Job 31 – Ek bly verbind tot vroomheid

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Job sluit sy toespraak af met ‘n verklaring van sy verbintenis tot vroomheid.  Van die nostalgie van die verlede waarin hy die vreugde gesmaak het as God se vertroueling (hfst. 29), regdeur die pyn van ‘n toe hemel waarin hy nie meer God se stem kon onderskei nie (hfst. 30), gaan staan hy steeds vas in sy oortuiging om die Here te bly dien, al bars die bottel (hfst. 31).

In ‘n voëlvlug deur al die kontekste waarin hy lewe, wy hy uit oor sy vaste voorneme om te volhard in vroomheid in die konteks van sy familie en gemeenskap – die belangrikste konteks soos ‘n mens uit die feit dat dit die helfte van die verse beslaan, kan sien – sy ervaring van rykdom, die versoekings van afgodery, die uitdagings van vyande, sy hantering van sy werksmense en vreemdelinge, sy standvastigheid om sy sonde nie te verberg nie, en selfs om ekologies verantwoord op te tree.

Ek bly verbind tot vroomheid in my familie – 31:1-12

Job begin deur te sê: “Ek het my plegtig verbind om nie na ‘n meisie te kyk om haar te begeer nie.” (31:1).  Dit is die refrein wat regdeur hierdie eerste 12 verse loop waarin hy aan die een kant erkenning gee aan God se vermoë om oortreders te straf: “Vernietiging tref immers die boosdoener, ‘n ongeluk dié wat onreg doen.

Maar, terselfdertyd wy hy aan die ander kant uit oor die feit dat hy nooit aan die versoeking van sy begeertes toegegee het nie: “As ek die spoor byster geraak het, my deur my begeerte laat lei het en my hande besoedel het, laat ander mense eet wat ek gesaai het, of laat my gesaaides uitgeruk word.” (31:7-8).

Job het konsekwent nee gesê vir verleiding deur iemand anders se vrou.  Hy het nie gretig geloer na sy buurman se deur nie.  Dit sou ‘n skande gewees het, en hy sou enige straf dan verdien het: “Dit sou ‘n vuur gewees het wat alles vernietig en al my besittings verteer.” (31:12).

‘n Mens hoor hierin nie net die sewende gebod weerklink nie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie.” (Eks. 20:14).  ‘n Gebod wat Dawid so tragies verbreek het met Batseba en daarna selfs verder gegaan het en Uria laat doodmaak het, ‘n oortreding van die sesde gebod: “Jy mag nie moord pleeg nie.” (Eks. 20:13).

‘n Mens hoor ook die woorde van Jesus in die Bergrede: “Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” (Matt. 5:27).  Trouens, Jesus spel uit tot watter mate ‘n mens egbreuk moet vermy.  Dit is beter om jou oog uit te haal en weg te gooi as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word.  Ditto jou regterhand.  Die prys van egbreuk is eenvoudig net te groot.  Dit het ewige implikasies (Matt. 5:27-32).

Let weer op na die ooreenkomste tussen wat Jesus in die Bergrede sê, en wat Job oor sy oë en sy hande te sê het in vers 7.  Job sal sy oë en sy hande vir homself en vir die geoorloofde verhoudings binne sy familie hou, by wyse van spreke.

Kuisheid is die onverdunde eis van die wet sowel as van die evangelie, soos Paulus ook in 1 Kor. 5-7 uitspel.  Gelukkig wys Paulus ook die weg uit die dilemma van seksuele sondes aan deur die vryspraak van Christus te verkondig: “En so was party van julle juis ook.  Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” (1 Kor. 6:11).

Ek bly verbind tot vroomheid in die gemeenskap – 31:13-23

Job is ook baie bewus van sy verantwoordelikheid om teenoor die verdere kring van die gemeenskap waarin hy woon, dit sluit sy slawe en slavinne in, reg op te tree.  Hy moet só leef dat hulle geen grief teen hom sou kon substansieer nie, want dán sou die Here self hom tot verantwoording kon roep.

Let op hoe fundamenteel hy dink oor mense: “Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hulle nie ook gemaak nie?  Het Hy ons nie almal gevorm nie?” (31:15).  Dit is daarom tog net logies, sê Job, dat ek alle mense regverdig sal behandel, en alles in my vermoë doen om armes, weduwees, en weeskinders van lewensmiddele te voorsien.

Job beklemtoon dat hy van sy jongdae af reg opgetree het vir die behoeftiges in die samelewing: “Inteendeel, van my jeug af was ek vir die weeskind ‘n pa, van my kindsdae af het ek vir die weduwee gesorg.” (31:18).  Almal kon op sy voorsiening staatmaak, selfs wanneer hulle in regsmoeilikheid beland het.

Dit is juis sy dilemma.  Job is bereid dat hy erge kwaad aangedoen word as hy enigsins skuldig aan onbarmhartig teenoor behoeftiges was: “Mag my bo-arm afgeskeur word van my skouer af”! (31:22).  Maar nou is dit juis wat hy ervaar, heeltemal onskuldig, dat hy leed aangedoen word: “Maar vir die ramp wat God nou gestuur het, is ek bang, teen sy majesteit kan ek niks doen nie.” (31:23).

Ek bly verbind tot vroomheid in rykdom – 31:24-25

Ten spyte van die ervaring van verlies, sal Job egter vroom bly.  Hy het dit reeds bewys in die feit dat hy nie sy vertroue geplaas het op sy rykdom nie.

Ek bly verbind tot vroomheid teen die versoekings van afgodery – 31:26-28

Hy het nooit die skepping bó die Skepper vereer en die son of die maan aanbid nie, gesimboliseer met die Babiloniese gebruik: “‘n soen op my hand”. (31:27).  Dit is amper soos wat mense soms vandag hulle hand sou soen en dan die soentjie blaas vir iemand anders.

Ek bly verbind tot vroomheid in vyandskap – 31:29-30

Selfs in die konteks van vyandskap het Job hom weerhou om hom te verheug oor ongelukke of rampe wat hulle tref.  Hy het nie met sy mond of sy hart teenoor hulle gesondig nie en hulle dood gewens nie.

Ek bly verbind tot vroomheid teenoor my werksmense – 31:31

Job verklaar stellig dat hy sy werksmense genoeg betaal sodat hulle ‘n volhoubare lewe kan voer.

Ek bly verbind tot vroomheid teenoor vreemdelinge – 31:32

Job het hom aan die tradisie gehou om vreemdelinge wat op reis was nie buite te laat slaap nie. Sy deure het altyd vir reisigers oopgestaan, gegewe dat daar min geriewe soos herberge vir reisigers in daardie tyd bestaan het.

Ek bly verbind tot vroomheid teen die sonde – 31:33-37

Job het ook telkens afgereken met die sonde en dit nie weggesteek nie, selfs nie vir ander nie asof hy vir die skande of skaamte daarvan bang was nie.  Hy het homself nie weggesteek by die huis nie, soos mense soms gedoen het as hulle skuldig was.  Inteendeel, Job het sy lewe openlik voor die mense gelewe.

Is daar dan niemand wat na my luister nie!  My saak het ek gestel: nou moet die Almagtige my antwoord.” (31:35).  Job kan rekenskap gee van elke tree wat hy gegee het.  Daarom kan hy God met vrymoedigheid tegemoet gaan (31:37).

Ek bly verbind tot vroomheid teenoor die aarde – 31:38-40

In ‘n laaste voëlvlug oor die kontekste waarin Job lewe, verbind hy homself net ook weereens tot ‘n ekologies vriendelike lewe.  Hy verbind homself daaraan dat hy nie die grond sal uitbuit nie, en ook nie die eienaars daarvan nie.  Indien hy hom daaraan skuldig sou maak, kan die grond hom verraai met dorings in plaas van koring, met onkruid in plaas van gras.

Dit is die einde van Job se woorde.” (31:40).

View all posts in this series

Job


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: