Skip to main content

Job 21 – Waarom bly die goddeloses aan die lewe?

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Job reageer weereens skerp op die drie vriende se ontleding van wat die lot van die goddelose is.  Hulle kommentaar op die lewe het nou sy volle aandag, want hy verskil wesenlik daarvan.  Hy kom in die eerste plek in opstand daarteen dat hy – volgens hulle – nie ongeduldig mag raak nie, want sy klag is dan juis nie teenoor mense nie (21:1-5).  Hulle moet dit tog kan sien en eerder stilbly van verbasing oor dít wat hom oorgekom het.

In sy eie perspektief op die goddeloses – let op die meervoud! – laat hy in die tweede plek sy direkte reaksie op Sofar se perspektief op die goddelose (in Sofar se oë is die goddelose natuurlik Job) sy fundamentele verskil daarmee hoor met ‘n reeks vrae wat om antwoorde vra (21:6-33).  Hy sluit in die derde plek af met ‘n finale vraag wat sy beswaar teen hulle sinlose praatjies verwoord wat hom op geen manier troos nie (21:34).

Waarom mag ek nie ongeduldig word nie? – 21:1-5

Dit is opmerklik hoe Job sy drie vriende se eenvoudige stellings oor die lewe aanvat met ‘n reeks ingewikkelde vrae.  Hy wil daarmee hulle gemaklike konsensus van hoe die lewe werk, ontsenu deur die ongemaklike vrae van die lewe voluit te vra.  Dit is immers duidelik in sy eie lewe dat die lewe nie eenvoudig is nie, maar kompleks en misterieus.  En in die verhaal van Job leer ons dat dit net mense is wat die ongemaklike vrae vra wat die hoop het om antwoorde daarop te kry, al is dit dan net om nog dieper agter te kom hoe kompleks en misterieus die lewe nou eintlik is, soos Job in die gesprek met God later sal agterkom.

Waarom bly die goddeloses aan die lewe? – 21:6-33

Job stem duidelik glad nie saam met hulle siening dat die goddelose aan die kortste end trek in hierdie lewe nie.  Sy ervaring is heeltemal anders, en dit word ook gerugsteun deur die ervarings van ander (21:29): “Waarom bly die goddeloses aan die lewe?” (21:7).

Dit is juis sy probleem dat die een mens sterf in sy volle krag en die ander in bitterheid, sonder dat daar ‘n onderskeid getref word (21:23-26), en ‘n mens hulle voorspoed en teenspoed nie kan koppel aan hoe hulle gelewe het nie.

Trouens, dit wil voorkom asof dit juis die goddeloses is wat voorspoed belewe, soos Job in 21:7-13 uitspel.  Hulle word oud en ryk en vernaam. Hulle kinders raak gevestig.  Hulle sien hulle nageslagte.  Daar is vrede in hulle huise.  Hulle vee floreer.  Daar is feestelikheid … al sê hulle vir God: “Laat staan ons, ons weier om u wil te ken … Watter nut het dit om Hom te aanbid?” (21:14-15).

Al is hulle voorspoed nie in hulle eie hande nie, sien ‘n mens nie so geredelik dat hulle lewenslampe voortydig uitgedoof word nie, dat die onheil hulle tref nie. Dit lyk asof God sy rampe opspaar vir die goddelose se kinders, maar die goddelose moet tog self weet wat hom tref, anders is hy salig onbewus daarvan dat dit God se straf is vir sy goddeloosheid! (21:19-21).

Job kan eintlik nie dit kleinkry dat God wat selfs die sterkste mense kan regeer, nie dié eenvoudige waarheid kan insien nie.  Moet hy wat Job is dit dan nou vir die Here leer?!

Wat natuurlik in dié proses van Job se gesprek gebeur, is dat die antwoord stadig besig is om vorm aan te neem.  Dit lê in die vrae wat hy vra, opgesluit, want die antwoord is dat voorspoed en teenspoed nie aan die lewe gekoppel kan en mag word nie, maar aan God wat die bron van lewe is.  Voorspoed en teenspoed kom wel van Hom af, maar kan nie as ‘n getuienis gebruik word om vroomheid of goddeloosheid in ‘n mens se lewe af te lei nie.

Wat navolgingswaardig is van Job se vrae, is dat hy nie probeer om God se manier van doen te verander nie, maar wel om dit te probeer verstaan.  Hy wil weet hoekom dit só is, want vir hom maak dit nie sin dat die goddelose dood gaan, sonder dat iemand hom aanspreek oor sy slegte gedrag en hy vergeld word vir wat hy gedoen het nie (21:31).

Die slotsom waartoe mense oor só ‘n man se lewe kan kom, is dat daar geen regverdigheid is nie, dat die graf eintlik ‘n lewende simbool bly van die feit dat niemand hulle verdiende loon kry nie.  En dit kan tog nie?  Sê Job.

Ook dié vrae van Job hou alreeds die antwoord in, want die Here sal uiteindelik aan Job openbaar dat God se mag juis geopenbaar word in die feit dat daar ‘n streep in die lewe getrek kan word deur die mag van die dood (40:1-9).  Alles onder die hemel behoort aan God en niemand kan teen Hom stand hou nie (41:1-2).  Job kan uiteindelik alles in God se hande los, want Hy sal sorg dat die reg seëvier.

Hoe kan julle my dan met sinlose praatjies probeer troos? – 21:34

Job het egter nog nie dié insig nie, daarom sluit hy af met ‘n verwyt aan die vriende dat hulle hom met sinlose praatjies probeer troos.  Vir hom is dit egter niks anders as bedrog nie.  Hulle probeer hom dinge wysmaak wat doodgewoon nie sin maak nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.