Skip to main content

Job 31 – Ek bly verbind tot vroomheid

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Job sluit sy toespraak af met ‘n verklaring van sy verbintenis tot vroomheid.  Van die nostalgie van die verlede waarin hy die vreugde gesmaak het as God se vertroueling (hfst. 29), regdeur die pyn van ‘n toe hemel waarin hy nie meer God se stem kon onderskei nie (hfst. 30), gaan staan hy steeds vas in sy oortuiging om die Here te bly dien, al bars die bottel (hfst. 31).

In ‘n voëlvlug deur al die kontekste waarin hy lewe, wy hy uit oor sy vaste voorneme om te volhard in vroomheid in die konteks van sy familie en gemeenskap – die belangrikste konteks soos ‘n mens uit die feit dat dit die helfte van die verse beslaan, kan sien – sy ervaring van rykdom, die versoekings van afgodery, die uitdagings van vyande, sy hantering van sy werksmense en vreemdelinge, sy standvastigheid om sy sonde nie te verberg nie, en selfs om ekologies verantwoord op te tree.

Ek bly verbind tot vroomheid in my familie – 31:1-12

Job begin deur te sê: “Ek het my plegtig verbind om nie na ‘n meisie te kyk om haar te begeer nie.” (31:1).  Dit is die refrein wat regdeur hierdie eerste 12 verse loop waarin hy aan die een kant erkenning gee aan God se vermoë om oortreders te straf: “Vernietiging tref immers die boosdoener, ‘n ongeluk dié wat onreg doen.

Maar, terselfdertyd wy hy aan die ander kant uit oor die feit dat hy nooit aan die versoeking van sy begeertes toegegee het nie: “As ek die spoor byster geraak het, my deur my begeerte laat lei het en my hande besoedel het, laat ander mense eet wat ek gesaai het, of laat my gesaaides uitgeruk word.” (31:7-8).

Job het konsekwent nee gesê vir verleiding deur iemand anders se vrou.  Hy het nie gretig geloer na sy buurman se deur nie.  Dit sou ‘n skande gewees het, en hy sou enige straf dan verdien het: “Dit sou ‘n vuur gewees het wat alles vernietig en al my besittings verteer.” (31:12).

‘n Mens hoor hierin nie net die sewende gebod weerklink nie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie.” (Eks. 20:14).  ‘n Gebod wat Dawid so tragies verbreek het met Batseba en daarna selfs verder gegaan het en Uria laat doodmaak het, ‘n oortreding van die sesde gebod: “Jy mag nie moord pleeg nie.” (Eks. 20:13).

‘n Mens hoor ook die woorde van Jesus in die Bergrede: “Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” (Matt. 5:27).  Trouens, Jesus spel uit tot watter mate ‘n mens egbreuk moet vermy.  Dit is beter om jou oog uit te haal en weg te gooi as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word.  Ditto jou regterhand.  Die prys van egbreuk is eenvoudig net te groot.  Dit het ewige implikasies (Matt. 5:27-32).

Let weer op na die ooreenkomste tussen wat Jesus in die Bergrede sê, en wat Job oor sy oë en sy hande te sê het in vers 7.  Job sal sy oë en sy hande vir homself en vir die geoorloofde verhoudings binne sy familie hou, by wyse van spreke.

Kuisheid is die onverdunde eis van die wet sowel as van die evangelie, soos Paulus ook in 1 Kor. 5-7 uitspel.  Gelukkig wys Paulus ook die weg uit die dilemma van seksuele sondes aan deur die vryspraak van Christus te verkondig: “En so was party van julle juis ook.  Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” (1 Kor. 6:11).

Ek bly verbind tot vroomheid in die gemeenskap – 31:13-23

Job is ook baie bewus van sy verantwoordelikheid om teenoor die verdere kring van die gemeenskap waarin hy woon, dit sluit sy slawe en slavinne in, reg op te tree.  Hy moet só leef dat hulle geen grief teen hom sou kon substansieer nie, want dán sou die Here self hom tot verantwoording kon roep.

Let op hoe fundamenteel hy dink oor mense: “Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hulle nie ook gemaak nie?  Het Hy ons nie almal gevorm nie?” (31:15).  Dit is daarom tog net logies, sê Job, dat ek alle mense regverdig sal behandel, en alles in my vermoë doen om armes, weduwees, en weeskinders van lewensmiddele te voorsien.

Job beklemtoon dat hy van sy jongdae af reg opgetree het vir die behoeftiges in die samelewing: “Inteendeel, van my jeug af was ek vir die weeskind ‘n pa, van my kindsdae af het ek vir die weduwee gesorg.” (31:18).  Almal kon op sy voorsiening staatmaak, selfs wanneer hulle in regsmoeilikheid beland het.

Dit is juis sy dilemma.  Job is bereid dat hy erge kwaad aangedoen word as hy enigsins skuldig aan onbarmhartig teenoor behoeftiges was: “Mag my bo-arm afgeskeur word van my skouer af”! (31:22).  Maar nou is dit juis wat hy ervaar, heeltemal onskuldig, dat hy leed aangedoen word: “Maar vir die ramp wat God nou gestuur het, is ek bang, teen sy majesteit kan ek niks doen nie.” (31:23).

Ek bly verbind tot vroomheid in rykdom – 31:24-25

Ten spyte van die ervaring van verlies, sal Job egter vroom bly.  Hy het dit reeds bewys in die feit dat hy nie sy vertroue geplaas het op sy rykdom nie.

Ek bly verbind tot vroomheid teen die versoekings van afgodery – 31:26-28

Hy het nooit die skepping bó die Skepper vereer en die son of die maan aanbid nie, gesimboliseer met die Babiloniese gebruik: “‘n soen op my hand”. (31:27).  Dit is amper soos wat mense soms vandag hulle hand sou soen en dan die soentjie blaas vir iemand anders.

Ek bly verbind tot vroomheid in vyandskap – 31:29-30

Selfs in die konteks van vyandskap het Job hom weerhou om hom te verheug oor ongelukke of rampe wat hulle tref.  Hy het nie met sy mond of sy hart teenoor hulle gesondig nie en hulle dood gewens nie.

Ek bly verbind tot vroomheid teenoor my werksmense – 31:31

Job verklaar stellig dat hy sy werksmense genoeg betaal sodat hulle ‘n volhoubare lewe kan voer.

Ek bly verbind tot vroomheid teenoor vreemdelinge – 31:32

Job het hom aan die tradisie gehou om vreemdelinge wat op reis was nie buite te laat slaap nie. Sy deure het altyd vir reisigers oopgestaan, gegewe dat daar min geriewe soos herberge vir reisigers in daardie tyd bestaan het.

Ek bly verbind tot vroomheid teen die sonde – 31:33-37

Job het ook telkens afgereken met die sonde en dit nie weggesteek nie, selfs nie vir ander nie asof hy vir die skande of skaamte daarvan bang was nie.  Hy het homself nie weggesteek by die huis nie, soos mense soms gedoen het as hulle skuldig was.  Inteendeel, Job het sy lewe openlik voor die mense gelewe.

Is daar dan niemand wat na my luister nie!  My saak het ek gestel: nou moet die Almagtige my antwoord.” (31:35).  Job kan rekenskap gee van elke tree wat hy gegee het.  Daarom kan hy God met vrymoedigheid tegemoet gaan (31:37).

Ek bly verbind tot vroomheid teenoor die aarde – 31:38-40

In ‘n laaste voëlvlug oor die kontekste waarin Job lewe, verbind hy homself net ook weereens tot ‘n ekologies vriendelike lewe.  Hy verbind homself daaraan dat hy nie die grond sal uitbuit nie, en ook nie die eienaars daarvan nie.  Indien hy hom daaraan skuldig sou maak, kan die grond hom verraai met dorings in plaas van koring, met onkruid in plaas van gras.

Dit is die einde van Job se woorde.” (31:40).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda