Skip to main content

Psalm 1 – Geseënd is dié wat hul vreugde in God vind

Twee groepe mense

Psalm 1 lei die hele Psalmboek in.  Die redaktors het dit hier geplaas waarskynlik omdat hier twee groepe mense gekontrasteer word, wat telkens in die res van die Psalmboek genoem sal word: die regverdiges (1:5,6) en die goddeloses (1:1,4,5,6).  In wese is dit die kern van die Psalms (en die Bybel) se boodskap:
  • Die sin van die lewe word in die regte verhouding met God gevind.
  • Dit is dwaas om sonder God te probeer lewe.

Let op hoe die Psalm die impak uitspel wat regverdiges en goddeloses se onderskeie lewenstyle (1:1-2) op hulle ervarings (1:3-4) en bestemming het (1:5-6).  Die pad wat jy kies in hierdie lewe het gevolge.  Saam met God is daar vreugde en voorspoed – jy is soos ’n boom by standhoudende water.  Sonder God is daar verydeling en ondergang – jy is soos kaf in die wind.

Dit laat ’n mens dink aan Jesus se tipering van twee paaie in Matt 7:13–14.  Die een is ’n poort na die verderf, die ander die poort na die lewe.

Geseënd is die regverdiges

Die Psalm begin met die Hebreeuse woord  gelukkig/geseënd (ʾǎš∙rê) wat vertaal is met “dit gaan goed met”  en pas dit toe op die een wat kies om die raad van die goddeloses te vermy en liewer die woord van die Here te oordink en na te volg.  Die oorspronklike woord herinner ons onmiddellik aan die Saligsprekings van Jesus in Matt 5:3.  Trouens dieselfde woord word in die Griekse vertaling van Psalm 1:1 (LXX) gebruik as in Jesus se uitsprake in die NT: makarios – gelukkig of geseënd.

Die goddeloses word met twee ander woorde getipeer: sondaars en ligsinniges (of spotters).  Dit is mense wat kies om God nie te gehoorsaam nie (sondaars), en trouens geen respek vir Hom of ’n verantwoorde lewe wys nie (ligsinniges). Soos Elwell dit stel, dit gaan goed met iemand wat “the corrosive influence of the cynical” vermy, “taking pleasure instead in every revelation of the mind and will of God, feeding his mental life on the divine Word”.

Die fokus van die regverdiges is die woord (tôwrâh) van God, waarmee veral na die wet (tien gebooie sowel as die eerste 5 boeke van die Bybel, die Pentateug) verwys word, die riglyne vir die lewe.  Hierdie doelbewuste keuse vir die woorde en weë van God is die wyse pad na voorspoed in die teenwoordigheid van God.

Die Psalmis gebruik die woord mediteer as hy oor die besig-wees met die Woord skrywe, wat in die NAV vertaal is met oordink.  Hierdie tipe meditasie is fluisterend of hardop gedoen.

Die metafoor van die boom herinner ’n mens aan die boom van lewe in die tuin van Eden. Ook Jeremia gebruik die metafoor in soortgelyke taal om die regverdige te beskryf (Jer 17:8) en die goddelose met ’n droë bossie in die woestyn te vergelyk.

Die verwysing na die goddelose wat hom nie kan handhaaf voor die Here nie, antisipeer die vraag in Psalm 15:1: “Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here” en Psalm 24:3: “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan?”  Dit is net dié wat na sy wil vra (24:6 – Hom soek) en onberispelik wandel (15:2).  Dit is kennelik nie waar van die goddelose nie.

Die Here ken die pad van die regverdiges

Die frase in vers 6: “die Here lei die regverdiges op hulle pad” is eintlik ’n vertaling van die volgende Hebreeuse frase: “die Here ken die pad van die regverdiges”.  Die NIV vertaal dit met: “the Lord watches over the way of the righteous” op voetspoor van Dahood wat aangedui het dat die woord ken ook in die betekenis van beskerm  gebruik kan word (Craigie).

Let op dat die Psalm nie sê dat die regverdigheid van die regverdiges die basis vir hulle voorspoed is nie, maar die feit dat God met hulle in verhouding is, dat Hy hulle ken, dat Hy hulle beskerm.  Hulle bestemming is die gevolg van God se beskerming.

Paulus verwys na dieselfde gedagte in Galasiërs 4:9, waar hy skryf dat Christene vreugde moet vind nie soseer in die feit dat hulle God ken nie, maar dat God hulle ken: “Daar was ’n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls?” Daarom bid hy dat Christus self in hulle gestalte sal kry, eerder as wette en reëls, juis omdat God met hulle in verhouding getree het, en hulle ken.

TT Cloete verwoord dié Psalm só:

1. Gelukkig hy wat slegte raad vermy

wat op ‘n goddelose pad hom lei ,

en met die spotters sit hy ook nie saam nie ;

geen plan word met ligsinniges beraam nie .

Die Here sien hom in Sy goedheid aan .

Dit gaan met almal goed wat so bestaan .

2. Die Here is dié goedgesind

wat altyd in sy woord hul vreugde vind :

Wie dit oordink , soos sap vloei in die bome

geplant langs sterk en helder waterstrome ,

hul dra hul vrug gereeld op hulle tyd

en ken geen droogte of onvrugbaarheid .

3. Die goddelose word verstrooi soos kaf .

Gewis sal God hom oordeel en hom straf .

By die regverdiges kan hy nie kom nie ;

waar hul vergader , is geen plek vir hom nie .

Die Here lei dié wat na Hom verlang .

Die goddelose pad bring ondergang .

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.