Genesis 15 – Die Here belowe beskerming en beloning in ‘n verbond met Abram

4782847Die wyse waarop God met Abram in gesprek tree regdeur sy lewe, val ‘n mens op weens die wederkerigheid daarvan – dit is regtig ‘n heen-en-weer gesprek – sowel as die diverse maniere waarop dit geskied. ‘n Mens lees in Genesis van ten minste vier maniere waarop dié gesprekke verloop:

  • Soms lees ‘n mens dat die Here vir hom iets “gesê het” (Gen. 12:1; 13:14; 21:12; 22:1) sonder enige verduideliking van hoe dit presies gebeur het.
  • Soms roep die Engel van die Here na Abram en gee hom ‘n opdrag (Gen. 22:11) en beloftes (Gen. 22:15 vv.) waar dit ook duidelik is dat dit die Here self is (Gen. 22:16).
  • Soms verskyn die Here aan Abram (Gen. 12:7; 17:1 – let op dat God ook weer van hom af “weggaan” soos ‘n mens in 17:22 lees – wat waarskynlik in een of ander gestalte was, soms duidelik in die gestalte van drie mans (Gen. 18:1).
  • In Genesis 15 kom die woord van die Here na Abram in ‘n gesig – die enigste keer wat dit só vertel word – wat ‘n hele aantal verskillende gesprekke, maar ook aksies insluit. Die Here wys vir Abram die sterre en gebruik dit as ‘n woord aan hom.  Die Here beveel hom om ‘n aantal diere te bring en gebruik dit om sy verbond met Abram te sluit.

Dit help dus om die perikoop te lees aan die hand van die verskillende gespreksmomente soos dit wissel tussen die Here en Abram.  Dit gee jou ‘n goeie idee hoe die Here inisiatief neem en die aktiewe agent is in die gesprek.  Maar, dit gee jou ook ‘n idee van hoe toeganklik die Here is om die kommer en behoeftes van Abram te akkommodeer, meer nog, oorvloedig daarin te voorsien, selfs meer as wat Abram homself kan indink.

Die Here belowe beskerming en beloning aan Abram – 15:1

Met die verskyning in die vorm van ‘n gesig stel die Here Abram gerus met die belofte van sy beskerming – onthou hy was net tevore in ‘n oorlog gewikkel – en ‘n baie groot beloning:  “Jou beloning sal groot wees.”  Dit verwys waarskynlik terug na sy weiering om deur die koning van Sodom beloon te word vir sy dapper oorwinning oor Kedorlaomer.  God sien sy afhanklikheid van Hom alleen raak en belowe dat Hy hom sal beloon.

Abram vra ‘n kind van die Here – 15:2-3

Abram se reaksie daarop is dat hy onseker is of dié beloning regtig kinders sal insluit.  Hy begin dink dat hy kinderloos sal sterf en dat sy slaaf sy besittings sal erf.  Hy herhaal dit twee keer om die kommer in sy hart te onderstreep.  Abram vra ‘n kind van die Here.

Die Here belowe ‘n nageslag so ontelbaar soos die sterre – 15:4-5

Die Here ruime enige onsekerheid egter uit die weg en belowe dat hy ‘n regtige kind as erfgenaam sal hê.  Trouens, die Here neem hom buitentoe en gebruik die voorbeeld van die ontelbare sterre om hom ‘n idee te gee van hoé groot God se beloning in terme van ‘n nageslag sal wees.

Dit ontlok by Abram ‘n fundamentele geloofsreaksie wat die basis word vir God se verhouding met die mens, soos ons dit op verskeie plekke in die OT sowel as die NT raaklees.

Abram het in in die Here geglo en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken – 15:6

Die skrywer sê vir ons:

Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.” (NAV).  Die laaste deel van dié vertaling is egter ‘n bietjie wyd van die oorspronklike teks af.  Die oorspronklike Hebreeus lui só, as ‘n mens dit meer letterlik vertaal:

En hy het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.”  (OAV).

Drie opmerkings hieroor:

  • Dat Abram: “in die Here geglo” het, beteken waarskynlik in die konteks dat Hy die Here se belofte van ‘n nageslag as die waarheid aanvaar het. Hy het: “amen” gesê daarop.  Hy het die Here as betroubaar geag om te doen wat Hy belowe.  Daarmee help Abram ons verstaan wat geloof is.  Dit is om God te vertrou.  Dit is om op God staat te maak.  Dit is om Hom te gehoorsaam, omdat sy woorde en beloftes as waar en eg beskou word.
  • In hierdie verband beteken: “tot geregtigheid gereken” waarskynlik iets soos: “as bewys van lojaliteit gereken” (Wenham) of as: “evidence of steadfast commitment” (NET Bible), soos dieselfde frase in Ps. 106:31, die enigste ander voorkoms van dié frase in die OT, gebruik word. Abram se geloof is deur God as geregtigheid gereken.  Dit kon die Here sien in Abram se gehoorsaamheid aan die rol wat die Here hom op die wêreldverhoog gegee het.  Hy het dié rol met passie en vasberadenheid uitgevoer. En die Here ag dit as ‘n bewys van sy lojaliteit, van sy geloof.  Daarom reken God dit vir hom as geregtigheid.
  • Paulus sal veel later hierdie tipe: “geregtigheid” met die vryspraak wat God gee vir dié wat in Hom glo, in verband bring (Rom. 4:3). Hy haal Abraham se voorbeeld uit Genesis 15:6 as volg aan: “Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.”  (let op dat hy nie die woordjie “in” gebruik nie!).  Paulus verbind dan dié geregtigheid aan die vergifnis van sonde (Rom. 4:6-8, waarin Paulus Ps. 32:1-2 aanhaal) wat gelowiges in die regte verhouding met God bring.

Dit is dus ‘n geweldige belangrike geestelike beginsel wat hier vir ons neergelê word.  God spreek elke gelowige vry van sy skuld en sonde enkel en alleen binne ‘n verhouding waarin die gelowige God as betroubaar ag om te doen wat Hy belowe.

Die Here belowe vir Abram die land Kanaän – 15:7

In taal wat herinner aan die inleiding van die Tien Gebooie bevestig die Here dat dit Hy is wat vir Abram uit Ur van die Galdeërs laat trek het om hierdie land aan Abram as besitting te gee.

Abram vra hoe hy sal weet dat hy Kanaän sal besit – 15:8

‘n Mens kan nogal identifiseer met Abram se vraag: “Hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God?”  Dit is nie asof hy die Here se woord betwyfel nie, maar eerder dat hy iets wil hê wat hom sal staande hou in die tye wanneer die Here nie naby is nie.  Hy soek dus ‘n teken waaraan hy kan vashou.

Die Here beveel hom om offerdiere te bring – 15:9

Die Here gee vir Abram egter ‘n teken wat baie meer is as waarop hy gereken het.  Die Here sluit met hom ‘n verbond wat nie net vir hom en sy nageslag van betekenis sou wees nie, maar vir alle gelowiges regdeur die eeue. Die betekenis van hierdie verbond kan nie oorskat word nie.

Die redes waarom die Here vir Abram vra om drie diere – ‘n vers, ’n bok en ’n skaapram, almal drie jaar oud en twee voëls – ’n tortelduif en ’n jong duif – te bring, is nie duidelik nie.  Al vyf diere is gereeld in die offerkultus gebring, en kom ook ooreen met Abel se vroeëre offer uit sy kudde.  Maar hoekom hulle drie jaar oud moes wees, en waarom twee duiwe, word nie verklaar nie.

Abram bring die diere en wag op die Here al kos dit al sy kragte – 15:10-12

Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny. Weereens weet ons nie waarom dié gebruik gevolg is nie.  Sommige dink dat die bedoeling was dat Abram en God as’t ware tussen die twee karkasse sou deurloop om daarmee uit te druk dat die lot van dié diere die een sou tref wat dié verbond verbreek, soos dit soms in die Ou Nabye Ooste met kontrakte gebeur het.  Omdat dit egter nie gebeur het in dié geval nie, want dit is slegs ‘n “oond” (moontlik eerder ‘n “pot”) en ‘n “fakkel” wat tussen die stukke vleis deurgaan, is dit nie seker nie.

Wat van groter belang is dat dié proses vir Abram uitmergelend was.  Nie net het roofvoëls op die karkasse begin toesak nie, maar hy het moeite gehad om wakker te bly, amper soos die dissipels in die tuin van Getsemane.  Innerlik en uiterlik het hy ‘n groot uitdaging beleef: “Angs en ’n groot donkerte het hom oorweldig.”  Die oomblik het vir hom eintlik te veel geraak, sodat die verbond wat hierna gesluit is, net van God alleen afkomstig was.  God was die enigste wat dié verbond kon sluit, en die enigste wat die verbond in stand kon hou.

God sluit ‘n verbond met Abram – 15:13-21

Die teken aan Abram kom in die vorm van ‘n uitvoerige belofte vir die toekoms wat met die verbondsluitingseremonie bevestig word.

Die Here begin by die slawerny in Egipte en stel dit as ‘n feit dat dié ontwrigtende tydperk die besit van die land sal voorafgaan.  Hulle vreemdelingskap sal vier honderd jaar lank duur, waarna die Here die onderdrukkers sal straf en sy nageslag met baie besittings van daar af sal laat wegtrek. Abram self sal in vrede sterf.

Dit lyk asof die rede vir die uitgestelde belofte lê in die feit dat God tans nog geduld aan die dag lê met die huidige bewoners van Kanaän, hier aangedui as die Amoriete, maar dat dit in die toekoms sal verander.  Levitikus sal later in die lys van seksuele voorskrifte spesifiek noem dat die Kanaäniete die land verontreinig het en dat die Here gesorg het dat die land hulle “uitspoeg” (Lev. 18:24-30).  Daarom word hulle gewaarsku om die afstootlike gebruike van die vorige inwoners te vermy en hulleself rein te hou sodat dieselfde lot hulle nie tref nie.

Vers 16 word verkeerdelik vertaal as: “Die vierde geslag ná jou sal hiernatoe terugkom.” In die oorspronklike word net van die vierde geslag gepraat: “En die vierde geslag sal hierheen terugkom.

As ‘n mens kyk na Eks. 6:15-22 waar die opeenvolging van geslagte in Egipte beskryf word, sien ‘n mens dat daar vier geslagte beskryf word.  Die Uittog vind dan ook plaas in die tyd van die vierde geslag wat in Egipte gewoon het. Levi (137 jaar oud) was deel van die eerste geslag in Egipte.  Sy seun Kehat (133 jaar oud) was die tweede geslag.  Kehat se seun Amram (137 jaar oud) was die derde geslag en Moses en Aäron, kinders van Amram en Jogabed uiteraard die vierde geslag in Egipte en daarom ook die geslag van die Uittog.

Dit is waarna hierdie gedeelte in Genesis 15:16 verwys.  In Genesis 15:13 word dié tydperk as vier honderd jaar geteken, waarskynlik ‘n ronde getal (Eks. 12:40-41 gee ‘n meer spesifieke tydperk van 430 jaar).

As teken van die Here se verbond met Abram gaan daar ’n: “oond wat rook” en ’n: “fakkel wat brand”, tussen die stukke vleis deur waarmee die Here sy verbond met Abram sluit.  Dit handel oor sy nageslag wat die land van Kanaän sal besit, beskrywe aan die hand van beide die geografie: “van Egiptespruit af tot by die Eufraat”, sowel as in ‘n tiental nasies wat dié gebied bewoon het: Keniete (Jetro, Moses se skoonpa, se nasie), Kenissiete (Kaleb het waarskynlik vanuit dié nasie deel van Juda geraak – Num. 32:12; Jos. 14:6,14), Kadmoniete, Hetiete (in die omgewing van Hebron), Feresiete, Refaïete, Amoriete, Kanaäniete, Girgasiete en Jebusiete.

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Goeie more Chris
    Wat n wonderlike eer en voorreg om saam jou n nuwe ontsekking van Genisis te doen.
    Dit het nir alleen my geloof versterk nie maar my geloofsreis saam met julle is asemrowend en die legkaart waaroor ek altyd getwyfel het, het nou vir my in plek geval.
    Baie dankie aan my He.else Vader vir hierdie geleentheid en ook vkr jou met die harde werk en navorsing wat jy doen om soveel mense soos ek ons geloof te versterk. Dankie vir elke tree wat jy saam my loop deur Genisis.
    My gebed is dat die Here jou sal seen en krag insig wysheid en kennis sal gee om ons geloofsoë oop te maak en om al die skatte te ondek deur die werking van die Heilige Gees.
    Ek het n dankbare hart vir die geleentheid.
    Liefde en seengroete
    Lida

    • Dit is my voorreg, maar ook my verantwoordelikheid, Lida. Jy bid vir my dat ek “al die skatte” sal ontdek wat geloofsoë sal oopmaak. Jy herinner my met dié gebed daaraan dat dit presies is waarvoor die Here my geroep het. In 1983 het ek in my sesde jaar op universiteit diep en lank nagedink oor my roeping in die lewe en dit toé só verwoord:
      1. “Om die Here intiem, persoonlik te ken en vanuit die gemeenskap met Hom te lewe.”
      2. “Om die skatte van die evangelie vir alle mense oop te sluit en beskikbaar te maak.”
      Daaraan wy ek my toe steeds meer en meer.
      Syn odos – saam op pad.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: