Genesis 32 – Jakob worstel enduit met God en word verander van bedrieër na begenadigde

655804-breathtaking-space-artSoos Jakob se vlug uit Kanaän deur engele begelei is, só gebeur dit ook nou met sy terugkeer.  Waar die ervaring met die engele by Bet-El vir Jakob ‘n betroubare kontakpunt met die hemel gegee het met die eksplisiete belofte dat God by hom sal wees (Gen. 28), gee hierdie ervaring met die engele by Maganajim vir Jakob ‘n verdere vaste vertrekpunt vir sy stryd op die aarde met die implisiete belofte dat die “leër van God” by hom sal wees (Gen. 32).

Die naam Maganajim beteken: “twee kampe” wat waarskynlik dui op die werklikheid van God se betrokkenheid by sy mense.  Hulle vorm as’t ware: “twee kampe”, in die stryd vir die vestiging van God se koninkryk op aarde – God se kamp van engele, en Jakob se kamp van mense en diere.

Let op hoe dié tema van die “twee kampe” in die res van die verhaal ontvou.  Aan die een kant probeer Jakob alles in sy vermoë om die uitdaging wat sy herontmoeting met Esau die hoof te bied.

  • Hy stuur boodskappers om sy onderdanigheid aan Esau oor te dra. Nie dat dit veel help nie, want Esau was reeds met ‘n groot mag van vier honderd man op pad.
  • Hy deel in sy angstigheid die mense by hom in twee groepe om die kanse dat hulle almal uitgewis word, te verminder.
  • Hy bid tot die God van sy voorouers en ouers wat hom aangesê het om terug te gaan na Kanaän en belowe het om aan hom goed te doen. Nie dat hy dié gunsbewyse werd is nie, maar net op grond van God se belofte maak hy staat daarop dat: “Ek sal beslis goed doen aan jou.
  • Hy stuur ‘n reusegeskenk aan sy broer Esau – 580 bokke, skape, kamele, beeste en donkies – maar laat hulle ook in ‘n paar troppe trek ter wille van veiligheid. “Jakob het naamlik gedink: met die geskenk wat voor my uit gaan, sal ek probeer om hom in ’n goeie bui te kry. Dan sal ek na hom toe gaan en miskien ontvang hy my dan vriendelik.
  • Hy laat laaste van alles sy vroue en kinders en sy persoonlike besittings deur die Jabbokdrif trek.

Aan die ander kant bly Jakob uiteindelik heeltemal alleen agter waar ’n man die hele nag tot dagbreek toe met hom gestoei het. Sy stryd is nie met vlees en bloed, in die gestalte van sy broer Esau nie, maar met homself en met God, soos dit uit vers 29 blyk.

Jakob se stryd om die seën van sy pa het hy met bedrog in sy guns beslis. Hier vind hy sy meerdere in die stryd met God waarin hy nie kan wen nie, al hou hy enduit vol.  Hy is uiteindelik afhanklik van God self om op soewereine wyse die seën vir hom ‘n werklikheid te maak.

Dat die man teen dagbreek gelos wil word, het waarskynlik daarmee te make dat geen mens God kan sien en bly lewe nie.  Jakob word gevra om sy naam te gee vóór hy geseën kan word.  Daarmee word Jakob gedwing om te erken dat hy ‘n bedrieër is, want dit is die betekenis van sy naam.

Die man se seën behels egter nie ‘n nuwe belofte aan Jakob nie, maar eerder ‘n nuwe naam, Israel (God stry), wat sy transformasie van bedrieër na begenadigde voltrek. Waar hy voorheen téén mense en selfs God gestry het, word God nou die een wat vír hom teen mense stry.  Hiermee word dit ook duidelik dat dit hierdie God sal wees wat vir die volk wat uit Jakob gebore is, sal stry.  Jakob se stryd met God het in ‘n stryd van God vir Jakob en sy nageslag verander.

Dat die man sy naam nie aan Jakob wil gee nie, is waarskynlik gemik daarop om die versoeking te voorkom om dié naam te misbruik, soos die wet eeue later sou uitspel: “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik nie ongestraf laat bly nie.” (Eks. 20:7).

Jakob noem die plek Pniël (aangesig van God) om sy ontsag en dankbaarheid vir God te verwoord, “want, ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie.”  Nie dat hy God in die daglig gesien het nie, maar tog in die stryd in die donker van aangesig tot aangesig met God gekom het.

Hoe poëties en betekenisvol vervolg die skrywer nie met die afloop van dié ontmoeting met God nie: “Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom.”  ‘n Nuwe era het vir Jakob aangebreek.  Die Here het Hom verbind nie net aan Jakob nie, maar aan Israel.  God was nou die strydros vir die volk.

Dit is betekenisvol dat Jakob mank gebly het aan sy heup, en dat die Israeliete sy nagedagtenis geëer het met die gebruik om nie die skiatiese senuweebondel wat aan die heup vaskom, te eet nie.  Soos die besnydenis hulle aan die verbond met Abraham herinner het, het die skiatiese senuweebondel hulle aan die verbond met Israel, dit is Jakob, herinner.

Jakob se arrogansie en verwaandheid het oorgegaan in afhanklikheid en nederigheid.  Dit gee ‘n mens ‘n beter begrip vir die latere aanklag teen Edom, Esau se nageslag, se verwaandheid en afsydigheid, soos ‘n mens by die profeet Obadja lees.

Boodskap

Weereens lê die boodskap van dié verhaal op verskeie vlakke.  Ek noem net drie.

In die eerste plek bemoedig die verhaal ons met die perspektief op die “twee kampe” in ons eie lewe.  Ons hoef nie net staat te maak op ons eie vermoëns nie.  God se teenwoordigheid met alles wat Hy tot sy beskikking het, is ook aan ons belowe.

Interessant genoeg sou Dawid ‘n paar eeue later dié plek Maganajim as ‘n toevlugsoord gebruik in sy eie stryd met sy seun Absalom waar hy selfs deur van die omringende nasies, onder andere Arameërs, versorg is met beddegoed (2 Sam. 17).  Nog dieper, Elisa sou ook deeglik rekening hou met die werklikheid van die “twee kampe” toe hulle op ‘n keer omsingel was van die Arameërs.  Hy het Gehasi gerusgestel: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.”  Elisa het toe gebid dat sy oë vir God se leërmag sal oopraak: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.”  Toe die Here die oë van Gehasi oopmaak, kon hy sien dat die berge rondom Elisa vol was van perde en strydwaens van vuur (2 Kon. 6:16-17).

In die tweede plek bemoedig die verhaal ons met die perspektief dat in ons worstelstryd met God se wil vir ons lewe, ons op sy uiteindelike seën kan staatmaak. Dit is so dat die verhaal ‘n mens diep laat nadink oor jou persoonlike ambisie en die drang tot selfverwesenliking en waar die grense lê tussen mens en mens en tussen mens en God.  Maar die evangelie van Jakob se transformasie van bedrieër na begenadigde is dat God ons nie kies vir wie en wat ons is nie, maar vir wie en wat Hý van ons kan maak.

Om die waarheid te sê, as ’n mens na Jakob se verhaal tot en met hier kyk, sien jy ’n aartsskelm en manipuleerder van formaat wat ten alle koste bo wil uitkom.  Hy het ongelooflike beloftes van God, reeds van geboorte af, wat herhaal is in die woestyn toe hy van Esau af wegvlug, maar hy kies om self te probeer om te sorg dat hy bo uitkom.

En dan wanneer hy hom uiteindelik in God vasloop by die Jabbokrivier, sien jy dat Hy uiteindelik buig voor God en dat hy sy arrogansie en manipulasie los en Esau met nederigheid tegemoet loop. “God was baie goed vir my,” sê hy in die volgende hoofstuk vir sy broer en dít raak die getuienis van sy lewe wat tot vandag toe met ons spreek.

Op ‘n derde vlak kan ons kennis neem van die parallelle wat daar tussen ons ervaring en Jakob s’n is. Calvyn het in sy kommentaar op Genesis ons versoekings met die worsteling van Jakob verbind.  Versoekings, sê Calvyn, is nie net ‘n worsteling met jou eie begeertes en behoeftes en die verleiding van die wêreld nie, maar baie keer ‘n worsteling met God self en sy wil vir jou lewe.  In ‘n sekere sin, sê Calvyn, veg God téén ons en vír ons.  Hy maak ons sterker in dié ervarings wat voel asof God téén ons is, deurdat dit juis Hy is wat ons die krag gee om te kan oorwin:

For we do not fight against him, except by his own power, and with his own weapons; for he, having challenged us to this contest, at the same time furnishes us with means of resistance, so that he both fights against us and for us … in as much as he supplies us with more strength to resist than he employs in opposing us, we may truly and properly say, that he fights against us with his left hand, and for us with his right hand. For while he lightly opposes us, he supplies invincible strength whereby we overcome.” (John Calvin’s Commentaries on Genesis 24-50).

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: