Skip to main content

Job 13:20-14:22 – As ‘n mens sterf, sal hy weer lewe?

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Wat Job in die gesprek met God wil hoor, is wat die misdade en sondes is wat hy begaan het.   Die Here moet hom net ‘n blaaskans gee van die straf wat hy verduur, en die skrik vir God wat dreig om hom te oorval, sodat hy en God die saak van sy skuld al dan nie kan uitmaak.

Hy is immers soos ‘n verwaaide blaar, ‘n droë stoppel, ‘n stuk klere wat deur motte gevreet is, nie die moeite werd om met soveel aandag uit te sonder vir hierdie bitter lyding nie.  Die Here se merk is op hom – daar staan letterlik in 13:27: “U plaas merke op die wortels van my voete (voetsole)” – sodat Job nêrens kan vlug waar die Here nie sy voetspore kan volg nie.

Dié manier van doen sou tot troos kon wees – onthou die speelgoed in die Toy Story reeks wat met trots Andy se naam op hulle voetsole vertroetel het, omdat dit hulle spesiale status om aan hom te behoort, verkondig het – maar is vir hom ‘n werklikheid wat hom verskrik.

Job ervaar die Here se houding teenoor hom as “over the top”.  Die straf pas immers nie by die sondes nie, want sover hy weet was daar geen sondes wat dié lyding kon veroorsaak het nie.  Dit is nie asof hy daarmee ontken dat die mens as sodanig sonder sonde is nie: “Wie kan rein uit onrein laat voorkom?  Niemand nie!” (14:4).  Maar om jou onverdeelde aandag aan só iemand te gee om in ‘n regsgeding te betrek, maak net nie vir Job sin nie.

Job verwoord dan die verganklikheid van die mens – sy dae is vasgestel “en hy kan dit nie oorskry nie” – en vergelyk dit met die hoop wat daar vir ‘n boom is dat dit weer kan uitloop as dit afgekap word.  Helaas, die mens het nie dié voorreg nie: “die mens sterf en verdwyn, hy blaas sy laaste asem uit en waar is hy?” (14:10).

Dit is ironies genoeg eintlik waar Job wil wees, in die doderyk, want dit sou vir hom ‘n blaaskans van God se nougesette aandag beteken.  Hy sou daar rus van sy lyding kon ervaar.

Maar, dan besef Job dat hy tog ook wonder oor die lewe ná die dood: “As ’n mens sterf, sal hy weer lewe?”  Want, so iets sou hom kon versterk, die moed gee om uit te hou en aan te hou: “Dan sou ek al die dae van my swaarkry kon wag tot daar vir my nuwe lewe kom.” (14:14).

Hy sou die hoop kon hê dat die Here êrens weer na hom sou verlang, omdat Hy graag die maaksel van sy hande sou wou sien (14:15).  Trouens, dan sou die Here moontlik nie meer ag gee op sy sonde nie: “my oortreding in ‘n sak verseël en my sonde toemaak.” (14:17).

Maar, helaas, dié hoop beskaam vir Job.  Soos ‘n berg in stukke breek, en ‘n rots uit sy plek losgeruk word, só vernietig die Here dié hoop wanneer die streep van die dood getrek word oor die lewe en die mens vir altyd verdwyn, sonder dat hy ooit weer bewus is van die sukses of mislukking van sy nageslag: “Hy voel net die pyn aan sy eie liggaam, die smart wat aan hom bly vreet.” (14:22).

Boodskap

Dit is vir my soos heilige grond om só die intieme worstelende gebed van ‘n Job te moet “overhear”.  Dit is asof ‘n mens hom hoor bid, en op ‘n intense vlak van meelewing wens daar is op dié stadium al ‘n uitkoms.

Maar, dit is tegelyk ook ‘n herinnering aan die wonder van twee dinge wat in Jesus Christus vir ons ‘n werklikheid geword het, dinge waaroor Job net kon droom.  Dit is vergifnis en die hoop op die ewige lewe.

Ná jy die boodskap van Job in hierdie hoofstuk goed ter harte geneem het, bid ook in verwondering tot die Here en dank Hom vir die feit dat jou oortredinge reeds: “in ‘n sak verseël en jou sonde toegemaak is”.  Dat jy die boodskap van Jesus aan Marta reeds jou eie kon maak: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” (Joh. 11:25-26).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.