Skip to main content

Job 6 – Julle beskou medelye met ‘n vriend as ‘n las

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Job begin die eerste rondte van sy antwoord aan Elifas in hoofstuk 6 met ‘n persoonlike worsteling met van die perspektiewe wat Elifas oopgemaak het (6:1-13).  Hy volg dit op met ‘n skerp kritiek op die gebrek aan simpatie wat hy by sy vriende opmerk, waarin hy hulle ook al hoe meer direk aanspreek en hulle optrede bevraagteken (6:14-30).

Hy sluit sy antwoord in hoofstuk 7 af met ‘n gesprek met God waarin hy worstel met sy verganklikheid (“Dink daaraan, o God, dat my lewe maar net ‘n asempie is.” – 7:1-10).  Hy sou dit waardeer as die Here hom nou net so ‘n bietjie laat asemskep en vergewe as hy dan gesondig het in die bittere beproewing wat hom getref het  (7:11-21).

Ek plaas albei bydraes oor Job se eerste antwoord aan Elifas ter wille van dié wat dit as ‘n eenheid wil lees.  Jy kan dit ook oor twee dae lees.  Die volgende bydrae oor Bildad se verweer hierop, word dus eers Vrydag geplaas.

Kan ek nog geduldig op my einde wag? – 6:1-13

Die saaklike selfversekerdheid waarmee Elifas Job probeer troos het in hfst. 4-5 stuit Job teen die bors.  Sy ellende is so groot dat as ‘n mens dit kon weeg, sou dit swaarder weeg as die sand van die see.  Dit is dié pyn wat agter die geweld van sy woorde lê.  Daaroor kan ‘n mens nie net koud en klinies praat nie.

Waar Elifas gepraat het van die Almagtige wie se teregwysing ‘n mens nie moet verontagsaam nie (5:17) in die hoop dat Hy die wonde weer sal verbind (5:18), dink Job daaroor na dat hy juis ‘n probleem met God se Almag het.  Dit is juis die Almagtige wat hom met sy giftige pyle deurboor: “Verskrikkinge van God bedreig my.

Daar is geen hoop om ‘n uitkoms nie, dink Job.  Omdat hy nie weet wat hy verkeerd gedoen het nie, kan die Here se aksies nie ‘n teregwysing wees nie.  Anders sou die Here hom tog ingelig het, dan nie?

Job sou dus liewer dat die Here hom heeltemal uitwis. Dit is sy gebed.  Dan sou sy troos wees dat hy ten minste in sy lewe nie die woorde van die Here geminag het nie.  Maar, het hy die krag om selfs só ver uit te hou?  “Kan ek nog geduldig op my einde wag?”  Daarvan is Job ernstig onseker, want sy krag is weg, en raad weet hy nie meer nie.

Julle beskou medelye met ‘n vriend as ‘n las – 6:14-30

In ‘n bytende sarkastiese toon wys Job sy vriende tereg dat hulle deernis so onbetroubaar is soos ‘n droë rivierloop.  Jy verwag dat daar ‘n slukkie lafenis sal wees as dit warm is, maar helaas, hulle deernis is beskamend: “daar is niks.”  Tema en Skeba was in die droë woestynagtige Arabië geleë wat die metafoor se trefkrag verhoog.

Trouens, hulle gebrek aan deernis, wys dat hulle geen eerbied het vir die Almagtige nie, dié Een wat in Elifas se perspektief weer wonde kan verbind: “Wie medelye met ‘n vriend beskou as ‘n las, het die eerbied vir die Almagtige verwerp.” Kragtige woorde wat skeur uit die bors van iemand wat verstik aan die onbarmhartigheid van sy vriende.

As ek dan êrens iets verkeerd gedoen het, wys dit dan vir my, vra Job van sy vriende: “Help my om te verstaan, dan sal ek stilbly.”  Nie dat hy regtig verwag dat hulle wysheid vir hom van hulp gaan wees nie, want hulle gebrek aan deernis het alreeds gewys uit die wyse waarop hulle weeskinders hanteer (6:27).  Hy het daarom ook nooit iets van hulle gevra nie, toe alles nog reg was met hom nie, maar het darem verwag dat hulle deernis sal hê in sy nood.

Job skets dus ‘n prentjie van sy vriende as mense wat geen eerbied het vir God nie, al bely hulle dit, want hy sien dit in die feit dat hulle geen deernis het met behoeftiges nie. Hulle wys hulle gebrek aan eerbied vir God deur hulle gebrek aan deernis met mense in die wyse waarop hulle Job troos.

Soos Johannes eeue later sou sê oor ons hulp aan ander: “Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie—hoe kan die liefde van God in hom wees?  Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” (1 Joh. 3:17-18; vgl. ook Jak. 2:14-17).

View all posts in this series

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar