit die hand van die Here te ontvang, want die tweeling word eers twintig jaar later gebore.

Waar Isak menigmaal eintlik as ‘n diep introvert geteken word, staan sy gebedskrag en liefde vir sy vrou duidelik uit as uitstaande kenmerke van dié Godsman.  Waar sy pa Abraham op die internasionale verhoog gedy het en konings verslaan het, blink Isak uit in die meer private omgewing van sy eie familie … hoewel hulle sy saggeaardheid liederlik misbruik het.  Maar nou gryp ek te ver vooruit.

Die gebedsverhoring na twintig jaar beteken ook nie dat dit ‘n tydperk van maanskyn en rose ingelei het vir Isak en Rebekka nie.  Inteendeel.  Dit stel hulle bloot aan die enorme magspel wat van vóór die tweeling, Esau en Jakob, se geboorte al geheers het tussen hulle.  Die kinders het letterlik mekaar probeer “breek” in die baarmoeder!  Rebekka is só raadop daarmee dat sy die Here (deur ‘n plaaslike profeet of priester?) raadpleeg oor die oorlog wat binne haar gevoer word.

Die antwoord voorspel ‘n voortdurende stryd soos dit inderdaad tussen die Edomiete (Esau) en Israeliete (Jakob) van dié punt af geheers het. Dit het eeue later selfs ‘n poging tot ‘n Joodse volksmoord deur Haman, ‘n Edomiet, in die verhaal van Ester, ingesluit.  Meesal het die skoen egter aan die ander voet gepas, want Israel het talle veldslae teen Edom gevoer en gewen (bv. Saul in 1 Sam. 14; Dawid in 2 Sam. 8; 2 Konings 8:22 sê: “Tot vandag toe is Edom in opstand teen die gesag van Juda.”).

Die rede vir die negatiewe oordeel oor Edom in die Skrif is die minagting wat Esau heel gou betoon teenoor sy eersgeboortereg.  Die agtergrond daarvan lê onder andere in die feit dat sy pa Isak –  ‘n gesonde en waarderende wildsvleis eter, wil dit voorkom! – Esau voorgetrek het.  Daarteenoor het Rebekka weer vir Jakob voorgetrek.  Dit het natuurlik ook nie gehelp in die broeiende konflik tussen dié twee broers nie!

Maar die feit dat Esau sy eersgeboortereg verkoop vir ‘n pot lensiesop (eintlik net ‘n bredie) kan waarskynlik onder andere uit sy witbroodjie status by Isak verklaar word.  Hy het regtig nie gedink dat sy pa hom enigsins anders sou behandel, selfs al het hy sy eersgebore reg aan sy broer met ‘n eed beloof.

Dieper as dit het Esau hom egter misgis nie net met sy pa nie, want dié het hom gehou aan sy eie dwase optrede, maar hy het homself misgis met God.  Esau verloor met hierdie een onbesonne daad die dubbele erfdeel wat aan die eersgeborene volgens wet behoort het (Deut. 21:17).  Esau minag dus nie net homself nie, maar ook die gawe wat die eersgebore in die oë van die Here toegekom het.  Daarmee minag hy eintlik die Here.

Wat ‘n vreeslike vergissing.  Soos die skrywer van die Hebreërbrief later vir ons waarsku: “Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het.” (Hebr. 12:16).  Ons moet dié patrone by ons mense nie net optel nie, maar inderdaad ook intree vir hulle sodat hulle nie in die sonde val van ‘n minagting vir die waardes waaraan God ons meet nie.

Regdeur die profete is daarom negatief oor Edom geoordeel. Vergelyk maar net die boodskap van Obadja wat net oor Edom handel en hulle striem vir hulle verwaandheid en afsydigheid.  Dié verwaandheid en afsydigheid wat hulle nasie teenoor Juda betoon het in die ballingskap, stem ooreen met Esau se minagtende houding wat hom verhoed om die impak van sy dwase dade te besef: “en hy het geëet. Toe hy klaar was, het hy uitgestap.” Asof niks van belang gebeur het nie.

Jakob word egter ook nie gespaar in die proses nie.  Hy word as ‘n baie berekende listige persoon geteken.  Hy help juis nie sy broer nie, maar buit sy broer se honger en moegheid uit om ‘n voordeel te kry wat hom nie toegekom het nie.  Dié onderduimse optrede sou vir Jakob hier ‘n voordeel bring, maar later in sy onderhandelinge met sy oom Laban, sou hy dubbeld en dwars self aan die kortste end van Laban se gierigheid trek.

Boodskap

Hierdie verhale in Genesis is regtig besonders.  Dit help ons die dinamika van menswees in verhouding nie net met mekaar nie, maar ook met God verstaan. Ons kan onsself ook herken in die verhale wat jou uitnooi om te identifiseer met die wyse waarop die verhaal vertel word en die boodskap van die dele daarin wat jou aanspreek, vir jouself toe te eien.  Ons hoor hier ook nuwe lewensmoontlikhede wat ons uitnooi om ons eie oorspronklike geloofservaringe te beleef.

Die effek wat kinderloosheid op Rebekka en Isak gehad het, spreek my aan.  Sy moes twintig jaar lank ‘n pad stap met die belofte van tienduisend kinders voor dit vervul is.  Isak moes twintig jaar lank vir haar intree voor die belofte vervul is.  Gebed vra ‘n volharding wat bereid is om jare lank aan te hou totdat dit vervul word.

Die konflik tussen die tweeling wat deur die voortrekkery van hulle ouers aangevuur is, laat my besef dat konflik hande kan uitruk as ‘n mens dit nie gou genoeg aanspreek nie.  Dit gaan uiteindelik ook nie eers net oor wat tussen Esau en Jakob gebeur nie, maar wat ná hulle in die komende geslagte gebeur.  Onoploste konflik raak onhanteerbare vetes.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda