Bly die wet van God steeds geldig vandag?
VYF REDES WAAROM DIE WET STEEDS GELDIG BLY VANDAG
Die wet bly geldig vandag, soos Jesus dit verkondig in die Bergrede: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie” (Matt. 5:17-18).
Daar is ten minste vyf redes waarom dit geldig bly.
1. DIE WET GETUIG VAN JESUS
Die eerste rede is dat dit saam met die res van die OT van die Here Jesus getuig: “Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word” (Luk. 24:44). Dit is en bly immers saam met die NT die Woord van God. Daarom gebruik Filippus die OT om Christus aan die Ethiopiese amptenaar te verkondig (Hand. 8). Daarom gebruik Paulus die OT in Rome om die evangelie te bring. “Van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus” (Hand. 28:23).
2. DIE WET OORTUIG VAN SONDE
Die tweede rede is dat die wet ‘n tugmeester na Christus toe is. Die wet wys jou wat sonde is. Sonder die wet sal jy die sonde nie kan ken nie. Soos Paulus sê: “want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie” (Rom. 7:7). Die wet help jou dus verstaan hoe ver jy tekort skiet in jou verhouding met God. Dit oortuig jou van sonde, sodat jy jou toevlug tot die Here Jesus Christus kan neem. Die wet kan jou dus nie red nie. Die werke van die wet kan jou nie red nie. Dit kan net die Here Jesus deur geloof doen (Gal. 3:24). Maar, sonder die wet sal jy nie jou behoefte aan die verlossing in die Here Jesus besef nie.
3. DIE WET WYS ONS WAT LIEFDE IS
Die derde rede is dat die wet vir jou uitspel wat dit beteken om God en jou naaste lief te hê. Só gebruik Jesus onder andere die wet as die dubbele liefdesgebod, om God lief te hê en jou naaste soos jouself (Matt. 22). Daarom word die Tien Gebooie steeds in die NT aangehaal as motivering vir en uitdrukking van die liefde (Rom. 13; 1 Tim. 1; 1 Kor. 6; Gal. 5). Soos Paulus sê: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God” (1 Kor. 7:17). Johannes eggo dit: “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Joh. 5:3).
4. DIE WET GEE ONS SEKERHEID VAN GELOOF
Die vierde rede is dat die wet en die gebooie jou sekerheid van geloof kan gee. Johannes is duidelik hieroor: “hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Joh. 2:3-4). Soos hy later herhaal: “En dit is die liefde, dat ons wandel volgens sy gebooie. Dit is die gebod soos julle van die begin af gehoor het dat julle daarin moet wandel” (2 Joh. 6). In sy Openbaring beskryf Johannes die stryd tussen die gelowiges en die wêreld as volg: “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (Openb. 12:17). Daarom moet ons waaksaam wees rondom God se gebooie: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openb. 14:12). Want ons weet, sê Johannes: “Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad” (Openb. 22:14).
5. DIE WET MOTIVEER ONS OM GOD TE LOOF
Die vyfde rede is dat die wet en die gebooie vir ons motiveer om God te loof. Dit is een van die wonderlike dinge wat ek in die Psalms geleer het. Kyk na Psalm 1 waar die Psalmis die geluk besing van een wie se: “behae is in die wet van die Here,” en “sy wet dag en nag” oordink (Ps. 1:2). Psalm 19 besing daarom God se openbaring in die skepping, en vervolg dan nog dieper dat sy openbaring ten beste in sy wet raakgesien word. “Dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is” (Ps. 19:8). Maar die toppunt van die lof waartoe die wet ons roep, is in daardie onvergelyklike Psalm 119 wat in 176 verse ‘n mens amper uitasem laat raak oor die wonder van God Woord in sy wet. Ek haal dele van my inleiding daarop by bybelskool.com hier aan:
Die Psalmis bevestig wat alreeds in Psalm 1 gesê is: God se woord, sy wet, is die sentrum van die lewe, dié ding wat jou nie net soos ‘n boom geplant langs watervore maak en laat gedy nie, maar sorg dat jy die pad van die regverdiges kan bewandel.
5.1 God se woord/wet bring GELUK
“Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die Here wandel” (Ps. 119:2). Dit is God se openbaring wat geluk bring as ‘n mens met jou hele hart daarna soek, onberispelik daarvolgens lewe (119:1) en: “net sy paaie” volg (119:3). Dan is God se beloftes: “strelender as heuning vir my mond” (119:103) en regtig beter as enige voordeel wat rykdom ‘n mens kan bring (119:14).
5.1 God se woord/wet geld vir ALMAL
God se openbaring in die wet geld vir oud (119:83 – “Ek het verskrompel soos ‘n velsak in die rook, maar u voorskrifte het ek nie verontagsaam nie.” – NAV) en vir jonk (119:9 – “Hoe sal ‘n jongmens sy lewenspad suiwer hou? Deur te hou by u woorde”). Immers: “U het self u opdragte gegee, sodat mense dit noukeurig kan nakom” (119:4). Daarom kan die Psalmis sê: “Ek is ‘n vriend van almal wat vir U ontsag het en u opdragte nakom” (119:63). Trouens, hy verlang daarna dat daar ‘n gemeenskap van getroue volgelinge van God se openbaring sal wees: “Laat hulle wat vir U ontsag het, na my terugkeer, ja, hulle wat u bepalings ken” (119:79).
5.3 God se woord/wet is DIÉ LEWENSREËL om na te volg
God se openbaring moet reg deur ‘n mens se lewe nagevolg word, sodat dit jou lewensreël word: “Ek het u wet onderhou … Dit was vir my ‘n gewoonte, ja, u opdragte het ek nagekom” (119:55-56). Hierdie gewoonte word gekweek deur ‘n verskeidenheid van dinge: die insig wat God self gee (119:18 – vgl. Paulus wat ‘n soortgelyke gebed bid in Ef. 3:14-21), sy voortdurende begeleiding (die hele 5de deel druk dit uit, HE – 119:33-40), eie studie (119:7), nadenke met die verstand (119:15), koestering met die hart (119:11), gebed (119:27), oorpeinsing (119:148), en volhardende keuses aan die hand van God se openbaring (119:39: “Die pad van eerlikheid het ek gekies; u beslissings hou ek voor oë”). “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad” (119:105).
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Susan Leeuwner
Ek het nie Genesis 14 se Bybelstudie ontvang nie!
Chris van Wyk
Hier is die volgende twee. Genesis 14 – Abram seën en straf nasies op die wêreldverhoog
Genesis 15 – Die Here belowe beskerming en beloning in ‘n verbond met Abram
Johannes Petrus van Niekerk
Hallo Chris,
Die artikel “Bly die wet van God steeds geldig vandag?” is baie verwarrend. Om mee te begin, staan daar gesskrywe “…….Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul”. Wat beteken “vervul”? Galasiërs 3:19 lees: “Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom.” M.a.w. die Wet van Moses was nooit bedoel om permanent van toepassing te wees nie, maar was slegs tydelik – “totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom.” Die eers daar gelaat, daar word gepraat van die Wet van Moses en die Wet van God (Rom 7:22 en 26, Rom 8:7) en dan word daar ook verwys na die Wet van Christus (1 Kor9:21)….wat is nou wat, watter wet is nog geldig vandag??. Verder staan daar ook dat die Moses Wet bestaan uit 613 wette, wat die 10 Gebooie insluit!! Gal 3:13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word — want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang — nou is my vraag, as ons losgekoop is van die wet, hoekom is die wet dan vandag nog geldig?? Indien ons die wet (neem aan dis die wet van Moses) moet nakom, dan moet ons mos feeste vier (7), besnyding word, week van ongesuurde brode vier, pasga vier, offers bring, ens. Jesus het die Nagmaal en doop ingstel, wat word nou van dit?? Daar word na verwys in Luk 18:20 “Jy ken die gebooie”, Joh 14:21 “Wie my gebooie het en dié bewaar”, Joh 15:10 “As julle my gebooie bewaar”, 1 Joh 2:2 “as ons sy gebooie bewaar”, 1 Joh 5:2 “wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar”, ens. Vraag is nou, word daar na die 10 Gebooie verwys of na die wet (die 613 wette/gebooies)?? Verder wat besnyding betref – 1 Kor 7:19 “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God”….hier se die Woord dat besnyding of onbesnyding is niks, maar volgens die wet moet jy besny word!!? Gal 5:2 “Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie”. Wat die wet betref word die volgende gese – Gal 5:4 “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval”.
Om op te som:
Jesus het ons verlos van die wet
Hy het die besnyding vervang met die Doop en pasga is deur die Nagmaal vervang
Jy kan nie deur die wet geregverdig word nie – net deur Geloof
Dus, hoe kan die wet vandag nog geldig wees??
Ek verneem graag van jou.
Groete
JP
Chris van Wyk
JP, die beste manier om by ‘n atwoord uit te kom, is om al die tekste in die Bybel oor die onderwerp van die “wet” te vat en soos ‘n mosaïek te begin pak dat jy die patrone kan raaksien en uiteindelik ‘n breër visie kan kry van wat die betekenis van die wet vandag nog is. Gebruik ‘n konkordansie of die soekfunksie van ‘n Bybelprogram. Hier is ‘n paar dele uit die Bybel se gegewens wat my breër prentjie van die blywende betekenis van die wet informeer.
1. Jesus het die wet “vervul”. Dit beteken Hy het die wet sy volle betekenis laat kry. Hy het dit volmaak nagekom soos God dit aanvanklik bedoel het.
2. Dat die wet egter steeds van toepassing is, bevestig Jesus self in die Bergrede waar Hy bv die tweede tafel van die wet as deel van die Bergrede uitlê in Matteus 5 as riglyn vir geseëndes in die koninkryk. Dit sal só bly tot in die nuwe bedeling wat volledig sal aanbreek met Jesus se wederkoms.
3. Die wet is immers ‘n integrale deel van die OT wat net soos die NT as die Woord van God vir ons gegee is. Niks daarvan word ontbind nie (Matt 5:17). Niks daarvan gaan verby nie (Matt 5:18).
4. Die dubbele liefdesgebod wat Jesus uit die wet beklemtoon, “hang” aan die wet net soos aan die boodskap van die profete, dws die boodskap van die OT. Neem die wet weg en die liefdesgebod het nie meer ‘n begronding nie.
5. Ons sien dit in die res van die NT. Van Paulus word geskrywe dat hy gewandel het as een wat die wet onderhou (Hand 21:24). Hy het steeds alles geglo wat in die wet geskrywe is (Hand 24:14). Hy kon homself verdedig in die hof dat hy niks teen die wet gesondig het nie (Hand 25:8). Daarom kon Paulus die wet gebruik om die Jode van die betekenis en boodskap van die evangelie te oortuig (Hand 28:23).
6. Niemand van ons kan egter die wet volmaak nakom nie. Daarom, tereg soos jy uitwys, word ons geregverdig voor God deur in Jesus Christus te glo. Jesus het die wet volmaak namens ons vervul en ons van die vloek daarvan bevry soos Paulus in Galasiërs en Romeine uitvoerig skrywe.
7. Deur Christus is die reg van die wet namens ons vervul, sodat ons deur die krag wat die Gees nou in ons werk ons aan die wet van God kan onderwerp en die werke van die vlees kan doodmaak en al hoe meer kan groei in die lewe wat God bring (Rom 8:1-17).
8. Deur God en ons naaste lief te hê, vervul ons nou die wet, soos Paulus uitvoerig in Romeine 13 skryf. En let op hoe hy dele van die tien gebooie aanhaal as begronding van die liefde. Sonder die wet weet ons nie wat verkeerd en wat reg is nie. Sonder veral die Tien Gebooie weet ons nie wat liefde is nie.
9. Paulus gebruik nog op talle plekke die wet as motivering vir die opdragte wat hy vir die gemeentes gee. Oor die huwelik (1 Kor 7:39), oor vergoeding (1 Kor 9:8-9), oor die vrug van die Gees (Gal 5:23), vir die herkenning van sondes (1 Tim 1:9-10).
10. Die Hebreërskrywer help ons egter ook verstaan watter dele van die wet nie meer op ons van toepassing is nie ná die vervulling van die Here Jesus Christus (Hebr 10:1). Dit sluit die offers en verwante rituele in, want die volmaakte offer is in Jesus gegee. Dieselfde geld die besluit van die “sinode” in Jerusalem wat gelowiges uit die heidene van die besnydenis en ander volkseie burgerlike gebruike gevrywaar het (Hand 15).
Dit is maar net enkele grepe op pad na ‘n prentjie van hoe God se wil in ons lewe tot sy reg kom. Die wet bly daarin ‘n rol speel.
Johannes Petrus van Niekerk
Hi Chris,
Baie dankie vir die antwoord op my brief, ek waardeer dit. Jy het baie dinge duideliker vir my gemaak, alhoewel daar is nog steed onduidelikhede. In punt no.10 se jy dat Hebreers help ons om te verstaan watter dele van die wet nie meer van toepassing is. My probleem is dat daar 603 Moses wette is – ek weet nie eens wat dit alles behels nie – behalwe dat ek die 10 Gebooie ken. My vraag is, watter van die 603 wette is nie meer van toepassing op ons nie? Hoe gaan ek weet? Of moet ek gaan op dit wat in Hebreers staan? Verder se jy dat offers en verwante rituele nie van toepassing is nie – sluit dit nou die 7 feeste en besnyding in? Of moet ons dit nog doen?
Dan wil ek die volgende weet – is die evangelie net vir die Israeliete bedoel? Indien so, waar pas ons dan in? Ons is nie Israeliete of afstamelinge nie. Ek sien ons as “heidense-christene” – is ek reg of verkeer? Die rede vir die vrae is omdat my broer sien homself as ‘n Israeliet omdat hy wit is (of ten minste ‘n afstameling) en ek kan nie saam met hom stem nie. Volgens hom moet die 7 feeste nog gevier word en besnyding moet nog toegepas word (hy doen dit ook so). Verder se hy dat Sabbat op Saterdag is en nie soos ons (NG kerk) dit op Sondag het. Volgens my is “Sabbat” vir die Israeliete gegee (Saterdag) wat deel is van die Moses wet. Ons wat heidense-christene is, hoef nie Sabbat te hou nie, maar volg wat in die 10 Gebooie staan: 6 dae moet jy werk en op die 7de dag rus. Die “kerkvaders” het besluit Sondag is die rusdag….sover ek weet. Is ek reg of verkeerd?
Ek verneem van jou.
Groete
JP
Chris van Wyk
Hi JP, die 613 wette is al die wette in die eerste vyf boeke van die Bybel, die Pentateug of wet van Moses. Die Tien Gebooie word twee keer herhaal (Eks 20; Deut 5) en is die hart daarvan. Dit bly geldig. Die seremoniële en burgerlike wette word deur Christene nie meer nagevolg nie, maar die morele wette wel. Dit is op grond van talle verwysings in die NT – bv Paulus wat sê dat ons nie meer dae en feeste ensomeer moet onderhou nie (Kol 2:16-17), ook nie die sabbat (Rom 14) of besnydenis (Gal 3-4) nie, en op ander plekke duidelik die morele wette handhaaf (Ef 4-5; Gal 5-6) sowel as die Tien Gebooie (Rom 13).
Die evangelie is vir alle mense bedoel, eerstens vir die ware Jood wat in Jesus glo (dit is nie wit mense nie!), en tweedens vir elkeen uit die nasies wat in Hom glo (dit sluit alle etnisiteite in). Die hele NT is vol van dié boodskap, bv Matteus 28:18-20, Handelinge 2:37-39 en Efesiërs 2. Enigiemand wat anders beweer, verdraai die evangelie.
Die Sabbat is inderdaad op Saterdag, maar ons vier die opstandingsdag op ‘n Sondag. Dit is “soos die Sabbat” vir ons, maar nie presies dieselfde nie. Romeine 14 gee ‘n duidelike riglyn dat ons mekaar nie daaroor moet aanvat nie, maar elkeen net oortuig van sy eie opvatting op grond van die Skrif moet wees. Dieselfde geld die feeste en ander “dae” wat uiteraard nie verkeerd is om te doen nie, maar nie bindend op alle gelowiges is nie.
Johannes Petrus van Niekerk
Hi Chris,
Baie dankie vir die antwoorde, waardeer dit baie. Nou is dit baie meer verstaanbaar.
Ek sal jou weer raapleeg….maar nou eers weer bietjie met my broer redeneer (-:
Groete
JP
Elmarie
Hi Chris
Ek sit in dieselfde situasie as Jp. My broer glo ook hul os Israeliets.
Hul hammer baie daarop dat die Here gesê dat geen woord verander mag word nie. En in die 10gebooie sê ons moet die sabbat heilig as dit dan saterdag is hoekom doen ons dit dan noe meer ni. Hoekom vier ons nou die omstandings dag
Chris van Wyk
Hi Elmarie, geen woord in die Bybel word verander nie, maar die Bybel se eie boodskap soos dit ontvou, word gevolg. Die besnydenis in die OT is nie meer van toepassing op NT gelowiges nie (Hand 15:24; 1 Kor 7:18; Gal 2:3), want ons is besny met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig is nie, dws in ons hart (Kol 2:11), waarvan die doop ‘n teken is (Kol 2:12). ‘n Mens interpreteer Skrif met Skrif sonder om enige deel daarvan te verander. Daar is talle sulke voorbeelde. Ons offer nie meer diere in die tempel nie (Levitikus), want Jesus is ons offer (Hebr 10). Ons offer wel ons liggame aan God (Rom 12:1-2). Die Skrif self help ons om die verandering te verstaan, sonder dat ‘n enkele woord van die Skrif verander of verwerp word. Dieselfde het gebeur met die Sabbat. Die ware Sabbat is nou die rus van die sonde (Hebr 3) en ons vier die verlossing van die sonde op die Sondag, die opstandingsdag (Kyk by https://bybelskool.com/sabbat/, en https://bybelskool.com/waarom-vier-ons-nie-meer-die-sabbat-soos-dit-in-die-wet-gebied-word-nie/). Maar, daar is geen probleem met iemand wat die Sabbat onderhou nie. Jesus het. Paulus het. Bykans al die Jode wat tot geloof in Christus gekom het, het dit gehou. Maar, dit is nie meer ‘n wet wat slaafs nagevolg hoef te word nie. So skryf Paulus in Romeine 14. En ons mag mekaar nie veroordeel oor ons gebruike daar rondom nie. Jy moet net self oortuig wees van jou standpunt in die Here.