Skip to main content

Die Pentateug

655804-breathtaking-space-artDie Hebreeuse Bybel wat ons as die OT ken, staan vir die Jode as die Tenak bekend.  Dit is ‘n akroniem gevorm uit die eerste Hebreeuse letter van die drie dele van die OT – t-n-k.  Dit is dieselfde boek wat ons ken as die Ou Testament:

  • die Torah, of Wet (Pentateug, die eerste vyf boeke van die Bybel),
  • die Nevi`îm, of Profete (dit sluit die Vroeë profete soos Josua tot Konings, die Latere profete soos Jesaja, Jeremia en Esegiël, en die twaalf Kleiner profete soos Amos, Hosea en die ander in) en
  • die Ketivîm, of Geskrifte, (wat die Psalms, wysheidsliteratuur soos Spreuke en die ander historiese geskrifte soos Rut, Ester, Esra-Nehemia en Kronieke insluit).

Die Pentateug (die naam beteken: “vyf boekrolle”) is die eerste keer so genoem in ‘n kommentaar van die kerkvader Origines op die Johannes evangelie.  Die Hebreeuse titel van die vyf boeke is telkens die eerste woorde van die onderskeie boeke, hoewel ons werk met die Griekse titels wat meer met die onderwerp van elke boek te make het en kom van die Latynse vertaling, die Vulgaat, van die Septuaginta (LXX), die Griekse vertaling van die Ou Testament.

Die Pentateug is eintlik soos ‘n vyf volume werk, eerder as net vyf individuele boeke, wat oor eeue saamgestel is tot in sy huidige vorm.

Baie geleerdes het van vroeg af raakgesien dat die taalgebruik in die onderskeie dele van die Pentateug verskil.  Bv. Genesis 1 gebruik die woord Elôhîm vir God en Genesis 2 gebruik Jahwe Elôhîm (in Afrikaans Here God).  Daar is ook verskille in inhoud in die Pentateug, bv. wette wat met die priesterlike tradisies verbind word en die verhalende – en preekstof wat weer met ‘n Deuteronomistiese skool van die ballingskap in die sesde eeu v.C. verbind word.

Dit het gelei tot die idee dat die Pentateug opgebou is uit vier tradisies of bronne, JEDP, wat staan vir die Jahwistiese, Elohistiese, Deuteronomistiese en Priesterlike tradisies (Graf en Wellhausen).  Dié bronne hipotese het sy voordele, in die mate wat dit ‘n prentjie probeer verskaf van hoe die vyf boeke in hulle huidige formaat tot stand gekom het.  Heelwat geleerdes het ook verdere uitbreidings en verfynings deur die jare voorgestel wat ons begrip van die ontstaansgeskiedenis van die teks uitgebrei het.

Dié teorie het egter ook ernstige gebreke, waarvan die minste nie is dat daar geen enkele skriftelike getuienis van dié bronne behoue gebly het nie (Casutto). Daar word ook nie na een van dié bronne verwys nie, hoewel daar talle ander verwysings is na ander bronne waaruit die Bybel saamgestel is, maar waarop in dié teorie glad nie uitgebrei word nie. Mondelingse tradisies het uiteraard ook ‘n groot rol gespeel in die uiteindelike totstandkoming van die Pentateug, wat tereg deur baie geleerdes beklemtoon word (Bright, Fensham, Van Selms).  Die mondelinge tradisies word egter nie genoegsaam gereflekteer in die bronne hipotese nie.

Interessant genoeg is die eerste verwysing na ‘n “boek” wat as bron gedien het vir die Pentateug in Gen. 5:1 waar na die geslagsregister van Adam verwys word.  Die eerste verwysing na die skrifstelling van die Pentateug word volgens die Bybel aan self Moses verbind (Eks. 24:4).  Volgens die Bybelse getuienis is dié boek deur die Leviete bewaar by die tabernakel en later by die tempel (Deut. 31:9).

Hierdie wetboek van Moses – waarvan ons die omvang nie presies weet nie, maar wat duidelik as skriftelike bron gebruik is in die uiteindelike finalisering van die Pentateug – is deur die volk en die leiers bestudeer, en word die boek wat Josua sy eie maak (Jos. 1:7).  Hierdie wetboek van Moses (Jos. 8:31) word ook later deur Josua aangevul (Jos. 24:26).  Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan.

Moses se hand as skrywer in die totstandkoming van die Pentateug word dus deur die OT self bevestig, soos die oortuiging ook in die NT gevind word.  Ons kan dit in Jesus, Filippus en Paulus se uitsprake nagaan.  Jesus praat van “die boek van Moses” (Mark. 12:26). Jesus beskou ook “Moses en al die profete” as “die Skrifte” (Luk. 24:27).  Filippus beskou Moses as die skrywer van die wet (Joh. 1:45).  Paulus noem Moses as die een wat in die wet oor die geregtigheid skrywe met ‘n aanhaling uit Lev. 18:5 (Rom. 10:5).  Paulus gebruik die naam “Moses” as ‘n aanduiding van die Tora (2 Kor. 3:15).

Dit beteken uiteraard nie dat Moses alles in die Pentateug kon geskrywe het nie.  Hy kon nie oor sy eie dood geskrywe het aan die einde van Deuteronomium nie.  Hy was ook nie ‘n ooggetuie van die skeppingsverhale en die verhale van die aartsvaders nie.  Hy moes dus self van bronne gebruik gemaak het.  Maar dat hy vir groot dele van die Pentateug verantwoordelik is, staan onteenseglik vas.

Dieselfde tipe ontwikkeling geld die res van die OT.  Daar is die Boek van die Opregte (Jos. 10:13) wat die verhaal van die stilstand van die son en maan vertel (vgl. ook 2 Sam. 1:18 wat vertel dat ‘n lied van Dawid daarin opgeteken is) en as bron gebruik is.  Samuel sou self later regsvoorskrifte, veral ten opsigte van die koning se verantwoordelikhede, byvoeg (1 Sam. 10:25) wat saam met Moses en Josua se geskrifte in die heiligdom bewaar is en gebruik is in die uiteindelike kanon van die OT.

Daar is waarskynlik van tyd tot tyd veranderinge aan die teks aangebring soos ons aflei uit die feit dat van die stede in Jos. 15 moontlik eers in die 8ste eeu v.C. tot stand gekom.  Van tyd tot tyd is die verhale van Josua dus waarskynlik opgedateer om die relevansie daarvan vir die kultiese gebruik by hulle feeste te behou.

En so kan ‘n mens aangaan met ander bronne waarvan daar in die OT sprake is wat gebruik is in die totstandkoming nie net van die individuele boeke nie, maar ook van die OT as geheel.

Terug by die Pentateug.  Die meer ernstige probleem van die bronne hipotese, en enige ander tradisie-historiese benadering, is egter dat ‘n mens daarmee geneig is om meer op die tradisies in die teks te fokus as op die samehang daarvan in die onderskeie verhale en wat die Pentateug in sy finale kanoniese vorm nou eintlik vir ons wil sê.  Dat daar tradisies in die teks aangetoon kan word, is vanselfsprekend.  Die konsensus is dat die teks uit mondelinge en skriftelike tradisies bestaan.  Daar is ook soms daaraan bygevoeg en verander.  En dit het sy waarde om meer van dié historiese prosesse deur navorsing te wete te kom.

Maar ons lees van die teks moet hom met die finale gestalte van die teks bemoei.  Ons taak is in die eerste plek om sin te maak van wat daar staan, nie van hoe dit tot stand gekom het nie.  Ons fokus is op die betekenis van die finale teks, nie op die ontstaansgeskiedenis van die teks nie (Deist).  Dit is dié woord wat God se Woord aan ons is.

Die nuutste narratiewe benaderings lees daarom die Bybelse verhale, ook die Pentateug, as ‘n geheel en dit is hoe ek dit graag wil hanteer, soos baie geleerdes dit doen (Wenham, Durham, Hartley, Budd, Christensen).  Kommentare kan geraadpleeg word vir meer inligting oor ander maniere van omgaan met die teks.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda