Skip to main content

Job 30 – Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Job keer terug na die hede en beskryf in die eerste plek die diep skaamte en vernedering wat hy ervaar met roerende metafore.  Hy word gespot deur mense wat normaalweg op geen manier ‘n invloed in die gemeenskap het nie, mense op wie ander neersien, hyself inkluis.  En hy ervaar dat dit eintlik God is wat hom weerloos en hulpeloos maak voor hulle (30:1-18).

Dan skeur daar uit sy binneste in die tweede plek ‘n gebed om hulp, wat eintlik op ‘n manier nog meer vernederend is, want dié God wat hy aanroep, luister nie na hom nie, antwoord hom nie in sy smeking om hulp nie.  Sy vroomheid het hom niks in die sak gebring nie.  Hy het die goeie verwag, maar rampe het hom getref (30:19-31).

Ek word verneder deur mense wat geen invloed in die gemeenskap het nie – 30:1-18

Maar nou lag hulle vir my, mense wat jonger is as ek, mense wie se vaders ek nie werd geag het om saam met die honde my kleinvee op te pas nie.” (30:10).  D.w.s. mense wat heeltemal onbetroubaar is vir selfs die geringste werk, dié dryf met Job die spot oor die verlies van sy goed en sy gesondheid en verneder hom.

Ons almal kan identifiseer met die effek wat iemand het op ons as hulle ons uitlag en verneder.  Dit moet dubbeld so erg wees as mense wat eintlik geen invloed in die gemeenskap het, ons uitlag en spot.  En dít is presies wat Job hier ervaar.

Weereens kan ek nie anders nie as om te dink aan Jesus se ervaring aan die kruis waar hy eers bespot is deur die soldate (Matt. 27:27-31) en daarna deur die gewone verbygangers: “Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster.  Hulle het die kop geskud en gesê: ‘Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou!  Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!’” (Matt. 27:39-40).  So het ook die priesterhoofde, skrifgeleerdes en familiehoofde Hom gespot (Matt. 27:41-43).

Maar dan staan daar dat selfs die rowers wat saam met hom gekruisig is, Hom beledig het (Matt. 27:41).  Dit is eintlik ‘n nog dieper vernedering, dat mense wat ter dood veroordeel is vir hulle skuld en sonde, hulle minagting met een wat saam met hulle gekruisig is, te kenne gee.

En ons sien iets daarvan reeds in Job se beskrywing van die skande en skaamte, die vernedering, wat hy van invloedloses ervaar.  Job beskryf dié mense – miskien ‘n bietjie neerbuigend, moet ek sê! – as mense wat niks beteken, wat tot niks in staat is nie.  Hy beskryf uitvoerig hulle uitgeteerdheid, hulle gebrek en honger, hulle uitsluiting uit die gemeenskap, en hulle gebrek aan verstand en eer.

Maar, nou sing dié mense liedjies oor Job en bespot hom.  Job ervaar ‘n totale weerloosheid, ‘n hulpeloosheid.  En hy skryf dit nie net aan die mense se optrede toe nie.  Hy ervaar dat dit God is wat hom weerloos en hulpeloos gemaak het.  Die mense val hom goedsmoeds aan en laat sy hoop op ‘n uitkoms soos ‘n wolk verdwyn, soos mis voor die son.

Luister hoe roerend is sy beskrywing: “Deur die groot geweld van God hang my klere vormloos aan my, word ek gewurg deur ‘n boordjie om my nek.” (30:18).  Enigiemand wat op ‘n warm dag al die boonste knoop van ‘n nou boordjie moes vasmaak om ‘n das aan te trek, sal hiermee kan identifiseer!  Dit is natuurlik net oneindig meer uitputtend, dít wat Job moes ervaar.

Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie – 30:19-31

Dan skeur daar uit Job se binneste ‘n gebed om hulp, hoewel dit eintlik op ‘n manier nog meer vernederend is, want dié God wat hy aanroep, luister nie na hom nie, antwoord hom nie in sy smeking om hulp nie: “Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie.” (30:19). Hy staan voor die Here, maar die Here steur Hom nie aan Job nie – dit is Job se ervaring.

Job het gehoop dat sy vroomheid hom iets in die sak sou bring.  Hy het trane gestort saam met dié wat swaarkry.  Hy het meegevoel betoon aan armes.  Hy het die goeie verwag, maar rampe het hom getref (30:26). God het teen hom gedraai met geweld.  Dit is asof die Here hom soos kaf in die lug gegooi het, sodat die wind hom kan wegwaai.  Die dood blyk sy voorland te wees sonder dat hy van God enige hulp gaan ontvang.

Daarom kook dit in Job en kom hy nie tot rus nie.  Sy liggaam het swart geword van die uitmergelende siekte waaraan die Here hom blootgestel het.  Hy gloei van die koors en kan net maar sy skande en skade voor die Here uitsug: “Al wat vir my oorbly, is ‘n treurlied op die lier, ‘n lied van trane op die fluit.” (30:31).

‘n Mens sou verwag dat Job daarom téén God sou draai, want God het hom dan in die steek gelaat?  Maar … dit blyk dat Job teen alle verwagting in standvastig gaan bly … of hoe?

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar