Skip to main content

Job 42:7-17 – Die Here verander die omstandighede van Job

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Hierdie laaste hoofstuk vorm eintlik die sesde en sewende toneel van die prosa vertelling wat reeds in hoofstuk 1-2 aan die orde gestel is.  Dáár was vyf tonele wat  afwisselend uit Job en God se perspektief geskryf is.  Hier kom dié twee wêrelde bymekaar en praat God direk met Job se drie vriende – nogal ‘n bonus vir hulle! – en verander hulle almal se lot.  God gebruik nie net vir Job om versoening vir sy drie vriende te doen nie (42:7-9), maar verander ook sy situasie heeltemal (42:10-17).

My dienaar Job sal vir julle bid – 42:7-9

Let op hoe God uiteindelik vir Job tog in die gelyk stel teenoor sy vriende en Job as God se dienaar beskrywe.  Die Here is kwaad vir Elifas en sy twee vriende – Elihu word nie genoem nie – en beveel hulle om Job as priester te gebruik om deur offers in die reine te kom met God, en sy vergifnis te ontvang.  Twee maal word gesê dat hulle nie die waarheid oor God gepraat het nie, maar Job wel.

Hulle doen wat die Here vra en word vergewe ná Job vir hulle gebid het.

Die Here verander die omstandighede van Job – 42:10-17

Die Here verander Job se omstandighede en gee vir hom twee keer soveel as wat hy gehad het, en onthou, Job was verstommend ryk om mee te begin – veertien duisend stuk kleinvee in plaas van sewe duisend, ses duisend kamele in plaas van drie duisend ensomeer!

Sy materiële voorspoed word geëggo in die herstel van sy familie en sosiale verhoudinge: “al sy broers en susters en vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet.  Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het.” (42:11).  Hy het ook duur geskenke van hulle gekry.

Job se vrou se lot word natuurlik ook verander, omdat dié nuwe stel van tien kinders waarskynlik by haar was.  Hy het immers geen ander vrou of byvrou gehad nie.  Dus, hoewel haar naam nie genoem word nie, deel sy in die lotsverandering.  Hulle einde was selfs beter as hulle begin.

Job was reeds aanvanklik baie ryk en ook invloedryk: “Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man”! (Job 1:3).  Ná sy lyding het dié rykdom en invloed egter nog verder toegeneem: “Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste.” (Job 42:12).

Veral sy drie dogters wat ná sy worsteling gebore is, was merkwaardig.  Nie net word hulle name genoem nie: Jemima (= duif), Kesia (= Kassia – die bas waarvan ons kaneel kry), Keren-Puk (= oogskadu of maskara) – die seuns se name word verswyg! – en was hulle besonder mooi nie, maar hulle het ook saam met hulle broers geërf, soos die geval later ook was met die dogters van Selofgad, as gevolg waarvan dié reëling in die wet ingeskryf is (Num. 27; 36).

Hierdie lotsverandering van Job is dus ook waarskynlik die rede waarom Jakobus – een van die skeptiese broers van Jesus wat tot inkeer kom – in die NT vir Job aanhaal as ‘n voorbeeld van volharding.   Ons lees in Jakobus 5 hoe hy die gelowiges aanspoor om die Here se koms te bly verwag, om nie moeg te word en nie moed te verloor nie, ook nie oor mekaar te kla nie, en te volhard totdat die Here die uitkoms stuur aan die hand van die voorbeeld van Job.

Job word dus as voorbeeld van volharding vir hulle voorgehou, veral met die oog daarop dat sy verhaal wys waarop die Here dit laat uitloop het, naamlik, dat die Here gewys het dat Hy ryk is aan barmhartigheid en ontferming.

Jakobus se verwysing na Job as die een wat volhard, wys vir ons daarom ook nie net iets van Job nie, maar van die karakter van God self.  Geseënd is dié, sê Jakobus, wat ten spyte van hulle pyn en lyding, ten spyte van die onreg wat hulle moet verduur, steeds geduldig volhard in hulle verwagting van die koms van die Here. Want hulle sal, soos Job, ervaar dat die Here ryk is aan barmhartigheid en ontferming.

Job het nog honderd en veertig jaar gelewe.  Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien.” (42:16).  Hy was dus ‘n groot-groot-groot-grootoupa voor sy oë toegemaak is!  Geen wonder die boek sluit af met die opsomming:

Hy het ‘n vol lewe gehad.

Die 1189 hoofstukke van die Bybel is nou klaar gelees.  Ek is baie dankbaar en waardeer julle meelewing deur die jare. Soli Deo Gloria.

Verwysings en ander bronne

Anderson, F.I., 1976.  Job.  An introduction and commentary.  Intervarsity Press: Downer’s Grove.

Clines, D.J.A., 1998. Job 1–20.  Word: Dallas.

Clines, D.J.A., 2006. Job 21–37.  Word: Dallas.

Clines, D.J.A., 2011. Job 38–42.  Word: Dallas.

Kroeze, J.H., 1978.  Geveg met God.  NG Kerkboekhandel Transvaal: Pretoria.

Meyer, O., Nell, I., Vosloo, R., 2005. God se antwoord … is ‘n vraag.  Oor God, lyding en die lewe in die lig van die boek Job.  Lux Verbi.BM: Wellington.

Morgan, G.C., 1981.  The Answers of Jesus to Job.  Baker: Grand Rapids.

Smith, J.E., 1996. The wisdom literature and Psalms.  College Press: Joplin.

Wiersbe, W.W., 1996. Be Patient.  Victor Books: Wheaton.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda