Skip to main content

Die Pentateug

655804-breathtaking-space-artDie Hebreeuse Bybel wat ons as die OT ken, staan vir die Jode as die Tenak bekend.  Dit is ‘n akroniem gevorm uit die eerste Hebreeuse letter van die drie dele van die OT – t-n-k.  Dit is dieselfde boek wat ons ken as die Ou Testament:

  • die Torah, of Wet (Pentateug, die eerste vyf boeke van die Bybel),
  • die Nevi`îm, of Profete (dit sluit die Vroeë profete soos Josua tot Konings, die Latere profete soos Jesaja, Jeremia en Esegiël, en die twaalf Kleiner profete soos Amos, Hosea en die ander in) en
  • die Ketivîm, of Geskrifte, (wat die Psalms, wysheidsliteratuur soos Spreuke en die ander historiese geskrifte soos Rut, Ester, Esra-Nehemia en Kronieke insluit).

Die Pentateug (die naam beteken: “vyf boekrolle”) is die eerste keer so genoem in ‘n kommentaar van die kerkvader Origines op die Johannes evangelie.  Die Hebreeuse titel van die vyf boeke is telkens die eerste woorde van die onderskeie boeke, hoewel ons werk met die Griekse titels wat meer met die onderwerp van elke boek te make het en kom van die Latynse vertaling, die Vulgaat, van die Septuaginta (LXX), die Griekse vertaling van die Ou Testament.

Die Pentateug is eintlik soos ‘n vyf volume werk, eerder as net vyf individuele boeke, wat oor eeue saamgestel is tot in sy huidige vorm.

Baie geleerdes het van vroeg af raakgesien dat die taalgebruik in die onderskeie dele van die Pentateug verskil.  Bv. Genesis 1 gebruik die woord Elôhîm vir God en Genesis 2 gebruik Jahwe Elôhîm (in Afrikaans Here God).  Daar is ook verskille in inhoud in die Pentateug, bv. wette wat met die priesterlike tradisies verbind word en die verhalende – en preekstof wat weer met ‘n Deuteronomistiese skool van die ballingskap in die sesde eeu v.C. verbind word.

Dit het gelei tot die idee dat die Pentateug opgebou is uit vier tradisies of bronne, JEDP, wat staan vir die Jahwistiese, Elohistiese, Deuteronomistiese en Priesterlike tradisies (Graf en Wellhausen).  Dié bronne hipotese het sy voordele, in die mate wat dit ‘n prentjie probeer verskaf van hoe die vyf boeke in hulle huidige formaat tot stand gekom het.  Heelwat geleerdes het ook verdere uitbreidings en verfynings deur die jare voorgestel wat ons begrip van die ontstaansgeskiedenis van die teks uitgebrei het.

Dié teorie het egter ook ernstige gebreke, waarvan die minste nie is dat daar geen enkele skriftelike getuienis van dié bronne behoue gebly het nie (Casutto). Daar word ook nie na een van dié bronne verwys nie, hoewel daar talle ander verwysings is na ander bronne waaruit die Bybel saamgestel is, maar waarop in dié teorie glad nie uitgebrei word nie. Mondelingse tradisies het uiteraard ook ‘n groot rol gespeel in die uiteindelike totstandkoming van die Pentateug, wat tereg deur baie geleerdes beklemtoon word (Bright, Fensham, Van Selms).  Die mondelinge tradisies word egter nie genoegsaam gereflekteer in die bronne hipotese nie.

Interessant genoeg is die eerste verwysing na ‘n “boek” wat as bron gedien het vir die Pentateug in Gen. 5:1 waar na die geslagsregister van Adam verwys word.  Die eerste verwysing na die skrifstelling van die Pentateug word volgens die Bybel aan self Moses verbind (Eks. 24:4).  Volgens die Bybelse getuienis is dié boek deur die Leviete bewaar by die tabernakel en later by die tempel (Deut. 31:9).

Hierdie wetboek van Moses – waarvan ons die omvang nie presies weet nie, maar wat duidelik as skriftelike bron gebruik is in die uiteindelike finalisering van die Pentateug – is deur die volk en die leiers bestudeer, en word die boek wat Josua sy eie maak (Jos. 1:7).  Hierdie wetboek van Moses (Jos. 8:31) word ook later deur Josua aangevul (Jos. 24:26).  Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan.

Moses se hand as skrywer in die totstandkoming van die Pentateug word dus deur die OT self bevestig, soos die oortuiging ook in die NT gevind word.  Ons kan dit in Jesus, Filippus en Paulus se uitsprake nagaan.  Jesus praat van “die boek van Moses” (Mark. 12:26). Jesus beskou ook “Moses en al die profete” as “die Skrifte” (Luk. 24:27).  Filippus beskou Moses as die skrywer van die wet (Joh. 1:45).  Paulus noem Moses as die een wat in die wet oor die geregtigheid skrywe met ‘n aanhaling uit Lev. 18:5 (Rom. 10:5).  Paulus gebruik die naam “Moses” as ‘n aanduiding van die Tora (2 Kor. 3:15).

Dit beteken uiteraard nie dat Moses alles in die Pentateug kon geskrywe het nie.  Hy kon nie oor sy eie dood geskrywe het aan die einde van Deuteronomium nie.  Hy was ook nie ‘n ooggetuie van die skeppingsverhale en die verhale van die aartsvaders nie.  Hy moes dus self van bronne gebruik gemaak het.  Maar dat hy vir groot dele van die Pentateug verantwoordelik is, staan onteenseglik vas.

Dieselfde tipe ontwikkeling geld die res van die OT.  Daar is die Boek van die Opregte (Jos. 10:13) wat die verhaal van die stilstand van die son en maan vertel (vgl. ook 2 Sam. 1:18 wat vertel dat ‘n lied van Dawid daarin opgeteken is) en as bron gebruik is.  Samuel sou self later regsvoorskrifte, veral ten opsigte van die koning se verantwoordelikhede, byvoeg (1 Sam. 10:25) wat saam met Moses en Josua se geskrifte in die heiligdom bewaar is en gebruik is in die uiteindelike kanon van die OT.

Daar is waarskynlik van tyd tot tyd veranderinge aan die teks aangebring soos ons aflei uit die feit dat van die stede in Jos. 15 moontlik eers in die 8ste eeu v.C. tot stand gekom.  Van tyd tot tyd is die verhale van Josua dus waarskynlik opgedateer om die relevansie daarvan vir die kultiese gebruik by hulle feeste te behou.

En so kan ‘n mens aangaan met ander bronne waarvan daar in die OT sprake is wat gebruik is in die totstandkoming nie net van die individuele boeke nie, maar ook van die OT as geheel.

Terug by die Pentateug.  Die meer ernstige probleem van die bronne hipotese, en enige ander tradisie-historiese benadering, is egter dat ‘n mens daarmee geneig is om meer op die tradisies in die teks te fokus as op die samehang daarvan in die onderskeie verhale en wat die Pentateug in sy finale kanoniese vorm nou eintlik vir ons wil sê.  Dat daar tradisies in die teks aangetoon kan word, is vanselfsprekend.  Die konsensus is dat die teks uit mondelinge en skriftelike tradisies bestaan.  Daar is ook soms daaraan bygevoeg en verander.  En dit het sy waarde om meer van dié historiese prosesse deur navorsing te wete te kom.

Maar ons lees van die teks moet hom met die finale gestalte van die teks bemoei.  Ons taak is in die eerste plek om sin te maak van wat daar staan, nie van hoe dit tot stand gekom het nie.  Ons fokus is op die betekenis van die finale teks, nie op die ontstaansgeskiedenis van die teks nie (Deist).  Dit is dié woord wat God se Woord aan ons is.

Die nuutste narratiewe benaderings lees daarom die Bybelse verhale, ook die Pentateug, as ‘n geheel en dit is hoe ek dit graag wil hanteer, soos baie geleerdes dit doen (Wenham, Durham, Hartley, Budd, Christensen).  Kommentare kan geraadpleeg word vir meer inligting oor ander maniere van omgaan met die teks.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!