Skip to main content

Job 13:20-14:22 – As ‘n mens sterf, sal hy weer lewe?

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Wat Job in die gesprek met God wil hoor, is wat die misdade en sondes is wat hy begaan het.   Die Here moet hom net ‘n blaaskans gee van die straf wat hy verduur, en die skrik vir God wat dreig om hom te oorval, sodat hy en God die saak van sy skuld al dan nie kan uitmaak.

Hy is immers soos ‘n verwaaide blaar, ‘n droë stoppel, ‘n stuk klere wat deur motte gevreet is, nie die moeite werd om met soveel aandag uit te sonder vir hierdie bitter lyding nie.  Die Here se merk is op hom – daar staan letterlik in 13:27: “U plaas merke op die wortels van my voete (voetsole)” – sodat Job nêrens kan vlug waar die Here nie sy voetspore kan volg nie.

Dié manier van doen sou tot troos kon wees – onthou die speelgoed in die Toy Story reeks wat met trots Andy se naam op hulle voetsole vertroetel het, omdat dit hulle spesiale status om aan hom te behoort, verkondig het – maar is vir hom ‘n werklikheid wat hom verskrik.

Job ervaar die Here se houding teenoor hom as “over the top”.  Die straf pas immers nie by die sondes nie, want sover hy weet was daar geen sondes wat dié lyding kon veroorsaak het nie.  Dit is nie asof hy daarmee ontken dat die mens as sodanig sonder sonde is nie: “Wie kan rein uit onrein laat voorkom?  Niemand nie!” (14:4).  Maar om jou onverdeelde aandag aan só iemand te gee om in ‘n regsgeding te betrek, maak net nie vir Job sin nie.

Job verwoord dan die verganklikheid van die mens – sy dae is vasgestel “en hy kan dit nie oorskry nie” – en vergelyk dit met die hoop wat daar vir ‘n boom is dat dit weer kan uitloop as dit afgekap word.  Helaas, die mens het nie dié voorreg nie: “die mens sterf en verdwyn, hy blaas sy laaste asem uit en waar is hy?” (14:10).

Dit is ironies genoeg eintlik waar Job wil wees, in die doderyk, want dit sou vir hom ‘n blaaskans van God se nougesette aandag beteken.  Hy sou daar rus van sy lyding kon ervaar.

Maar, dan besef Job dat hy tog ook wonder oor die lewe ná die dood: “As ’n mens sterf, sal hy weer lewe?”  Want, so iets sou hom kon versterk, die moed gee om uit te hou en aan te hou: “Dan sou ek al die dae van my swaarkry kon wag tot daar vir my nuwe lewe kom.” (14:14).

Hy sou die hoop kon hê dat die Here êrens weer na hom sou verlang, omdat Hy graag die maaksel van sy hande sou wou sien (14:15).  Trouens, dan sou die Here moontlik nie meer ag gee op sy sonde nie: “my oortreding in ‘n sak verseël en my sonde toemaak.” (14:17).

Maar, helaas, dié hoop beskaam vir Job.  Soos ‘n berg in stukke breek, en ‘n rots uit sy plek losgeruk word, só vernietig die Here dié hoop wanneer die streep van die dood getrek word oor die lewe en die mens vir altyd verdwyn, sonder dat hy ooit weer bewus is van die sukses of mislukking van sy nageslag: “Hy voel net die pyn aan sy eie liggaam, die smart wat aan hom bly vreet.” (14:22).

Boodskap

Dit is vir my soos heilige grond om só die intieme worstelende gebed van ‘n Job te moet “overhear”.  Dit is asof ‘n mens hom hoor bid, en op ‘n intense vlak van meelewing wens daar is op dié stadium al ‘n uitkoms.

Maar, dit is tegelyk ook ‘n herinnering aan die wonder van twee dinge wat in Jesus Christus vir ons ‘n werklikheid geword het, dinge waaroor Job net kon droom.  Dit is vergifnis en die hoop op die ewige lewe.

Ná jy die boodskap van Job in hierdie hoofstuk goed ter harte geneem het, bid ook in verwondering tot die Here en dank Hom vir die feit dat jou oortredinge reeds: “in ‘n sak verseël en jou sonde toegemaak is”.  Dat jy die boodskap van Jesus aan Marta reeds jou eie kon maak: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” (Joh. 11:25-26).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.