Job 36-37 – Elihu 4: God se grootheid nooi ons uit om Hom te dien

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Elihu sluit sy gesprek met Job en die drie vriende af met ‘n vierde en omvattende toespraak.  In ‘n meer tegemoetkomende toon begrond hy God se regverdigheid in sy skeppingsmag en voorsienigheid (36:1-15).  Hy moedig Job aan om God se uitnodiging te aanvaar om die gevaar van sy gegriefdheid te vermy, nl. om in sonde te verval, deur op God self en sy grootheid te fokus en God se werk te bly roem (36:16-25).  Hy vervolg deur God se grootheid in ‘n aantal skeppingswonders aan Job bekend te stel (36:26-37:13) en só Job uit te nooi en te motiveer om God te bly dien (37:14-24).

God se skeppingsmag en voorsienigheid vertoon God se regverdigheid – 36:1-15

Elihu opper nog ‘n paar argumente vir God se saak, want hy wil aantoon dat God regverdig is.  Hy begrond God se regverdigheid in die feit dat God magtig is, maar tog op niemand neer sien nie (36:5).  God is magtig, maar tegelykertyd wys.  Hy laat reg geskied aan verdruktes, sorg vir regverdiges en wis goddeloses uit.  God regverdigheid wys dus in sy skeppingsmag sowel as in sy voorsienigheid.

Hierdie regverdigheid kan ‘n mens selfs sien in hoe hy werk met konings.  Hulle regeer in ‘n verhouding met Hom.  Wanneer hulle hoogmoedig raak, beëindig God hulle termyn: “So laat God hulle besef wat hulle gedoen het, hoe hulle gesondig het toe hulle hoogmoedig geword het.” (36:9).  God se regverdigheid sluit dus in dat hy mense tot insig begelei, ook deur die verheffing en vernedering wat ‘n mens in die lewe ervaar.

Elke ervaring is dus ‘n leer ervaring, of dit nou goed is of sleg.  Wysheid is om daarop ag te slaan en daaruit te leer.  Dwaasheid is om dit te ignoreer of daarteen in opstand te kom.

Job moet op God se grootheid bly fokus om afvalligheid te vermy – 36:16-25

Elihu raak meer persoonlik en pas sy argumentasie op Job toe: “God het jou na Hom toe getrek, weg van gevaar af.” (36:16).  Dit het hy in sy vorige veilige en voorspoedige ervaring beleef.  Dieselfde is van toepassing in die teenspoed wat hy nou beleef.

Die NAV vertaling in 36:17 is misleidend. “Maar nou het die oordeel wat die goddelose toekom, jou voluit getref, oordeel en straf het jou ingehaal.”  Dit kan geïnterpreteer word asof dít wat die goddelose toekom, nou vir Job getref het.  Dit is beter om dit soos in die OAV te vertaal: “17Maar u is vol van die oordeel oor die goddelose: oordeel en strafgerig sal u aangryp.

D.w.s., Elihu waarsku Job dat hy homself nie moet vergelyk met die goddelose nie en vol van oordeel oor hulle moet wees nie.  Dít sal beteken dat hy self onder oordeel sal deurloop: “Moenie dat jou grief jou tot uittarting verlei nie.” (36:18).  “Moet ook nie jou toevlug neem tot sonde nie” … al lyk dit vir Elihu asof Job dit begin verkies bó die swaarkry (36:21).

God is só groot dat ‘n mens doodeenvoudig nie van Hom rekenskap kan eis nie.  ‘n Mens moet liewer dink daaraan: “om sy werk te roem, sy werk wat deur mense besing moet word.” (36:24).  “Alle mense kan dit sien, al neem hulle dit net van ver af waar.” (36:25).

Dié raad is goeie raad, hoewel ‘n mens ook moet onthou dat Elihu se oordeel oor waar Job in sy pad met die Here is, van die merk af is, omdat hy nie insae het in wat regtig aangaan van God se kant af nie.  Elihu kyk net met ‘n menslike perspektief, en mis die goddelike perspektief.

Elihu teken God se grootheid in ‘n aantal skeppingswonders – 36:26-37:13

Elihu skuif sy eie fokus na God se grootheid wat op ‘n besondere manier God se selfopenbaring in die volgende paar hoofstukke – hfst. 38-41 – aan die orde begin stel.  Sy eie arrogante toon van hfst. 35 begin plek maak vir ‘n eie persoonlike verwondering en verstomming wat die begin van ware wysheid is: “God is groot, ons kan  sy grootheid nie begryp nie, sy jare kan nie bereken word nie.” (36:26).

Elihu neem ons deur ‘n skeppingstoer van die wonder van reën om dié verwondering oor God se grootheid te onderstreep.  Die wonder lê nie net in die reënsiklus van see tot wolke tot aarde nie, maar in die feit dat dit kos gee aan mense, en dit in oorvloed.  “God vat die weerlig in sy hand en stuur dit op die doelwit af.” (36:32).  Niks is toevallig nie.  Niks is verniet nie.  Alles het sy doel.  Alles word begelei om aan hulle doelwit te beantwoord.

Dié gedagtes is selfs vir Elihu te groot om in te neem, daarom begin hy bewe: “en gaan my hart aan die ruk.” (37:1).  Hy hoor God se stem in die wonders van die natuur, die algemene openbaring: “Met sy stem laat God magtige dinge gebeur.  Hy doen groot dade en ons begryp dit nie.” (37:5).

Dan vervolg hy om dieselfde siklus te beskryf, maar nog meer uitgebreid in terme van sneeu, reëns, stortreëns, stormwind, yswinde, wolke, en weerlig, maar nie net om daarmee van die krag daarvan te getuig nie (37:6), maar om op aanskoulike manier mense tot stilstand te ruk en hulle van God se bestaan bewus te maak (37:7).  Mense, maar dit is mooi!

God wil deur sy skeppingsmag mense uitnooi, sê Elihu, om Hom te leer ken (37:7) en aan ons die waarde van gehoorsaamheid te illustreer.  God stuur die storm – wat nou ook as metafoor vir sy betrokkenheid by ons begin optree – om drie goed te doen: “óf om te straf, óf om vir die aarde te sorg, óf om sy liefde te toon.” (37:13).

God se grootheid nooi Job uit om Hom te bly dien – 37:14-24

Geen wonder dat Elihu uit sy eie verwondering oor God vir Job uitnooi om hierna te luister en in die openbaring van God se grootheid homself te vind: “Staan stil en dink na oor die wonderdade van God.” (37:14).

Let op hoe Elihu se reeks van drie retoriese vrae Job begin voorberei vir die vrae wat God self vir Job gaan vra in hfst. 38-41:

  • Weet jy hoe God dit alles voorberei?
  • Weet jy hoe Hy die lig deur die wolke laat breek?
  • Weet jy hoe die wolke sweef?

Hy antwoord sy eie retoriese vrae: “Dit is die wonderlike werk van Hom wie se kennis volmaak is.”(37:16).  Job – en ons ander – sukkel al met temperatuurbeheer in die woestyn.  Hoeveel te meer is hy nie net heeltemal onbekwaam om saam te gesels met dié God wat alles gemaak het nie.

Elihu nooi Job uit om te reageer en sy eie vrae te vra, maar vervolg daarop dat dit eintlik maar net sal illustreer dat Job – en ons – onkundig is, wanneer dinge buite ons begrip begin beweeg.

Elihu sluit af met ‘n laaste beskrywing van God se grootheid wat geïllustreer word juis in die feit dat Hy regverdig is en niemand verdruk nie.  “Daarom dien die mense Hom,” … en, as ‘n amperse nagedagte … “sien Hy nie dié raak wat dink dat hulle wysheid het nie.” (37:24).

Elihu kom daarmee op dieselfde plek uit as die gevolgtrekking van Job 28: “Om die Here te dien, dit is wysheid, om die kwaad te vermy, dit is insig.” (28:28).  Raad wat tot vandag toe nog geld.

View all posts in this series

Job


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Ds. Chris

    Baie dankie vir u harde en insigewende stof wat u so onbaatsugtig aan ons almal bied. Die Bybelstudie moet asseblief nooit verdwyn nie. Vir ons gryskoppe is dit ‘n onuitputlike bron van inligting.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: