Genesis in sy ontstaanswêreld
Die versoeking is daar om Genesis te lees vanuit ‘n moderne paradigma en vrae aan die teks te vra wat die teks nie bedoel was om op te antwoord nie.
Genesis sal egter enigiemand teleurstel wat antwoorde soek op vrae oor die kosmologie, evolusie, geskiedenis en ander moderne wetenskaplike navorsing. Genesis en die res van die verhale van die Pentateug is nie geskryf om moderne wetenskaplike navorsingsvrae te bevredig nie. Ek gaan dus ook nie daaroor uitbrei nie, en net soms in die verbygaan kommentaar daarop lewer.
Wat ‘n mens wel kan en moet doen, is om Genesis se verhale binne die konteks van sy eie ontstaanswêreld te plaas en die boodskap binne die kultuur en konteks van die tyd te lees. As ‘n mens dit só lees, is dit uiters interessant dat Genesis ‘n baie duidelik alternatiewe wêreldbeeld verskaf as wat in die res van die Ou Nabye Ooste die geval was.
Dit sal jy self kan raaksien in drie van die verhale wat ek hier kortliks beskrywe; twee van die antieke skeppingsverhale: die Enuma Elisj en die Epos van Atrakhasis sowel as een van die antieke vloedverhale: die Epos van Gilgamesj.
Enuma Elisj
Daar is verskeie skeppingsverhale beskikbaar in die antieke literatuur. Die Sumeries-Akkadiese Enuma Elisj, soms die Babiloniese Genesis genoem, is waarskynlik die bekendste. Dit is ‘n gedig wat op sewe tablette geskrywe is en die totstandkoming van die wêreld beskrywe. Dit is ook later verder uitgebrei.
Daar is ooreenkomste met Genesis se skeppingsverhaal: die skepping van hemel en aarde, die chaos waters – Tehom in die Bybel en Tiamat in Akkadies – die lig wat geskep word voor die hemelliggame, en uiteraard die skepping van plante, diere en die mens. Daar is selfs ‘n verband tussen orde van die inhoud van die sewe tablette wat met veral die orde asook met dele van die inhoud van die sewe skeppingsdae ooreenkom.
Dieselfde tipe ooreenkomste is ook aan te dui met ander skeppingsverhale uit die Sumeriese, Mesopotamiese, Egiptiese en Griekse literatuur en met verhale uit die res van die wêreld.
Maar, die ooreenkomste word oorskadu deur die verskille. Tehom word in die Bybelse verhaal nie gepersonifieer soos wat dit wel die geval is met die godin Tiamat in die Babiloniese verhaal nie. Die water is dus nie goddelik in die Bybelse verhaal nie. Dit is net water, anders as in die Babiloniese verhaal.
In die Bybel is daar ook net een God betrokke by die skepping, en dit is die Skeppergod self. ‘n Hele reeks gode is egter betrokke in die Babiloniese soos ook in ander skeppingsverhale.
In kort, die Bybelse Genesis verhaal draai om die skepping self. Die Enuma Elisj draai om die skepper, Mardoek. Die Enuma Elisj eindig daarom by die komiese held van die verhaal, Mardoek, met die ander gode wat hom gelukwens met sy prestasies in die skepping van die wêreld, veral omdat die mense geskep is sodat die gode kan rus. Die Bybelse Genesis eindig ook by die held van die verhaal, God self, maar wat egter na sy skepping kyk en die sewende dag as gereelde rusdag vir die mense instel, en dit heilig.
Dit is dus misleidend om die verskillende verhale van oor die hele wêreld tot hul gemene faktore te reduseer net om te probeer bewys dat hulle wel dieselfde oorsprong het. ’n Enkele bron vir al die verskillende verhale of ’n groot aantal van hulle is onwaarskynlik.
Die Bybelse skeppingsverhaal is dus ‘n unieke verhaal wat wel ooreenkomste vertoon met ander skeppingsverhale, maar nie op die ander verhale gebaseer is nie, en ‘n eie boodskap aan ons oordra.
Epos van Atrakhasis
Nog ’n skeppingsverhaal wat met dié van Genesis vergelyk kan word, is die Sumeries-Akkadiese Epos van Atrakhasis. Dit beskryf ook die ontwikkeling van die mens, maar sonder om die skepping as sodanig te beskryf. Dit begin waar die kleiner gode wat die grond moes bewerk, rebelleer teen hul lot. Hulle word hiervan verlos deur die skepping van die mens wat die werk in hul plek moet doen. Die mens is ’n bevredigende plaasvervanger, maar die lawaai wat hulle maak, steur die gode se rus en hulle word in die vloed vernietig, behalwe vir die held Atrakhasis (ook Utnapisjtim en Ziusudra in verskillende weergawes genoem) en sy familie.
In breë trekke vertoon hierdie epos ooreenkomste met die eerste deel van Genesis. Die mens word van beide klei en ’n goddelike bestanddeel gemaak; die taak van die mens is om die aarde te bewerk; die mensdom word deur ’n vloed vernietig, behalwe vir een familie.
Maar, daar is in in die epos van Atrakhasis geen enkele “Adam” nie, geen afsonderlike skepping van die vrou nie, geen tuin van Eden nie, geen sondeval nie, trouens geen moraliteit nie en geen Godsverhouding nie.
Epos van Gilgamesj
Daar is ook verskeie weergawes van die vloedverhale in ander antieke godsdienstige literatuur. Die Sumeries-Akkadiese Epos van Gilgamesj, wat deel vorm van bogenoemde epos van Atrakhasis, is waarskynlik die bekendste van die vloedverhale. Daar is verskillende weergawes van die verhaal wat deur die eeue ook uitgebrei is. Die mees volledige weergawe is op twaalf tablette geskrywe soos in die biblioteek van die Assiriese koning Assurbanipal uit die 7de eeu v.C. gevind. Hy was ook verantwoordelik vir die eerste wegvoering in ballingskap van die Noordryk van Israel.
Die Epos van Gilgamesj vertoon waarskynlik van al die buite-Bybelse verhale die grootste ooreenkomste met die Bybelse verhaal, in dié geval die verhaal van Noag. Dié epos vertel hoe Gilgamesj op ‘n soektog gaan na een van sy voorouers, Utnapisjtim (hy word ook Atrakhasis en Ziusudra in verskillende weergawes genoem), wat onder aandrang van die god Enki (hy word ook Ea genoem) sy familie gered het van die verwoestende wêreldwye vloed met die bou van ’n boot. Die verhaal vertoon talle ooreenkomste met die verhaal van die Bybelse Noag.
Weereens is daar egter meer verskille as ooreenkomste tussen die Bybelse verhaal van Noag en dié van Gilgamesj. Die talle ooreenkomste dui daarop dat dit waarskynlik dieselfde gebeurtenis is as dié wat in die Babiloniese een weergegee word, bv. die diere wat saamgeneem word op die boot, die verwoesting van die mense, die duif en kraai wat uitgestuur word om te kyk of die water al gesak het ensomeer.
Dit is egter ook duidelik dat heelparty elemente van die verhaal verskil, bv. die redes vir die vloed wat in Noag se geval in die morele verval van die mensdom lê, die detail rondom die diere, die lengte van die vloed, en die uitkoms daarvan. Die belangrikste verskil is dat Noag regdeur die verhaal ‘n mens in gehoorsaamheid aan God bly. Noag verkry nie die ewige lewe soos wel vir Utnapisjtim te beurt val nie. Noag word ook nie as gevolg van sy gehoorsaamheid een van die gode nie soos wat wel met Utnapisjtim die geval is nie.
View all posts in this series
- God gee Genade vir Geloofsgemeenskappe
- Die Pentateug
- Hoe lees ons die verhale in die Bybel?
- Lees, Luister, Leef
- Genesis – Die oorsprong van alle dinge
- Genesis in sy ontstaanswêreld
- Die verskille oordonder die ooreenkomste.
- Indeling
- Genesis 1:1-2:3 – In die begin het God die hemel en die aarde geskep
- Genesis 2:4-25 – Dit is nie goed dat die mens alleen is nie
- Genesis 3 – Die mens kruip vir God weg weens die sonde
- Genesis 4 – Kain oorweldig vir Abel en maak hom dood
- Genesis 5 – Adam het ‘n seun na sy beeld
- Genesis 6 – God is bedroef dat Hy die mens gemaak het, maar begenadig Noag
- Genesis 7 – Ek het jou gesien en bevind jou regverdig
- Genesis 8 – Toe het God gedink aan Noag en al die diere in die ark
- Genesis 9 – God sluit ‘n verbond met alle lewende wesens
- Genesis 10 – Uit Noag en sy nageslag versprei die nasies oor die aarde
- Genesis 11 – God bring ‘n taalverwarring en beweeg Tera om na Kanaän te trek
- Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwys
- Genesis 13 – God herhaal sy belofte van die land en ‘n groot nageslag aan Abram
- Genesis 14 – Abram seën en straf nasies op die wêreldverhoog
- Genesis 15 – Die Here belowe beskerming en beloning in ‘n verbond met Abram
- Genesis 16 – Abram val vir die versoeking om self ‘n nageslag te voorsien
- Genesis 17 – Lewe naby My en wees onberispelik
- Genesis 18 – Abraham se gasvryheid sluit die lewe vir almal oop
- Ekskursus: Kan God van gedagte verander?
- Genesis 19 – Losbandigheid en bloedskande bedreig familiewees
- Genesis 20 – Abraham tree as profeet op ten spyte van sy onbehoorlike gedrag
- Genesis 21 – Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het
- Genesis 22 – Nou weet ek dat jy My dien
- Genesis 23 – Sara word begrawe in die Makpelagrot as vervulling van die landsbelofte
- Genesis 24 – God gee vir Isak ‘n gasvrye vrou wat hom vertroos na die dood van Sara
- Genesis 25:1-18 – Abraham omhels die roeping van God enduit
- Genesis 25:19-34 – Esau minag sy eersgeboortereg en verkoop dit aan Jakob
- Genesis 26 – Isak beweeg van rusies na die ruimte wat die Here hom gee
- Genesis 27:1-45 – Rebekka en Jakob se bedrog bedreig die geloofsgemeenskap se voortbestaan
- Genesis 27:46-28:22 – Die Godsverhouding en die beskerming van die huwelik bevestig die geloofsgemeenskap
- Genesis 29-30 – Jakob word sterk in die stryd met Laban
- Genesis 31 – Die Here stuur Jakob as ‘n ryk man weer terug na Kanaän
- Genesis 32 – Jakob worstel enduit met God en word verander van bedrieër na begenadigde
- Genesis 33 – Jakob bely teenoor Esau dat God goed was vir hom
- Genesis 34 – Dina se verkragting word met koelbloedige moord beantwoord
- Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin het
- Genesis 36 – Esau verlaat die beloofde land en slaan sy eie koers in
- Genesis 37 – Josef die dromer word ‘n slaaf in Egipte
- Genesis 38 – Tamar tree as verlosser op in Juda se afvalligheid en losbandigheid
- Genesis 39:1-20 – Josef weerstaan Potifar se vrou om aan God en sy baas getrou te bly
- Genesis 39:21-40:23 – Josef lê drome uit in die tronk met God se hulp
- Genesis 41 – Josef se lot word dramaties verander van vergete na vrugbaar
- Genesis 42 – Jakob se seuns word deur God uitgedaag in Egipte
- Genesis 43 – Jakob stuur Benjamin na Egipte in die hoop dat God hulle barmhartig en genadig sal wees
- Genesis 44 – Juda offer sy lewe vir Benjamin op toe God hulle sonde aan die lig bring
- Genesis 45 – Josef omhels sy broers en verklaar dat alles God se werk was
- Genesis 46 – Jakob trek Egipte toe en herenig met Josef
- Genesis 47-48 – Jakob seën die farao sowel as Josef se twee seuns
- Genesis 49-50 – Jakob seën sy seuns met die oog op die toekoms
- Oor die woord van Sarai
Tags: Genesis
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Heinrich, die term apokaliptiek is afgelei van ‘n Griekse woord wat “openbaring” beteken. Dit verwys na literatuur wat geskryf is oor die toekomstige oordeel aan die einde van die tyd. Dit word gekenmerk deur simboliek en hemelse agente wat optree. Apokaliptiese geskrifte verwag dat God die ou onvolmaakte orde sal vernietig en die wêreld na sy oorspronkilke paradys-agtige toestand sal herstel. Dit is Bybelse boeke soos Daniël (hfst 7-12) en Openbaring, asook Bybelgedeeltes soos Jesaja 24-27 en Matteus 24-25.
Heinrich Du Preez
| #
Hi
Ek wil graag weet wat beteken apokapliptiese boeke
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus