Job 11 – Sofar: As jy jou verstand reg gebruik, sal jy jou kop sonder skaamte kan oplig

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Die arrogante en selfversekerde Sofar praat in die eerste rondte veral uit ‘n intellektuele deurskouing van die lewe: “As jy jou verstand reg wil gebruik … kan jy jou kop sonder skaamte oplig.” (Job 11:13,15).  Sofar het ‘n antwoord op alles, en hy spaar Job nie.  Job is volgens hom duidelik skuldig.  God het nog nie eers begin om hom vir al sy sondes te straf nie (11:1-6).  Job begryp nie werklik wie God is nie.  Hy tree soos ‘n idioot op as hy dink dat hy ‘n greep op die kennis van God het (11:7-12).  Job moet net sy hande in gebed na die Here toe uitsteek, sy sonde van hom af verwyder en nie toelaat dat onreg in hom woon nie.  Dan sal God sy lot verander en hy weer goeie vooruitsigte hê (11:13-20).

Job is skuldig – 11:1-6

Sofar is duidelik geïrriteer met Job en beskou sy treurmare as ‘n poging om homself te regverdig.  Dit is eintlik lasterlik, want Job beskou homself as onskuldig voor God.  As die Here die moeite wou doen om iets te sê, sal Hy verseker Job weerspreek het. God is nog nie eers regtig besig om Job vir ál sy sondes te straf nie.  Daar wag dus nog eintlik meer trauma vir Job, weens sy onverklaarde sonde.  Wreed!

Geen wonder dat die Here aan die einde Hom so duidelik distansieer van hierdie tipe onsin toe Hy wel aan die orde kom en met hulle almal in gesprek tree.

Job verstaan nie werklik wie God is nie – 11:7-12

Sofar begrond sy wysheid in sy vlymskerp intellek, en minag Job se kennis van God: “Hoe kan jy daarby uitkom?” Die kennis van God is omvangryk, en geen mens kan dit eintlik heeltemal verstaan nie, veral nie iemand wat deur God gevange geneem is en gevonnis is, soos dit in Job se geval duidelik vir Sofar blyk.

Die Godsbeeld wat Sofar teken, is van ‘n God wat nie net omvangryk in sy wysheid is nie, maar ongelooflik puntenerig in sy maatstawwe, wat mense vir goed straf waarvan hulle nie eers ‘n benul het nie.

Sofar beskuldig Job van skynheiligheid waarin hy sy eintlike sonde verberg.  Dit is egter idioties en sal hom net so min in sak bring as wat ‘n wildedonkievul ‘n hoop het om ‘n mens te word as hy gebore word.

Job moet sy verstand gebruik en sy skuld bely – 11:13-20

In die laaste deel kry ‘n mens die idee dat Sofar se vlymskerp tong eintlik bedoel is om Job van valse hoop te vrywaar en sover te kry om sy hande in gebed na God toe uit te steek, sy sonde te verwyder, nie toe te laat dat die onreg in hom woon nie, en sy hoop op ‘n lotsverandering deur God te plaas.  Hy beoefen ‘n soort wrede genade.  Hy is: “cruel to be kind.

Gebed is natuurlik ‘n ongelooflike stuk vertroosting in ‘n mens se verhouding met God, veral as jy rekening hou met sy genade en barmhartigheid.  Hy beloon dié wat Hom soek (Hebr. 11:6). Daarop kan ons reken.

Sofar se probleem is egter dat daar geen genade is in sy tipe raad nie, dat sy wreedheid uiteindelik net wreedheid bly.  God se genade is volgens hom ondergeskik aan God se  geregtigheid, nog erger aan Sofar se idee van God se geregtigheid.  God sal, volgens hom,  eerder straf as wat Hy sal vergewe.  Wat ‘n mens versigtig moet maak vir ‘n verkeerde toepassing van “tough love”, omdat jou oordeel in ‘n situasie, veral wanneer jy nie al die feite het nie, totaal destruktief kan wees.

Job sal nie weer die lig van nuwe vooruitsigte ervaar deur sy verstand te gebruik of valslik sy skuld voor te gee nie, veral nie omdat iemand hom op ‘n wrede manier wil wakker skud om sy gewaande skuld te bely nie.  Job sal net genoegdoening in ‘n ontmoeting met God kan bereik. En dit is al waartoe vriende dié wat ly moet begelei.

En dit is waarvoor Job steeds pleit, soos hy in die volgende drie hoofstukke verder sal aanroer.

View all posts in this series

Job


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
  • Mariaana on RomeineHoe maak ek om die bybelstudie oor die boek Romeine te bekom En ook oor God Se wil asb
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieHi Petrus, FF Bruce verklaar dit in sy kommentaar só: "Moenie in jou hart sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar nie?’ – dit wil sê om Christus neer te brin…
%d bloggers like this: