Skip to main content

Genesis 49-50 – Jakob seën sy seuns met die oog op die toekoms

Soos ek in die vorige bydrae gemeld het, sluit die boek Genesis in die laaste twee hoofstukke af met die volgende drie temas:

  • Jakob seën die res van sy seuns – Gen. 49:1-28
  • Josef stel sy broers gerus met Jakob se dood dat God steeds vir hulle sal sorg – Gen. 49:29-50:21
  • Josef herinner sy broers met sy eie dood dat God hulle sal terugneem na die beloofde land – Gen. 50:22-26

Dit is drie baie belangrike temas in die lig van die nuwe situasie waarin hulle hulle nou in Egipte bevind.  Al drie temas vertolk die toekoms vir die groeiende Godsvolk.

  • Jakob lewer sy seën in die vorm van ‘n laaste testament waarin sy toekomsvisie vir sy kinders en hulle nageslagte uitgespel word.
  • Josef fokus ook op die toekoms. Aan die een kant fokus hy in die onmiddelike toekoms op sy lojaliteit aan sy broers.  Hy begrond dit in God se sorg vir hulle.  Hy sal hulle nie anders hanteer as wat God dit doen nie.
  • Josef fokus egter aan die ander kant ook op God se sorg in die verre toekoms, d.w.s. selfs ná hy dood is. Hy verklaar stellig dat God hulle sal terugbring in Kanaän as vervulling van sy belofte aan hulle.

Die hoop op ‘n land van hulle eie word daarmee brandende gehou.  Al sou dié tydperk in die geskiedenis van die Godsvolk meer as vier eeue duur, sou daar ‘n dag aanbreek waarin die Here hulle sou uitlei.  Daarvan vertel die boek Eksodus ons.

Jakob seën die res van sy seuns – Gen. 49:1-28

Die NAV laat ‘n baie belangrike frase uit in vers 1.  Daar staan eintlik in die oorspronklike Hebreeuse teks, meer letterlik vertaal: “Jakob het sy seuns geroep en gesê: ‘Kom bymekaar sodat ek kan aankondig vir julle wat sal gebeur met julle aan die einde van die dae (beʾaḥarît hayyāmîm).’”

Hierdie frase word eintlik veral in profetiese tekste gekry, waar dit ‘n eskatologiese betekenis dra en met die einde van tyd as sodanig verbind kan word (bv. Jes. 2:2).  Hier dui dit waarskynlik net op die toekoms ná die tydperk in Egipte, soos die term op ander plekke in die Pentateug gebruik word.

Bileam gebruik die term in Numeri 24:14 om Israel se oorwinning in die toekoms (aan die einde van die dae) oor onder andere die Moabiete, Edomiete, Amalekiete, en Keniete (Kain se nageslag)  te beskryf.  Moses gebruik ook die term in Deuteronomium 4:30 om die Israeliete op te roep om in die toekoms (aan die einde van die dae) hulleself voor die Here te verootmoedig as die strawwe van die verbond hulle sou tref.  Dieselfde geld Deuteronomium 31:29.

Let op hoe Jakob homself met beide sy geboortenaam, Jakob, as met die naam wat God hom gegee het, Israel, beskryf.  Sy twaalf seuns word nie in volgorde van geboorte genoem nie, behalwe die eerste vier seuns by Lea en die laaste twee seuns by Ragel.  Net om jou te herinner gee ek die orde van die geboortes:

  • Lea se eerste vier seuns was Ruben, Simeon, Levi en Juda.
  • Bilha, slavin van Ragel, se twee seuns was Dan en Naftali.
  • Silpa, slavin van Lea, se twee seuns was Gad en Aser.
  • Lea het daarna nog twee seuns gehad, Issaskar en Sebulon.
  • Ragel se twee seuns was Josef en Benjamin.

Let ook op dat Jakob hier doelbewus ‘n voorrang gee aan die twee kinders wat uit sy liefde vir Ragel gebore is, iets wat die wet later sou verbied (Deut. 21:15-17).  Dit dui aan die een kant op die ouderdom van dié tradisie – dit het duidelik gebeur vóór die wet in werking gekom het – en aan die ander kant op die feit dat die latere wet gewaarsku het teen die kere wat die aartsvaders “oneties” opgetree het. Ná die uitsprake van die wet sou niemand weer soos Jakob ‘n kind onregverdiglik kon voortrek op die wyse waarop hy dit gedoen het nie.

Ruben, word as die oudste, vernaamste en sterkste genoem, maar deur Jakob van sy eersgebore status ontneem omdat hy onstuimig was “soos stormwater” (of “skuim”) en hom aan bloedskande skuldig gemaak het met Silpa.  Jakob moes natuurlik iets daaraan gedoen het toe dit gebeur het, en nie gewag het tot op sy sterfbed om sy seun daaroor aan te spreek nie.  Die aankondiging word bewaarheid in die feit dat die latere stam Ruben in vergetelheid verdwyn en niemand van betekenis in die geskiedenis van Israel opgelewer het nie.

Simeon en Levi word saam genoem, veral omdat hulle saamgesweer het in die koelbloedige moord op Sigem se mense.  Jakob verkwalik hulle dat hulle altyd gereed is vir geweld. Daarom wil hy geen deel hê aan hulle manier van onderhandelinge doen nie, want dit was nie in goeder trou nie, maar met kwade bedoelings.  Selfs die diere het dit blykbaar ontgeld – beeste se agterbeen senings is afgekap – hoewel dit ook ‘n metafoor kan wees vir die gevaar wat dit vir Jakob gebring het.

Jakob bid dat die straf van God hulle sal tref oor hulle geweldpleging en hulle nie as stamme in Israel sal voortbestaan nie.  Dit het inderdaad só gebeur.

Simeon het deel geword van die stam van Juda.  Trouens, hulle grondgebied was aanvanklik ingesluit binne dié van Juda (Jos. 19:1).  Ons lees ook in 2 Kronieke 15 dat die hervormings van Asa in die 9de eeu v.C. ‘n aantal mense van Simeon gemotiveer het om deel van die suidryk te raak.  Dit was waarskynlik ‘n stukkie genade, want dit gee hulle ‘n uitkoms toe die noordryk in die 8ste eeu v.C. in ballingskap weggevoer word.

Levi kry weer geen grondgebied met die Intog nie, hoewel daar vir Levi weliswaar verlossing gekom het in die aanstelling as die stam wat as priesters en Leviete in die tabernakel en later die tempel diens gedoen het.  Twee van die groot figure in die Trek uit Egipte was deel van die stam van Levi, Moses en Aäron.

Juda word geëer vir sy groeiende rol in die geledere van die twaalf broers.  Jakob voorspel dat dit hy sal wees vir wie sy broers sal eer soos dit later met die koninklike geslag sou gebeur, toe Saul uit Benjamin nie die mas opgekom het nie, en die Here vir Dawid uit die nageslag van Juda gekies en ‘n ewige verbond met hom gesluit het.

Daar is duidelik Messiaanse trekke in die beskrywing van die toekomstige geskiedenis van Juda.  Die simbool van Juda as die leeu word in Openbaring met Jesus se koningskap geassosieer (Openb. 5:5).  Trouens, die aankondiging dat Juda sal aanhou regeer: “totdat Silo kom, die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp”, bevestig dit onteenseglik, soos veral Paulus (Kol. 1:15-20) en Johannes (Openb. 1:5 vv.) dit van Jesus by sy wederkoms verkondig.

Sebulon se verbintenis met die see en Sidon kan moontlik dui op ‘n toekoms wat in die vergetelheid sal verdwyn, maar dit is nie presies duidelik wat daarmee bedoel word nie.  Jesaja voorspel egter ‘n omkeer in hulle geskiedenis wat met die Messias verbind word (Jes. 8:23).  Jesus gaan bly dan ook in Kapernaum in die gebied van Sebulon (en Naftali) in vervulling van dié profesie soos Matteus ons vertel (Matt. 4:13-15).

Issaskar word as ’n sterk pakdier geskets wat bereid is om dwangarbeid te verrig ter wille van ‘n goeie woonplek tussen die Kanaäniete, suidwes van Galilea soos dit in Josua 19 beskryf word.  Daar is getuienis uit die El-Amarna dokumente dat só iets gebeur het, maar die interpretasie daarvan bly onseker.

Dan word geteken as ‘n stam wat in die toekoms sal sorg dat die reg van die hele volk gehandhaaf sal word, soos dit inderdaad met die geskiedenis van die rigter Simson uit die stam van Dan in die boek Rigters gebeur het (Rigt. 13-16).

Gad se militêre finesse word aangekondig soos dit dan ook inderdaad in die geskiedenis van Israel die geval was, met bv. Jefta (Rigt. 11 – Gilead was deel van die stamgebied van Gad [Num. 32:29]; Jos. 13:24-28) en die Gadiete wat saam met Dawid geveg het (1 Kron. 12).

Aser word geteken as mense wat lief was vir kos en die luukses in die lewe.  Dit het beteken dat hulle nie veglustig was nie en deel van die Kanaäniete geword het (Rigt. 1:32).

Naftali word geteken as vlugvoetige en mooi mense wat ook nie ‘n groot bydrae met die Intog gelewer het nie en eerder deel van die Kanaäniete geword het (Rigt. 1:32), hoewel hulle darem onder die leierskap van Debora hulle deel gedoen het (Rigt. 5:18).  Soos met Sebulon voorspel Jesaja ‘n omkeer in hulle geskiedenis wat met die Messias verbind word (Jes. 8:23).  Jesus gaan bly dan ook in Kapernaum in die gebied van Naftali (en Sebulon) in vervulling van dié profesie soos Matteus ons vertel (Matt. 4:13-15).

Josef verdien in Jakob se oordeel die beste deel van sy seën vir die toekoms en word in gloeiende terme as vrugbaar (vgl. Ps. 1 se beelde van ‘n boom by die waters) en magtig (hy het alle aanslae teen hom kon afweer) geteken.  Anders as met die res van die broers word sy sukses egter aan God se ingrype, beskerming en voorsiening geteken.  Hoe pragtig verwoord Jakob nie sy gebed vir Josef nie: “Die seëninge wat jou vader gegee het, is sterk, sterker as dié van die ou-ou berge, as die kosbaarhede van die heuwels wat altyd daar is.  Daardie seëninge kom op Josef, op hom wat die leier van sy broers sal wees.

Benjamin neem die laaste plek in as  ’n “wolf wat prooi verskeur”, ‘n duidelike verwysing na hulle vernuf in oorlog, soos dit op talle plekke in die OT genoem word, bv. in ‘n positiewe sin in die optrede van Ehud teen die Moabiete (Rigt. 3:15-30) sowel as hulle geveg saam met Debora (Rigt. 5:14).  In ‘n negatiewe sin kan ‘n mens hierin ook die oorlog rondom die grusame verkragting van die Leviet se byvrou lees, waartydens die Benjaminiete byna uitgewis is weens sommige van hulle se aandeel daarin (Rigt. 19-21).  Saul en Jonatan was ook Benjaminiete (1 Sam. 10-14).

Die gedeelte word afgesluit met ‘n oorhoofse opmerking dat dit Jakob se seën aan hulle was, hoewel ‘n mens duidelik uit die inhoud kan aflei dat dit baie meer ‘n verklaring oor hulle toekoms was.

Josef stel sy broers gerus met Jakob se dood dat God steeds vir hulle sal sorg – Gen. 49:29-50:21

Jakob koppel daaraan ‘n paar laaste opdragte aan sy seuns om hom in die familiegraf by die Makpelagrot te begrawe waar sy voorvaders ook lê.  Lea was alreeds daar saam met hulle begrawe – wat verklaar hoekom daar vandag net ses grafte by dié belangrike Joodse historiese plek in Hebron is (Ragel is naby Bethlehem begrawe).

Dit was vir Josef ‘n emosionele afskeid, maar sy praktiese geaardheid neem oor en ná die lyk gebalsem is, het hy aan sy pa se wens voldoen.  Dit sou die eerste keer sedert sy tienerdae wees wat hy in Kanaän sou kom, maar ook die laaste keer, hoewel sy gebeentes saam met die Israeliete jare later terug is met die Uittog uit Egipte en in Sigem begrawe is (Jos. 24:32), volgens die wense van Jakob.  Moses het persoonlik daarvoor gesorg (Eks. 13:19).

Dat dié gebeure ‘n groot impak op Egipte gehad het, gesimboliseer deur die groot stoet Egiptenare wat saam is Kanaän toe, is nogal interessant, hoewel dit ook wil lyk asof hulle net tot by die grens saam is, en die broers alleen tot by Hebron getrek het.  Ook die Kanaäniete het kennis geneem van die groot rouproses.

Met hulle terugkoms in Egipte was die vraag in die broers se harte brandend of Josef nie miskien al die tyd ‘n grief teen hulle in sy hart weggesteek het nie.  Hulle was bang dat hy hulle nou vanuit sy magsposisie in Egipte sou terugbetaal vir al die kwaad wat hulle hom aangedoen het.

Dit wil voorkom asof hulle ‘n boodskap opmaak dat Jakob hulle beveel het om Josef te vra dat hy die groot misdaad wat hulle hom aangedoen het, sal vergewe op grond van die feit dat hulle dieselfde God dien, “die God van u vader.

Dit lei ons af uit die feit dat dit Josef in trane gehad het.  Met sy broers se besoek aan hom waarin hulle – soos in die aanvanklike drome – voor hom neerval, verklaar hulle hulleself tot sy slawe.  Josef wou egter niks daarvan weet nie en het geantwoord dat hulle nie moet bang wees vir hom nie.  Hy sal nie en kan nie God speel in hulle lewe nie.

Hy som daarmee hulle hele geskiedenis op met die woorde: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het.

Hy het hulle van sy goeie gesindheid verseker sowel as van die feit dat hy vir hulle sal sorg.  Grootmoedig regdeur sy lewe, en tot die einde toe, soos ons in die volgende perikoop sal sien.

Josef herinner sy broers met sy eie dood dat God hulle sal terugneem na die beloofde land – Gen. 50:22-26

Die fokus verskuif in die laaste perikoop na die einde van Josef se lewe, ongeveer sestig jaar later.  Op Josef se inisiatief kry hy sy broers weer bymekaar en verseker hulle hierdie keer nie net van sy sorg nie, maar van God s’n.  Soos Jakob dit ook gedoen het, fokus hy ook nie net op die onmiddelike toekoms nie, maar op die Uittog wat êrens in die toekoms sou gebeur: “Na my dood sal God na julle omsien en Hy sal julle uit hierdie land uit laat trek na die land toe wat Hy met ’n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob.

Daaraan koppel Joef ‘n plegtige versoek dat hulle sal sorg dat hy self in Kanaän begrawe sal word, soos dit jare later deur Moses uitgevoer sou word.

Dit is op hierdie twee laaste woorde van Josef wat die Hebreërskrywer fokus as hy van Josef se geloof vertel: “Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.” (Hebr. 11:22).

Josef se lewenstaak was voltooi.  Sy wedloop is voltooi.  Hy het die geloof behou en sy plek ingeneem in die skare gelowiges wat ons aanmoedig om ons eie wedloop met volharding te hardloop.

Soos dit geblyk het regdeur die eerste boek in die Bybel – Genesis – dat God se genade op ‘n besondere manier in geloofsgemeenskappe tot sy reg kom, só sal dit in die tweede boek – Eksodus – en daarna telkens in die res van die OT en later in die NT blyk.  God roep families om aan Hom te behoort en tot ‘n seën in hierdie wêreld te wees.

Daarin het jy en jou familie ook ‘n roeping waarop net julle kan antwoord en waaraan net julle gehoorsaam kan wees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏
  • Chris van Wyk on Matteus 27Ek waardeer die terugvoer. Ek stuur vir jou die lêers per e-pos.
  • briefly31ea27a91f on Matteus 27Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Is dit moontlik om dit ook vir my te stuur. E-pos : heydenrychwilma1961@gmail.com Ek is van die NG Gemeen…
  • Chris van Wyk on Matteus 27Hi Neels, ons lees nie in die NT dat Petrus eksplisiet sy sonde voor die Here bely en om vergifnis vra nie. Ons sien wel dat dit indirek gebeur met sy hartseer in die voorhof ná hy die Here Jesus verloën het (Luk. 22:62). Ons sien dit ook in sy keuse om na Jesus te gaan op die strand en in die gespr…
  • Neels Fourie on Matteus 27Goeie more prof, kan jy vir my die skrif stuur waar Petrus vergifnis gevra het asb
  • Chris van Wyk on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afEk sien self uit na die reis!
  • Dianne on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afBaie dankie vir die geleentheid om saam met julle deur die woord te reis.Amen
  • andrebrophy812 on Johannes 17Good day sir. Thank you for the meaningful insight. May the Good Lord bless and keep your own spirit always in connection with the Holy spirit
  • Chris van Wyk on SubscribeWelkom. Ek stuur na jou Inbox.