Skip to main content

Oorsig oor die eerste gespreksrondte – Job 3-11

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

As ‘n mens nou terugkyk op die eerste rondte van gesprek raak dit duidelik dat die drie vriende nie net in wisselende grade van wreedheid dieselfde vergeldingsdogma aanhang nie, maar eintlik stemme van Satan word, die teenstander van God wat die Here self aangevat het met sy slotsom oor die oorsaak-en-gevolg opsomming van die lewe.

Onthou dat die Satan beweer het in Job 1-2 dat godvresendes nie lojaal teenoor God sal bly as Hy nie vir hulle gee wat Hy belowe nie.  Daar is dus, het die Satan beweer, ‘n reglynige verband tussen oorsaak en gevolg in die toewyding van godvresendes.

Wat dus hier in die gesprek van die drie vriende met Job op die spel is, is presies dieselfde tipe vraag as in die hemel, al is hulle nie regtig bewus daarvan nie, hierdie keer net as volg uitgedruk: Sal Job sy vroomheid behou al draai sy vriende teen hom?  Hulle beskou hulle bydrae in die gesprek waarskynlik slegs as deel van die vraag na die regverdigheid van die lewe, wat vir hulle ‘n baie eenvoudige antwoord het.  Vanuit die hemelse perspektief is die vraag na vroomheid egter steeds baie lewendig, die vraag of Job enduit aan die Here sal vasgryp ten spyte van sy verlies.

En onthou dat dit eintlik ten diepste oor God self gaan.  God se invloed in mense se lewe is op die spel.  Hierdie keer is dit nie sonde wat die verhouding in gedrang sou kon bring soos in die tuin van Eeden nie, ook nie net die lyding en smart oor onverdiende onskuldige verlies en pyn, soos in Job 1-2 nie, maar die invloed van sy geloofsgemeenskap wat met dieselfde vergeldingsmodel as die Satan werk en Job skuldig bevind vanuit die oënskynlike “gevolge” van een of ander sonde wat hulle in sy lewe sien.

Sou Job dus die Here kon bly vertrou al draai almal in die geloofsgemeenskap teen hom?

  • Elifas het Job gekonfronteer met ‘n vraag oor sy vroomheid: Gee jou vroomheid jou geen hoop nie? (Job 4:1-5:1) Amper soos Job se vrou wat hom aangeraai het om liewer God te vervloek en te sterf.  Elifas het hom ook probeer troef met die wysheid dat dit goed gaan met die mens wat deur God tereggewys word (Job 5:2-27), hoewel die swak punt in sy argument was dat hy nie Job se skuld kon aantoon nie.  Hy het dit net vermoed vanweë sy eenvoudige teologie.  Job was egter nie beïndruk met sy gebrek aan medelye nie (Job 6) en het hom eerder steeds op God se moontlike vergifnis verlaat (Job 7).
  • Bildad het by Elifas aangesluit en stellig verklaar dat teenspoed God se afkeur en voorspoed sy goedkeuring beteken (Job 8), hoewel Job steeds volgehou het dat die lyding gekom het sonder dat hy dit verdien het (Job 9), en dat hy wag dat die Here self vir hom bekend maak wat aangaan (Job 10).
  • Hierop het Sofar gereageer dat dinge eintlik baie meer eenvoudig is as wat selfs sy vriende aangevoer het: As jy jou verstand reg gebruik, sal jy jou kop sonder skaamte kan oplig (Job 11). ‘n Wrede woord wat die tirannie van ‘n treurige teologie bevestig.

Job bly egter vasbeslote om verby die troostelose trant van sy vriende se raad die Here self te nader en wil eerder sy saak vir God stel: “Al sou God my doodmaak, ek kan nie wag nie, ek moet my saak vir Hom stel.” (13:15).

En daarmee gee Job alreeds vir ons ‘n sleutel tot die boek se ontknoping, want dit is presies in hierdie besluit wat die evangelie opgesluit lê, soos ons in hfst. 38 en verder sal sien.  God bestaan en is ‘n beloner van dié wat Hom soek (Hebr. 11:6).  Daarop kan ons staatmaak.  En Job het dié besef vir ons deur sy volharding onderstreep.

Indeling van die drie hoofstukke

Dit is met dié paar perspektiewe in gedagte dat ons die drie hoofstukke wat die volgende gespreksrondte inlei, gaan lees.  Ek verdeel dit in twee dele op grond van die wending wat in Job 13:20 kom, waar Job begin om die Here direk aan te spreek en dit tot die einde van hfst. 14 volhou.  In die eerste deel was hy duidelik met sy drie vriende in gesprek.

Jy kan vandag eers nadink oor wat ek hier geskryf het oor die gesprek tussen Job en sy drie vriende tot dusver en oor die volgende twee dae die bydraes oor dié twee dele lees.  Onthou net, lees eers die teks, luister na wat jou daarin tref, vóór jy lees wat ek skryf, sodat die teks ‘n poort kan word waardeur die Here met jou besig raak.  My bydrae is net ‘n hulp!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda