Hoe lees ons die verhale in die Bybel?
Ons fokus dus in hierdie rondte van die Bybelskool op die eerste vyf boeke van die Bybel, die Pentateug. Ek gaan dit hoofstuk vir hoofstuk aan die orde stel. Ek het drie doelwitte met hierdie manier van lees van die Bybel:
- Ek fokus op die verstaan van die hoofstuk in sy konteks in die Bybelboek. Daarom gee ek ‘n indeling van die hoofstukke, verklaar sekere eksegetiese elemente wat belangrik is, en probeer die struktuur van die verhaal wat ter sprake is, vir jou oopbreek.
- Ek gee net ‘n leeshulp vir die hoofstuk; dit is nie ‘n volledige kommentaar op die Bybelteks nie. Daarvoor moet die kommentare geraadpleeg word. Ek wil daarmee vir jou help om te luister na wat die teks vir jou sê, soos wat die Heilige Gees jou begelei.
- Ek probeer nadenke oor die Bybelteks stimuleer sodat jy by die betekenis daarvan vir jou lewe kan uitkom. Die Bybel is immers die Woord van God wat gemik is daarop om jou in gemeenskap met ander gelowiges te laat lewe met die oog op die koms van die koninkryk van God. Ons lewe maak saak vir God.
Hierdie benadering fokus dus op die Bybel se narratiewe karakter. Dit fokus op die geheel en die wyse waarop die onderskeie hoofstukke en boeke in die geheel inpas.
In die lees van die hoofstukke is dit goed om ‘n mentor van my, prof. Bethel Müller, se onderskeid van drie aspekte van verhale in gedagte te hou in ons lees daarvan. Verhale in die Bybel het tipies drie eienskappe of kenmerkende karaktertrekke:
- ‘n Verwysende karakter – ons lees bv. in die Genesis-verhale van die geboorte-ervaringe van die geloof, die oorsprong van geloof. Dit help ons dus verstaan wat gebeur in die God-mens-verhouding. Só ook die res van die verhale in die Pentateug en regdeur die Bybel.
- ‘n Onmiddellike karakter – ons kan onsself herken in die verhale, trouens moet onsself identifiseer met die geloofsverhale sodat ons kan deelneem in die werklikheid waarvan dit ons vertel. Dít is dus ook die uitnodiging aan jou om jouself te identifiseer met die wyse waarop die verhaal vertel word en die boodskap van die dele daarin wat jou aanspreek, vir jouself toe te eien.
- ‘n Illustratiewe karakter – ons hoor in die verhale nuwe lewensmoontlikhede wat ons uitnooi om ons eie oorspronklike geloofservaringe te beleef. Die verhale in Genesis is as’t ware “lewensgroot” illustrasies wat die drakrag en handelingskrag van die geloof aandui. Dit is dus eweneens ‘n uitnodiging om jou eie pad met God te loop met die verhale as jou begeleidende voorbeelde.
Vir dié wat voorheen ingeskakel het by my manier van lees van die Bybel, sal prof. Bethel se invloed herken in die Lees, Luister, Leef metodiek wat ek telkens beklemtoon, iets wat ek maar onlangs agtergekom het. Dit is my manier om sy insigte te verwoord, maar daaroor netnou meer.
Met dié drie aspekte in gedagte in die lees van die Bybel is dit vanselfsprekend belangrik dat ons op geen manier hierdie verhale vervang met ons eie weergawe daarvan waarin net die “boodskap” daarvan belangrik is nie. Ons mag nie die verhale reduseer tot een of meer belangrike dogmatiese boodskappe vir vandag nie, al is die versoeking soms sterk daarvoor. Ons mag ook nie die verhale ontmitologiseer van hulle konkrete historisiteit – ek bedoel dit in die sin van werklike verhale – sodat ons uiteindelik net met ons eie weergawe daarvan sit nie.
Die verhale moet deeglik gelees word, intens na geluister word, en uiteindelik ‘n neerslag vind in die wyse waarop dit geleef word.
Prof. Bethel spreek daarom sterk kritiek uit op teoloë wat die teks óf verander óf verwerp en nie meer as gesaghebbend in hulle lewe aanvaar nie: “Is dit nie vreemd dat ons in die prediking ons teologiese samevatting, definisie en beredenering van die teks eerder vertrou as die vorm waarin die Heilige Gees dit Self aan ons gegee het nie?” (Riglyne vir prediking oor die Genesisverhale, bl. 13).
Daarmee bedoel hy dat die finale kanon van die Bybel die vorm is waarin die Heilige Gees God se boodskap aan ons verpak het, en ons sal goed doen om daarmee erns te maak presies soos dit aan ons oorgelewer is.
Dit beteken dat ‘n mens ‘n sterk saak daarvoor kan uitmaak dat die eksegese van verhalende tekste soos die Pentateug daarom die literêre en historiese dimensies van die tekste – die plot, karakters, kultuur en konteks – moet ontdek en analiseer. Hermeneuties moet ons daarna die vraag vra hoe die hoorder van die verhale vandag kan identifiseer met die fokuspunte of koördinate wat uit die teks na vore kom.
Ons moet in ons besig wees met die teks die punt ontdek waar die verhaal van die teks insny op ons verhaal, in ons ervaringsveld; die punt waar die teks ‘n transparant word vir vandag wat óns verhaal ‘n nuwe inleiding kan gee, sodat óns verhale beslissend verander en beïnvloed kan word; waar ons verhale ‘n nuwe rigting kry.
En dít is hoe ek die Bybel saam met julle gaan lees.
View all posts in this series
- God gee Genade vir Geloofsgemeenskappe - October 5, 2016
- Die Pentateug
- Hoe lees ons die verhale in die Bybel?
- Lees, Luister, Leef
- Genesis – Die oorsprong van alle dinge - October 6, 2016
- Genesis in sy ontstaanswêreld
- Die verskille oordonder die ooreenkomste
- Indeling
- Genesis 1:1-2:3 – In die begin het God die hemel en die aarde geskep - October 7, 2016
- Genesis 2:4-25 – Dit is nie goed dat die mens alleen is nie - October 8, 2016
- Genesis 3 – Die mens kruip vir God weg weens die sonde - October 10, 2016
- Genesis 4 – Kain oorweldig vir Abel en maak hom dood - October 11, 2016
- Genesis 5 – Adam het ‘n seun na sy beeld - October 12, 2016
- Genesis 6 – God is bedroef dat Hy die mens gemaak het, maar begenadig Noag - October 13, 2016
- Genesis 7 – Ek het jou gesien en bevind jou regverdig - October 15, 2016
- Genesis 8 – Toe het God gedink aan Noag en al die diere in die ark - October 16, 2016
- Genesis 9 – God sluit ‘n verbond met alle lewende wesens - October 18, 2016
- Genesis 10 – Uit Noag en sy nageslag versprei die nasies oor die aarde
- Genesis 11 – God bring ‘n taalverwarring en beweeg Tera om na Kanaän te trek - October 19, 2016
- Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwys - October 21, 2016
- Genesis 13 – God herhaal sy belofte van die land en ‘n groot nageslag aan Abram
- Genesis 14 – Abram seën en straf nasies op die wêreldverhoog - October 22, 2016
- Genesis 15 – Die Here belowe beskerming en beloning in ‘n verbond met Abram - October 24, 2016
- Genesis 16 – Abram val vir die versoeking om self ‘n nageslag te voorsien - November 14, 2016
- Genesis 17 – Lewe naby My en wees onberispelik - November 15, 2016
- Genesis 18 – Abraham se gasvryheid sluit die lewe vir almal oop - November 16, 2016
- Ekskursus: Kan God van gedagte verander?
- Genesis 19 – Losbandigheid en bloedskande bedreig familiewees - November 17, 2016
- Genesis 20 – Abraham tree as profeet op ten spyte van sy onbehoorlike gedrag - November 18, 2016
- Genesis 21 – Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het - November 19, 2016
- Genesis 22 – Nou weet ek dat jy My dien - November 21, 2016
- Genesis 23 – Sara word begrawe in die Makpelagrot as vervulling van die landsbelofte - November 22, 2016
- Genesis 24 – God gee vir Isak ‘n gasvrye vrou wat hom vertroos na die dood van Sara - November 23, 2016
- Genesis 25:1-18 – Abraham omhels die roeping van God enduit - November 24, 2016
- Genesis 25:19-34 – Esau minag sy eersgeboortereg en verkoop dit aan Jakob - November 25, 2016
- Genesis 26 – Isak beweeg van rusies na die ruimte wat die Here hom gee - November 26, 2016
- Genesis 27:1-45 – Rebekka en Jakob se bedrog bedreig die geloofsgemeenskap se voortbestaan - November 30, 2016
- Genesis 27:46-28:22 – Die Godsverhouding en die beskerming van die huwelik bevestig die geloofsgemeenskap - December 1, 2016
- Genesis 29-30 – Jakob word sterk in die stryd met Laban - December 2, 2016
- Genesis 31 – Die Here stuur Jakob as ‘n ryk man weer terug na Kanaän - December 3, 2016
- Genesis 32 – Jakob worstel enduit met God en word verander van bedrieër na begenadigde - December 5, 2016
- Genesis 33 – Jakob bely teenoor Esau dat God goed was vir hom - December 6, 2016
- Genesis 34 – Dina se verkragting word met koelbloedige moord beantwoord - December 7, 2016
- Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin het - December 8, 2016
- Genesis 36 – Esau verlaat die beloofde land en slaan sy eie koers in - December 9, 2016
- Genesis 37 – Josef die dromer word ‘n slaaf in Egipte - December 10, 2016
- Genesis 38 – Tamar tree as verlosser op in Juda se afvalligheid en losbandigheid - December 12, 2016
- Genesis 39:1-20 – Josef weerstaan Potifar se vrou om aan God en sy baas getrou te bly - December 13, 2016
- Genesis 39:21-40:23 – Josef lê drome uit in die tronk met God se hulp - December 14, 2016
- Genesis 41 – Josef se lot word dramaties verander van vergete na vrugbaar - December 15, 2016
- Genesis 42 – Jakob se seuns word deur God uitgedaag in Egipte - December 16, 2016
- Genesis 43 – Jakob stuur Benjamin na Egipte in die hoop dat God hulle barmhartig en genadig sal wees - December 17, 2016
- Genesis 44 – Juda offer sy lewe vir Benjamin op toe God hulle sonde aan die lig bring - December 19, 2016
- Genesis 45 – Josef omhels sy broers en verklaar dat alles God se werk was - December 20, 2016
- Genesis 46 – Jakob trek Egipte toe en herenig met Josef - December 21, 2016
- Genesis 47-48 – Jakob seën die farao sowel as Josef se twee seuns - December 22, 2016
- Genesis 49-50 – Jakob seën sy seuns met die oog op die toekoms - December 23, 2016
- Oor die woord van Sarai - June 20, 2018
Marie
Goeiemore Chris, ek wil graag more in ons Bybestudieklas Henog behandel. Het jy enige gedagtes wat ek miskien ook kan gebruik? Baie dankie!
Chris van Wyk
Hi Marie. Jy kan hier oor Henog by Bybelskool lees.