Skip to main content

Job 20 – Sofar: Terwyl jy jou nog so vol eet, laat God sy woede oor jou losbreek

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Waar Job se oortuiginge oor God die verbeelding van ‘n verlossende toekoms van God vir skepsels en skepping begin oopmaak, bly Sofar by sy beperkende intellektuele argumentering oor die lot van die goddelose.  Daar is by hom al hoe minder van ‘n moontlikheid te bespeur dat omkeer of inkeer moontlik is, soos hy weliswaar nog in sy vorige gesprek aan Job voorgehou het (Job 11).

Sofar beskou die goddelose al hoe meer as verdoem en sonder enige uitkoms: “Jy weet tog dat die vreugde van die goddelose (resjaîmwicked – mense wat in opstand teen God lewe) van korte duur is, dat die blydskap van die godlose (ḥâneef – godless – mense wat sonder God lewe) net ‘n oomblik duur?” (20:5).

Let op hoe konsekwent hy sy intellektuele argument voer:

  • Die goddelose godlose word absoluut totaal vernietig (20:4-11). Dit is van altyd af te sien dat die goddelose godlose soos hulle eie uitwerpsel vir altyd vergaan: “Hy verdwyn soos ‘n droom.” (20:8).  Niemand sal hom weer sien nie, selfs sy kinders sal vergaan. Die dood bring ‘n totale vernietiging van sy hele nalatenskap.
  • Die soet smaak van onreg word soos die gif van ‘n slang (20:12-23). Al wil ‘n mens die soet smaak van onreg in jou mond vertroetel, en as’t ware wegsteek onder jou tong, sal dit jou maag omkrap, jou laat opgooi, jou dood veroorsaak soos die gif van ‘n adder.  Jou genot aan dié dinge wat God gee – water, heuning en dikmelk (natuurlike produkte) – sal verlore gaan, net soos die goddelose godlose armes verdruk het in sy gulsigheid en hebsug.  Vir Sofar het niks hierdie goddelose godlose (Job) se vraatsug ontsnap nie, en daarom sal sy voorspoed ook nie stand hou nie, soos dit inderdaad nou vir almal sigbaar is.
  • Terwyl hy hom nog so vol eet, laat God die woede van sy toorn oor hom losbreek (20:24-29). “Hy vlug nog vir ‘n ysterwapen, dan deurboor ‘n bronspyl hom.  Terwyl hy dit uit sy rug uit trek, die glansende punt uit sy gal, oorval die doodsvrees hom.” (24-25).  Trouens, al sy skatte is bestem om vernietig te word – die bietjie van Job wat nog oorgebly het – die hemel en die aarde sal saamspan om hom te laat omkom onder God se toorn: “Dit is die lot van die mens wat skuldig is voor God, die deel van die een wat hom teen God verset.” (29).

Die probleem met Sofar se argument is egter nie dat hy noodwendig verkeerd is oor die uiteinde van mense wat goddeloos of godloos lewe.  Of dat hy inkonsekwent is nie.  Die boodskap van die Bybel beklemtoon immers regdeur hierdie kant van God se betrokkenheid by die wêreld.

Sofar se probleem is dat hy glad nie rekening hou met God se genade nie, en nog meer as dit, dat hy uit Job se krisis aflei dat Job self goddeloos en godloos lewe.  Dit sien ‘n mens in die feit dat hy regdeur in die enkelvoud van dié goddelose en godlose mens praat.  Die onvermydelike afleiding wat ‘n mens maak is dat hy dié beskrywing reglynig op Job van toepassing maak.  Job is die goddelose godlose, die een wat in opstand teen God is, trouens sonder God wil leef.  Job het in sy oë al hoe minder van ‘n toekoms en is verdoem tot ‘n allerverskriklike dood.

Dít is waarom God aan die einde vir Sofar saam met sy vriende aanspreek dat hulle nie reg oor Hom gepraat het nie.  Dit is nie soseer die woorde wat hulle ingespan het nie, maar die toepassing daarvan op grond van hulle verkeerde afleidings oor die verlies in Job se lewe.

‘n Perspektief wat ons tot versigtigheid moet maan om te vinnig op grond van ons beperkte insig absolute gevolgtrekkings oor ander mense te maak.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…