Skip to main content

Job 29 – Die beste jare van my lewe was as vertroueling van God

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Inleiding op Job 29-31

Job se woorde in hfst. 29-31 word meesal as ‘n afsluitende alleengesprek beskrywe.  Job se betoog in die inleidende vers word immers effe anders aangekondig as in vorige toesprake: “Daarna het Job voortgegaan om sy saak te stel.”  Gewoonlik het daar met die aankondiging van sy gesprek met die drie vriende net gestaan: “Toe het Job begin praat.” (3:1)  Of: “Job het weer gepraat.” (6:1; 9:1; 12:1; 16:1; 19:1; 21:1; 23:1; 26:1)  Of: “Job het voortgegaan.” (27:1).

Dit wil dus voorkom asof die deel wat volg ‘n soort opsommende afsluiting van sy betoog is om met die Here in gesprek te tree en ‘n antwoord te kry op wat in sy lewe gebeur het.  Hoofstuk 31:40 kondig ook die einde van Job se woorde aan.

Maar Elihu se woorde in hfst. 32-36 is egter ook ‘n direkte reaksie op Job en sy drie vriende se gesprek.  Elihu kla immers in 32:14: “Met my het Job nog nie geargumenteer nie.”  Hy is ook negatief oor die drie vriende: “Met julle argumente sal ék hom nie aanpak nie.”Hieruit kan ‘n mens agter kom dat daar tog ‘n wisselwerking is tussen sy toespraak (32-36) en dié drie hoofstukke (29-31) sowel as die vorige drie gespreksrondtes tussen Job en sy drie vriende (3-27).

Elihu se vierdelige toespraak is dus ook ‘n antwoord op hierdie toespraak van Job.  Trouens, Elihu verwoord doelgerig sy woorde as ‘n antwoord aan Job en sy drie vriende: “Luister na my … ek het geluister na julle argumente.” (32:10-11).  Hoewel hfst. 31:40 dus die einde van Job se woorde in dié drie hoofstukke aankondig, en daarmee die einde van alles wat hy te sê gehad het, is daar tog ‘n eksplisiete verband tussen Elihu se woorde en Job se laaste woorde.  Daar is dus ‘n element van ‘n gesprek tussen Job en Elihu te bespeur, al was dit net van Elihu se kant af só bedoel.

Job 29-31 is ‘n baie gepaste afsluitende opsomming van Job se woorde.  Sy dankbaarheid vir die verlede, sy worsteling met die hede, en sy volgehoue verbintenis tot vroomheid is eenvoudig verstommend:

  • Job wy eers uit oor sy vroeëre geseënde lewe: “Dit was die beste jare van my lewe toe ek nog ‘n vertroueling van God was.” (hfst. 29:1-17). Daarom het hy gedink sal hy eendag sonder sorge sterf (hfst. 29:18-25).
  • Dan bekla Job sy teenswoordige lot van vernedering waarin selfs die jonges lag vir hom en hy uitgestoot is uit die gemeenskap. Dit ruk uit sy binneste ‘n roerende gebed, ‘n treurlied, om hulp: “Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie.” (hfst. 30).
  • Job sluit af met ‘n verklaring van sy verbintenis tot vroomheid in die konteks van sy familie en gemeenskap, sy ervaring van rykdom, die versoekings van afgodery, die uitdagings van vyande, sy hantering van sy werksmense en vreemdelinge, sy standvastigheid om sy sonde nie te verberg nie, en selfs ekologies verantwoord op te tree (hfst. 31).

Dit was die beste jare van my lewe toe ek nog ‘n vertroueling van God was – 29:1-17

Job draai sy aandag na die voorspoed wat hy geniet het in die verlede as God se vertroueling.  God was as die Almagtige by hom. Dit het ‘n ongelooflike seën vir homself, maar ook vir sy kinders ingehou.  Hy het oral voorspoed geniet: “volop dikmelk en strome olyfolie.” (29:6).  Hy was soos die spreekwoordelike: “boom met sy wortels by die water” (29:19), waarin ‘n mens Psalm 1 hoor weerklink: Geseënd is dié wat hul vreugde in God vind.

Sy versugting is dat dit met hom weer sal gaan: “soos lank gelede, soos in die dae toe God nog sy hand oor my gehou het.” (29:2).  Dit was vir hom regtig die beste jare van sy lewe.  Hy was ‘n gerespekteerde man op die stadsplein en in die stadspoorte. Jonk en oud het hom geëer.  Almal het na hom geluister: “Dié wat van my gehoor het, het goed van my gepraat.” (29:11).

Die rede vir die goeie getuienis oor sy lewe was sy reddende hand vir armes, weeskinders en weduwees sowel as: “dié wat geen helper het nie.” (29:12).  Hy het reg en geregtigheid laat geskied.  Dit was vir hom vanselfsprekend: “so vanselfsprekend as om klere aan te trek.” (29:14).  ‘n Mens hoor ‘n eggo hiervan in die woorde van Paulus wat veel later skryf oor die feit dat gelowiges in Christus hulle: “met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” (Ef. 4:24 – OAV).

Job se vroomheid word uiteraard oorskadu deur dié van die Here Jesus Christus en die gestalte van die nuwe mens wat Hy vir ons skep.  Maar Job bly tog steeds ‘n voorbeeld van hoe geregtigheid en heiligheid werk in die lewe van iemand wat met volle oorgawe in sy verbintenis aan vroomheid volhard, soos Jakobus ons herinner (Jak. 5:11).

Hierdie geregtigheid sluit die reddende hand wat Job na armes, weeskinders en weduwees uitgesteek het in. Dit sluit ook die omarming van blindes en kreupeles in, en die behartiging van die regsaak van mense wat onreg ly.  Dit sluit selfs: “onbekendes se regsaak” in (29:16).  Verstommend!   Die feit dat ‘n mens iemand nie ken nie, kan nooit beteken dat jy nie by die onreg wat hy of sy beleef, betrokke kan of moet raak nie.

Daarom het ek gedink dat ek eendag sonder sorge sal sterf – 29:18-25

Job het dus gedink dat sy goeie getuienis, sy volhardende vroomheid, en sy praktiese geregtigheid sal vir hom self iets beteken.  Hy sal daarom ‘n lang lewe en ‘n sorgvrye dood beleef, en altyd nuwe krag hê, sy man kan staan in alle situasies. Hy sal presies wees soos wat Psalm 1 sê: “‘n boom wat by die waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie … (en) voorspoedig (wees) in alles wat hy aanpak.” (Ps. 1:3).

Mense het immers sy: “woorde ingedrink, hulle het daarop gewag soos op ‘n reënbui, hulle het daarna gesmag soos na die laat reëns.” (29:22-23).  Hy was vriendelik met dié wat hooploos was, sy goedgesindheid het verhoed dat hulle ondergaan.  Hy het hulle die koers gewys soos dit ‘n goeie leier betaam.

Maar … sal die volgende deel van hierdie laaste worstelgesprek van Job mee afskop.  Maar

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…