Skip to main content

Genesis 16 – Abram val vir die versoeking om self ‘n nageslag te voorsien

655804-breathtaking-space-artDie skrywer herinner ons daaraan dat Abram al tien jaar in Kanaän is (Gen. 16:3).  Abram het al baie vreugdes en versoekings ervaar soos ons agterkom uit ‘n “kykweer” van die verloop van sy verhaal tot hier.

Vreugdes en versoekings

  1. Abram het die vreugde ervaar van gehoorsaamheid aan God se roeping met sy aankoms in die land. Hy het egter ook die uitdagende versoeking ervaar waarvoor die ontbering van hongersnood hom geplaas het toe hy uitgedryf is na Egipte.  Hy faal jammerlik in die toets vir sy integriteit toe hy bang was Sarai se skoonheid sy einde sou beteken en ‘n leuen vertel wat tot groot skade vir almal gelei het (Gen. 12).
  2. Abram het die vreugde ervaar van God se oorvloedige voorsiening – onthou dat farao onder andere daarvoor verantwoordelik is (Gen. 12:16).  Die oorvloed het hom egter in konflik met sy ewe ryk broerskind Lot gebring wat tot ‘n skeiding van hulle weë gelei het. Hy weerstaan die versoeking om vir hom die beste deel te kies, en word daarom deur God in die gelyk gestel met ‘n asemrowende landsbelofte wat in wese alles insluit wat hy kan sien.  ‘n Mens kan selfs moontlik die betekenis van die hele aarde daarin inlees (Gen. 13).
  3. Abam het die vreugde ervaar van oorwinning in oorlog om sy broerskind uit die kloue van die Mesopotamiese konings te red, maar duidelik daaruit geleer dat Lot nie sy erfgenaam sou wees nie. Hy weerstaan die versoeking om hom te verryk uit die buit van Sodom en gee eerder ‘n tiende daarvan vir Melgisedek, die priester van die Allerhoogste (Gen. 14).
  4. Abram het die vreugde ervaar dat God sy geloofsvertroue raakgesien het en met hom ‘n verbond gesluit het wat nie net die belofte van dié land ingesluit het nie, maar spesifiek ook die belofte van ‘n nageslag. Trouens, die Here sê baie spesifiek dat sy nageslag nie uit sy slawe sal kom nie: “Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees”.  Hy val egter vir die versoeking om méér te weet van hoé presies dié nageslag vir hom gegee sal word en vra vir ‘n teken.  Die Here gee die teken vir hom met ‘n verbondsluiting, maar in die proses word Abram oorweldig deur ‘n groot angs wat woorde kry in die voorspelling van die Here dat daar ‘n groot tydperk van verdrukking vir sy mense voorlê. Die Here bevestig egter ook dat Hy sy verbond – unilateraal, d.w.s. deur God se toedoen alleen – met hom en sy nageslag sal hou en die land vir hulle sal gee (Gen. 15).

Sarai wag nie op God se vervulling van sy belofte nie

Daarom is die opmerking in vers 1 so belangrik om die versoeking van Abram in dié verhaal te verstaan: “Sarai het nog nie vir haar man Abram ‘n kind in die wêreld gebring gehad nie.

Op die oppervlak lyk die voorstel van Sarai dat Abram by Hagar ‘n kind moes verwek na ‘n pragmatiese een.  Daar was ‘n wydverspreide gebruik in die Ou Nabye Ooste dat ‘n vrou haar slavin vir haar man kon gee om by haar “in te gaan” – ‘n eufemisme vir geslagsgemeenskap – sodat sy beheer oor die kind wat dan gebore sou word, kon hê, eerder as dat haar man ‘n ander vrou neem wat dan ‘n teenstander kon word.  Sarai dink dus prakties.

As ‘n mens egter dieper kyk, is dit ‘n reusefout.  In die eerste plek is dit duidelik dat sy die Here nie raadpleeg nie, maar eenvoudig aanvaar dat: “die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê.”  Sy wag dus nie op die uitkoms van die Here se belofte van ‘n nageslag nie.  Sy plaas nie haar vertroue op die belofte nie.  In die tweede plek stem Abram met Sarai saam en: “eet van die verbode vrug”, soos Adam in die paradys, by wyse van spreke.  Dit is asof ‘n mens Genesis 3 se versoeking weer voor jou oë sien afspeel.

Abram vertrou nie op God vir die vervulling van sy belofte nie

Abram vertrou ook nie op die belofte van die Here nie, al het hy kort tevore die wonderlike gesig van die Here se verbondsluiting gehad en het die Here eksplisiet gesê hy sal sy eie nasaat hê, uiteraard by sy eie vrou, al word dit nie eksplisiet gesê nie. Dit sou egter nie uit sy slawe wees nie …

Hierdie gebrek aan vertroue word met die Hebreeuse frase: “hy het geluister na die stem van sy vrou”, uitgedruk.  In Afrikaans word dit vertaal met “hy het saamgestem met sy vrou”.  Dié frase word net een ander keer in Genesis gebruik.  In Genesis 3:17 word Adam verwyt dat hy: “geluister het na die stem van jou vrou.”  Soos Adam val Abram dus in die slaggat van ‘n gebrek aan vertroue, soos dit inderdaad natuurlik ook van Eva en Sarai die geval is.  Nie een van hulle vertrou die woord van God wat in die gedaante van ‘n verbod (Genesis 2-3) en ‘n belofte (Genesis 12-15) kom nie.

Poligamie bedreig die geloofsgemeenskap

Die gevolge van hierdie gebrek aan vertroue is net so reusagtig groot. Waar poligamie tot dusver net in die nageslag van Kain beskryf is – Ada en Silla (Gen. 4:19) – skiet Sarai en Abram met hierdie keuse die hele idee van die monogame verbintenis tussen een man en een vrou in die voet.  Sarai en Abram laat ‘n “heidense” gebruik posvat in die geloofsfamilie wat tot groot sedelike verval deur die loop van die geskiedenis van Israel sou lei.

Daarmee skep hulle natuurlik ook ‘n groot uitdaging vir hulleself in terme van die onderlinge verhoudinge, iets wat nié Sarai óf Abram met enige grasie kon hanteer nie, tot groot skade vir Hagar en haar kind, sowel as vir hulle almal in terme van die inherente konflik wat hiermee in die hele Ou Nabye Ooste geskep sou word tussen Israel en die Arabiere.

Poligamie sou ‘n uitdaging vir die geloofsgemeenskap bly vir die volgende millenium, soos ons dit in die verhaal van Jakob, Moses, Dawid, Salomo en die meeste van die konings van Israel en Juda sou aantref.  Nog erger, die konflik tussen Israel en die Arabiere het nooit opgehou nie …

Terloops: poligamie is die gebruik om meer as een vrou te neem, wat onderskei moet word van poliandrie, die gebruik om meer as een man te neem, soos ook in sommige gemeenskappe voorkom.

Van die profete en veral in die wysheidsliteratuur sou die ideaal van een man en vrou in die huwelik van tyd tot tyd voorhou, maar met min effek op die geloofsgemeenskap, soos ons dit veral in die ryker en magtiger dele van die geloofsgemeenskap se praktyke raaksien.

Spreuke praat regdeur in die enkelvoud van die wonder van die huwelik: “Jy het tog self ’n vrou, jy het tog self ’n put met water: drink die strome uit jou eie fontein.” (Spr. 5:15,18).  Die ma van koning Lemeul raai hom ook aan om nie sy kragte op baie vroue te verspil nie, maar een knap vrou te soek, te kies en te trou (Spr. 31).  Jou “eie” vrou (Spr. 5:18) staan teenoor die verleiding van die “ander” en/of “slegte” vrou (Spr. 5:20; 6:24, 29, 34; 7:5,10 vv.), waarmee owerspel en prostitusie sowel as poligamie afgewys word, hoewel laasgenoemde steeds moontlik was en op grond van wetgewing gereël is (Lev. 18-20).

Só is die boek Hooglied ook ‘n verheerliking van die eksklusiewe en interafhanklike liefde tussen een man en een vrou.

Maleagi roep die volk op om erns te maak met die skeppingsbedoeling van God met die huwelik.  Dit is die enigste manier waarop die huwelik die basis kan raak vir ‘n veilige omgewing waarbinne kinders tot eer van God groot gemaak kan word: “Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees.  En waarom een?  Omdat Hy wil hê dat daar ’n nageslag moet wees, wat Hom eer.  Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie.” (Mal. 2:15).

Die monogame huwelik sou egter eers in die NT met Jesus en Paulus se aandrang daarop herstel word in die geloofsgemeenskap ten spyte van die profetiese besware teen poligamie en die riglyne van die wysheidsliteratuur.

Jesus praat regdeur van die huwelik as ‘n verbintenis tussen een man en een vrou. Hy haal in Matteus 19 bv. uit albei skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 aan: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? (Gen. 1:27).  Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ (Gen. 2:24).  Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.” (Matt. 19:4-6).

Paulus volg Jesus na en spel dit as norm uit.  In die kerk: “behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man” (1 Kor. 7:2), hoewel Paulus ook ruimte laat vir ongetroudes wat ter wille van die verbintenis aan die koms van die koninkryk téén die huwelik kies (1 Kor. 7:8).  Dit is ook hoe Jesus dit gedoen het met sy beskrywing van drie kategorieë eunugs (dit is die Griekse woord wat vertaal word met die frase “wat nie kan trou nie” in die NAV): “Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel.  Wie dit kan doen, laat hy dit doen.” (Matt. 19:12).

Dit is interessant hoe Paulus moeite doen om spesifiek monogamiteit as norm vir die leiers van die geloofsgemeenskap uit te spel, al het hy die algemene norm al in sy Korintiërbrief vir alle gelowiges eergelê.  Hy sê in 1 Tim. 3:2 en 12: “’n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou … ’n Diaken moet aan sy vrou getrou wees en sy kinders en sy eie huisgesin goed beheer.” (vgl. ook Tit. 1:6).  Dit getuig waarskynlik van die feit dat dit ‘n tyd geneem het vir die geloofsgemeenskap om aan dié norm gehoorsaam te word.

Die Engel van die Here beredder die onverkwiklike situasie

Ek het meer aandag gegee aan Sarai en Abram se hantering van die situasie.  ‘n Mens kan natuurlik die verhaal ook uit die hoek van Hagar beskou, want nie net word daar meer aandag aan haar gegee in die hoofstuk nie, maar sy is ook duidelik die een wat God se aandag vang.  My tyd en ruimte is egter beperk om veel meer te skryf!  Daarom net die volgende paar opmerkings.

Hagar se gehoorsaamheid aan die Engel van die Here staan in skrille kontras met die ongehoorsaamheid van Sarai aan die belofte van die Here, sowel as die gebrek aan vertroue van Abram aan die stem van die Here in hoofstuk 15.

Sy ontvang ‘n soortgelyke belofte as Abram dat haar seun Ismael – let op dat Abram dié naam aan sy seun gee op grond van die getuienis van Hagar – ‘n groot nasie sal wees, maar daarmee saam dat hy die vader van ‘n weerbarstige en vyandige nasie sal wees: “so ontembaar soos ‘n wildedonkie: hy sal teen almal wees, en almal sal teen hom wees.”  (Gen. 16:12).

Hagar se ervaring met God en haar verwoording van wie God is, is ‘n roerende diep kykie in God se hart.  “U is ‘n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.” (Gen. 16:13).  Let op die wederkerigheid, maar ook afhanklikheid van haar ervaring.  Dit is God wat haar gesien het.  Dit is Hy wat eerste gereageer het op haar nood.  Maar, Hy het toegelaat dat sy Hom sien wat haar gesien het.  Hy het haar ingelaat by wat Hy met haar en haar ongebore kind wou doen, ook nie net vir die huidige krisis waarin sy haar bevind het nie, maar vir die verre toekoms.

Haar opdrag om terug te gaan en haar te gaan onderwerp – veral met ‘n seun wat ‘n ontembare wildedonkie sou wees! – getuig van ‘n groot geloofsheldin se vasgryp aan God se toekoms vir haar, selfs al kos dit haar byna haar lewe.

Dit laat ook die vraag oop of dié kind nie miskien tog die beloofde nasaat sou wees nie.  Tot Abram se krediet het hy hierdie keer reg opgetree en hulle skuiling en veiligheid gebied. Sy erkenning van Ismael het enige teëspraak verhoed.

Boodskap

Ek lees dié week weer hierdie aanhaling: “The authority of the Scripture is experienced through its capacity to give us a purchase on the world we inhabit. The whole point of thinking by reading Scripture (always in dialogue with tradition) is to understand ourselves where we are.” – Oliver O’Donovan (Church in Crisis).

Dit kom ooreen met my eie aanpak van die lees van die Bybel, om dit as ‘n analogie – as ‘n voorbeeld, as ‘n illustrasie – te gebruik vir my eie pad met God en die beloftes wat Hy vir my gegee het.  Die diepste woord uit hierdie gedeelte aan my is dat God dit regkry om midde in die geharwar van dié drie karakters sy verhaal met die wêreld nie in gedrang te laat bring nie.

Sarai het dit amper reggekry om van Hagar met haar seun Ismael ontslae te raak.  Die gevolge van haar ongehoorsaamheid en gebrek aan vertroue het tot vandag toe nog ‘n enorme effek in die lewe van mense soos ons eintlik daagliks kan lees in verhale van die die eeue-lange konflik in die Midde-Ooste tussen nasies, iets wat natuurlik uiteindelik waar is van alle nasies op hierdie aarde.

Tóg laat God Hom nie van stryk bring daardeur nie, en seën selfs die halsstarrige Sarai presies soos Hy belowe het. God se beloftes is onberoulik.  Al sukkel Sarai en Abram selfs in hulle verhouding – dit lyk asof sy hom doodgewoon hiet en gebied na willekeur – en al lyk dit asof hulle op die oog af nie die beste materiaal is om enige nasie mee te begin nie – laat staan nog ‘n geloofsgemeenskap waaruit die Messias gebore moet word – en al is hulle oud en ’n bietjie afgeleef, en al het hulle ouers en voorouers heidense gode gedien, en al sukkel hullle om volledig op God te vertrou – God maak sy belofte aan hulle waar!

God kies hulle en stap enduit die pad met hulle, ironies genoeg deur vir hulle ’n kind te gee wie se naam “lag” beteken, Isak, soos ons later sal lees.  Want die geheim van nasiebou lê nie in Abram en Sara opgesluit nie.  Dit lê in God opgesluit.  In ’n besondere sin wys God daarmee dat sy keuse vir mense nie afhang van wie hulle is nie, maar van wat Hy beplan.  Dieselfde geld vir Hagar … en vir jou.

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar