Job 16 – Verander van Vyand in Vriend

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Die diepte en kompleksiteit van Job se worsteling met sy lot begin al hoe meer duidelik blyk in kontras met die oppervlakkige en eenvoudige raad van sy drie vriende.  In ses gedeeltes praat hy afwisselend met sy vriende, met homself, asook met God:

  1. Met sy vriende: Hy soek simpatieke vertroosting by sy vriende eerder as simplistiese veroordeling (16:1-6).
  2. Met homself: Hy ervaar God as ‘n meedoënlose Teëstander wat hom deurboor met sy oë, al is hy self nie skuldig aan geweld nie (16:7-17).
  3. Met God: Daarom pleit hy met trane by God dat Hy vir hom sal getuig sodat daar klaarheid kom in die stryd wat Job beleef (16:18-22).
  4. Met God: Hy vra dat God vir hom sal instaan as borg: “Wie anders kan vir my instaan?” (17:1-5).
  5. Met sy vriende: Onder sy vriende kry hy nie een wat verstandig is nie (17:6-10).
  6. Met homself: Die hoop op ‘n uitkoms dreig om saam met hom na die doderyk toe af te gaan (17:11-16).

Simpatieke vertroosting eerder as simplistiese veroordeling – 16:1-6

Job reageer skerp op die tipe argumente wat sy vriende teenoor hom gebruik en beskryf hulle as hopelose troosters.  Hy soek simpatieke vertroosting by sy vriende eerder as simplistiese veroordeling.  Hy wil eintlik net hê hulle moet stilraak, maar daar kom nie ‘n einde aan hulle sinlose gepraat nie.  Hy sou dit immers heeltemal anders as hulle gedoen het.  Sy woorde sou hulle kon bemoedig deurdat hy nie só simplisties sou veroordeel het nie.

Die Bybel in Praktyk noem aan die hand van hierdie bydrae van Job ’n paar dinge wat ’n mens kan help om jou vriende wat in nood verkeer, meer effektief by te staan:  “(1) moenie net praat om te praat nie;  (2) moenie vir hulle preek of geykte dinge sê nie;  (3) moenie kritiseer nie;  (4) stel jouself in die ander persoon se plek, en (5) bied hulp aan en bemoedig.”  Goeie raad!

Let op hoe Job sy “catch-22” situasie uitspel: “ My pyn sal nie ophou as ek praat nie, dit sal ook nie verdwyn as ek ophou praat nie.”  Hy kan regtig nie op sy eie wen nie al probeer hy ook al wat.

God is ‘n meedoënlose Teëstander – 16:7-17

Job se probleem is dus groter as die onbegrip en veroordeling van sy drie vriende, mymer hy by homself.  Hy ervaar immers God as ‘n meedoënlose Teëstander of Vyand wat hom deurboor met sy oë, al is hy self nie skuldig aan geweld nie.  Dit is God wat hom en sy gesin afgetakel het.  Daarom is God sy Vyand, nie sy Vriend nie.

Job gebruik hier die Hebreeuse woord tsar vir Teëstander, nie sâtân soos dit vir die Satan in hoofstuk 1-2 gebruik is nie.  Dit beteken dat die beskrywing van God as Job se Teëstander nie soseer op ‘n “bose” oorsprong daarvan dui nie – soos dit in die voortgaande openbaring van die Bybel duidelik word – maar steeds met God as formidabele opponent rekening hou.

Die vriende gebruik sy vervalle toestand teen hom as getuienis van sy vermeende onreg, maar wat hulle nie raaksien nie is dat dit God is wat teen hom gedraai het: “Hy, my Teëstander, deurboor my met sy oë.”  Dit laat hom in die slegte boekies kom van die mense rondom hom.  Hulle skinder oor hom en beledig hom.  Sy lewe is oorgelewer aan slegte mense.

In onthutsende taal beskryf Job hoe hy God se betrokkenheid in sy lewe ervaar: “Hy het my aan my nek beetgepak en my vergruis.”  God is soos ‘n soldaat wat op hom afstorm en hom deurboor en sy liggaam vernietig.

Tog is Job steeds oortuig dat hy niks verkeerd gedoen het nie.  Hy is nie skuldig nie, en hy is ook nie skuldig aan dieselfde tipe geweld waaraan hy onderwerp word nie.  God het soos ‘n geweldenaar in sy lewe geword, ervaar hy sy situasie.

Hy vra dat God van Vyand in Vriend sal verander – 16:18-22

Daarom pleit Job met trane by God dat hy vir hom sal getuig sodat daar klaarheid sal kom in die stryd wat hy beleef.  Hy pleit eers by die aarde om vir hom te getuig – “Moenie die onreg teen my verberg nie, aarde …”.  Maar dan hef hy sy oë op na die hemel en gryp as’t ware teen die ervaring van God as Vyand en Teëstander steeds vas aan dieselfde God as getuie dat Hy sal uitspraak lewer in die saak teen hom, dat God sal optree teenoor hom “soos in ‘n saak tussen ‘n man en sy vriend.

Hoe kragtig is dié metafoor nie.  Hy vra dat God van Vyand in Vriend sal verander, want sy jare is min en hy sal binnekort nie meer daar wees nie.  Job gryp dus aan God vas ten spyte van sy ervaring van God se duidelike vyandigheid: “Selfs nou nog het ek ’n getuie in die hemel, Hy wat vir my getuig, is daar bo.

Dit is iets wat meer volledig aan ons in die NT geopenbaar is.  God het inderdaad in Jesus ons Vriend geword.  Paulus skryf ook baie keer oor God wat in Christus Jesus sy getuie is (Rom. 1:9; 2 Kor. 1:23; 2:10; Gal. 1:20; Fil. 1:8; 1 Tes. 2:5, 10). Johannes stel vir ons Jesus Christus onder andere voor as: “die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.  Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos.” (Openb. 1:5; 3:14).

Die skrywer van die Hebreërbrief gaan nog verder en stel Jesus aan ons voor as ons voorbidder (vgl. ook 1 Joh. 2:2)!  Dink aan die voorreg dat Jesus vir jou bid: “Dit is waarom Hy ook volkome in staat is om hulle wat deur Hom na God toe kom, te verlos – omdat Hy altyd leef om ter wille van hulle in te tree.” (Hebr. 7:25).  Dit is die groot voorreg wat ons as NT Christene het, iets waarvan Job nog net kon droom!

View all posts in this series

Job


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: