Skip to main content

Spreuke 8:1-36 – Die Wysheid laat jou regtig leef

Die wysheid word soos vroeër in Spreuke (1:20-33) as ‘n vrou voorgestel.  In vier dele word haar waarde besing (8:1-11), die omvattende inhoud van haar wysheid uitgespel (8:12-21), haar impak as eersteling van die skepping op alles wat bestaan (8:22-31), en die lewe wat sy gee vir dié wat na haar luister (8:22-36).  Die Wysheid laat jou regtig leef!

8:1-11 – die waarde van die wysheid

Die Wysheid se ander naam is Insig (teḇû∙nāh – understanding – 8:1) wat moontlik ‘n meer intellektuele kant van die wysheid beklemtoon om die praktiese perspektief op die wysheid wat met die gebruik van die ander Hebreeuse woord (ḥā∙ḵemôṯ) in Spreuke aangedui word, aan te vul.

Let op dat die Wysheid beskikbaar is vir gewone mense in die gewone lewe, om die waarheid te sê, nie net vir Israeliete of gelowiges nie, maar vir alle mense.  Dit is verder uiters insiggewend vir my dat die wysheid beskikbaar is oral waar besluite geneem moet word.  Dit lei ‘n mens af dat van kruispaaie, stadspoorte, en ingange gepraat word.  Dit is waar die wysheid dan ook gevind sal word, nie soseer in die onttrekking van die gewone lewe nie, maar in die hitte van die stryd, in die besig wees en worsteling in en met die lewe, daar waar besluite gevra en geneem moet word.

‘n Mens kan amper nie anders as om in die tekening van die wysheid as vrou ook ‘n implisiete metaforiese kontras te sien met die owerspelige vrou wat nou al drie keer in die boek voorgekom het nie.  Dit beteken dat die owerspelige vrou van Spreuke waarskynlik nie net as ‘n simbool van buite-egtelike verhoudings geneem moet word nie, maar ook as ‘n simbool van enige verhouding of aktiwiteit wat onwys en dwaas is.

Dít is waarom die Wysheid uiteindelik met God self verbind word, soos ‘n mens in die derde deel gaan lees (8:22-31), hoewel die Wysheid self nie uiteindelik ‘n goddelike gestalte aanneem nie.

8:12-21 – die omvattende inhoud van die wysheid

Weereens word die intellektuele kant van die wysheid – verstand, kennis, skranderheid (of diskresie) – beklemtoon, maar nie in die sin van ‘n ivoortoring akademiese aktiwiteit nie, eerder in die sin van die impak wat dit het op ontsag vir God (8:13) en die gedrag wat ‘n fokus op God tot gevolg het.  Wysheid is toegepaste kennis, kennis wat met onderskeiding en finesse aangewend word in die lewe.

  • Aan die een kant begelei die Wysheid jou tot die haat van ‘n verkeerde lewe, hoogmoed, hovaardigheid, en slinkse woorde (8:13).
  • Aan die ander kant begelei die Wysheid jou om paraat te wees om sukses te kan behaal (8:14), en veral lief te wees om mag en gesag op die regte manier uit te oefen (8:15-16).

Vers 17 tref my besonderlik, en is natuurlik verbind aan die deurlopende refrein deur die boek: “Ek het dié lief wat my liefhet; dié wat my soek, vind my.”  God gee graag vir dié wat na wysheid, na Hom, soek.  En let op dat Spreuke sê: “Wie my het … het ‘n duursame en blywende besitting” (8:18).

Hoewel die OT nog baie gewerk het met die waarde wat besittings in dié lewe gehad het, skemer hier ‘n perspektief deur, dat dit uiteindelik oor die Gewer van die gawes gaan, dws oor God self, nie net oor die gawes as sodanig nie.  In die NT brei Jesus verder hierop uit deurdat Hy ons leer dat selfs die dood ons nie van God verwyder nie, omdat die bewussyn van God en die verhouding met Hom eintlik alles anders troef.

8:22-31 – die impak van die wysheid op alles wat bestaan

Die gordyn word nog verder oopgetrek om die karakter van die Wysheid aan ons bekend te maak.  Let op hoe die wysheid se voorrang bo alles uitgespel word – telkens word gesê dat die wysheid voor alles was, van die begin af, voor die skepping in aanskyn geroep is (aarde, water, berge, grond, hemelgewelf, wolke ens).  ‘n Mens moet natuurlik nie te letterlik hiermee omgaan nie, omdat dit poëties bedoel is (fondamente van die aarde is afgesteek, soos ‘n mens ‘n huis se fondamente sou afsteek – 8:29).  Die punt is net dat die Wysheid voor alles was, en in alles gebruik is.

Maar let ook op dat die Wysheid uiteindelik steeds as deel van die skepping beskou word, en nie as deel van die Skepper self nie.   Hoewel ‘n mens in die versoeking is om hierdie Wysheid direk met die Logos, die Woord, van die Johannes evangelie te verbind, moet ‘n mens onthou dat die Wysheid hier (nog) nie gelyk gestel word aan God nie, soos dit wel die geval is met die Logos wat met Jesus in sy Godheid gelyk gestel word.  Paulus sê ook interessant genoeg dat Jesus vir ons die wysheid geword het wat van God kom (1 Kor 1:30), en verbind die wysheid aan die vryspraak, heiliging en verlossing wat ons deel is in ons eenwording met Christus.  Lees ook wat Paulus oor Jesus sê in terme van die Skepping in Kol 1:15-23: “Alles is deur Hom en vir Hom geskep.”

8:32-36 – die lewe wat die wysheid gee vir dié wat na haar luister

Omdat die Wysheid dus van die begin af daar was, en haar in alles verlustig het, veral in die mense, roep Spreuke alle mense op om na haar te luister.  In die luister na die Wysheid lê die sin van die lewe opgesluit: “Dit sal goed gaan met die mense wat na my luister” (8:34).

Waar 8:1-11 gesê het dat die Wysheid in die lewenskeuse haar stem laat hoor, sê hierdie gedeelte dat daar ook elke dag na haar geluister moet word, tyd gemaak moet word om na haar stem te luister en “op my drumpel (te) staan en wag” (8:34).  Die woord huis kan hier op die tempel dui, hoewel in die konteks dit eintlik op enige ruimte dui waar tyd geneem word om stil genoeg te word om te luister.

Dit is nogal ‘n diepsinnige lewensmotto wat die moeite werd is om na te volg: “Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister, die mens wat elke dag na my huis toe kom en op my drumpel staan en wag.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.