Skip to main content

‘n Oorsig oor die derde gespreksrondte – Job 21-27

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

In die derde gespreksrondte reageer Job weereens skerp op die drie vriende se ontleding van wat die lot van die goddelose is. Hy kom in opstand daarteen dat hy nie ongeduldig mag raak nie, want sy klag is dan juis nie teenoor mense nie.  Hulle moet dit tog kan sien en eerder stilbly van verbasing oor dít wat hom oorgekom het (Job 21).

Elifas se antwoord daarop is egter net so skerp.  Hy verwyt Job dat hy vanselfsprekend onregverdig en onbarmhartig moes wees.  Daarom is Job besig om onder te gaan. Job moet hom net onderwerp aan God en hy sal weer vrede en voorspoed belewe (Job 22).

Job se antwoord daarop is egter dat hy juis in sy soeke na God gefrustreer word.  Sy soeke na God is vrugteloos en maak hom eerder vreesbevange.  Ten spyte van die feit dat hy meer waarde heg aan God se woorde as aan sy eie begeertes, is hy bang vir God, omdat hy nie verstaan wat in sy lewe aangaan nie (Job 23).

Nog minder verstaan hy wat in die wêreld aangaan, want die feit dat die Almagtige nie optree teen die wydverspreide onreg van mense in die wêreld nie, verdiep sy ongemak en ontsteltenis.  Dit lyk vir Job asof dieselfde lot regverdiges en onregverdiges tref, en dít maak net nie sin vir Job nie. Het vromes en goddeloses dan dieselfde einde?  Hoe kan dit wees?  Hoe kan dit regverdig wees? (Job 24).

Bildad se kort antwoord is natuurlik olie op Job se vuur.  Bildad neem sy toevlug tot die eenvoudige teologie dat God groter is as Job.  Op sy kenmerkende brutale manier probeer hy Job dus stilmaak met die soewereiniteit van God.  Daarmee eindig die drie vriende se pogings om Job te antwoord en met hulle eenvoudige oorsaak-en-gevolg teologie tot inkeer te bring.  Sofar kom nie eers aan die woord nie.

Die drie vriende se raad kon dus nie die komplekse aard van Job se verlies beskryf nie en vir hom in kontak bring met die Een op wie sy lewe gerig was.  Job is immers iemand wat meer waarde heg aan God se woorde as aan sy eie begeertes, en net ‘n woord van God sou sy hart tot berusting kon bring.

Job antwoord op Bildad se laaste bydrae met die deurpriemende vraag na die oorsprong van sy drie vriende se bydraes in hulle gesprekke: “Met wie sy hulp het jy gepraat?”.  Met vyf vrae oor hulle hulp, bystand, raad, en insig, ontbloot hy hulle fundamentele gebrek aan ‘n doelgerigte luister na God, en wys dat hy eintlik nog dieper as hulle die misterieuse karakter van God besef wat uiteindelik alle mense se begrip – ook sy eie –  ontglip (hfst. 26).

In hoofstuk 27 sluit Job by sy heel eerste worstelgesprek in hfst. 3 aan wat gehandel het oor die angs wat hy verduur oor die verlies van sy goed en besittings ten spyte van die feit dat hy nie in sy vroomheid verslap het nie.  Hy kla oor sy onregverdige en onskuldige lyding, al bly hy steeds by sy voorneme om niks te sê wat verkeerd is nie: “so lank as die asem van God in my is.”.

Job bly dus vroom tot die einde toe.

So lank ek lewe, sal ek niks verkeerd sê nie.

View all posts in this series

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar