Skip to main content

Gedagtes oor ons lewe voor God

Om die teenwoordigheid van God te beoefen

 ‘n Paar vooraf opmerkings

1. Om die teenwoordigheid van God te beoefen, is gewortel in die hele idee van ‘n lewe Coram Deo soos die Hervorming beklemtoon het. Die Bybel is vol van voorbeelde daarvan. Dit is my verstaan daarvan, nie ‘n mistiese ervaring nie.

2. Om die Bybel geestelik te lees, of te wel lectio divina, is net so gewortel in die Hervorming. Calvyn sê in sy Institusie die volgende oor wat die lees van die Bybel met jou moet regkry. Dit gaan nie net oor die verstand nie, maar ook oor ‘n lees met die hart:

Maar sodra jy jou daartoe wend om die Heilige Skrif te lees, sal dit jou willens en wetens so lewendig ontroer, jou hart so binnedring en jou binneste so beset dat die krag van redenaars en filosowe in vergelyking met die werking daarvan op jou gevoel byna verdwyn. Gevolglik kan ons geredelik bemerk dat die Heilige Skrif iets Goddeliks adem wat al die gawes en bekoorlikhede van die mense se inspanning ver te bowe gaan.

Die lees van die Bybel gaan uiteindelik oor jou hele lewe. Calvyn waarsku daarom teen ‘n lees van die Skrif wat nie ons transformasie in die oog het nie:

Verder moet ons in gedagte hou dat ons die Skrif moet lees en dat ons ons voortdurend besig moet hou deur die dinge te soek en te bepeins wat op ons stigting afgestem is, en dat ons nie aan nuuskierigheid of aan belangstelling in nuttelose dinge moet toegee nie.

Hierdie geestelike lees van die Bybel is ook iets wat op talle plekke in die Bybel aangeprys word. Dit getuig die groot aantal woorde en frases wat met nadenke, stilword en bepeinsing vertaal kan word, veral in die Psalmboek.

Daarby word God telkens geteken as die Een wat ons gedagtewêreld ken (Ps 139:2), dit wil beheer (Jer 31:33; Fil 4:7; Heb 4:12) en gevolglik wil hê dat ons “gees en gedagtes moet nuut word” (Ef 4:23), soos ook die Psalmis bely: “laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil hê dat ek  moet lewe.” (Ps 51:6).

Ons opdrag as gelowiges is tog juis om elke gedagte gevange te neem om dit aan Christus gehoorsaam te maak (2 Kor 10:4,5).  Hierin speel stilword en gelowige nadenke of meditasie ‘n belangrike rol, soos ‘n Psalm dit uitdruk: “my siel, keer terug tot jou rus” (Ps 116:7, letterlik vertaal), en: “ek het my siel tot rus en stilte gebring” (Ps 131:2, letterlik vertaal).  Vergelyk ook Jesus in die Nuwe Testament wat stilte as belangrike deel van sy verhouding met sy Vader gebruik het (Mat 14:13; Mrk 6:31).

3. Die ooreenkomste tussen Christelike en Oosterse gebruike, en nog nader aan die huis tussen Bybelse en mistieke piëteit, kan as sodanig natuurlik nie enige grondige basis vir ‘n argument téén sulke gebruike verskaf nie. Die feit dat mense in ander godsdienste en in die mistiek ook bid, kan ons mos nie laat ophou bid nie. Dit is tog die wyse waarop en die God tot wie gebid word, wat die deurslag gee in die betekenis wat Christene aan gebed en enige ander geloofsgewoonte kan heg.

Oor Christelike meditasie

Ek het die volgende oor meditasie en nadenke kwytgeraak vroeër wat my Bybelse perspektief daarop bevestig.

1. Die belangrikste woorde in die Bybel wat met mediteer vertaal kan word, is die Hebreeuse woorde hagah en siah wat beide die betekenisse dra: “peins/ nadink/ oordink” (Engelse vertaling: “muse/meditate/ ponder“) en veral in die Psalms gebruik word.

2. Daar is egter ook ‘n hele aantal ander Hebreeuse en Griekse woorde en frases wat vertaal kan word met meditasie of nadenke of met die proses van stilword voor die Here in verband gebring kan word. Die woorde kan in twee betekenisvelde opgedeel word:

2.1 Woorde en frases wat dui op oorpeinsing (nadenke met ‘n spesifieke fokus en gerigtheid):

  • peins, nadink, oordink, sug” wat in die kontekste moontlik kan dui op ‘n geprewelde nadenke – Jos 1:8; Ps 1:2; 5:2; 63:6; 143:5;
  • peins, oordink, nadink, bybly” wat in die verskillende kontekste óf kan lei tot klag óf lof afhangende van die resultaat van die bepeinsing – Ps 77:12; 104:34; 119:148; 143:5;
  • terugdink, onthou” – Ps 42:5; 77:6;
  • oordink, diep nadink” – Ps 73:16; 119:59;
  • dink” – Ps 4:5;
  • nadink” – Ps 27:4;
  • ondersoekend nadink” – Ps 111:2;
  • nadink” – Job 37:14;
  • oordink” met die implikasie dat op dié oordenking gehandel sal word – Ps 48:10.

Hierby kan ook die woorde en frases wat dui op ‘n “bly in” (bv om in die woorde/wet van God óf – in Nuwe Testamentiese terme – ‘n bly in Jesus deur die werking van die Heilige Gees) gevoeg word.  Vergelyk “in jou gedagtes/hart bly” – Deut 6:6.

2.2 Woorde en frases wat dui op ‘n inkeerproses (waarin stilword en tot-bedaring-kom as intrapersoonlike gebeure [meesal in die teenwoordigheid van God] ‘n belangrike rol speel):

  • stilmaak” – Ps 131:2 dui moontlik op (vir die moderne mens) ‘n meer “tegniese” meditatiewe stilwordproses;
  • stilwees” – Jes 30:15;
  • bedaar” – Ps 46:11;
  • stilwees/rustig wees/in stilte wag” – Hab 2:20; Sef 1:7; Sag 2:13;
  • wag” – Ps 5:4; 130:5,6,7;
  • rus vind” – Ps 62:2,6;
  • soos ‘n gespeende (kind) (is) my siel in my” – Ps 131:3;
  • uitstort” – Ps 42:5; 63:9 (“my siel/hart uitstort [in my]”);
  • tot rus kom” of letterlik: “my siel, keer terug tot jou rus” – Ps 116:7.

3. Die meditasie of gelowige nadenke van die Ou Testamentiese mens was deel van sy gebeds- en lewensverhouding met God. Dit wil sê: die gebed en die meditasie, die lewe van elke dag en die meditasie vloei die een in die ander, soos byvoorbeeld duidelik in Psalm 77 gesien kan word. Meditasie en gebed vul mekaar dus aan as integrale dele van die gesprek en ervaring van God se teenwoordigheid en betrokkenheid by ons.

4. Soms is die meditasie ‘n aktiewe “gerigte” aktiwiteit, byvoorbeeld ‘n meditasie oor die wet, waar God se opdragte/ lewensbeginsels oordink en bepeins word. Vergelyk bv Jos 1:8; Ps 1:2; 119:148. Wanneer die Woord/wet só oordink word, is dit altyd gemik op ‘n internalisering van die wet, ‘n deurleefde kennis en ervaring van die wet, eerder as ‘n tegniese, formele, intellektuele of rasionele ondersoek – hoewel laasgenoemde nie as oppervlakkig afgemaak word nie.  Deur hierdie oordenking van die wet word gepoog dat die wet as ‘t ware soos ‘n tweede natuur word en jou lewe vul as die enigste betekenisvolle bestaansmoontlikheid. Daarom moet dit dag en nag nie uit die gelowige se gedagtes wyk nie.

5. Ander kere is meditasie gemik op die stilword en inkering van die individuele gelowige, soms ook as ‘n liturgiese moment in die vergadering van die gelowiges (Hab 2:20). Hier word spesifiek iets aangedui word wat intern (intrapersoonlik) in die gelowige se gedagtewêreld gebeur. Die gelowige word aangemoedig om stil te word en sy gedagtes tot rus te bring voor die aangesig van die Here. Vergelyk Ps 131:2, waar letterlik staan: “Waarlik, ek het my siel tot rus en stilte gebring.”

Stilword is ook ‘n kragtige bewapening  vir die gelowige om die krag van die Here vry te stel in sy of haar lewe. Vergelyk Jes 30:15; Ps 46:11.  Vergelyk ook die inkering wat ter sprake kom in Ps 42:5 – letterlik vertaal: “Ek wil my siel uitstort in my“.  Die gesprek met God omvat daarby ook die sug (en die klag) wat ‘n verslaentheid oor die weë van God en die lewe kan uitdruk.  Vergelyk  hiervoor Ps 5:2; 77:4.

6. Die gelowige nadenke of meditasie van gelowiges in die Bybel kan dus nooit los gedink word van hulle totale lewe voor God nie.  Soos veral blyk uit die Ou Testamentiese gegewens het ‘n gelowige nie sy lewe in kompartemente opgedeel nie.  Sy gebedslewe en sy gelowige nadenke of meditasie, sy luister na God en sy gehoorsaamheid aan en uitvoering van God se opdragte, sy daaglikse lewe en sy geestelike lewe was een werklikheid voor God! Meditasie was dus net een faset van die lewe voor God.

7. ‘n Mens bemerk egter geen poging in die Bybel en by die gelowiges om ‘n mistiese eenwording met God in meditasie na te streef nie, soos wel die geval is by die meeste Oosterse meditasie gebruike. (Vergelyk bv die wyse waarop meditasie as sewende trap op die agtvoudige pad van die Boeddhisme ‘n rol speel om die mediteerder te verlos van homself en te laat opgaan in die kosmiese Godheid, wat die hele werklikheid sou deursuur.) In die Bybel is die gelowige steeds skepsel en God Skepper en meditasie ‘n wyse waarop hierdie verhouding gedien kan word deur toegespitse fokus op God.

8. Netso is daar geen sprake van ‘n leegwordproses nie – soos bv in joga en transendentale meditasie geleer word – maar eerder ‘n proses waarin op ‘n nuwe manier die gelowige volgemaak word met die volheid wat God bring, sy verlossing, sy krag, sy insig, sy liefde en sorg. Hierdie radikale verskil met die Oosterse meditatiewe tegnieke staan ook teenoor die mistiese Christelike gebruike waarin sommige Christelike leermeesters deur die eeue opgegaan het (bv Thomas Merton) waarteen tereg vanuit ‘n Bybelse perspektief gewaarsku moet word.

9. Dit sien ‘n mens ook in die feit dat die nadenke oor God in die Bybel soms ook te make het met simbole wat in die proses van herinnering ingespan kan word. Vergelyk Num 15:39: “As julle die klossies sien, moet julle dink aan al my gebooie sodat julle dit onderhou en nie die sondige begeertes van julle hart en oë navolg nie.” Dit beteken dat in die nadenke juis inhoud gegee word aan die gedagteprosesse om die ware betekenis van dinge te kan waardeer.

10. Dat God telkens in die meditatiewe proses as die veronderstelde subjek in alles erken word, blyk uit die feit dat die Bybel ‘n (af)wagtende houding beklemtoon by die gelowige wat baie belangrik is om sy werking te kan ondervind en Hom te ontmoet. Vergelyk Sef 1:7; Sag 2:13. Hierdie afwagtende houding mond daarom ook meesal in verwondering uit. Vergelyk  Ps 139:17 en 18:  “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.

11. Die meer tegniese aspekte van die beoefening van meditasie word nie presies uitgespel in die Bybel nie. Dit wil wel voorkom asof die Bybelse meditasie iets meer as ‘n “stille” meditasie ingehou het. Die Hebreeuse woord hagah kan in sommige kontekste byvoorbeeld verklaar word as ‘n geprewel of ‘n gemompel.

Hierdie feit maak ‘n interessante vergelyking moontlik, want dieselfde woord is ook gebruik vir die geprewel van die mediums en spiritiste in die Ou Testament.  Vergelyk Jesaja 8:19: “Mense sê julle moet mediums en spiritiste raadpleeg wat fluister en mompel (hagah), maar moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie? Waarom sou ‘n mens dooies in belang van lewendes raadpleeg?

Dat dieselfde woord gebruik word – vir die godsdiensbeoefening van die Bybelse gelowiges sowel as die godsdiensbeoefening van die mediums en spiritiste – beteken dat hierdie gemompel (meditasie) slegs onderskei kan word ten opsigte van die gerigtheid daarvan en nie ten opsigte van die tegniese aspekte daarvan nie. Dit dui daarop dat dit nie die tegnieke per se is wat verkeerd sou kon wees nie, maar die aanwending of doelwit of fokus daarvan.

12. Die fokus van meditasie word verrassend genoeg egter nie net as God aangedui nie, hoewel selfs wanneer iets anders die fokus is, dit steeds met God in verband gebring word. Die onderskeie foci van nadenke is: God (Ps 63:6), die verre verlede (Ps 143:5), die werk van God se hande (Ps 77:12,13; 143:5), die skepping (Ps 104:34), die Woord/wet (Jos 1:8; Ps 1:2), jou eie lewe (Ps 42:5) onreg (Ps 4:5) en God se goedheid (Ps 27:4). Kortom, daar kan oor alles onder die son gemediteer word.  Dit kan gebeur op jou bed in die nag (Ps 63:6) of “dag en nag” (Ps 1:2). Dit beteken doodgewoon, altyd en gedurigdeur.

13. Die doel van meditasie is om die ontmoeting met God voor te berei en moontlik te maak (Ps 5:2; 119:48,59; 143:5), om perspektief te kry oor die lewe (Ps 4:5; 42:5; 73:16; 77:3,4,6,7,12,13), om God en sy Woord totaal deel van jou lewe te maak of te internaliseer (Ps 1:2; 119:55) of om jou te verbly en te verlustig in die Here (Ps 1:2; 48:10; 119:15). Hierdie tipe omgang met God – sê die Bybel – bring voorspoed (Ps 1:2), dit gee krag (Jes 30:15) en laat jou die lewenskuns bemeester onder die begeleiding van die Here (Jos 1:8).

14. Meditasie staan gevolglik in diens van die totaliteit van God se handelinge met sy kinders, om hulle innerlik te vernuwe. Vergelyk:

  • Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe” (2 Korintiërs 4:16);
  • Julle gees en gedagtes moet nuut word” (Efesiërs 4:23);
  • Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word” (Efesiërs 3:16; Vergelyk ook 1 Tes 3:13);
  • Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.” (Hebreërs 4:12).

Gevolgtrekkings

  1. Wanneer meditasie in die Bybel genoem word en dit uit die woorde en frases duidelik afgelei kan word dat dit oor meditasie gaan, is dit beskrywings van wat gelowiges in die beoefening van hulle geloof inderdaad gedoen het. Daar word nie ‘n voorskrif gegee oor hoe die proses nou eintlik moet werk nie. Dit is nie die beskrywing van ‘n dissipline wat nagevolg móét word nie.  Die woorde gee slegs ‘n kykie in die wyse waarop Israel sy geloof beoefen het.  Maar dit is as sodanig tog ‘n baie belangrike getuienis van hoe ‘n meditatiewe omgang met God, hulself en hul wêreld juis saam met gebed en ‘n intellektuele deurvorsing van hulle geloof, van die deurslaggewende elemente in hulle geloofslewe was.
  2. Christelike meditasie – soos dit in die Bybel beslag gekry het – is nie ‘n vreemde Oosterse godsdiensgebruik nie, maar het ‘n eie aard en gerigtheid wat deur die eeue Christene tot dieper insig in God se wil vir hulle lewens gebring het, sodat hulle Hom beter kan dien.

So het Luther meditasie deel van sy daaglikse roetine gemaak wanneer hy oor die Skrif gemediteer het – tot drie uur lank.

So is Calvyn se voorskrif vir die “rules of right prayer” in die Institusie dat jy voordat jy regtig begin bid, jou gedagtes moet vrymaak: “from carnal cares and thoughts by which it can be called or led away from right and pure contemplation of God.” Hy gaan so ver om te sê: “A fault that seems less serious but is also not tolerable is that of others who … mumble prayers without meditation!

  1. Die onderskeid met ander vorms van meditasie lê veral in die gerigtheid en fokus op God en die verhouding met Hom wat in die meditatiewe proses verdiep word. Die gelowige word nie leeg van homself en los so op in die “goddelike al” nie, maar word juis vaster en dieper geheg aan die God wat met hom in ‘n liefdesverhouding is.
  2. Die beoefening van ander dissiplines soos gebed, meditasie, diens, en aanbidding, moet uiteindelik uitmond in gehoorsaamheid en dissipelskap waar onder die leiding van die Heilige Gees ‘n lewe coram Deo gelewe word. Etiek en spiritualiteit is dus ten nouste verbonde. Waar die band tussen etiek en spiritualiteit verbreek word, ontaard die geestelike lewe in ontvlugting van die werklikheid of in legalisme – soos in die mistiek meermale gebeur.
View all posts in this series

Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar