Skip to main content

Job 28 – Om die Here te dien, is wysheid; om die kwaad te vermy, is insig

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Job 28 vorm ‘n duidelike eenheid van gedagtegang, maar word nie direk in die teks self aan Job self gekoppel nie.  Baie geleerdes beskou dit daarom as ‘n onafhanklike bydrae oor die wysheid wat eintlik die antwoord van God in hfst. 38-42 vooruitloop.  Soos dit egter in die kanoniese vorm van Job ingevoeg is, vorm dit ‘n belangrike deel van sy bepeinsing van wat met hom gebeur, nie net as ‘n reaksie teenoor sy drie vriende nie, maar ook as ‘n verantwoording van wat hy glo.  Die wysheid is net by God te vinde.  Dit leer selfs Job se ongelukkige ervaring van verlies hom.

Die tema van hierdie besondere bepeinsing van Job word in vers 12 en 20 gevind: “Maar die wysheid, waar word dié gevind (vers 20: waar kom dit vandaan), waar is die woonplek van die insig?”  Die antwoord is dat dit nie in die kennis en vaardighede van die mynbou – een van die grootste tegnologiese vooruitgange van dié tyd – gevind word nie (28:1-11).  Wysheid is nie ‘n optelsom wat gemaak word aan die hand van alles wat jy weet of kan doen nie.

Die wysheid word ook nie in die wonder van die natuur of ekonomiese voorspoed gevind nie (28:12-19).  Wysheid is nie iets wat jy kan verkry deur wetenskaplike studie of deur die verwerwing van rykdom nie.  Wysheid is net by God en in die ontsag en eerbied vir Hom te vinde. Dit sluit egter nie net jou hart en gesindheid in nie, maar ook om tegelykertyd die moreel-etiese keuse te maak en uit te voer om die kwaad te vermy (28:20-28).  Wysheid betrek jou hart en verstand in jou verhouding met en afhanklikheid van God.

Tegnologiese vooruitgang bring nie wysheid nie – 28:1-11

Job begin met die beskrywing van een van die grootste tegnologiese vooruitgange van dié tyd, die kennis en vaardighede wat in die mynbou geïllustreer word.  Die metale wat in die mynbedrywighede genoem word, is silwer, goud, yster en koper.  Die proses sluit nie net die sorgvuldige soektog daarna diep onder die aarde nie, maar ook die afsluiting van onderaardse riviere, die voorsiening van steierwerk en kabels waarmee die ondergrondse werk gedoen kan word, en die uiteindelike smelterye waar die verwerking van die metale gedoen word in.

Job wys in die volgende deel egter dat wysheid nie ‘n optelsom is wat gemaak word aan die hand van alles wat jy weet of kan doen nie.  Al kan jy ook hóé goed vooruitgang maak om jou kennis en vaardighede te vermeerder.  Dit beteken nie noodwendig dat jy wysheid sal bekom nie.

Wetenskap en ekonomiese voorspoed bring nie wysheid nie – 28:12-19

Job oorweeg die pogings van die lewendes om kennis in te samel in terme van wat op die wêreld (aarde, diep waters en die see) ondersoek kan word – kom ons noem dit die wetenskap van die tyd – maar vind dat dit steeds kortkom.

Hy oorweeg ook die ekonomiese voorspoed wat moontlik is uit allerlei edelmetale en edelgesteentes, maar vind ook dat dit steeds kortkom.

  • Ofir was bekend vir sy goudmyne en waarskynlik in suid-wes Arabië (of Somalië) geleë.
  • Die materiale wat as belangrike aanduidings van ekonomiese voorspoed genoem word, is edelmetale (goud en silwer), duur edelgesteentes (oniks [wit/swart], saffier [blou] en topaas [groen]), duur natuurlike produkte (koraal [rooi], kristal, pêrels), en duur vervaardigde produkte (fyn goud, suiwer goud en glas).
  • Die materiale verteenwoordig ook ‘n hele kaleidoskoop van kleure wat besondere luuksheid simboliseer – geel, wit, swart, blou, rooi, groen ensomeer.

Wysheid is regtig die kosbaarste besitting, belangriker as enigiets anders (vgl. Spr. 3:14-15; 8:10-11).  Maar, dit kan nie uitgedink word nie.  Dit kan nie gekoop word nie. Dit is iets wat net in ‘n verhouding met God gegee word.

Om die Here te dien, is wysheid; om die kwaad te vermy, is insig – 28:20-28

Job gooi sy oog na drie ruimtes van die natuur: die lug, die onderwêreld, en die aarde.  Die wysheid is egter nie daar te vind nie.  Wysheid is net in God te vinde.  Dit sien ‘n mens alreeds in die wyse waarop Hy die skepping tot stand gebring het, met sorgvuldige reëls, mates, bepalings, en beginsels wat goed deurdink is.

Om dié wysheid te bekom, is dus net moontlik in ‘n verhouding met God.  En dit begin by die ontsag en eerbied vir Hom (Spr. 1:7). Hierdie ontsag sluit egter nie net die gesindheid van jou hart teenoor God in nie, jou diepste binnekant, maar ook jou besluit om tegelykertyd moreel-etiese keuse te maak wat volgens God se wil is.  Só kan jy doelbewus die kwaad vermy, letterlik “wegdraai” van die kwaad.

Wysheid betrek dus jou hart en verstand in jou verhouding met en afhanklikheid van God.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda