Skip to main content

Genesis 23 – Sara word begrawe in die Makpelagrot as vervulling van die landsbelofte

655804-breathtaking-space-artSes en dertig jaar ná Sara aan Isak geboorte gegee het (2066 v.C.), is sy oorlede in Kirjat-Arba (2030 v.C.), dit is Hebron, die stad waar Dawid later koning sou word.  Sy het egter nie haar seun Isak se huwelik met Rebekka meegemaak nie.  Dit sou wel Abraham se voorreg wees soos ons in hoofstuk 24 lees.  Abraham, wat nege jaar ouer was as Sara (Gen. 17:1, 17) sou nog nege en dertig jaar leef en selfs weer trou met Ketura en ses kinders by haar verwek voordat hy in 1991 v.C. oorlede is (Gen. 25).

Abraham onderhandel met die Hetiete oor die stuk grond van Efron sodat hy haar in die Makpelagrot kan begrawe.  Ons sien in die onderhandelinge ‘n tipiese Midde-Oosterse transaksie waarin waar Efron die stuk grond eers gratis aanbied en dan half terloops die prys aankondig: “Moenie dat ons stry oor ‘n stukkie grond wat vier en ‘n half kilogram silwer werd is nie”, waarop Abraham dan die vier en ‘n half kilogram silwer vir hom afgeweeg het en die enigste eiendom bekom wat hy ooit in die land Kanaän sou besit, behalwe vir die enkele waterput wat hy gegrawe het, die enkele boom wat hy geplant het, sowel as die vier altare wat hy opgerig het.

Die graf van Sara, waarin Abraham ook later begrawe is (Gen. 25:7-10), het egter nie net ‘n simboliese band met die land verteenwoordig nie.  Met die kooptransaksie en deur hulle begrafnis in die Makpelagrot het ‘n konkrete band tussen hulle en die land tot stand gekom wat ‘n enorme teologiese impak gehad het in die tradisie waartoe dit aanleiding gegee het.  Hierdie land was nou die land wat die Here aan die aartsvaders gegee het: “Dit is U, ons God, wat die vroeëre inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdryf het en die land aan die nageslag van u vriend Abraham as ’n blywende besitting gegee het.” (2 Kron. 20:7).  Die graf was een van die getuienisse daarvan.

Die klein en amper onopsigtelike vervulling van die belofte in terme van die Makpelagrot het in die volksbewussyn ‘n definitiewe konkrete verbintenis van God aan sy belofte verteenwoordig.  Moses kon in Egipte daarop aanspraak maak om die volk te motiveer om die uitdaging nie net van die Uittog uit Egipte aan te pak nie, maar ook die Intog in die beloofde land, om dit as vervulling van die belote in besit te neem: “Ek sal julle bring na die land toe wat Ek met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob belowe het. Ek sal dit julle eiendom maak. Ek is die Here.” (Eks. 6:7).

Boodskap

Sara word in Jesaja as die moeder van die volk geëer: “Dink aan Abraham, julle voorvader, aan Sara wat vir julle in die wêreld gebring het.” (Jes. 51:2).  Dit op sigself is al ‘n groot genoeg aanleiding daartoe om Sara se nagedagtenis te eer.

Jesaja gebruik haar egter daarby as ‘n voorbeeld van volharding wat die volk moet inspireer om nie op te hou met die begeerte om reg te doen en na die wil van die Here te vra nie.  Hy moedig hulle aan om tussen al die sleg uit die verlede, dinge waarvoor hulleself ook veranwoordelik is, te soek na dié dinge wat lewe gegee het en dit weer te omarm.

Die ballingskap was vir Israel immers ‘n reinigingsproses om die bewussyn van God te herstel.  En die raad wat Jesaja vir hulle gee, is om moed te skep uit dit wat in hulle verlede lê.  In hulle verlede lê die Here se roeping van die aartsouers, Abraham (vader van vele) en Sara (prinses) en hulle gehoorsaamheid.  Net soos Hy hulle toe geseën het, net soos Hy die belofte aan hulle vervul het, al het dit bloedsweet gekos en ‘n kwarteeu se geduld, net soos hulle uiteindelik ‘n stuk konkrete eiendom in die beloofde land bekom het, so gaan God dit nou weer vir Sion, vir die volk, doen.

Trouens, die boodskap van seën is nie eksklusief net vir Israel bedoel nie, maar is ook die goeie nuus vir al die volke en nasies, sê Jesaja.  Dit wil sê, dié boodskap is ook vir ons.  En in ons as gelowiges het die Here sy Heilige Gees gegee as ‘n: “waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, vokome sal verlos.” (Ef. 1:14).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar