Job 21 – Waarom bly die goddeloses aan die lewe?

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Job reageer weereens skerp op die drie vriende se ontleding van wat die lot van die goddelose is.  Hulle kommentaar op die lewe het nou sy volle aandag, want hy verskil wesenlik daarvan.  Hy kom in die eerste plek in opstand daarteen dat hy – volgens hulle – nie ongeduldig mag raak nie, want sy klag is dan juis nie teenoor mense nie (21:1-5).  Hulle moet dit tog kan sien en eerder stilbly van verbasing oor dít wat hom oorgekom het.

In sy eie perspektief op die goddeloses – let op die meervoud! – laat hy in die tweede plek sy direkte reaksie op Sofar se perspektief op die goddelose (in Sofar se oë is die goddelose natuurlik Job) sy fundamentele verskil daarmee hoor met ‘n reeks vrae wat om antwoorde vra (21:6-33).  Hy sluit in die derde plek af met ‘n finale vraag wat sy beswaar teen hulle sinlose praatjies verwoord wat hom op geen manier troos nie (21:34).

Waarom mag ek nie ongeduldig word nie? – 21:1-5

Dit is opmerklik hoe Job sy drie vriende se eenvoudige stellings oor die lewe aanvat met ‘n reeks ingewikkelde vrae.  Hy wil daarmee hulle gemaklike konsensus van hoe die lewe werk, ontsenu deur die ongemaklike vrae van die lewe voluit te vra.  Dit is immers duidelik in sy eie lewe dat die lewe nie eenvoudig is nie, maar kompleks en misterieus.  En in die verhaal van Job leer ons dat dit net mense is wat die ongemaklike vrae vra wat die hoop het om antwoorde daarop te kry, al is dit dan net om nog dieper agter te kom hoe kompleks en misterieus die lewe nou eintlik is, soos Job in die gesprek met God later sal agterkom.

Waarom bly die goddeloses aan die lewe? – 21:6-33

Job stem duidelik glad nie saam met hulle siening dat die goddelose aan die kortste end trek in hierdie lewe nie.  Sy ervaring is heeltemal anders, en dit word ook gerugsteun deur die ervarings van ander (21:29): “Waarom bly die goddeloses aan die lewe?” (21:7).

Dit is juis sy probleem dat die een mens sterf in sy volle krag en die ander in bitterheid, sonder dat daar ‘n onderskeid getref word (21:23-26), en ‘n mens hulle voorspoed en teenspoed nie kan koppel aan hoe hulle gelewe het nie.

Trouens, dit wil voorkom asof dit juis die goddeloses is wat voorspoed belewe, soos Job in 21:7-13 uitspel.  Hulle word oud en ryk en vernaam. Hulle kinders raak gevestig.  Hulle sien hulle nageslagte.  Daar is vrede in hulle huise.  Hulle vee floreer.  Daar is feestelikheid … al sê hulle vir God: “Laat staan ons, ons weier om u wil te ken … Watter nut het dit om Hom te aanbid?” (21:14-15).

Al is hulle voorspoed nie in hulle eie hande nie, sien ‘n mens nie so geredelik dat hulle lewenslampe voortydig uitgedoof word nie, dat die onheil hulle tref nie. Dit lyk asof God sy rampe opspaar vir die goddelose se kinders, maar die goddelose moet tog self weet wat hom tref, anders is hy salig onbewus daarvan dat dit God se straf is vir sy goddeloosheid! (21:19-21).

Job kan eintlik nie dit kleinkry dat God wat selfs die sterkste mense kan regeer, nie dié eenvoudige waarheid kan insien nie.  Moet hy wat Job is dit dan nou vir die Here leer?!

Wat natuurlik in dié proses van Job se gesprek gebeur, is dat die antwoord stadig besig is om vorm aan te neem.  Dit lê in die vrae wat hy vra, opgesluit, want die antwoord is dat voorspoed en teenspoed nie aan die lewe gekoppel kan en mag word nie, maar aan God wat die bron van lewe is.  Voorspoed en teenspoed kom wel van Hom af, maar kan nie as ‘n getuienis gebruik word om vroomheid of goddeloosheid in ‘n mens se lewe af te lei nie.

Wat navolgingswaardig is van Job se vrae, is dat hy nie probeer om God se manier van doen te verander nie, maar wel om dit te probeer verstaan.  Hy wil weet hoekom dit só is, want vir hom maak dit nie sin dat die goddelose dood gaan, sonder dat iemand hom aanspreek oor sy slegte gedrag en hy vergeld word vir wat hy gedoen het nie (21:31).

Die slotsom waartoe mense oor só ‘n man se lewe kan kom, is dat daar geen regverdigheid is nie, dat die graf eintlik ‘n lewende simbool bly van die feit dat niemand hulle verdiende loon kry nie.  En dit kan tog nie?  Sê Job.

Ook dié vrae van Job hou alreeds die antwoord in, want die Here sal uiteindelik aan Job openbaar dat God se mag juis geopenbaar word in die feit dat daar ‘n streep in die lewe getrek kan word deur die mag van die dood (40:1-9).  Alles onder die hemel behoort aan God en niemand kan teen Hom stand hou nie (41:1-2).  Job kan uiteindelik alles in God se hande los, want Hy sal sorg dat die reg seëvier.

Hoe kan julle my dan met sinlose praatjies probeer troos? – 21:34

Job het egter nog nie dié insig nie, daarom sluit hy af met ‘n verwyt aan die vriende dat hulle hom met sinlose praatjies probeer troos.  Vir hom is dit egter niks anders as bedrog nie.  Hulle probeer hom dinge wysmaak wat doodgewoon nie sin maak nie.

View all posts in this series

Job


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: