Skip to main content

Genesis 14 – Abram seën en straf nasies op die wêreldverhoog

4782847Die volgende uitdaging wat Abram moet trotseer is die direkte resultaat van Lot se keuse om die Jordaanstreek te kies en uiteindelik in Sodom te gaan bly.  Hy word kort daarna opgevang in ‘n spiraal van konflik waarin vier konings van die breër Mesopotamiese gebied oorlog gemaak het teen die vyf konings van die Jordaanstreek:

  • Mesopotamië: Koning Amrafel van Sinar (Babilonië), koning Arjok van Ellasar (moontlik van die stad Assur in Assirië), koning Kedorlaomer van Elam (vandag Iran), en koning Tidal van Gojim ( dit beteken “nasies” – dit kan ‘n onbekende aantal nasies voorstel, anders is die streek verder onbekend).
  • Jordaanstreek: koning Bera van Sodom, koning Birsa van Gomorra, koning Sinab van Adma, koning Semeber van Sebojim, en die koning van Bela, dit is Soar. Die geveg vind plaas in die Siddimvlakte wat in Israel as die Soutsee en vandag as die Dooie See bekend is.

Die rede vir die oorlog was die rebellie van die nasies van die Jordaanstreek wat vir twaalf jaar lank onderhorig was aan Kedorlaomer en nou nie meer aan hom “belasting” wou betaal nie.  Die vier konings het teen hulle opgetrek en ‘n hele aantal volke verslaan voor hulle by die konings van die Jordaanstreek uitgekom het.

Die Refaïete (“reuse” – vgl. Deut. 2:10-11; 3:11-13 – koning Og, ‘n Refaïet, het ‘n ysterbed van 4×2 meter gebruik!), die Sussiete, die Emiete, die Goriete (het Edom vóór Esau bewoon), die Amalekiete (hulle was volgens Gen. 36:12 eintlik afstammelinge van Esau, wat dié verwysing onseker maak, behalwe as dit verwys na die Amalek waarna Bileam as die “eerste van die nasies” in Num. 24:20 praat, wat sin van dié verwysing sou maak) en die Amoriete (nomadiese groep waarvan Mamre deel was) het dit in die proses ontgeld voor ook die konings van die Jordaanstreek dit moes ontgeld en gevlug het.  Sommige het in die asfaltgate omgekom.  Ander het in die berge gaan wegkruip.  Lot en en al sy besittings is in die proses gebuit en ontvoer.

Abram snel hulle egter te hulp saam met die drie Amoritiese broers, Mamre, Eskol en Aner.  Hy val die Mesopotamiese konings van verskillende kante aan met al sy volgelinge en dryf hulle terug tot by Goba, noord van Damaskus (Sirië) en kry al die nasies se besittings, sowel as Lot-hulle, terug.

Dit is egter nie ‘n blye wedersiens nie, want ons lees hier van geen verdere kontak tussen Lot en Abram nie.  Abram sou wel later vir hom intree en verlos van die dreigende oordeel van God (Gen. 19).  Die moontlikheid dat Lot deel van die nageslag van Abram sou kon word deur van hom te erf, word hiermee van die tafel gehaal.

Daar is twee baie betekenisvolle interaksies aan die einde van die hoofstuk.

  • ‘n Interaksie tussen die koning van Sodom en Abram, van wie Abram egter niks wil neem nie – nie eers ‘n garingdraad of ‘n skoenveter nie!  Netnou dink die koning van Sodom dat hy op ‘n manier vir Abram se sukses verantwoordelik is en ‘n aanspraak op Abram kan maak.  Abram vra egter wel dat die koning van Sodom sy buurman en sy broers seën met hulle deel van die buit.
  • ‘n Interaksie tussen Melgisedek en Abram. Melgisedek was die koning van Salem (Jerusalem) en ‘n priester van God die Allerhoogste (Eljôn).  Hy neem brood en wyn (nagmaalsimbole!) en seën vir Abram. Abram gee vir hom daarop ‘n tiende van alles as erkenning van God se rol in die oorwinning.

Let op hoe Abram groei in sy verwoording van wie die God is wat Hy dien.  Hy praat van Hom as die Here, as God die Allerhoogste en baie pertinent as: “Skepper van hemel en aarde.”  En hy raak ‘n internasionale rolspeler wat seën en straf in die naam van dié God wat hom geroep het om tot ‘n seën op die wêreldverhoog te wees.

Lees meer oor Melgisedek in my bydrae oor Psalm 110 en die NT verbintenis aan die Here Jesus Christus in my bydrae oor Hebreërs.

Boodskap

‘n Mens word soms in ‘n konflik betrek sonder dat jy daarvoor vra.  Abram sou goeie rede gehad het om Lot aan sy eie lot oor te laat – “pun intended”!  Die ding is net, God se belofte aan Abram was dat hy tot ‘n seën van die nasies bedoel was.  Met dié konflik is hy dus ingetrek op die wêreldverhoog tussen ‘n hele klomp nasies, iets waarvoor hy nie kon nee sê nie.

Abram word dus ‘n seën vir die nasies – Sodom en Gomorra, kan jy nou meer! – in die poging om sy broerskind te red, sowel as sy Amoritiese buurman, Mamre, met wie hy ‘n verdrag gesluit het om mekaar onderling by te staan.  Hy straf ook dié nasies wat hulle grense oorskry en ander verdruk.  Hy sorg dat geregtigheid geskied, selfs vir Sodom wat sleg was, en baie gesondig het teen die Here (Gen. 13:13).

Die konflik was dus ‘n toets vir sy bereidheid om sy lewe op die spel te plaas om “tot ‘n seën vir die nasies te wees.” En in die proses ook geregtigheid te laat seëvier deur dié nasies te straf wat ander verdruk.  Abram slaag daarmee in sy bestaansdoel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Genesis


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda