Skip to main content

Job 35 – Elihu 3: Jou vroomheid is onder verdenking

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Elihu gebruik ‘n vraag wat hy in die mond van Job plaas en sy eie kommentaar daarop om Job se vroomheid onder verdenking te plaas.

Die vraag wat Job sou vra, na Elihu se mening, is: “Wat baat dit my, wat kan ek wen as ek nie sondig nie?” (35:3).  Hy beantwoord dit deur Job te herinner aan God se onpartydigheid, hoewel dit gou blyk eerder as God se ongevoeligheid beskryf sal moet word, ‘n onhoudbare interpretasie van God se houding teenoor mense (35:1-8).

Die kommentaar wat Elihu op sy vroomheid bied, is: “Mense roep om hulp, maar Hy antwoord nie.” (35:12).  Hy bewys dié kommentaar deur te verwys na die redes vir dié gebrek aan gebedsverhoring: onafhanklikheid (35:10), hoogmoed en boosheid (35:12).  God luister veral nie na “hol woorde” van sondige mense nie (35:9-16).  Hoewel dié redes iets om die lyf het, skop Elihu weereens die bal mis deurdat hy op meer insig in God se handelinge met Job aanspraak maak, as wat inderdaad die geval is.

Wat baat dit my as ek nie sondig nie? – 35:1-8

Elihu is steeds soos ‘n skeermeslemmetjie, so skerp.  Hy vat Job se vroomheid in die hart daarvan aan en verwerp Job se vashou aan God asof God aan hom reg verskuldig is.  Inteendeel, sê Elihu, jy vra eintlik, na Elihu se mening: “Wat baat dit my, wat kan ek wen as ek nie sondig nie?” (35:3). Jy oorweeg eintlik om jou vroomheid te los, want dit baat mos niks.  Job het natuurlik juis die teendeel die hele tyd geïllustreer, selfs in sy grootste aanvegting.  Elihu kan dit net nie aanvaar nie.

Hy vra, saam met die vriende, watter effek kan Job se sonde dan nou op God hê?  Selfs as hy nie sou sondig nie, watter hulp is dit vir God?  Elihu gesels dus oor God se onpartydigheid, asof Hy nie geraak word deur dít wat by mense gebeur nie, asof dit net ‘n horisontale impak het: ”Jou sonde raak jou medemens.”  (35:8).  Die vertikale impak van sonde word dus geïgnoreer.

Dit blyk dus dat Elihu eerder God se ongevoeligheid beskrywe, en nie soseer sy onpartydigheid nie, ‘n onhoudbare interpretasie van God se houding teenoor mense.  Vir God is ons manier van lewe ‘n saak van lewe en dood, soos só baie Skrifgedeeltes regdeur die Bybel verkondig.

Gebed word nie beantwoord nie – 35:9-16

Die kommentaar wat Elihu op Job se vroomheid bied, is: “Mense roep om hulp, maar Hy antwoord nie.” (35:12).  Hy bewys dié kommentaar deur te verwys na die redes vir dié gebrek aan gebedsverhoring:

  • Mense leef onafhanklik van God en vra nie na Hom nie, al kan Hy vir hulle selfs in die nag ‘n lied laat sing (35:10).
  • Mense maak hulle skuldig aan hoogmoed en boosheid, al het hulle meer verstand as die diere en meer insig as die voëls (35:12).
  • God luister veral nie na die “hol woorde” van sondige mense nie (35:13). Dit help nie Job sê dat hy God nie sien nie, al is sy saak voor God en al dra God geen kennis van sy sonde nie (35:14-15).  Dit is vir Elihu net ‘n insiglose dwarreling van wind.

Hoewel dié redes iets om die lyf het, en ‘n mens jou daaraan kan steur, skop Elihu weereens die bal mis deurdat hy op meer insig in God se handelinge met Job aanspraak maak, as wat inderdaad die geval is.  Job is reg dat hy verliese gely het, sonder dat sy sonde daarvoor verantwoordelik was.  Maar, dít sal eers aan die lig kom wanneer die Here sy stilte tot op dié punt verbreek.

View all posts in this series

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar