Skip to main content

Job deurbreek ‘n eenvoudige oorsaak-en-gevolg teologie

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Ek wil iets meer sê oor die probleem van ‘n oorsaak-en-gevolg teologie wat aanhak by bogenoemde twee vrae.

Die vriende van Job werk met ‘n eenvoudige oorsaak-gevolg teologie.  Wat jy doen, het gevolge.  As jy goeie dinge doen, sal daar goeie dinge met jou gebeur.  As jy slegte dinge doen, sal daar slegte dinge met jou gebeur:

  • Elifas praat in die eerste rondte bv. uit sy persoonlike ervaring van die lewe: “Dink daaroor na: het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan? Waar is regverdiges ooit uitgewis?” God laat dus volgens hom nie onskuldiges en regverdiges in die steek nie.  Maar, die teenoorgestelde is ook waar, sê hy: “Ek het ondervind: dié wat onreg plant en moeilikheid saai, oes dit ook.  Deur die toorn van God gaan hulle te gronde.” (Job 4:8-9).  God tree dus volgens dieselfde wetmatigheid op teen die onregverdiges, sê Elifas.  Job moet hom dus deur God laat teregwys, dan sal God hom weer verbind en gesond maak.
  • Bildad praat in die eerste rondte uit die oorgelewerde insig wat van die voorgeslagte af kom: “God verwerp nooit die opregte nie … en staan ook nie dié by wat onreg doen nie.” (Job. 8:20). God is dus regverdig teenoor beide die opregte en die een wat onreg doen.  Die een word geseën, en die ander gestraf.  Job moet hom dus op God verlaat, sê Bildad, want God sal hom weer in sy sorg neem.  Hy moet net nie praat asof God die reg verdraai nie.
  • Sofar praat in die eerste rondte veral uit ‘n intellektuele deurskouing van die lewe: “As jy jou verstand reg wil gebruik … kan jy jou kop sonder skaamte oplig.” (Job 11:13,15). Hy moet net sy hande in gebed na die Here toe uitsteek, sy sonde van hom af verwyder en nie toelaat dat onreg in hom woon nie.  Dan sal God sy lot verander en hy weer goeie vooruitsigte hê.
  • Elihu praat in sy gesprek met die drie vriende veral uit ‘n godsdienstige beskouing van die lewe: “Waarom beskuldig jy vir God? Hy hoef nie vir jou rekenskap te gee van sy dade nie.” (Job. 33:13).  God openbaar Homself aan die mens om hom te waarsku en van sy verkeerde pad af weg te keer, sodat hy die lewe kan geniet.  God doen dus nooit verkeerd nie.  Hy is nie partydig nie.  Hy is nie bevooroordeeld nie.  Hy bring dinge oor jou pad om as loutering te dien.  Elihu dien dus as ‘n wegbereider vir wat God uiteindelik sou sê-vra, amper soos Johannes die Doper dit vir Jesus in die NT gedoen het, soos ‘n mens sien in sy antispering van die stormwind waaruit God uiteindelik aan die woord kom (vgl. Job 37:9 met 38:1).

Natuurlik is daar so iets soos oorsaak-en-gevolg in die lewe.  Die maan draai om die aarde, want die aarde se aantrekkingskrag is groter as dié van die maan.  Oorsaak en gevolg.  Diamante en ander edelgesteentes kos veel duurder as die klip waaruit dit gehaal word, omdat dit in die eerste plek skaarser en meer duursaam is as die klip, maar veral in die tweede plek omdat hulle as juweliersware verkies word bó klip!  Oorsaak en gevolg.

Die probleem kom egter dat Job se vriende probeer om vanuit hierdie tipe waarneming, die oorsake en gevolge wat hulle bespeur in die hoogtes en laagtes van die lewe – hetsy deur die bril van eie ervaring óf deur die bril van die insig van die verlede óf deur die bril van hulle eie denke – iets van God se werk af te lei, sonder om met Hom daaroor in gesprek te gaan óf sy soewereine openbaring ernstig te neem.

Dit maak dat hulle God se genade op dieselfde manier as ‘n oorsaak-en-gevolg transaksie tussen God en ons uitlê, soos Bildad dit doen: “As jy na die wil van God vra en die Almagtige om genade smeek, as jy vlekkeloos is en reg het, sal Hy jou weer in sy sorg neem en jou gesond in jou huis terugbring.” (Job 8:5-6).  Hy maak dus God se genade afhanklik van ons regverdige lewe.

Die boek Job leer ons egter dat God se werk nie net deur die eenvoudige duidelike oorsaak-en-gevolg beginsels van die lewe verklaarbaar is nie.

God is nie soos die wet van gravitasie wat bepaal dat ‘n kleiner voorwerp, die maan, deur ‘n groter voorwerp, die aarde, aangetrek sal word nie.  Hy seën nie net dié wat naby Hom lewe, net omdat hulle naby Hom lewe nie.

God werk nie volgens die wetmatigheid van die vraag-en-aanbod van die mark ekonomie wat die prys van produkte bepaal nie, diamante versus klip.  Hy seën nie net dié wat dit verdien nie, hoe ‘n mens ook al dié verdienste sal motiveer: onskuld, opregtheid, regverdigheid, liefde.  Hy seën ook onregverdiges.  Die omgekeerde is ook net so waar.  Dit is nie net onregverdiges en goddeloses met wie slegte dinge gebeur nie.  Ook regverdiges en godvresendes word deur slegte dinge getref.

Jy kan dus nie uit die eenvoudige oorsaak-en-gevolg beginsels van die lewe God se werk probeer beskryf of geestelike wetmatighede daaruit probeer aflei nie.  Jou sigbare waarneming van hoe dinge gebeur, kan nie sonder meer die onsigbare werking van God in hierdie wêreld verklaar nie.  Daarvoor is geloofsonderskeiding nodig.  Daarvoor is geduld nodig.  Daarvoor is gebed nodig.  Daarvoor is God se eie openbaring van Homself nodig.

Dit sien ‘n mens duidelik aan die einde van die boek, wanneer God met Job in gesprek tree en Hom tot insig begelei.  Saam met die insig kom ook God se seën deurdat Hy Job se lot verander, en ook dié van sy vriende, interessant genoeg juis deur sy gebed vir sy vriende.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…