Job 22 – Elifas: Jy was onregverdig en onbarmhartig, daarom gaan jy onder

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Die derde gespreksrondte tussen Job en sy drie vriende word voortgesit met ‘n toespraak van Elifas (hfst. 22) waarop Job sal antwoord (hfst. 23-24).  Bildad sal nog ‘n kort toespraak lewer (hfst. 25), met Job wat daarop antwoord (hfst. 26-27).  Sofar kom egter nie weer aan die woord nie.

Elifas se argument is eintlik eenvoudig: 1) Job was onregverdig en onbarmhartig, en hy laat Job onder geen illusies daaroor nie, al gee hy geen konkrete voorbeeld nie, en verwys net na dinge wat hy dink moes gebeur het (22:1-20), en 2) Onderwerp jou aan God en jy sal weer vrede en voorspoed belewe (22:21-30).

Jy was onregverdig en onbarmhartig, daarom gaan jy onder – 22:1-20

Elifas draai nie doekies om nie.  Hy val Job nou op sy sterk punt af, en dit is sy vroomheid.  Hy maak die stelling dat Job se vroomheid geen voordeel vir God inhou nie – heeltemal onbewus natuurlik van die hemelse gesprek waarin Job se vroomheid inderdaad ‘n voordeel vir God in sy gesprek met die Satan ingehou het.

Hy ironiseer ook Job se vroomheid en vra half spottend: “Is dit oor jou diens aan Hom dat Hy jou straf?” Vir Elifas is dit net so duidelik dat Job iets verkeer gedoen het, al is dit nie vir almal sigbaar nie.  Trouens, hy maak bewerings van wat Job verkeerd sou gedoen het, wat veral op sosiale onreg neer sou kom: onreg teenoor sy familie, diefstal van armes, onbarmhartigheid teenoor dors en honger mense (onthou Jesus se profetiese rede oor die skape en die bokke wat juis oor hulle barmhartigheid die ewige lewe beërwe in Matt. 25!), sowel as teenoor weduwees en wese.

Daarom, sê Elifas, gaan dit so sleg met jou.  God is nie só ver in die hemel dat Hy nie kan raaksien op die aarde nie, dat Hy nie kan sien dat Job op die pad loop wat sondige mense uitgetrap het nie.  Sóós hulle sal Job voortydig uit die lewe weggeruk word en sal sy goed ook soos hulle s’n meegesleur word asof deur ‘n stroom water, omdat hulle geen erkenning aan God se gawes gegee het nie.

Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef – 22:21-30

Elifas hou steeds die moontlikheid van inkeer en omkeer vir Job lewend, en hou eintlik ‘n baie verantwoorde Bybelse beginsel aan Job voor.  God verander mos die lot van mense wat van Hom leer en sy woorde ter harte neem, soos Elifas in vers 22-23 aanvoer: “As jy terugkom na die Almagtige toe, sal jy herstel word.

Hierdie wonderlike waarheid word egter ‘n onwaarheid in die wrede woorde van Elifas, omdat sy beoordeling van die lewe van Job heeltemal van die merk af is.  Hy wil hê dat Job sy “goud” in God sal vind, nie in sy eie wysheid nie, want dit sal die verhoring van sy gebede beteken.  Maar dit is ironies genoeg presies wat Job wil doen, maar waarin hy ervaar dat hy gedwarsboom word.  Elifas sê dus die regte goed, maar pas dit op die verkeerde manier in die lewe van Job toe.

Ofir is ‘n plek waar goud gemyn is, en waarskynlik in suid-wes Arabië geleë.  Salomo het bv. goud van daar af laat invoer vir die tempel (1 Kon. 9:26–28).  Dit kan ook in Afrika (Somalië) of selfs Indië gewees het, soos sommige geleerdes voorstel.

In nog ‘n stukkie ironie sê Elifas: “Hy sal die skuldiges laat vrykom, en hulle sal vrykom deur jou onskuld.”  Aan die einde van die verhaal sal die drie vriende juis vrykom, omdat Job vir hulle in opdrag van die Here sal bid!

View all posts in this series

Job


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: