Skip to main content

Job 5:2-27 – Elifas: Dit gaan goed met die mens wat deur God tereggewys word

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Ek gee albei bydraes oor Elifas se eerste gesprek ter wille van dié wat dit as ‘n eenheid wil lees.  Jy kan dit ook oor twee dae lees.  Die volgende bydrae oor Job se antwoord, word dus eers Woensdag geplaas.

Die mens is vir swaarkry gebore – 5:2-7

Elifas se prentjie van die lewe kom nou aan die orde: “Die mens is vir swaarkry gebore, en sy lewe is kortstondig soos ‘n vonk wat opskiet.” Alle mense is eintlik dwase om te dink dat dit anders is – en by implikasie Job ook, soos ‘n mens aflei uit die voorbeeld wat hy gee van die ramp wat die dwase se huis en kinders tref.

Ellende, sê hy, kom egter nie sommerso uit die grond uit op nie.  Dit is deel van die lot van die mens en ‘n loon vir sy dwaasheid.  Eina!

As ek jy was, sou ek my tot God wend – 5:8-16

Die spits van Elifas se raad is dat Job tog die moeite moet doen om hom tot God te wend en sy saak aan Hom voor te lê.  God doen immers wonderlike dinge vir dié wat vertrap word en ly onder die geslepenheid van slinkse mense, dié wat arm is en ly onder die vals beskuldigings van magsbehepte sterkes: “So is daar hoop vir die behoeftige en kom die onreg tot ‘n einde.

Interessant genoeg is vers 13 die enigste vers uit die boek Job wat in die NT aangehaal word.  Paulus gebruik Elifas se korrekte beskrywing van God in Job – en ‘n mens kan min fout vind met sy beskrywing hier – as motivering waarom die wysheid van die wêreld vermy moet word sodat hy of sy volgens God se wysheid soos geopenbaar in Christus onder leiding van die Heilige Gees kan wandel (1 Kor. 3:19 – hy haal ook Ps. 94:11 met dieselfde strekking daar aan).

Elifas sou goed gedoen het as hy eerder hierdie Godsbeeld, waarmee min fout gevind kan word, verder uitgepak het.  Pleks dus dat Elifas na homself geluister het! Die implikasie van wat hyself sê, is dat ‘n mens aan dié God kan en moet vashou, maak nie saak wat jou lot in die lewe is nie.  God stel goed reg, al vat dit soms lank.

Dit is immers wat Job uiteindelik sou leer, dat die voorspoed en teenspoed van die lewe nie ‘n betroubare getuienis van God se guns of afkeur is nie. ‘n Verhouding met God is moontlik regdeur die soet en suur van die lewe, die insig wat Job aanvanklik openbaar (hfst. 1-2), maar uiteindelik self dieper verstaan (hfst. 42:7-17) ná sy ontmoeting met God op God se terme.

Dit gaan goed met die mens wat deur God tereggewys word – 5:17-27

Maar, Elifas lê sy eie verstaan van God nie korrek uit nie.  Hy maak die verkeerde gevolgtrekking uit sy eenvoudige teologie, en dit is dat rampe net ‘n straf van God is wat mense tref om hulle tereg te wys.  Job moet dus per implikasie hom deur God laat teregwys, dan sal God hom weer verbind en gesond maak.

Dan sal die gevolge vir Job baie positief wees, en al sou daar ook hoeveel rampe hom tref, “ses of sewe keer”, dit sal hom geen kwaad kan aandoen nie.  Hy noem vyf negatiewe rampe wat hom sou kon tref: ongedefineerde rampe (x2), hongersnood (x2), oorlog, venynige tonge, wilde diere.  Hy noem vyf positiewe dinge wat hom sou kon tref: geen klippe in die veld, ‘n veilige woonplek, ‘n veilige weiveld, ‘n groot nageslag, ‘n lang lewe: “soos ‘n gerf wat op sy tyd na die dorsvloer gebring word.

Kyk dit het ons ontdek, so is dit, luister daarna en neem dit ter harte.”  Selfversekerd tot die einde toe is Elifas in sy toespraak aan Job.

Die probleem met Elifas se standpunt is egter dat hy die heel korrekte beeld van God as ‘n betrokke God van toepassing maak binne ‘n oorsaak-en-gevolg teologie.  Sy aanname is dat waar mense hulle deur God laat teregwys, hulle weer voorspoed sal beleef.  Voorspoed bly vir hom die teken van vroomheid.  Teenspoed bly vir hom die teken van goddeloosheid.

Ons sal egter in Job se verhaal uiteindelik leer dat die gehoorsaamheid of toewyding van gelowiges dit egter nie per se weer goed laat gaan met hulle nie. Net God kan besluit oor die uitkoms van ’n mens se lewe.  God soek mense wat Hom dien selfs al word hulle ook soms sonder dat hulle dit verdien aan lyding en rampe blootgestel.

Natuurlik is daar goeie gevolge as ‘n mens die Here dien, en slegtes as jy dit nie doen nie.  Paulus moedig ons juis aan om te volhard in goed doen:

Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.” (Gal. 6:7–9).

Maar Job se situasie was anders as dit waarvoor Elifas se teoretiese wysheid toegelaat het.  Daarom kon die eenvoudige wysheid van ‘n oorsaak-en-gevolg teologie in Job se geval nie gebruik word nie.  Elifas se aannames oor Job was ver van die kol.  Job se krisis sou net deur ‘n ontmoeting met die Here opgelos kon word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.