Job 18 – Bildad: Die onheil wag jou gretig in, omdat jy God nie erken nie
Dit is duidelik dat die brutale Bildad ‘n onverbiddelike standpunt gaan handhaaf, presies soos hy dit in die eerste gespreksrondte gedoen het (Job 8). Teenspoed beteken vir hom God se afkeur en voorspoed sy goedkeuring. Dit is sy rigiede standpunt uit die tradisie wat hy ten alle koste gaan verdedig, kom wat wil. Job se worsteling laat hom dus koud. In sy teologie is daar geen plek vir kompleksiteite nie, vir uitsonderings op die reël nie. Job moet trouens volgens Bildad eers tot inkeer kom en dinge sien soos Bildad dit sien, vóór hulle verder kan praat (18:1).
Jy sal op dié pad net jouself skade aandoen – 18:1-4
Bildad vra eers vier vrae aan Job waarmee hy die drie vriende se intellektuele vermoë en verantwoorde standpunte verdedig en Job verkwalik dat hy as ‘n uitsondering op die reël behandel wil word. Job kan tog nie die fundamentele waarhede van die tradisie soos rotse uit hulle plek laat ruk, en dié mense wat die tradisie handhaaf van die wêreld af laat verdwyn, net sodat hy tevrede kan wees en in die gelyk gestel kan word nie. Hy sal op dié pad net homself skade aandoen: “homself in sy woede verskeur.”
Die onheil wag jou gretig in, omdat jy God nie erken nie – 18:5-21
Bildad fokus dan op die lot van die goddelose – en dit is duidelik dat hy daarmee Job bedoel. Hy spel met ‘n aantal skreiende metafore die onafwendbare gevolge vir die “slegte mens” uit, dié een “wat nie vir God erken nie.” (18:21). Dit sluit die uitdoof van sy lig in (insig), die vlam van sy vuur wat sal ophou brand (energie), die doodmaak van die lig in sy huis (verhoudinge), sy kragtige treë wat al onsekerder sal word (toekoms), en sy slim planne wat hom tot ‘n val sal bring.
Die goddelose sal in allerlei strikke gevang word (gemeenskap), dreigende gevaar van alle kante ervaar (vyande), die onheil en ongeluk sal hom gretig inwag (rampe), en ‘n dodelike siekte sal: “sy vel wegvreet en liggaamsdele verteer”. En onthou, Job moet dit aanhoor, terwyl presies dié dinge besig is om met hom te gebeur!
Die goddelose sal uit sy veilige huis uitgeruk word en na die doderyk begelei word: “waar die groot vrees heers.” Niks sal van hom oorbly nie: “sy wortels sal van onder af verdroog en sy blare bo verlep.” Selfs die herinnering aan hom sal verdwyn en sy naam in die vergetelheid ingly. Sy nasate sal dit nie maak nie. So sal sy plek onder die son heeltemal leeg gemaak word.
Praat van kole op die vuur! Ek het min dinge in my lewe al gelees wat só ‘n onbarmhartige hantering van iemand se pyn en lyding illustreer. ‘n Mens moet dié hoofstuk eintlik gebruik as ‘n voorbeeld van hoe ‘n mens NIE met iemand praat nie, maak nie saak wat die situasie is nie. Dit is só myle verwyder van die God wat Homself as die barmhartige openbaar oor alles wat Hy geskep het: “Die Here is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het.” (Ps. 145: 9).
Natuurlik is dié gevolge vir goddeloses wel ook deel van die Bybelse prentjie, soos Ps. 73 en Johannes op verskeie plekke in Openbaring onder andere uitspel. Maar, dit is heeltemal onvanpas om dit op Job in sy groot verlies van toepassing te maak. Só sal ons ook goeddoen om nie God te probeer speel in ander se lewens nie. Dit is slegs die ontmoeting met God self wat verandering en vertroosting bring, nie die rigiede onbarmhartige toepassing van eensydige standpunte uit die tradisie nie.
View all posts in this series
- Ons lees die boek Job van 12 Januarie af - December 29, 2015
- Inleiding op die boek Job - January 12, 2016
- Die boodskap van Job
- Job handel oor die vraag na regverdigheid
- Job handel ook oor die vraag na vroomheid
- Job deurbreek ‘n eenvoudige oorsaak-en-gevolg teologie
- Job is ‘n voorbeeld van volharding en gebed
- Ander verwante verhale
- Indeling van die boek Job
- Lees, luister, leef
- Job 1 – Sal Job vroom bly, al word hy sonder rede geruïneer? - January 13, 2016
- Job 2 – Job bly vroom, al word hy sonder rede geruïneer - January 14, 2016
- Job 3 – Job vervloek sy geboortedag - January 15, 2016
- Job 4:1-5:1 – Elifas: Gee jou vroomheid jou geen hoop nie? - January 18, 2016
- Job 5:2-27 – Elifas: Dit gaan goed met die mens wat deur God tereggewys word
- Job 6 – Julle beskou medelye met ‘n vriend as ‘n las - January 20, 2016
- Job 7 – In my bittere beproewing soek ek vergifnis
- Job 8 – Bildad: Teenspoed beteken God se afkeur en voorspoed sy goedkeuring - January 22, 2016
- Job 9 – Waarom pynig die Here my sonder dat ek dit verdien? - January 25, 2016
- Job 10 – Maak aan my bekend waarom U hierdie stryd teen my voer
- Job 11 – Sofar: As jy jou verstand reg gebruik, sal jy jou kop sonder skaamte kan oplig - January 27, 2016
- Oorsig oor die eerste gespreksrondte – Job 3-11 - January 28, 2016
- Job 12:1-13:19 – Bly liewer stil, ek wil met die Here praat - January 29, 2016
- Job 13:20-14:22 – As ‘n mens sterf, sal hy weer lewe? - February 1, 2016
- Job 15 – Elifas: Jou swaarkry en lyding bewys dat jy goddeloos is - February 2, 2016
- Job 16 – Verander van Vyand in Vriend - February 3, 2016
- Job 17 – Wees tog vir my ‘n borg, o God!
- Job 18 – Bildad: Die onheil wag jou gretig in, omdat jy God nie erken nie - February 5, 2016
- Job 19 – Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer! - February 8, 2016
- Job 20 – Sofar: Terwyl jy jou nog so vol eet, laat God sy woede oor jou losbreek - February 9, 2016
- Oorsig oor die tweede gespreksrondte – Job 12-20 - February 10, 2016
- Job 21 – Waarom bly die goddeloses aan die lewe?
- Job 22 – Elifas: Jy was onregverdig en onbarmhartig, daarom gaan jy onder - February 11, 2016
- ‘n Paar opmerkings oor ‘n moontlike ander lees van hfst. 24-27 - February 12, 2016
- Job 23 – My soeke na God is vrugteloos en maak my vreesbevange - February 15, 2016
- Job 24 – Waarom reken die Almagtige nie in hierdie lewe af met onregverdiges nie? - February 16, 2016
- Job 25 – Bildad: God is groter as jy!
- Job 26 – Met wie se hulp het jy gepraat? - February 17, 2016
- Job 27 – So lank ek lewe, sal ek niks verkeerd sê nie - February 18, 2016
- ‘n Oorsig oor die derde gespreksrondte – Job 21-27 - February 19, 2016
- Job 28 – Om die Here te dien, is wysheid; om die kwaad te vermy, is insig - February 22, 2016
- Bydraes hervat weer Donderdag - February 23, 2016
- Job 29 – Die beste jare van my lewe was as vertroueling van God - February 25, 2016
- Job 30 – Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie - February 26, 2016
- Job 31 – Ek bly verbind tot vroomheid - February 27, 2016
- Oorsig oor die gesprek van Elihu met Job en sy drie vriende – Job 32-37
- Job 32 – Elihu: My gees dwing my om te praat - February 28, 2016
- Job 33 – Elihu 1: God hoef nie rekenskap aan jou te gee nie - February 29, 2016
- Job 34 – Elihu 2: God doen niks verkeerd nie! - March 3, 2016
- Job 35 – Elihu 3: Jou vroomheid is onder verdenking - March 4, 2016
- Job 36-37 – Elihu 4: God se grootheid nooi ons uit om Hom te dien - March 5, 2016
- Job 38-39 – Wie is dit wat my bedoelinge dwarsboom? - March 7, 2016
- Job 40-42:6 – Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie - March 8, 2016
- Job 42:7-17 – Die Here verander die omstandighede van Job
- Gesprek met God bring bevryding - June 8, 2020
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.