Inleiding – Eksodus: die hoop op verlossing
Waar Genesis die verhaal van Israel in die oorsprong van alle dinge begrond het, begrond die verhaal van Eksodus die verhaal van Israel in die verlossing uit Egipte. Eksodus sê daarmee dat die God van die heelal, die God van die nasies, die God van die aartsvaders is ook die God van Moses wat God se volk uit die slawerny van Egipte verlos en deur die woestyn bring na die land van die belofte.
Daarmee word die verhaal van die Godsvolk in Eksodus doelbewus vertel as ‘n aaneenlopende verhaal met die Godsvolk waarmee ons reeds in Genesis kennis gemaak het, al het vier eeue al verloop tussen Genesis 50 en Eksodus 1. Die beloftes wat aan Abraham, Isak en Jakob in Genesis gemaak is, begin uiteindelik in Eksodus in vervuling gaan waar hulle nasate uit die smeltkroes van die slawerny in Egipte gered word om as Godsvolk die land wat God aan hulle belowe het in besit te neem.
Die rede vir die bevryding word gevind in die feit dat: “God het hulle gekreun gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. God het die Israeliete raakgesien, ja, God het kennis geneem.” (Eks. 2:23-25 – BDV). Soos die NET Bible die laaste deel vertaal: “God saw the Israelites, and God understood …” Inderdaad!
Ons weet nou al uit talle van die verhale in Genesis dat wat God hoor, dink en sien altyd oorgaan in aksie. Dit is nie anders in Eksodus nie: “Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.” (Eks. 3:8).
Daarmee kom God se belofte van reeds meer as vier eeue te vore in werking waarin Hy reeds aan Abraham voorspel het dat hulle ‘n tyd lank in Egipte as slawe onderdruk sal word: “Maar Ek sal die nasie straf wat van jou nageslag slawe maaak, en dan sal hulle met baie besittings wegtrek … Die vierde geslag ná jou sal hiernatoe terugkom.” (Gen. 15:13-21).
Die groot Trek uit Egipte het dus aangebreek, die Eksodus. Ons leer daaruit dat God se genade nie net sigbaar is in die ontstaan en vestiging van families as geloofsgemeenskap nie, soos Genesis dit vir ons vertel het nie. God se genade word ook sigbaar wanneer dit sleg gaan met hulle en Hy sy volk uit die ellende waarin hulle verkeer weens lyding en onderdrukking verlos, soos Eksodus en die res van die boeke van die Pentateug sowel as Josua ons gaan vertel.
In die proses verdiep God ook die verbond met sy volk waarin Hy die verhouding met Hom en onderling met mekaar in terme van die inhoud van die wet – veral die Tien Gebooie wat op Sinai gegee is – in meer detail skriftelik beskryf, die begin van wat ons uiteindelik as die Bybel sou leer ken.
Daarmee word God se dinamiese teenwoordigheid by sy mense ‘n groter werklikheid deur die gawe van hierdie geskrewe Tora en die bou van die aardse Tabernakel na die voorbeeld van die hemelse ekwivalent. Sy genade word daarmee nou nog meer sigbaar in die konkrete lewe van die geloofsgemeenskap. Sy woorde kan in die Tora gelees en geleef word. Sy teenwoordigheid kan in die Tabernakel gesoek en beleef word.
Indeling
Die verhaal van Eksodus (die Griekse titel beteken Uittog) word aaneenlopend vertel tot by hoofstuk 20, die gawe van die wet of Tora, met die fokus op die drie plekke waar die verhaal afspeel: Egipte, woestyn, Sinai. Die Hebreeuse titel word uit die eerste woorde van die eerste vers saamgestel: “ En dit is die name”.
Daarna word die verhaal onderbreek met verdere wette (21-24) en die instruksies vir (25-31) en uiteindelike konstruksie van die tabernakel (35-40) met tussenin die verhaal van die goue kalf (32-34).
Die boek eindig met die beskrywing van God se heerlikheid wat in ‘n wolk neerdaal in die tabernakel, alles nog by Sinai. Hierdie laaste beskrywing antisipeer beide Levitikus (God se rigtinggewende teenwoordigheid in die tabernakel) en Numeri (God se begeleidende teenwoordigheid in die wolk).
Die boek is só saamgestel om die fokus op drie beslissende invloede in Israel se verstaan van hulleself as God se volk te plaas. Die drie invloede is die volgende:
- Die verwondering oor die verlossing wat God bewerk het uit die vernederende afgryse van die tyd van slawerny van ongeveer 400 jaar – die Trek (Eksodus);
- Die uitverkiesende en verbondsluitende openbaring van God se wil op die berg Sinai – die Tora;
- Die herstel van God se dinamiese teenwoordigheid by sy mense – die Tabernakel.
Interessant is dat die wette van Eksodus op die patroon van antieke ooreenkomste tussen heersers met hulle (oorwonne) onderdane geskoei is. Drie van die ses dele van dié ooreenkomste kan in Eksodus 20-31 gesien word:
- Aanhef (Eks 20:2) wat die Gewer van die ooreenkoms identifiseer;
- Proloog (20:2) wat die Verhouding met die volk uitspel, en
- Stipulasies (20:3-23:19; 25:1-31:18) vir die volk.
Die laaste drie dele word in die res van die Pentateug, veral Deuteronomium, gevind:
- Klousules oor die lees en herlees van die verbondsdokument (Deut. 4-6);
- Sanksies van die ooreenkoms (seëninge en vervloekings – Deut. 28-30) en
- Getuies van die verbond (hemel en aarde – Deut. 31:28).
Egipte – agtergrond en datering
Volgens die Egiptiese historikus Manetho (3de eeu v.C.) word die Egiptiese geskiedenis gewoonlik in 30 dinastieë verdeel.
Die Middel Koninkryk (11de en 12de dinastieë – 2106-1786 v.C.) kan met Josef se tyd in Egipte verbind word waarin die farao’s ‘n sentrale gesagstruktuur geskep het en die land onder die farao se direkte beheer gekom het (vgl. Gen. 47:13-26). In die daaropvolgende dinastieë het dié sentrale beheer egter onder skoot gekom veral in die tyd van die Semitiese Hiksos oorheersing (15de en 16de dinastieë).
Die Eksodus het plaasgevind in die tyd van die Nuwe Koninkryk (18de tot 20ste dinastieë – 1550-1069 v.C.) wat ‘n aanvang geneem het toe die Hiksos verdryf is deur farao Ahmose en Egipte se mag uitgebrei is regdeur Kanaän tot in hedendaagse Sirië.
Daar is geleerdes wat hierdie militêre opstand teen die Hiskos as die Egiptiese weergawe van die Uittog van die Israeliete verklaar, maar die detail van dié opstand wat dekades geneem het, verskil net te radikaal van die verhaal in die Bybel. Die feit dat Egiptiese bronne nie enigiets vertel van die Eksodus soos die Bybel dit vertel nie, is natuurlik nie vreemd nie, gesien in die lig van die feit dat die optekening van geskiedenis deel van hulle positiewe propaganda was wat die onderskeie farao’s se heerskappye verheerlik het. Hulle het gereken dat as iets nie neergeskryf is nie is dit so goed asof dit nie gebeur het nie!
Twee van die groot farao’s van hierdie tyd word met die Eksodus verbind: Thutmose III (1479-1425 v.C.) en Rameses II (1279-1212 v.C.). Thutmose III pas goed in by die Bybelse kronologie. Sy pa Thutmose II kon die farao wees waarmee die verhaal van Eksodus begin het en Thutmose III die een saam met wie Moses groot geword en later mee onderhandel het. Onthou dat hy vir 40 jaar ná sy eerste vlug uit Egipte in Midian gebly het waartydens die farao van sy jeug dood is en deur sy seun opgevolg is (Hand. 7:29-30).
Thutmose III se eersgebore seun Amenemhat is ook voor hom dood wat met die tiende plaag verbind kan word waarna sy tweede seun Amenhopet II geregeer het (1427-1401).
Rameses II is te laat vir die Bybelse kronologie om sin te maak, hoewel daar baie kritiese geleerdes is wat vir hom kies. Dit bring egter die hele Bybelse kronologie in soveel probleme dat ek eerder die Bybelse verhaal se eie integriteit aanvaar. In Rigt. 11:26 plaas Jefta (ongeveer 1100 v.C., 50 jaar voor Saul se koningskap wat in 1050 v.C. begin) homself bv. 300 jaar ná die Intog wat beteken dat daar nie genoeg tyd was vir alles wat in die Rigterstyd gebeur het nie, as Rameses II die farao van die Uittog was nie.
Dit is benewens die buite-Bybelse historiese feit dat die bekende Merneptah Stele – ‘n swart graniet blok waarop die naam van Israel in ‘n veldtog van farao Merneptah aangebring is en redelik presies in die jaar 1210 v.C. gedateer kan word – die teenwoordigheid van Israel in die land Kanaän omomwonde bewys. Die Eksodus moes dus vóór dié tyd in die 13de eeu v.C. plaasgevind het, want Israel was reeds ‘n gerekende nasie in Kanaän wat ‘n opmerking van die koning oor hulle geregverdig het. Die nuutste fonds van ‘n grys graniet blok uit die 15de eeu v.C. waarop die naam van Israel na alle waarskynlikheid ook verskyn, versterk dié interpretasie. Ek sê in die volgende deel iets daaroor.
As ‘n mens dus die datering van 1 Kon. 6:1 aanvaar dat die bou van Salomo se tempel 480 jaar ná die Uittog uit Egipte begin is – en ons uit ander bronne weet dat dié datum 965 v.C. was – beteken dit dat die Uittog min of meer rondom 1445 v.C. plaasgevind het. Die Intog het dan rondom 1400 v.C. gebeur.
‘n Bietjie meer agtergrond oor Israel se teenwoordigheid in Egipte
Die teenwoordigheid van Israel in Egipte word argeologies ondersteun deur die vier kamer huise/hutte wat by Medinet Habu naby die tempel van die Egiptiese Ay en Horemheb by Luxor opgegrawe is. Dit word sterk geassosieer met Israel omdat dit die tipiese huise is wat regdeur die Israelitiese periode in Kanaän gebou is (vgl. Bietak, die Egiptoloog).
Tot onlangs was die vroegste literêre verwysing na Israel op die bekende Merneptah Stele, ‘n swart graniet blok waarop die naam van Israel aangebring is en uit die 13de eeu v.C. dateer (Merneptah word ook soms Merenptah gespel). Dit is in 1896 n.C. in Thebes in Egipte ontdek. Dié Stele vertel die verhaal van ‘n militêre veldtog van farao Merneptah in Kanaän ongeveer in die jaar 1210 v.C. Daarop word nie net oor Kanaän gepraat nie, maar duidelik van Israel met die frase: “Israel is verwoes (en) sy saad is nie meer nie.” Dit verwys waarskynlik na ‘n veldtog in die Rigtertyd, hoewel geleerdes ook sê dat die beskrywing van ‘n uitwissing oordrewe was, soos die geskiedenis trouens aantoon. Die belangrike punt van dié verwysing in die Egiptiese fonds is dat die Eksodus dus vóór dié tyd in die 13de eeu v.C. moes plaasgevind het. Israel was reeds ‘n gerekende nasie in Kanaän wat ‘n opmerking van die koning geregverdig het.
Wat verder interessant is, volgens Frank Yurco, is dat daar moontlik ook ‘n “prentjie” van Israel bestaan. Hy vertel van ‘n reliëf op ‘n muur van Karnak se groot Hypostyle Saal in Egipte wat die Kanaänitiese veldtog van Merneptah, die farao van Egipte (1212-1202 v.C.) uitbeeld. Indien sy waarneming reg is, bevat dié reliëf die oudste “prentjie” van Israeliete wat bestaan! Sien langsaan.
Daar is intussen egter nóg ‘n ontdekking gemaak wat waarskynlik nou die Merneptah Stele se verwysing gaan vervang as die vroegste literêre en daarom historiese verwysing na Israel. Hershel Shanks verwys na die ontdekking van ‘n ander grys graniet blok in Egipte, ‘n voetstuk van ‘n standbeeld, waarop drie gevangenes uit die farao se veldtog uitgebeeld word. Die derde gevangene kan duidelik met Askelon, ‘n Filistynse stad, geïdentifiseer word; die middelste gevangene met Kanaän. Die eerste gevangene op die graniet blok kan met redelike sekerheid met Israel verbind word. So beweer drie geleerdes: Manfred Görg, Peter van der Veen, en Christopher Theis.
Die graniet blok kan met sekerheid meer as 200 jaar vroeër as die Merneptah Stele gedateer word. So sê Israeli Egiptoloog Raphael Giveon wat dié inskripsie op grond van die skryfstyl in die tyd van Amenhotep III in ongeveer 1400 v.C. dateer. Dit is dus die vroegste bekende verwysing na Israel en bevestig die bestaan van Israel vanuit buite-Bybelse bronne.
Die Eksodus moes dus êrens in die laaste helfte van die 15de eeu v.C. gewees het, tussen 1450-1400 v.C. Die nuwe argeologiese ontdekking van Israel se naam gee hieraan sterk ondersteuning.
Eksodus bly die primêre getuienis van die Uittog van Israel uit Egipte
Eksodus in die Bybel gee dus steeds die beste beskrywing van wat in Egipte met die slawevolk van Israel gebeur het. ‘n Mens kan erken dat die verhaal geredigeer is in ‘n latere tyd as jy bv. verwys na terme of beskrywings wat beter in ‘n latere tyd pas, soos sommige geleerdes tereg doen. Maar, dit kan op geen manier vir jou ‘n oordeel laat vel of die Eksodus wel gebeur het of nie. Dit sê net iets oor die tyd waarin aan die teks geredigeer is.
Argeoloë kan ook nie uiteindelik die vraag na die Uittog en/of die Intog beantwoord nie. Die mees briljante tradisie-historici kan dit ook nie vir ons uiteindelik beantwoord nie. Die gebrek of oorvloed van artifakte of van die gepostuleerde bronne wat geleerdes identifiseer (net op grond van afleidings, sonder enige fisiese getuienis daarvan) al dan nie, kan nie die waarheid al dan nie van wat regtig gebeur het met die Eksodus, beantwoord nie. Die vraag na die Eksodus kan alleen vanuit die lees van die die bronne self beantwoord word. En dít het jy in jou hand in die tweede boek in die Bybel.
Die feit dat die Eksodus daarby met soveel passie as ‘n integrale deel van die selfverstaan van Israel regdeur hulle geskiedenis hanteer is – wat insluit dat hulle ‘n slawevolk was wat vir lank onderdruk was – versterk die idee dat die Uittog regtig plaasgevind het.
Die ander antieke historiese rekords van dié tyd skets meesal ‘n baie rooskleurige prentjie van die volk ter sprake. Daar word baie meer klem gelê op oorwinnings as nederlae, behalwe waar die oorwinnaar natuurlik iets oor hulle onderdane sou sê en ons dus meer oor die onderdane te wete kom.
Israel het egter geen doekies omgedraai oor hulle eie slawegeskiedenis nie, want die bevryding wat hulle daar beleef het, het hulle nie net aan God as Jahwe verbind nie, maar hulle identiteit as vry mense gevorm. Dit verklaar hoekom die verhaal van die Eksodus met soveel eerlike detail vertel word, in terme van die swaarkry in Egipte sowel as in terme van die moeilike en ontwrigtende tyd in die woestyn met sy talle plekke wat van teenspoed en opstand getuig het.
Outeurskap
Dit is duidelik dat Moses self ‘n hand gehad het in die skryf van die boek Eksodus. Hy het die verhaal van die oorlog teen Amalek as ‘n herinnering vir Josua opgeskryf (Eks. 17:14) sowel as die verbondsboek – d.w.s. al die wette van hfst. 20-24 – neergeskryf (Eks. 24:4,7). Dat die boek – soos die res van die Pentateug – met tyd geredigeer is, is wel so, maar ‘n beduidende deel daarvan kan na Moses self teruggevoer word. Lees meer daaroor by my inleiding van Genesis, die vorige boek wat ek behandel het.
Voortgaande openbaring van God in Eksodus
Dit sal ook vir jou duidelik word uit die lees van Eksodus dat ‘n mens ‘n ryker en meer uitgebreide prentjie van God in sy handelinge met die volk van God kry as wat die geval was in Genesis. Trouens, dit is iets wat verder uitgebrei word in die res van die Ou Testament. In die profete en wysheidsliteratuur word dié beeld van God op wonderlike wyses verder aangevul.
‘n Mens sien in Eksodus se verhale van God dat dat Hy ‘n baie persoonlike God is, wat Homself aan Moses as Jahwe bekend stel. Elemente hiervan was natuurlik al teenwoordig in die verhale van Abraham (vgl. net bv. Gen. 17-18!), Isak, Jakob, en Josef, maar dit word nou na die hele Godsvolk uitgebrei in die wyse waarop God teenwoordig raak op die volk se reis deur die woestyn. Hierin speel die ontwikkeling rondom die tien gebooie en die tabernakel ‘n baie belangrike rol. Die Soewereine Skepper God wat die wel en wee van nasies en die aartsvaders bepaal, word die Persoonlike Verlosser God wat sy uitverkore volk begelei na die Beloofde Land.
‘n Ander aspek van God wat in Eksodus al hoe meer na vore kom, is dat die dominante beskrywings van God saamhang met die situasie waarbinne die volk of ‘n individu verkeer. Die Eksodus verhaal in die Pentateug is tekenend daarvan deurdat ‘n onderdrukte slawevolk deur God bevry word en veral as Verlosser geteken word. Die Godsbeeld pas by die situasie waarbinne die volk verkeer het. Hierdie bevryding het met baie konflik met ander volke gepaardgegaan wat ‘n hoogtepunt bereik met die Intog in die Beloofde Land onder leiding van Josua. Die prentjie van God wat in dié tyd die botoon voer is die een van ‘n Kryger God wat ‘n Heilige Oorlog voer namens en ter wille van sy uitverkore volk.
Hoewel ‘n mens krities kan wees oor hierdie beeld van God vanuit ‘n hedendaagse perspektief, en selfs uit die Nuwe Testament beeld van God – jy moet jou vyande liefhê – moet dit jou nie verlei om daarom dié beeld af te keur en te ignoreer nie. Hierdie verhale is juis onverdund en sonder omhaal van woorde vertel, en so oor die eeue oorgelewer, omdat God as ‘n God van aksie ervaar is. Dit dra die boodskap dat God nie veraf en onbetrokke is nie. Hy sien raak en Hy verstaan.
En Hy is nie magteloos as sy volk magteloos voel nie. Hy kan optree en sy volk in gevaar beskerm en ‘n plek gee waar hulle kan leef en voorspoed kan beleef. Dit is daardie idee van God as Verlosser wat vandag nog betekenis vir ons denke oor God het.
Ons moet ook nie vergeet dat dié beeld van God in die apokaliptiese dele van die NT, veral in die Openbaring aan Johannes, weer na vore kom waarin God se verlossende oordeel oor die wêreld deur die Lam aan die kruis wat ook die Leeu van Juda is, voltrek word. Die plae wat só ‘n belangrike rol gespeel het in God se oordeel oor farao en sy mense keer in Openbaring terug in die vorm van die seëls, trompette en bakke wat verskriklike ontwrigting en lyding regoor die wêreld veroorsaak het. Dié beeld van God pas dus naatloos by dié van Eksodus in waar God se volk uit hulle slawerny bevry is.
View all posts in this series
- God sien en God verstaan – Bybelskool oor Eksodus begin 18 Januarie - January 14, 2017
- Inleiding – Eksodus: die hoop op verlossing - January 18, 2017
- Eksodus 1 – God vermeerder sy volk ten spyte van farao se brutale onderdrukking - January 19, 2017
- Eksodus 2 – God het hulle gekreun gehoor en verstaan - January 20, 2017
- Eksodus 3-4:17 – God stuur Moses om die Godsvolk uit Egipte te lei - January 24, 2017
- Eksodus 4:18-31 – Die oudstes reageer in geloof en aanbidding op Moses en Aäron se boodskap - January 25, 2017
- Eksodus 5 – God beveel farao: Laat my volk gaan! - January 26, 2017
- Eksodus 6:1-26: “Ek is die Here!” - January 27, 2017
- Eksodus 6:27-7:25 – Egipte sal besef Ek is die Here deur die plae wat Ek stuur - January 30, 2017
- Eksodus 8 – Die plae is Jahwe se verlossende oordeel as getuienis dat Hy God is - January 31, 2017
- Eksodus 9 – Farao het geen ontsag vir Jahwe nie al krepeer hulle van ellende - February 1, 2017
- Eksodus 10:1-27 – Die plae illustreer God se seën of straf vir dié wat Hom gehoorsaam of teenstaan - February 3, 2017
- Eksodus 10:28-11:10 – Die tiende plaag bevestig Jahwe se Godheid en sy verkiesing van Israel - February 6, 2017
- Eksodus 12:1-42 – Die Here beskerm die Israeliete teen die vernietiger deur die bloed van die Paaslam - February 9, 2017
- Eksodus 12:43-13:16 – Deur viering en toewyding word die herinnering aan bevryding lewend gehou - February 13, 2017
- Eksodus 13:17-14:31 – Die teenwoordigheid van die Here raak die Godsvolk se kompas deur die woestyn - February 14, 2017
- Eksodus 15 – Die Here is die Bewerker van wonderdade wat sy volk beskerm en sy vyande verpletter - February 15, 2017
- Eksodus 16 – God voorsien brood, vleis en die Sabbat as tekens van sy teenwoordigheid - February 16, 2017
- Eksodus 17 – Is die Here by ons of nie? - February 20, 2017
- Eksodus 18 – Jetro mentor Moses en die Israelitiese leiers tot ‘n leierskapspan - February 21, 2017
- Eksodus neem stadiger as wat ek beplan het! - February 26, 2017
- Eksodus 19 – As julle My gehoorsaam, sal julle my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien - February 27, 2017
- Eksodus 20 – Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het - March 5, 2017
- Eksodus 21 – Sorg vir mense en hulle diere - March 9, 2017
- Eksodus 22 – Sorg vir mense en hulle besittings - March 10, 2017
- Eksodus 23 – Sorg vir geregtigheid en die geloofsgemeenskap met God se hulp - March 13, 2017
- Eksodus 24 – Ons sal alles doen wat die Here beveel het - March 14, 2017
- Eksodus 25 – Rig vir my ‘n heiligdom op dat Ek tussen julle kan woon - March 15, 2017
- Eksodus 26 – Jy moet die tabernakel oprig presies volgens die plan wat op die berg vir jou gewys is - March 16, 2017
- Eksodus 27 – Die lig van God se teenwoordigheid brand voortdurend in die “tent van ontmoeting” - March 17, 2017
- Eksodus 28 – Die priesters se klere dra die boodskap van gesag en toewyding - March 18, 2017
- Eksodus 29 – Afgesonder en bevestig as God se verteenwoordigers - March 20, 2017
- Eksodus 30 – Elke deel van die tabernakel en elke priester word geheilig aan die Here - March 21, 2017
- Eksodus 31 – Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het - March 22, 2017
- Eksodus 32 – Die tragedie van die goue bulkalf en die toorn van Jahwe - March 23, 2017
- Eksodus 33 – Onthou tog hierdie nasie is u volk - March 24, 2017
- Eksodus 34 – Ek is barmhartig en genadig, maar Ek laat niks ongestraf nie - March 25, 2017
- Eksodus 35:1-36:1 – Elkeen wie se hart en gees hulle daartoe aangespoor het, het vrywillig offergawes gebring - March 26, 2017
- Eksodus 36:2-38 – Die volk bring meer as wat nodig is - March 27, 2017
- Eksodus 37 – Besaleël neem die voortou met die maak van die heilige toebehore van die tabernakel
- Eksodus 38 – Amper sewe ton goud, silwer en brons word gebruik - March 28, 2017
- Eksodus 39 – Die tabernakel is gereed vir die teenwoordigheid van die Here
- Eksodus 40 – Die teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel - March 29, 2017
- Oor getalle in die woestyn verhale - September 8, 2017
- Die tweede gebod – ‘n paar ekstra gedagtes - June 12, 2018
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Johanna
My woord vir 16 Jan 2017 was: Matthew 6:34 ‘So don’t be anxious about tomorrow. God will take care of your tomorrow too. Live one day at a time.’ / ek kom toevallig af op die bybelskool.com met EXODUS, wat die 18e Jan 2017 begin – niks gebeur toevallig nie! God sorg vir elke ‘ more’ in ons lewens!
Ek is so dankbaar ds Chris, dat God jou op Sy Rots geplaas het waarvandaan soveel van Sy volk Hom van naderby kan leer ken, kan sien, kan ervaar, kan hoor!
Voorspoedige, geseënde 2017 vir jou en almal rondom jou,
Johanna Fourie
Chris van Wyk
Dankie en voorspoed vir jou jaar ook.
Fanie van Emmenes
Na die lees van die inleiding oor die boek Eksodus sien ek met opgewondenheid uit na die studie van die boek.
Shalom1