Skip to main content

God gee Genade vir Geloofsgemeenskappe

655804-breathtaking-space-artDie eerste vyf boeke van die Bybel, die Pentateug, is die verhaal van God se genade wat geloofsgemeenskappe laat floreer.

Van die begin af voeg God in sy genade families saam in ‘n geloofsgemeenskap (Genesis).  Sy genade word sigbaar in die konkrete lewe van hierdie geloofsgemeenskap (Eksodus).  Sy genade word ook spesifiek sigbaar in die geloofsgemeenskap se onderlinge verhoudinge (Levitikus).  Dit is ook duidelik dat God nie van stryk gebring word deur teenstand en wantroue in die geloofsgemeenskap nie (Numeri).  In sy genade bring Hy self sy beloftes vir die geloofsgemeenskap in vervulling (Deuteronomium).

Dit is die boodskap van die Pentateug, ook genoem die Tora.  ‘n Mens kan hierdie aspekte van God se genade vir gelowiges as volg in die vyf boeke van die Pentateug raaksien:

  • Genesis begrond die verhaal van Israel in die oorsprong van alle dinge. Die God van Abraham, Isak en Jakob, Elohim, is die God van al die nasies, trouens van die hele heelal.  Hy het nie net alles gemaak nie. Hy tree in verhouding met mense van die begin af soos in die verhale van die families van Adam, Noag en Abraham gesien kan word.  Sy genade word van die begin af sigbaar in die ontstaan en vestiging van families as geloofsgemeenskap.
  • Eksodus begrond die verhaal van Israel in die hoop van verlossing. Die God van Abraham is ook die God van Moses, Jahwe, wat sy volk deur die trek deur die woestyn uit die slawerny van Egipte verlos en bring na die land van die belofte.  Hy sluit met hulle ‘n verbond waarvan die inhoud in die wet en veral die Tien Gebooie wat op Sinai gegee is, beskryf word.  God se dinamiese teenwoordigheid by sy mense word herstel deur die gawe van die Tora en die bou van die tabernakel.  Sy genade word daarmee sigbaar in die konkrete lewe van die geloofsgemeenskap.
  • Levitikus fokus op verhoudinge begrond op die opdragte van God uit die tabernakel aan Moses, die Levitiese Kode, wat riglyne vir die Groot Versoeningsdag verskaf sowel as die volk se verhouding met God en met mekaar soos beskryf in die Heiligheid Kode. Die fokus van die boek op offers en heiligheid het alles te make met verhoudinge, met God en met mekaar. Sy genade word sigbaar in die verhoudinge van die geloofsgemeenskap onderling en met God.
  • Numeri is saamgestel rondom twee dele van die reisverhaal “in die woestyn” en vertel die verhaal van twee generasies. Die eerste deel vertel die verhaal van die trek van die volk van Sinai tot by die oostekant van die beloofde land.  Dit eindig met die gebrek aan vertroue van die volk in God om die land in te neem en die begin van die gevolglike verdere omswerwinge in die woestyn.   Die tweede deel fokus op kwessies van leierskap en priesterskap en eindig met die voorbereiding van die tweede generasie om die beloofde land in te neem.  God se genade oorkom die uitdagings wat teenstand en wantroue in die geloofsgemeenskap aan Hom stel.
  • Deuteronomium fokus op die impak van die verlede, hede en toekoms. Dit is opgebou rondom drie “preke” van Moses wat hulle help om te onthou waar hulle vandaan kom, vir hulle riglyne gee om na te luister en uit te leef in ‘n verbondsverhouding met die Here asook vir hulle ‘n profetiese vooruitkyk gee na die lewe in die land waar vertroue op die beloftes van God lewensbelangrik sal wees.  God se genade bring sy beloftes vir die geloofsgemeenskap in vervulling.

Hierdie eerste vyf boeke van die OT, die Pentateug, gee daarmee dus nie net die agtergrond vir die vestiging van die volk Israel in Kanaän nie.  Die Pentateug – as geheel ook die Tora genoem – vorm ook baie spesifiek die begronding van die lewe van die geloofsgemeenskap in Israel.  Aan die hand van die inhoud van hierdie vyf boeke kon die gehoorsaamheid van die volk van God getoets en beoordeel word.  Die legitimiteit van hulle spiritualiteit en moraliteit is daarom ook telkens aan hulle getrouheid aan die inhoud van dié vyf boeke gemeet, soos dit in die Profete en ander Geskrifte van die OT telkens duidelik word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda