Job 4:1-5:1 – Elifas: Gee jou vroomheid jou geen hoop nie?

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Job se drie vriende kan nie meer stilbly nie en begin hom antwoord.  In drie gespreksrondtes sal hulle telkens om die beurt hulle perspektief op die ellende van Job gee.  En Job sal ook telkens met hulle in gesprek tree, al dink hy nie veel van hulle argumente nie.  Hulle is immers volgens hom onbetroubare (6:15) en hopelose troosters (16:2) wat hom met sinlose praatjies probeer troos. Hulle troos is eintlik net bedrog (21:34).  Hulle moes liewer stil gebly het soos in die begin.

Elifas se bydrae hier in Job 4-5 is die langste bydrae van die drie vriende.  Hulle bydraes raak interessant genoeg al hoe korter soos die gesprek ontvou.  Sofar neem in die laaste rondte nie eers ‘n spreekbeurt nie.  Job se bydraes daarenteen neem egter toe in lengte in die loop van die gespreksrondtes.

Elifas praat in die eerste rondte veral uit sy persoonlike ervaring van die lewe.  Hy is baie oortuig dat hy reg is, soos ‘n mens agterkom uit sy gebruik van die woorde ek en ooit.

  • ‘n Mens sien regdeur dat sy mening op sy eie waarneming gebaseer is. Selfs wanneer hy die woord ons gebruik in die laaste vers is dit eintlik sy eie mening: “Kyk, dit het ons ontdek, so is dit, luister daarna en neem dit ter harte.” (5:27). Die gesig wat hy gesien het, verleen aan hierdie persoonlike mening eintlik ‘n “hemelse” gesag, volgens hom, maar waarin ‘n onstellende negatiewe prentjie van die lewe geteken word (4:12-21).
  • Dieselfde selfvertroue in sy eie standpunt sien ‘n mens in die gebruik van die woord ooit in 4:7 (“Het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan? Waar is regverdiges ooit uitgewis?”) en 4:17 (“Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God?”). Daar is geen onsekerheid by hom nie.  Daarom gebruik hy woorde wat die absolute waarheid – uit sy perspektief – van sy standpunte oordra (vgl. ook niks, en geen).

Sy bydrae bevat drie groot vrae aan Job: 1) Gee jou vrome lewe jou geen hoop nie? – 4:1-6; 2) Het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan? – 4:7-11; 3) Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God? – 4:12-5:1.  Dit hak losweg aan by die twee groepe van drie waaroms wat Job oor sy lewe gevra het, maar dra ‘n ontstellende fatalistiese karakter.

Sy bydrae bevat ook drie groot stellings oor die lewe voor God: 1) Die mens is vir swaarkry gebore – 5:2-7; 2) As ek jy was, sou ek my tot God wend – 5:8-16; 3) Dit gaan goed met die mens wat deur God tereggewys word – 5:17-27.  Dit dra egter dieselfde negatiewe karakter, hoewel hy die opening laat dat daar hoop anderkant teregwysing is.

Daarmee begin hy egter implisiet ook alreeds vir Job aanvat dat die tragedies in sy lewe op een of ander sonde in sy lewe dui.  Job se teenspoed dui volgens Elifas op Job se skuld, ‘n eenvoudige oorsaak-en-gevolg teologie, gerugsteun deur die gesig.

Gee jou vrome lewe jou geen hoop nie? – 4:1-6

Elifas kan nie stilbly nie en fokus op Job se vroeëre impak op ander se lewens.  Hy was die een wat moed ingepraat het en dié wat struikel opgebeur het.  Nou is hy teen die grond weens die rampe wat hom getref het.  ‘n Mens sou dink dat sy vrome lewe hom hoop sou gee in dié situasie, en Elifas wonder hoekom nie?  Beteken sy vroomheid dan niks vir hom nie?  En hoekom?

Het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan? – 4:7-11

Elifas is so seker van sy saak dat hy aanneem dat Job met hom sal saamstem: “Dink daaroor na: het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan?”  God laat dus volgens hom nie onskuldiges en regverdiges in die steek nie.

Maar, die teenoorgestelde is ook waar, sê hy: “Ek het ondervind: dié wat onreg plant en moeilikheid saai, oes dit ook.  Deur die toorn van God gaan hulle te gronde.” (Job 4:8-9).

Die antwoord op sy eie vraag ontbloot die ongemaklikheid van Elifas se trooswoorde aan Job.  Oppervlakkig gesproke wil Elifas vir Job troos bied uit die sekerheid van sy eie wyse woorde.  Maar as ‘n mens dieper kyk, besef jy hoe oppervlakkig is die wyshede, hoe teoreties, en hoe wreed, selfs al klee Elifas dit in ‘n gewaad van persoonlike ervaring.

Sy rigiede blik op die lewe – wat die teoretiese aard daarvan verraai – is dat dit goed gaan met regverdiges en vromes, en sleg gaan met onregverdiges en goddeloses.  Dit is die wet van die geestelike lewe soos dit die wet is van die natuur, geïllustreer met die voorbeeld van die leeus.

Elifas ignoreer die data wat nie inpas in sy skema nie, want hy moes tog van Abel geweet het wat onskuldig as regverdige gesterf het (Gen. 4).  En hy neem ook nie nuwe data in, soos Job se situasie kennelik is nie.

Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God? – 4:12-5:1

Elifas beroep hom verder op ‘n nagtelike gesig wat aan hom die boodskap oorgedra het dat geen mens onskuldig ooit onskuldig kan wees in die oë van God nie.  Selfs die engele het gebreke, hoeveel te meer nie sterflike wesens nie: “wat soos ‘n mot pap gedruk kan word.”

Die rigiede onafwendbare implikasie hiervan is duidelik: Goddelike vergelding is eintlik onafwendbaar, want niemand is onskuldig voor God nie.

‘n Mens wonder natuurlik daarom of hierdie gesig nie ‘n bose oorsprong het nie vanweë die hopelose inhoud daarvan spesifiek ook ten opsigte van die fatalistiese wanhoop op ‘n antwoord uit die hemel: “Roep maar!  Niemand sal jou antwoord nie.  Is daar selfs ‘n engel na wie jy jou sou kon wend om hulp?” Vergelyk die soortgelyke gebeure in 1 Konings 22:19–22 waar ‘n leuengees se aksies beskryf word.

View all posts in this series

Job


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: