Skip to main content

Oorsig oor die gesprek van Elihu met Job en sy drie vriende – Job 32-37

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Inleiding

Elihu se woorde in hfst. 32-36 is ‘n direkte reaksie op Job en sy drie vriende se gesprek. Elihu kla in 32:14: “Met my het Job nog nie geargumenteer nie.”  Hy is ook negatief oor die drie vriende: “Met julle argumente sal ék hom nie aanpak nie.”  Hieruit kan ‘n mens agter kom dat daar ‘n wisselwerking is tussen sy toespraak en die voorafgaande drie hoofstukke (29-31) sowel as die vorige drie gespreksrondtes tussen Job en sy drie vriende (3-27).

Elihu se vierdelige toespraak is dus ook ‘n antwoord op die vorige toespraak van Job.  Trouens, Elihu verwoord doelgerig sy woorde as ‘n antwoord aan Job en sy drie vriende: “Luister na my … ek het geluister na julle argumente.” (32:10-11).  Hoewel hfst. 31:40 dus die einde van Job se woorde in dié drie hoofstukke aankondig, en daarmee die einde van alles wat hy te sê gehad het, is daar tog ‘n eksplisiete verband tussen Elihu se woorde en Job se laaste woorde.  Daar is dus ‘n element van ‘n gesprek tussen Job en Elihu te bespeur, al was dit net van Elihu se kant af só bedoel.

“Daarom dien die mense Hom”

Elihu praat in sy gesprek met Job en sy drie vriende veral uit ‘n godsdienstige beskouing van die lewe.  Hy hou rekening met die afstand wat daar tussen God en mens is en dat om die Here te dien, d.w.s. om godsdienstig te lewe, dat dít die ware wysheid is.  Hiermee sluit Elihu aan by die uitsonderlike hfst. 28 oor die wysheid en verklaar in 37:24: “Daarom dien die mense Hom”.  God sien immers: “nie die raak wat dink dat hulle wysheid het nie”, maar dié wat hulle wysheid in die dien van die Here soek.

God is soewerein

In sy vier toesprake begrond Elihu sy beskouing in die teologie dat God soewerein is en Homself nie aan ons hoef te verduidelik nie.  “Waarom beskuldig jy vir God?  Hy hoef nie vir jou rekenskap te gee van sy dade nie.” (33:13).  Hoekom nie?  Want, een: “God doen nie verkeerd nie, die Almagtige begaan nie ‘n onreg nie.  Hy straf die mens net vir wat hy doen, Hy laat hom maar net kry wat hy verdien.” (34:10-11).  En twee, God is só groot: “ons kan sy grootheid nie begryp nie” (36:26), soos Hy onder andere in die natuur demonstreer.

Trouens, ons vroomheid as sodanig het eintlik geen direkte effek op Hom nie, asof Hy daardeur tot enige optrede van watter aard ook al gedwing kan word (35:1-7).  God vra wel, eis selfs, dat ons Hom dien, dat ons vroom sal lewe, maar ons gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid het as sodanig geen direkte effek op Hom nie.

God gebruik verlies as waarskuwing en dissipline

Wat wel waar is, sê Elihu, is dat God Homself openbaar aan die mens – onder andere deur die ervaring van die verlies van ons goed en ons gesondheid – om jou aan die een kant te waarsku en van jou verkeerde pad af weg te keer, sodat jy die lewe wat God gee, kan geniet in verhouding met God.  Of, aan die ander kant bring God hierdie tipe uitdagings oor jou pad om as loutering te dien.

God gebruik dus siekte en pyn om ons tot insig en nuwe lewe te bring.  Vgl. 33:19,26,30: “Hy spreek die mens aan met ernstige siekte, met pyn wat aan sy liggaam knaag … 26Hy sal tot God bid, God sal sy gebed verhoor … 30So keer God die mens weg van die graf af en laat Hy hom weer lewe.”  Dit is waarom Job: “end-uit getoets word” (34:36) sodat sy argumente oor en teen God as “sonder kennis” (35:16) uitgewys kan word en hy hom van sy hoogmoed kan bekeer (33;17; 35:12).

Hieroor moet Job eerder nadink (37:14).  God sal uiteindelik reg laat geskied ook vir Job, want “Hy laat reg en geregtigheid geskied.” (37:23).

God doen dus nooit verkeerd nie, sê Elihu (34:10).  God is nie partydig nie.  Hy is nie bevooroordeeld nie (34:19).  Maar God waarsku en dissiplineer (33:14-30), soos wat ‘n pa of ma met hulle kinders sou doen.

Elihu gaan dus verder as die eenvoudige oorsaak-en-gevolg teologie van die drie vriende.  Hulle het eenvoudig geargumenteer dat teëspoed die straf van God op die sonde is.  Elihu het egter geargumenteer dat dit nie die enigste interpretasie is nie.  God gebruik teëspoed ook om jou te waarsku of te louter.

Wat moet ek hieruit leer?

Die vraag wat Job dus volgens Elihu moet vra in sy ervaring van die verlies van sy goed en sy gesondheid is, wat moet ek hieruit leer?  Is daar ‘n waarskuwing in my verlies opgesluit?  Of is daar ‘n stuk opvoeding in opgesluit, iets wat aan my karakter of my ingesteldheid of my lewenstyl moet verander.

‘n Mens sou in die lig van die antwoord wat die Here self hierna gee, egter moet sê, dat Elihu wel ‘n baie meer genuanseerde antwoord gee op die verwerking van verlies, ten spyte van sy jonkheid.  Dit is ongetwyfeld só dat ons telkens moet vra wat ons leer in elke situasie waarin ons kom.  Soos Niebuhr sê: “God is acting in all actions upon you. So respond to all actions upon you as to respond to his action.” (The Responsible Self).

Ons is afhanklik van wat God doen

Maar dan is alles nog nie gesê nie.  Dit beskryf nog net wat ons aan ons kant kan doen.  Ons is in die laaste instansie afhanklik van wat God self doen.  En daarop mag en moet ons wag, soos wat Job dit ook regdeur die boek gedoen het.  Elihu gee dus die beste menslike antwoord, maar God moet nog aan die woord kom.  Daarsonder sal Job se situasie nie verander nie.

Anderson som dit só op: “Elihu gives the human estimate; Yahweh gives the divine appraisal.” (Job: 51).  Elihu dien dus as ‘n menslike wegbereider vir wat God uiteindelik sou sê-vra, amper soos Johannes die Doper dit vir Jesus in die NT gedoen het.

Elihu se toesprake vervul daarom ‘n teologiese, maar ook dramatiese funksie.  Dit hak aan by die teologiese soeke na wysheid, soos onder andere in hfst. 28 aangevoer is, maar skep ook die dramatiese verwagting dat Job die Wysheid self sal ontmoet, God wat Job antwoord uit die stormwind (hfst. 38-42).  Elihu is dus ook ‘n wegbereider vir God.  Dit sien ‘n mens ook in Elihu se antisiperende beskrywing van die stormwind waaruit God uiteindelik aan die woord kom (vgl. Job 37:9 met 38:1).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.