Job 40-42:6 – Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Die Here praat weer met Job uit die stormwind en nooi hom uit om met God kragte te meet. Met ‘n reeks van vier vrae oor Job se bevraagtekening van God se beslissing (40:3-4), dek die Here die tafel vir sy verdere sélf openbaring in hoofstuk 40 met die beskrywing van die krag van die Behemot (40:10-19 – seekoei) en die Leviatan (40:20-28 – seedraak [krokodil]).

Hulle word beskryf in terme van hulle ontwerp wat ontsag by almal afdwing, nie net vir die diere self nie, maar vir die Een wat hulle gemaak het.  Twee keer nooi die Here Job uit om sy eie mag ten toon te stel, eerstens teenoor die goddeloses wat hy só graag wil aanvat en regsien (40:5-9), en tweedens teenoor die Leviatan wat duidelik ver bo Job se liga is (40:27-28).

Dit word opgevolg in  hoofstuk 41 met twee retoriese vrae en ‘n stellige uitspraak wat as’t ware aan almal gerig is wat hierna luister: “Wie wil dan nog teen My stand hou?  Wie wil aan My eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is?  Alles onder die hemel behoort aan My.” (41:1-2).

Die Here kan Homself skaars keer om te spog met die krag van die Leviatan en sê: “Ek wil nog verder praat oor die Leviatan, oor sy krag en sy liggaamsbou.” (41:3).  Ná hy weereens die Leviatan se krag met ‘n reeks van drie vrae geïllustreer het (41:4-5), wy die Here uitvoerig uit oor die ontsagwekkende bou en vermoë van die Leviatan, ‘n dier wat mitologiese en moontlik selfs simboliese trekke begin vertoon (41:6-25).

Job reageer daarop met ‘n diep bewondering vir die mag van die Here en kom tot inkeer voor dié God wat kan uitvoer wat Hy besluit (42:1-6): “Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie.” (42:3).

God skep ontsagwekkende lewe op land en in die see – 40:1-28

Die Here beskryf in hoofstuk 40 in die eerste plek sy eie krag om ontsagwekkende lewe te skep op die land met verwysing na die Behemot (waarskynlik ‘n seekoei) – 40:10-19.  Hy vreet gras soos ‘n bees, maar niemand is in staat om hom van voor af te pak en ‘n vangtou aan sy neus te sit nie. Daarvoor is hy net te sterk: “net sy Maker kan hom verslaan.” (40:14).

In die tweede plek beskryf die Here sy krag om lewe te skep in die see met verwysing na die Leviatan (krokodil, meer waarskynlik seedraak).  In 41:23 kom die Hebreeuse woord jam voor wat eerder met see vertaal moet word, en daarom ook die vorige beskrywings van die Leviatan met die see verbind.  Met ‘n reeks van dertien vrae word die Leviatan se krag beskryf, ‘n krag wat op geen manier getem kan word nie – 40:20-28.

Jy kan hom nie met ‘n hoek vang of ‘n tou in die bek sit nie.  Jy kan hom nie soebat om genade nie of by hom mooipraat nie.  Hy sal op geen manier mak word dat jy vir hom met ‘n lyn kan vasmaak en as ‘n troeteldier vir jou dogtertjies gee om mee te speel nie!  ‘n Mens kan nie eers ‘n harpoen deur sy vel gooi nie.  As jy hom sien, is jy eintlik alreeds oorweldig!

Twee keer nooi die Here Job uit om sy eie mag ten toon te stel, eerstens teenoor die goddeloses wat hy só graag wil aanvat en regsien (40:5-9), en tweedens teenoor die Leviatan wat duidelik ver bo Job se liga is (40:27-28).  Indien hy egter die Here kan verras, is die Here bereid om na hom te luister!  Dit is egter duidelik dat Job nie kan nie, en dat hy die goddeloses in die hande van die Here moet laat, net soos die magtige diere van die land en see net deur God hanteer kan word.

Die punt van dié gedeelte is dat God se beslissing reg is, vertrou kan word, en nie tot niet gemaak kan word nie (40:3).  Job kan homself dus nie deur sy eie mag red nie (40:9).  Net God kan.

Wie wil dan nog teen My stand hou? – 41:1-25

Dit word opgevolg in hoofstuk 41 met twee retoriese vrae en ‘n stellige uitspraak wat as’t ware aan almal gerig is wat hierna luister: “Wie wil dan nog teen My stand hou?  Wie wil aan My eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is?  Alles onder die hemel behoort aan My.” (41:1-2).  Die Here kan Homself skaars keer om te spog met die krag van die Leviatan en sê: “Ek wil nog verder praat oor die Leviatan, oor sy krag en sy liggaamsbou.” (41:3).

Ná hy weereens die Leviatan se krag met ‘n reeks van drie vrae geïllustreer het (41:4-5), wy die Here uitvoerig uit oor die ontsagwekkende bou en vermoë van die Leviatan.  Die skubbe op sy rug wat hom ondeurdringbaar maak, sy ontsagwekkende voorkoms, en sy ontsagwekkende groot krag wat almal wat hom sien oorval met angs.

Sy vleis is só styf saamgepak dat dit lyk asof hy uit metaal gegiet is.  Almal vlug voor hom en niks bedreig hom nie.  Hy laat die diep water kook; “Agter hom lê ‘n blink streep op die water (see), lê die diep water wit van die skuim.” (41:23).  Selfs op die land is daar vir hom geen gelyke nie: “Hy kyk met minagting na diere groter as hy, hy is baas selfs oor al die groot diere.” (41:25).

Dit is duidelik uit die beskrywing van vonke, vuur, rook, en vlamme (41:9-12) dat die Leviatan mitologiese en moontlik selfs simboliese trekke begin vertoon vanuit God se perspektief (41:6-25).  Die Leviatan word dan ook in die res van die Skrif as ‘n veelkoppige seedraak geteken (Jes. 27:1; Ps. 74:14; 104:26) en uiteindelik ook met die Satan verbind (Openb. 12:9; vgl. my bydrae: Openbaring 12 – God beskerm sy kerk teen alle aanslae van die draak).

‘n Mens kan nie anders as om te wonder of dit nie ‘n verskuilde verwysing na die hemelse gesprekke in Job 1-2 bevat nie, hoewel ‘n mens uiteraard só iets nie met sekerheid kan bewys nie.  Geleerdes is daaroor verdeeld, maar ‘n mens kan wonder!

Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie – 42:1-6

Job reageer op hierdie beskrywing van God se mag op land en see met ‘n diep bewondering vir die feit dat die Here: “tot alles in staat is”, en dat Hy kan uitvoer wat Hy besluit.  God se mag is nie beperk deur enigiets nie behalwe sy eie soewereine besluit.

Job besef daarom dat hy regdeur sy gesprekke met sy drie vriende oor dinge gepraat het wat hy nie regtig begryp het nie, en daarmee God se bedoelinge verduister het met sy lewe.  Sy lewe was ‘n vertoonvenster aan beide die hemel (Satan) en die aarde (sy vrou en vriende) van God se bedoelinge, en hoewel hy aan sy vroomheid vasgehou het, en volhard het ten spyte van alles, het hy nie genoegsaam God as sodanig aan die orde laat kom in sy lewe nie, en bygedra daartoe dat God se bedoelinge deur sy eie besware bevraagteken is.

Daarom bring hierdie eerstehandse ervaring van God se mag, maar ook sy moeite om met Job in gesprek te tree, vir Job tot inkeer, want, “nou het ek U self gesien.” (42:5).

Hy sit dus op die ashoop, nie meer van sy verlies nie, maar die ashoop van sy berou, sy erkenning dat hy in alles van God afhanklik is, en dat die enigste doel van sy lewe is om God se bedoelinge met hom te openbaar.

Die laaste bydrae word vanmiddag 16:00 gestuur sodat mense in Somerstrand genoeg tyd het om voor te berei vir Woensdag se laaste groepsessie 18:00 in die konsistorie.  1189 hoofstukke is dan klaar gelees. Soli Deo Gloria.

View all posts in this series

Job


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

  • Baie dankie vir al die inligting. Dit is van groot waarde vir my. Ek het eers onlangs met hierdie studie begin, so het nog baie om deur te werk. Sal goed wees as alles volledig kan wees. Baie sterkte!

  • Jeremia 31 vers 8 en Jeremia 6 vers 22

    Kyk ek bring hulle aan uit die Noordland en sal hulle bymekaar laat kom uit die agter hoeke van die aarde.
    Vraag: Waar is die Noordland en waar is die agter hoeke van die aarde?

    Psalm 104 vers 26. ( Job , Amos , Jesaja )
    Daar gaan die skepe en die leviathan wat u geformeer het om daarin te speel.
    Vraag : wat is die leviathan?

    • Hi Johan, Die Noordland is ‘n term wat vir Babel gebruik word, dws in dié geval vir die ballinge wat sal terugkeer uit Babel (Jer 1:14-15 identifiseeer die Noorde met Nebukukadnesar se beleëring van Jerusalem). Babel was natuurlik meer oos van Israel, maar weens die Arabiese woestyn in die ooste van Israel, kon ‘n mens nie anders as om daar rondom te trek en Israel vanuit die noorde binne te trek nie. Die agterhoeke van die wêreld dui die mense aan wat nog verder verspreid is oor die wêreld – onthou daar was verskillende wegvoerings – wat ook sal terugkeer.

      Die Leviatan word met die krokkodil of seedraak verbind. Hy laat die diep water kook; “Agter hom lê ‘n blink streep op die water (see), lê die diep water wit van die skuim.” (Job 41:23). Selfs op die land is daar vir hom geen gelyke nie: “Hy kyk met minagting na diere groter as hy, hy is baas selfs oor al die groot diere.” (Job 41:25).

      Dit is egter duidelik uit die beskrywing van vonke, vuur, rook, en vlamme (Job 41:9-12) dat die Leviatan mitologiese en simboliese trekke het (Job 41:6-25). Die Leviatan word dan ook in die res van die Skrif as ‘n veelkoppige seedraak geteken wat God by die skepping getem het (Jes 27:1; Ps 74:14; 104:26). Leviatan word uiteindelik ook met die Satan verbind (Openb 12:9).

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: