Skip to main content

Job deurbreek ‘n eenvoudige oorsaak-en-gevolg teologie

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Ek wil iets meer sê oor die probleem van ‘n oorsaak-en-gevolg teologie wat aanhak by bogenoemde twee vrae.

Die vriende van Job werk met ‘n eenvoudige oorsaak-gevolg teologie.  Wat jy doen, het gevolge.  As jy goeie dinge doen, sal daar goeie dinge met jou gebeur.  As jy slegte dinge doen, sal daar slegte dinge met jou gebeur:

  • Elifas praat in die eerste rondte bv. uit sy persoonlike ervaring van die lewe: “Dink daaroor na: het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan? Waar is regverdiges ooit uitgewis?” God laat dus volgens hom nie onskuldiges en regverdiges in die steek nie.  Maar, die teenoorgestelde is ook waar, sê hy: “Ek het ondervind: dié wat onreg plant en moeilikheid saai, oes dit ook.  Deur die toorn van God gaan hulle te gronde.” (Job 4:8-9).  God tree dus volgens dieselfde wetmatigheid op teen die onregverdiges, sê Elifas.  Job moet hom dus deur God laat teregwys, dan sal God hom weer verbind en gesond maak.
  • Bildad praat in die eerste rondte uit die oorgelewerde insig wat van die voorgeslagte af kom: “God verwerp nooit die opregte nie … en staan ook nie dié by wat onreg doen nie.” (Job. 8:20). God is dus regverdig teenoor beide die opregte en die een wat onreg doen.  Die een word geseën, en die ander gestraf.  Job moet hom dus op God verlaat, sê Bildad, want God sal hom weer in sy sorg neem.  Hy moet net nie praat asof God die reg verdraai nie.
  • Sofar praat in die eerste rondte veral uit ‘n intellektuele deurskouing van die lewe: “As jy jou verstand reg wil gebruik … kan jy jou kop sonder skaamte oplig.” (Job 11:13,15). Hy moet net sy hande in gebed na die Here toe uitsteek, sy sonde van hom af verwyder en nie toelaat dat onreg in hom woon nie.  Dan sal God sy lot verander en hy weer goeie vooruitsigte hê.
  • Elihu praat in sy gesprek met die drie vriende veral uit ‘n godsdienstige beskouing van die lewe: “Waarom beskuldig jy vir God? Hy hoef nie vir jou rekenskap te gee van sy dade nie.” (Job. 33:13).  God openbaar Homself aan die mens om hom te waarsku en van sy verkeerde pad af weg te keer, sodat hy die lewe kan geniet.  God doen dus nooit verkeerd nie.  Hy is nie partydig nie.  Hy is nie bevooroordeeld nie.  Hy bring dinge oor jou pad om as loutering te dien.  Elihu dien dus as ‘n wegbereider vir wat God uiteindelik sou sê-vra, amper soos Johannes die Doper dit vir Jesus in die NT gedoen het, soos ‘n mens sien in sy antispering van die stormwind waaruit God uiteindelik aan die woord kom (vgl. Job 37:9 met 38:1).

Natuurlik is daar so iets soos oorsaak-en-gevolg in die lewe.  Die maan draai om die aarde, want die aarde se aantrekkingskrag is groter as dié van die maan.  Oorsaak en gevolg.  Diamante en ander edelgesteentes kos veel duurder as die klip waaruit dit gehaal word, omdat dit in die eerste plek skaarser en meer duursaam is as die klip, maar veral in die tweede plek omdat hulle as juweliersware verkies word bó klip!  Oorsaak en gevolg.

Die probleem kom egter dat Job se vriende probeer om vanuit hierdie tipe waarneming, die oorsake en gevolge wat hulle bespeur in die hoogtes en laagtes van die lewe – hetsy deur die bril van eie ervaring óf deur die bril van die insig van die verlede óf deur die bril van hulle eie denke – iets van God se werk af te lei, sonder om met Hom daaroor in gesprek te gaan óf sy soewereine openbaring ernstig te neem.

Dit maak dat hulle God se genade op dieselfde manier as ‘n oorsaak-en-gevolg transaksie tussen God en ons uitlê, soos Bildad dit doen: “As jy na die wil van God vra en die Almagtige om genade smeek, as jy vlekkeloos is en reg het, sal Hy jou weer in sy sorg neem en jou gesond in jou huis terugbring.” (Job 8:5-6).  Hy maak dus God se genade afhanklik van ons regverdige lewe.

Die boek Job leer ons egter dat God se werk nie net deur die eenvoudige duidelike oorsaak-en-gevolg beginsels van die lewe verklaarbaar is nie.

God is nie soos die wet van gravitasie wat bepaal dat ‘n kleiner voorwerp, die maan, deur ‘n groter voorwerp, die aarde, aangetrek sal word nie.  Hy seën nie net dié wat naby Hom lewe, net omdat hulle naby Hom lewe nie.

God werk nie volgens die wetmatigheid van die vraag-en-aanbod van die mark ekonomie wat die prys van produkte bepaal nie, diamante versus klip.  Hy seën nie net dié wat dit verdien nie, hoe ‘n mens ook al dié verdienste sal motiveer: onskuld, opregtheid, regverdigheid, liefde.  Hy seën ook onregverdiges.  Die omgekeerde is ook net so waar.  Dit is nie net onregverdiges en goddeloses met wie slegte dinge gebeur nie.  Ook regverdiges en godvresendes word deur slegte dinge getref.

Jy kan dus nie uit die eenvoudige oorsaak-en-gevolg beginsels van die lewe God se werk probeer beskryf of geestelike wetmatighede daaruit probeer aflei nie.  Jou sigbare waarneming van hoe dinge gebeur, kan nie sonder meer die onsigbare werking van God in hierdie wêreld verklaar nie.  Daarvoor is geloofsonderskeiding nodig.  Daarvoor is geduld nodig.  Daarvoor is gebed nodig.  Daarvoor is God se eie openbaring van Homself nodig.

Dit sien ‘n mens duidelik aan die einde van die boek, wanneer God met Job in gesprek tree en Hom tot insig begelei.  Saam met die insig kom ook God se seën deurdat Hy Job se lot verander, en ook dié van sy vriende, interessant genoeg juis deur sy gebed vir sy vriende.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar