Skip to main content

Job 38-39 – Wie is dit wat my bedoelinge dwarsboom?

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Oorsig

Uiteindelik antwoord die Here vir Job uit ‘n stormwind, presies soos Elihu voorspel het (37:13).  En God se antwoord is ‘n vraag: “Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie?” (38:2).  ‘n Vraag waarop Job uiteindelik moet antwoord: “Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het?  Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie.”  (42:3).

God se bedoelinge moet dus in ons lewe sigbaar raak.  Die vraag na geregtigheid is nie ‘n vraag wat ‘n aparte antwoord nodig het nie. Dit is ingebou in God se bedoelinge.  Hy staan daarvoor in.

Ons kan egter God se bedoelinge dwarsboom deur op meer insig aanspraak te maak as wat vir ons beskore is.  Ons moet Hom toelaat om God te wees en saam met Hom vreugde vind in sy werke, en uiteindelik in God self, in die verhouding met Hom.

Dié boodskap word in twee gesprekke van God met Job verkondig:

  1. God beskryf die infrastruktuur (Clines) van die wêreld in terme van die ontstaan van die fisiese wêreld (vgl. Gen. 1) en die onderhouding van die dierewêreld (vgl. Gen. 2) aan die hand van ‘n reeks vrae aan Job wat Job laat besef dat hy nie opgewasse is om met die Here daaroor in gesprek te tree of, behoede hom, God tereg te wys nie – 38:1-39:38.
  2. God beskryf twee van die lewensvorms op aarde – die Behemot en die Leviatan, normaalweg geassosieer met die seekoei en die krokodil, hoewel die woorde ook mitologiese betekenisse in spel bring – in terme van hulle ontwerp wat ontsag by almal afdwing, nie net vir die diere self nie, maar vir die Een wat hulle gemaak het. Die gesprek mond uit in Job se berouvolle bekering tot die Here – 40:1-42:6.

Daarmee verkondig die Here dat daar ‘n intrinsieke orde in die skepping en onderhouding van alles is, gebaseer op sy wyse bedoelinge en omvattende vermoë.  Daar is niks waarby God nie op ‘n integrale wyse betrokke is nie, want Hy ken alles in die intiemste detail daarvan.

  • Daarom word elke dag as ‘n nuwe skepping van God voorgestel (38:12-14).
  • Daarom word leeus as afhanklik van God vir hulle prooi geteken (39:1-2), soos trouens elke ander skepsel (kraaie, klipspringers, wildsbokke, wildedonkies, buffels, volstruise, perde, valke, en aasvoëls.

Daar is dus niks fout met die wêreld wat God geskep het nie, want God is betrokke in die fynste detail daarvan.  Die geskape werklikheid is nie net vir hom van onskatbare vreugdevolle belang nie, maar moet ook die mense tot ontsag vir Hom beweeg.

Interessant genoeg word die skepping van die mens nie op soortgelyke wyse in God se gesprek met Job beskryf nie, wat ‘n mens laat dink dat God eintlik vir Job, as goddelike verteenwoordiger, wil intrek in die vreugde oor die skepping, as’t ware uitnooi om soos God ‘n intense vreugde in God se wêreld te hê.

God het die fisiese wêreld gemaak – 38:1-38

God beskryf die infrastruktuur van die wêreld in terme van die ontstaan van die fisiese wêreld aan die hand van ‘n reeks van drie en dertig vrae aan Job afgewissel met kort verklarings van God se werk in die wêreld.  Dit sal opgevolg word met sewentien vrae oor God se onderhouding van die dierewêreld in hfst. 39.

Die vrae dek die detail van die ontstaan van die aarde, waarvan die fondamente in die see gelê is; die see wat opgedam is om plek te maak vir die bewoonde aarde; die skep van dag en nag wat as ‘n nuwe skepping elke dag beskryf word; die doderyk, die siklusse van sneeu, hale, reën, doudruppels, ys, en ryp, om maar net ‘n paar te noem.

Kortom, die Here gee ‘n voëlvlug van die die hele bekende wêreld soos die eerste skeppingsverhaal in Genesis 1 dit ook in hoofsaak beskrywe.

Tussendeur vra die Here die retoriese vraag: “Kan jy ‘n beeld vorm van die groot wye wêreld?” (38:18).  Die antwoord daarop is natuurlik, nee, nie eers naastenby nie.

Die Here gaan voort om vrae oor die hemelse ligte te vra, die Sewester, die Orion, die Beer, al die hemelliggame. Weereens vra die Here ‘n retoriese vraag so tussendeur: “Weet jy hoe die hemelliggame werk?  Stel jy hulle invloed op die aarde vas?” (38:33).  Die antwoord daarop is natuurlik ook nee, nie eers naastenby nie.

Die punt van hierdie eerste deel van God se gesprek met Job is dat dít alles deur God gemaak is, en dat Hy alleen daarvoor verantwoordelik is.  God het die fisiese wêreld gemaak en alles wat daarin is.  Hy het dus soewereine gesag daaroor.

Terloops, die NAV se vertaling van die ibis wat mense oor vloede waarsku en die haan wat die dagbreek aankondig (38:36) is net een interpretasie van die twee onbekende Hebreeuse woorde.  Die waarskuwing oor vloede en die aankondiging van die dagbreek is ook net ‘n interpretasie.

Ek verkies die OAV se interpretasie wat die woorde met wysheid en verstand verbind en sonder ander byvoegings vertaal: “Wie het wysheid neergelê in die wolke? Of wie het verstand gegee aan die wolkgevaarte?”  Of die NET: “Who has put wisdom in the heart,50 or has imparted understanding to the mind?”  Vergelyk hier onder hulle motivering.

God het die dierewêreld gemaak en onderhou hulle daagliks – 39:1-33

God gaan aan om die infrastruktuur van die wêreld in terme van die onderhouding van die dierewêreld aan die hand van ‘n verdere reeks van sewentien vrae aan Job te beskryf afgewissel met kort beskrywings van God se werk in die wêreld waarin ‘n mens trekke van Genesis 2 kan bespeur.

Die diere wat genoem word, sluit voëls, wilde diere sowel as mak diere in: kraaie, klipspringers, wildsbokke, wildedonkies, buffels, volstruise, perde, valke, en aasvoëls. Hulle word in die eerste deel veral geteken in terme van die behoefte aan kos waarvoor God verantwoordelikheid dra, sowel as die voorsiening van ‘n nageslag in terme van die draagtyd en geboorte van bokkies en lammers.

Maar, dit is nie al nie.  Die diere word ook in terme van hulle vryheid en onafhanklikheid van die mens geteken: die wildedonkie wat loop waar hy wil, die buffel wat op geen manier mak gemaak kan word nie, die volstruis wat onbevrees – en ‘n bietjie onnosel – die mens kan uitdaag.

Die punt van dít alles is dat God nie net dít alles gemaak het nie, maar dat Hy op elke vlak van die diere se bestaan en ontwikkeling vir hulle verantwoordelikheid neem, onafhanklik van die mens.  Die mens se insig of inset is op geen manier nodig vir die voortbestaan van die dierewêreld nie, ‘n feit wat nogal versoberend is vir ons wat so maklik dink dat ons iets besonders is!

Job bly liewer stil in ontsag vir God – 39:34-38

Die eerste rondte van die gesprek van God met Job eindig met God se vraag aan Job of hy die saak met God verder wil voer en Hom wil teregwys: “Antwoord Hom dan!” Job reageer egter dat hy verder stil sal bly, want hy besef dat hy nie opgewasse is om met die Here daaroor in gesprek te tree of, nog erger, Hom tereg te wys nie.

Soos die Psalmis sê: “Bedaar en erken dat Ek God is.” (Ps. 46:11; Vgl. Jes. 30:15: “Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.”).

Ek wil aan die hand hiervan twee dinge onderstreep:

  1. Sonder God kan ons die wêreld en alles daarin nie volledig beskryf nie
  2. God se bedoelinge moet in ons lewe sigbaar raak

1.  Sonder God kan ons die wêreld en alles daarin nie volledig beskryf nie

Ek het onlangs kennis gemaak met die wiskundige Gödel se onvolledigheidsbeginsel.  In die jaar 1931 het hy bewys dat ons nooit alles kan bewys nie met die publikasie van sy “The Incompleteness Theorem.”

Sy basiese bevinding was as volg:

Anything you can draw a circle around cannot explain itself without referring to something outside the circle – something you have to assume but cannot prove.

Enige wiskundige sisteem sal altyd berus op ‘n paar onbewysbare aannames, sogenaamde aksiomas.  Dit is dinge wat ons weet waar is, maar wat ons nie eksperimenteel as waar kan bewys nie.  Ons weet bv. dat ‘n mens ‘n lyn kan trek wat weerskante tot in die oneindigheid kan strek.  Maar, jy kan dit nie bewys deur ‘n eksperiment nie.

Dieselfde geld die lewe. Ons kan ‘n fiets nie volledig beskryf sonder om te vra na die ingenieur wat dit ontwerp het, of die fabriek wat dit gemaak het, of die winkel wat dit verkoop het nie.  Ons kan die heelal nie volledig beskryf sonder om te vra na wat daarbuite is nie, en omdat ons nie self toegang het tot dit wat daarbuite is nie, moet ons aannames daaroor maak wat nie bewys kan word nie.

Dit is in wese wat Job se probleem was.  Hy het probeer om sy situasie te verklaar aan die hand van wat hy geweet het.  Maar, sy kennis en ervaring sou nooit genoeg wees nie.  Dit sou altyd te kort geskiet het. Dit sou altyd onvolledig wees. Dieselfde geld sy vriende.  Hulle kon nie buite hulle situasie tree om dit volledig te kan verklaar nie.

Dit is net toe God van buite die sirkel wat om Job getrek was met hom in gesprek getree het, dat Job homself kon vind in die verwondering van dié Een wat alles gemaak het.  Omdat God van buite die kring van die heelal na hom uitgereik het in die stormwind, kon Job tot rus kom en op grond van die openbaring van God sy lot in God se hande los. Dit is iets wat Job – en ons – moet aanvaar in geloof, al kan ons dit nie volledig verklaar nie.

Maar, dié aanvaarding maak dit nie minder werklik nie.  En soos ons agterkom in die laaste hoofstuk is God se aanraking lewensveranderend. Op Hom kan ons ons dus verlaat, al kan ons nie alles met ons rede verklaar nie.  Dit is ook nie nodig nie, want: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebr. 11:1).

2.  God se bedoelinge moet in ons lewe sigbaar raak

God se vraag in 38:2 en Job se antwoord in 42:3 is die kern van die gesprek tussen God en Job.  In albei gedeeltes word verwys na God se bedoelinge (NAV – purpose – NCV).  Dit is die vertaling van die Hebreeuse woord ‘ezâh wat ook as raadsbesluit (OAV – Engels: counsel – meerderheid vertalings, soos die NIV, NET, KJV en NSRV), wysheid en ontwerp (Clines) vertaal kan word.  Al dié betekenisse is volgens die Brown-Driver-Briggs woordeboek moontlik, afhangende van die konteks.

Die woord ‘ezâhbedoeling, raadsbesluit, wysheid, ontwerp – bring onmiddellik ‘n ander lens op die ervarings van Job.  Sy ervaring van verlies pas in binne God se bedoeling nie net met hom nie, maar met sy hele skepping.  Job se hele lewe – in voorspoed en verlies – is deel van God se onderhouding van en voorsienigheid vir sy skepping.

Die wysheid van God se bedoelinge is dus nie per se gekoppel aan Job se vroomheid al dan nie.  Die wysheid daarvan lê alleen in God se ontwerp van en planne met sy skepping.

Die dieptepunt van God se vraag aan Job en sy antwoord daarop is dus dat ons agterkom dat wysheid nie lê in of iemand reg of verkeerd is vanuit ‘n menslike perspektief nie.  God bevraagteken Job nie om hom reg te bewys of sy vriende verkeerd te bewys nie.  God bevraagteken Job om hom te leer dat wysheid alleen in God opgesluit lê (Stuart).

Wat is die sin van vroomheid dan?  Wel, as ‘n mens werk met die idee dat wysheid net by God alleen te vinde is en in sy bedoelinge, dan moet Job se lewe God se bedoelinge openbaar en sigbaar maak.  Job se vroomheid, al dan nie, kan óf God se bedoelinge sigbaar maak óf verberg.  En dít is die sin en betekenis van ons lewe. Ons maak God se bedoelinge sigbaar of ons verberg dit.

Dit is waarom dit so ongelooflik belangrik is om te besef dat wysheid begin by die ontsag vir en dien van die Here.  Die wysheid wat van God kom, trouens wat God in sy wese is, leer jou om die regte dinge te doen, en die verkeerde dinge te vermy.  Reg en verkeerd is altyd iets wat God as referent het.

So maak ons God sigbaar, presies wat God in die begin bedoel het met die lewe van elke enkele mens, om sy beeld, sy verteenwoordiger te wees.

Hoe kry ons dít reg?  In ‘n verhouding met God.  Jakobus skryf in die NT: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” (1:5).

Dit maak eintlik ten diepste nie saak wat jy en ek as reg of verkeerd beskou nie.  Dit maak saak wat God beskou as reg of verkeerd.  Dit is sy openbaring van Homself en sy wil vir die lewe wat belangrik is. En ons het nie daardie wysheid in pag nie.  Ons kan dit net by God hoor.  Net Hy kan vir die waarheid van sy wysheid geraadpleeg word.

En waar hoor en sien ons God se wysheid?  Aan die een kant hoor en sien ons dit in die skepping en sy voorsienigheid – soos hier aan Job onderstreep – die sogenaamde algemene openbaring.  Aan die ander kant hoor en sien ons dit in die woorde van sy Woord – in die boek Job, soos in die res van die Bybel – die sogenaamde besondere openbaring.  Die kern daarvan is natuurlik sy Sélf openbaring in sy Seun, Jesus Christus.

Dít is waarom ons altyd ons insigte moet toets aan God se openbaring.  En wat ons ook al sê oor God kan en moet getoets word aan sy openbaring, waarvan die helderste woord natuurlik die Bybel, die Woord van God is.

50 tn This verse is difficult because of the two words, טֻחוֹת (tukhot, rendered here “heart”) and שֶׂכְוִי (sekhvi, here “mind”). They have been translated a number of ways: “meteor” and “celestial appearance”; the stars “Procyon” and “Sirius”; “inward part” and “mind”; even as birds, “ibis” and “cock.” One expects them to have something to do with nature—clouds and the like. The RSV accordingly took them to mean “meteor” (from a verb “to wander”) and “a celestial appearance.” But these meanings are not well-attested.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar