Job 1 – Sal Job vroom bly, al word hy sonder rede geruïneer?
Die boek Job begin in hfst. 1-2 met die vraag na vroomheid in ‘n situasie van verlies. “Sal Job vroom bly, al word hy sonder rede geruïneer?” Aanvanklik neem die Satan al Job se goed sonder rede van hom weg (hfst. 1). Daarna is dit sy gesondheid wat sonder rede van hom af weggeneem word (hfst. 2).
Die antwoord wat in Job se lewe uitspeel, is dat hy vroom bly, selfs al word hy sonder rede geruïneer, en al is hy onbewus van die oorsake van sy ellende. Job sê oor sy verlies: “’As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?’ Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.” (2:10).
Die vraag na sy vroomheid in verlies en die antwoord hierop word op dramatiese wyse in vyf tonele in die twee hoofstukke vertel.
- Die eerste (1:1-5), derde (1:13-22) en vyfde (2:7-13) tonele beskryf die situasie en ervarings vanuit die perspektief van Job en sy mense.
- Die tweede (1:6-12) en vierde (2:1-6) tonele beskryf die situasie uit die perspektief van God in ‘n gesprek met die Satan.
Job is natuurlik heeltemal onbewus van wat in God se teenwoordigheid gebeur. Net ons, die lesers, word daaroor ingelig.
Die laaste hoofstuk van die boek vorm eintlik die sesde en sewende toneel van dié vertelling waarin God ná sy openbaring van Homself aan Job (hfst. 38-42:5), die twee perspektiewe bymekaar uitbring. Hy tree toe tot Job en sy mense se wêreld en gebruik nie net vir Job om versoening vir sy drie vriende te doen nie (42:6-9), maar verander Job se situasie ook totaal. Job se einde is twee maal beter as sy begin (42:10-17).
Job is vroom en opreg – 1:1-5 – Eerste toneel
Soos ons al gesien het, was Job nie ‘n Israeliet nie, maar van die land Us, ‘n gebied wat óf met die Arameërs in die Noord-ooste (Gen. 10:23; 22:21) óf met die Edomiete (Gen. 36:28) in die Ooste van Israel af verbind word.
Vier eienskappe van Job se lewe word uitgelig: vroom (tâm: pure, perfect, “honest inside and out” – The Message), opreg (jâshâr: right, just, “a man of his word” – The Message), godvresend (jerê’ êlôhîm – “ontsag vir God”), en kwaadafwykend (sâr mêrâc – “wegdraai van die kwaad”). Die skrywer beskryf sy verlede só (1:1), en God beskryf sy teenswoordige lewe só (1:8). Sy rykdom en invloed in sy gemeenskap word ook uitgelig. Hy was werklik ‘n besondere mens – uiterlik en innerlik.
Dis merkwaardig dat die sewe seuns elke dag van die week om die beurt fees gevier het! Dit is hoe vers 4 verstaan moet word. Telkens is die drie dogters ook daarheen uitgenooi. Dit beteken nie dat hulle noodwendig hulle pa se goed deurgebring óf losbandig gelewe het nie. Hulle het egter die lewe absoluut ten volle geniet. Elke dag. Elke week. Elke maand. Elke jaar.
Net so merkwaardig is dat Job telkens op die dag na ‘n week van feesvieringe, d.w.s. die Sondag, die eerste dag van die volgende week, vir hulle versoening gedoen het met die brandoffers wat hy namens hulle geoffer het. Sy kinders se vroomheid en erkenning van God word nie genoem nie. Hulle plesier in die lewe staan voorop.
Let op dat Job bang was dat hulle die Here sou vloek in hulle gedagtes. Die Hebreeuse woord bârak word gebruik wat meesal in die betekenis van seën gebruik word, maar in hierdie konteks die betekenis van vloek dra. Dit is ook die waarskynlike betekenis van dieselfde woord in die mond van die Satan sowel as Job se vrou.
Die Satan is skepties oor Job se vroomheid – 1:6-12 – Tweede toneel
Die “hemelwesens” wat hier genoem word, word in die Hebreeus as “seuns van God” aangedui. Ons sal hulle weer aantref in Job 38:7. Dié frase kom ook in Gen. 6:2,4 voor. Die frase “seuns van …” word hier doodgewoon gebruik om die “hemelwesens” wat aan God behoort, aan te dui.
Interessant genoeg word gelowiges in die NT die “seuns van God” genoem (Luk. 20:36; Rom. 8:14; Gal. 3:26), d.w.s. dié mense op aarde wat aan God behoort – dit sluit uiteraard mans en vroue in. Dié frase dui op die besondere status van gelowiges. Dit neem reeds nou ‘n aanvang aan, weens die inwoning van die Gees, maar sal eers in die toekomstige bedeling tot volle openbaring kom.
Die woord satan beteken in Hebreeus teenstander. Dié betekenis van teenstand word hier beklemtoon deur telkens die lidwoord die saam met die woord Satan te gebruik. Hoewel die woord later as ‘n eienaam vir die duiwel gebruik word, is dit nog nie hier die geval nie.
Let op dat die Satan hom – soos die hemelinge – voor God kom stel (1:6; 2:1 – vgl. Sag. 3:1-2). Hy staan onder verpligting aan God om as’t ware verslag van sy doen en late te doen. Dié voorreg is hom egter met die koms van Jesus ontneem (Luk. 10:18; Openb. 12:9).
God se beskerming van Job word as volg uitgedruk: “Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie?” (OAV). Die prentjie wat dit oproep van God se beskerming, is dat God as’t ware ‘n muur rondom hom en sy mense gebou het om hulle te beskut.
Let op dat die Satan weier om te aanvaar dat iemand vroom kan wees sonder dat dit iets vir hom of haar inhou. Hy is skepties oor Job se vroomheid en wil hom kwaad aandoen om sy punt te bewys. Soos Anderson (Job) sê: “The Satan believes nothing to be genuinely good – neither Job in his disinterested piety nor God in His disinterested generosity … cynicism is studied disbelief; and a mind turned in upon its own malice is the final horror of the diabolical.”
Vier tragedies tref Job, maar hy deurstaan die toets – 1:13-22 – Derde toneel
Die vier tragedies begin op dié dag wat Job volgens sy gewoonte offers vir sy kinders gebring het, dié dag wat die oudste seun se beurt was om fees te vier. Dit moes waarskynlik bygedra het tot Job se smart. Sy offers kon die tragedie nie voorkom nie:
- Eerstens verloor hy sy osse, donkies en van sy slawe deur die toedoen van die aanvallers uit Skeba, waarskynlik Arabiere.
- Tweedens verloor hy sy kleinvee en hulle wagters deur ‘n natuurramp, weerlig.
- Derdens verloor hy sy kamele en die laaste klomp van sy slawe deur drie groepe Galdese aanvallers, waarskynlik die voorloper stamme wat uiteindelik deel van die Galdeërryk van Nebukadnesar gevorm het). Die Griekse LXX vertaling vertaal dit net met “perderuiters”.
- Vierdens verloor hy sy kinders, ook deur ‘n natuurramp, waar die wind só sterk gewaai het, dat die huis van alle kante af op hulle ingeval het. Al tien kinders is dood.
Ons het reeds kennis geneem van Esegiël 14 se verwysing na Job as voorbidder waarin hy uitgewy het oor die perke van gebed, soos ‘n mens hier pertinent in die lewe van Job agterkom met sy offers. Dit laat ons besef dat gebed en godsdiens wel noodsaaklik is in ons verhouding met God, maar dat ons gebede en ons godsdiens nie noodwendig die antwoord of uitkoms kan gee wat ons graag wil hê nie. Die antwoord op ons gebede berus ten diepste op God se keuse.
Onthou ook dat Job nie weet wat tussen God en die Satan gebeur het nie. Hy is onbewus van die feit dat dit sy vroomheid is wat ironies genoeg die aanleiding vir sy verlies is. Dit maak sy volharding nog meer merkwaardig, omdat hy ten spyte van sy verlies in sy getrouheid aan die Here volhard.
Let verder op dat Job nie die tragedies verwens, of die persone wat daarvoor verantwoordelik is nie. Hy verwyt selfs nie die Here nie. Hy val slegs in aanbidding op die grond en bevestig sy verbintenis aan die Here al gebeur wat ook al: “Die Here het gegee, en die Here het geneem: die Naam van die Here sy geloofd!” (OAV).
Job deurstaan dus die hemelse toets, al is die redes daarvoor vir hom verborge: “By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie.” (OAV).
Sy antwoord kan jou dus motiveer om self te bly volhard in jou vroomheid en verbintenis aan die Here ten spyte van enige verlies wat jy sou ly, selfs al is dit sonder rede.
View all posts in this series
- Ons lees die boek Job van 12 Januarie af
- Inleiding op die boek Job
- Die boodskap van Job
- Job handel oor die vraag na regverdigheid
- Job handel ook oor die vraag na vroomheid
- Job deurbreek ‘n eenvoudige oorsaak-en-gevolg teologie
- Job is ‘n voorbeeld van volharding en gebed
- Ander verwante verhale
- Indeling van die boek Job
- Lees, luister, leef
- Job 1 – Sal Job vroom bly, al word hy sonder rede geruïneer?
- Job 2 – Job bly vroom, al word hy sonder rede geruïneer
- Job 3 – Job vervloek sy geboortedag
- Job 4:1-5:1 – Elifas: Gee jou vroomheid jou geen hoop nie?
- Job 5:2-27 – Elifas: Dit gaan goed met die mens wat deur God tereggewys word
- Job 6 – Julle beskou medelye met ‘n vriend as ‘n las
- Job 7 – In my bittere beproewing soek ek vergifnis
- Job 8 – Bildad: Teenspoed beteken God se afkeur en voorspoed sy goedkeuring
- Job 9 – Waarom pynig die Here my sonder dat ek dit verdien?
- Job 10 – Maak aan my bekend waarom U hierdie stryd teen my voer
- Job 11 – Sofar: As jy jou verstand reg gebruik, sal jy jou kop sonder skaamte kan oplig
- Oorsig oor die eerste gespreksrondte – Job 3-11
- Job 12:1-13:19 – Bly liewer stil, ek wil met die Here praat
- Job 13:20-14:22 – As ‘n mens sterf, sal hy weer lewe?
- Job 15 – Elifas: Jou swaarkry en lyding bewys dat jy goddeloos is
- Job 16 – Verander van Vyand in Vriend
- Job 17 – Wees tog vir my ‘n borg, o God!
- Job 18 – Bildad: Die onheil wag jou gretig in, omdat jy God nie erken nie
- Job 19 – Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!
- Job 20 – Sofar: Terwyl jy jou nog so vol eet, laat God sy woede oor jou losbreek
- Oorsig oor die tweede gespreksrondte – Job 12-20
- Job 21 – Waarom bly die goddeloses aan die lewe?
- Job 22 – Elifas: Jy was onregverdig en onbarmhartig, daarom gaan jy onder
- ‘n Paar opmerkings oor ‘n moontlike ander lees van hfst. 24-27
- Job 23 – My soeke na God is vrugteloos en maak my vreesbevange
- Job 24 – Waarom reken die Almagtige nie in hierdie lewe af met onregverdiges nie?
- Job 25 – Bildad: God is groter as jy!
- Job 26 – Met wie se hulp het jy gepraat?
- Job 27 – So lank ek lewe, sal ek niks verkeerd sê nie
- ‘n Oorsig oor die derde gespreksrondte – Job 21-27
- Job 28 – Om die Here te dien, is wysheid; om die kwaad te vermy, is insig
- Bydraes hervat weer Donderdag
- Job 29 – Die beste jare van my lewe was as vertroueling van God
- Job 30 – Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie
- Job 31 – Ek bly verbind tot vroomheid
- Oorsig oor die gesprek van Elihu met Job en sy drie vriende – Job 32-37
- Job 32 – Elihu: My gees dwing my om te praat
- Job 33 – Elihu 1: God hoef nie rekenskap aan jou te gee nie
- Job 34 – Elihu 2: God doen niks verkeerd nie!
- Job 35 – Elihu 3: Jou vroomheid is onder verdenking
- Job 36-37 – Elihu 4: God se grootheid nooi ons uit om Hom te dien
- Job 38-39 – Wie is dit wat my bedoelinge dwarsboom?
- Job 40-42:6 – Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie
- Job 42:7-17 – Die Here verander die omstandighede van Job
- Gesprek met God bring bevryding
Tags: Job
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Heinrich, die term apokaliptiek is afgelei van ‘n Griekse woord wat “openbaring” beteken. Dit verwys na literatuur wat geskryf is oor die toekomstige oordeel aan die einde van die tyd. Dit word gekenmerk deur simboliek en hemelse agente wat optree. Apokaliptiese geskrifte verwag dat God die ou onvolmaakte orde sal vernietig en die wêreld na sy oorspronkilke paradys-agtige toestand sal herstel. Dit is Bybelse boeke soos Daniël (hfst 7-12) en Openbaring, asook Bybelgedeeltes soos Jesaja 24-27 en Matteus 24-25.
Heinrich Du Preez
| #
Hi
Ek wil graag weet wat beteken apokapliptiese boeke
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus