Skip to main content

Genesis 32 – Jakob worstel enduit met God en word verander van bedrieër na begenadigde

655804-breathtaking-space-artSoos Jakob se vlug uit Kanaän deur engele begelei is, só gebeur dit ook nou met sy terugkeer.  Waar die ervaring met die engele by Bet-El vir Jakob ‘n betroubare kontakpunt met die hemel gegee het met die eksplisiete belofte dat God by hom sal wees (Gen. 28), gee hierdie ervaring met die engele by Maganajim vir Jakob ‘n verdere vaste vertrekpunt vir sy stryd op die aarde met die implisiete belofte dat die “leër van God” by hom sal wees (Gen. 32).

Die naam Maganajim beteken: “twee kampe” wat waarskynlik dui op die werklikheid van God se betrokkenheid by sy mense.  Hulle vorm as’t ware: “twee kampe”, in die stryd vir die vestiging van God se koninkryk op aarde – God se kamp van engele, en Jakob se kamp van mense en diere.

Let op hoe dié tema van die “twee kampe” in die res van die verhaal ontvou.  Aan die een kant probeer Jakob alles in sy vermoë om die uitdaging wat sy herontmoeting met Esau die hoof te bied.

  • Hy stuur boodskappers om sy onderdanigheid aan Esau oor te dra. Nie dat dit veel help nie, want Esau was reeds met ‘n groot mag van vier honderd man op pad.
  • Hy deel in sy angstigheid die mense by hom in twee groepe om die kanse dat hulle almal uitgewis word, te verminder.
  • Hy bid tot die God van sy voorouers en ouers wat hom aangesê het om terug te gaan na Kanaän en belowe het om aan hom goed te doen. Nie dat hy dié gunsbewyse werd is nie, maar net op grond van God se belofte maak hy staat daarop dat: “Ek sal beslis goed doen aan jou.
  • Hy stuur ‘n reusegeskenk aan sy broer Esau – 580 bokke, skape, kamele, beeste en donkies – maar laat hulle ook in ‘n paar troppe trek ter wille van veiligheid. “Jakob het naamlik gedink: met die geskenk wat voor my uit gaan, sal ek probeer om hom in ’n goeie bui te kry. Dan sal ek na hom toe gaan en miskien ontvang hy my dan vriendelik.
  • Hy laat laaste van alles sy vroue en kinders en sy persoonlike besittings deur die Jabbokdrif trek.

Aan die ander kant bly Jakob uiteindelik heeltemal alleen agter waar ’n man die hele nag tot dagbreek toe met hom gestoei het. Sy stryd is nie met vlees en bloed, in die gestalte van sy broer Esau nie, maar met homself en met God, soos dit uit vers 29 blyk.

Jakob se stryd om die seën van sy pa het hy met bedrog in sy guns beslis. Hier vind hy sy meerdere in die stryd met God waarin hy nie kan wen nie, al hou hy enduit vol.  Hy is uiteindelik afhanklik van God self om op soewereine wyse die seën vir hom ‘n werklikheid te maak.

Dat die man teen dagbreek gelos wil word, het waarskynlik daarmee te make dat geen mens God kan sien en bly lewe nie.  Jakob word gevra om sy naam te gee vóór hy geseën kan word.  Daarmee word Jakob gedwing om te erken dat hy ‘n bedrieër is, want dit is die betekenis van sy naam.

Die man se seën behels egter nie ‘n nuwe belofte aan Jakob nie, maar eerder ‘n nuwe naam, Israel (God stry), wat sy transformasie van bedrieër na begenadigde voltrek. Waar hy voorheen téén mense en selfs God gestry het, word God nou die een wat vír hom teen mense stry.  Hiermee word dit ook duidelik dat dit hierdie God sal wees wat vir die volk wat uit Jakob gebore is, sal stry.  Jakob se stryd met God het in ‘n stryd van God vir Jakob en sy nageslag verander.

Dat die man sy naam nie aan Jakob wil gee nie, is waarskynlik gemik daarop om die versoeking te voorkom om dié naam te misbruik, soos die wet eeue later sou uitspel: “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik nie ongestraf laat bly nie.” (Eks. 20:7).

Jakob noem die plek Pniël (aangesig van God) om sy ontsag en dankbaarheid vir God te verwoord, “want, ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie.”  Nie dat hy God in die daglig gesien het nie, maar tog in die stryd in die donker van aangesig tot aangesig met God gekom het.

Hoe poëties en betekenisvol vervolg die skrywer nie met die afloop van dié ontmoeting met God nie: “Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom.”  ‘n Nuwe era het vir Jakob aangebreek.  Die Here het Hom verbind nie net aan Jakob nie, maar aan Israel.  God was nou die strydros vir die volk.

Dit is betekenisvol dat Jakob mank gebly het aan sy heup, en dat die Israeliete sy nagedagtenis geëer het met die gebruik om nie die skiatiese senuweebondel wat aan die heup vaskom, te eet nie.  Soos die besnydenis hulle aan die verbond met Abraham herinner het, het die skiatiese senuweebondel hulle aan die verbond met Israel, dit is Jakob, herinner.

Jakob se arrogansie en verwaandheid het oorgegaan in afhanklikheid en nederigheid.  Dit gee ‘n mens ‘n beter begrip vir die latere aanklag teen Edom, Esau se nageslag, se verwaandheid en afsydigheid, soos ‘n mens by die profeet Obadja lees.

Boodskap

Weereens lê die boodskap van dié verhaal op verskeie vlakke.  Ek noem net drie.

In die eerste plek bemoedig die verhaal ons met die perspektief op die “twee kampe” in ons eie lewe.  Ons hoef nie net staat te maak op ons eie vermoëns nie.  God se teenwoordigheid met alles wat Hy tot sy beskikking het, is ook aan ons belowe.

Interessant genoeg sou Dawid ‘n paar eeue later dié plek Maganajim as ‘n toevlugsoord gebruik in sy eie stryd met sy seun Absalom waar hy selfs deur van die omringende nasies, onder andere Arameërs, versorg is met beddegoed (2 Sam. 17).  Nog dieper, Elisa sou ook deeglik rekening hou met die werklikheid van die “twee kampe” toe hulle op ‘n keer omsingel was van die Arameërs.  Hy het Gehasi gerusgestel: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.”  Elisa het toe gebid dat sy oë vir God se leërmag sal oopraak: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.”  Toe die Here die oë van Gehasi oopmaak, kon hy sien dat die berge rondom Elisa vol was van perde en strydwaens van vuur (2 Kon. 6:16-17).

In die tweede plek bemoedig die verhaal ons met die perspektief dat in ons worstelstryd met God se wil vir ons lewe, ons op sy uiteindelike seën kan staatmaak. Dit is so dat die verhaal ‘n mens diep laat nadink oor jou persoonlike ambisie en die drang tot selfverwesenliking en waar die grense lê tussen mens en mens en tussen mens en God.  Maar die evangelie van Jakob se transformasie van bedrieër na begenadigde is dat God ons nie kies vir wie en wat ons is nie, maar vir wie en wat Hý van ons kan maak.

Om die waarheid te sê, as ’n mens na Jakob se verhaal tot en met hier kyk, sien jy ’n aartsskelm en manipuleerder van formaat wat ten alle koste bo wil uitkom.  Hy het ongelooflike beloftes van God, reeds van geboorte af, wat herhaal is in die woestyn toe hy van Esau af wegvlug, maar hy kies om self te probeer om te sorg dat hy bo uitkom.

En dan wanneer hy hom uiteindelik in God vasloop by die Jabbokrivier, sien jy dat Hy uiteindelik buig voor God en dat hy sy arrogansie en manipulasie los en Esau met nederigheid tegemoet loop. “God was baie goed vir my,” sê hy in die volgende hoofstuk vir sy broer en dít raak die getuienis van sy lewe wat tot vandag toe met ons spreek.

Op ‘n derde vlak kan ons kennis neem van die parallelle wat daar tussen ons ervaring en Jakob s’n is. Calvyn het in sy kommentaar op Genesis ons versoekings met die worsteling van Jakob verbind.  Versoekings, sê Calvyn, is nie net ‘n worsteling met jou eie begeertes en behoeftes en die verleiding van die wêreld nie, maar baie keer ‘n worsteling met God self en sy wil vir jou lewe.  In ‘n sekere sin, sê Calvyn, veg God téén ons en vír ons.  Hy maak ons sterker in dié ervarings wat voel asof God téén ons is, deurdat dit juis Hy is wat ons die krag gee om te kan oorwin:

For we do not fight against him, except by his own power, and with his own weapons; for he, having challenged us to this contest, at the same time furnishes us with means of resistance, so that he both fights against us and for us … in as much as he supplies us with more strength to resist than he employs in opposing us, we may truly and properly say, that he fights against us with his left hand, and for us with his right hand. For while he lightly opposes us, he supplies invincible strength whereby we overcome.” (John Calvin’s Commentaries on Genesis 24-50).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:6-12Askies u praat van die Rietsee, maar die Bybel praat van die Skelfsee
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:1-5Amen, baie dankie vir hierdie woord, GOD het die mens so lief dat HY nie wil hê dat enige een verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. GOD het ons so lief dat HY SY SEUN vir ons gegee het om ons sonde te vergewe, sal jy as mens dit doen? Ek self sal baie swaar kry, sou GOD dit ooit van my s…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:37-45Ek wil ook graag my eie getuienis gee, soos daar staan, vergewe my sonde soos ek ook my skuldenaars vergewe Psalm 6:12 Ek het jare depressie gehad en nie besef dat ek met onvergewing gesit het nie, en dit al die jare in my hart gedra het nie, ek moes pille dring vir depresie, angs en slaaploosheid,…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 105:24-36Goeie môre, ja dit is waar Amen, GOD het net nodig om te spreek en HY kies wie HY wil om SY wil te geskied, ons moet net gehoorsaam wees aan GOD se stem