Skip to main content

‘n Paar opmerkings oor ‘n moontlike ander lees van hfst. 24-27

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

‘n Hele paar geleerdes dink dat hulle Sofar se woorde kan onderskei in bv. hfst. 24:18-25 en 27:13-23, wat lyk asof dit op die oog af eintlik die teenoorgestelde sê as wat Job tot dusver gesê het.  Baie dink dat dié woorde eerder nie aan Job toegeskryf behoort te word nie.  Verskillende indelings word dus gegee van hoe hfst. 22-27 saamgestel moet word.

Vir my wil dit egter eerder voorkom asof Job begin weifel in die felheid van die aanslag van die vriende se argumente wat op ervaring, tradisie en intellek gebaseer is, en dat Job moontlik probeer om as’t ware hulle argumente met ‘n bietjie meer respek te hanteer, dit te toets in sy eie woorde, al het hy tot dusver baie skerp daarvan verskil.

Dit verklaar ook moontlik waarom Job hierna ‘n bydrae sal lewer oor die wysheid, waarin hy weer vasgryp aan God se soewereine greep op alles, en waarby, is hy steeds oortuig, die mens eintlik net kan inval deur God te dien en vroom te lewe: “om die kwaad te vermy, dit is insig.” (hfst. 28)

Tog het sy drie vriende se betoog ‘n geweldige effek op hom, soos ‘n mens in sy laaste reaksie aan hulle sien (hfst. 29-31) en waarin ‘n mens veral in hfst. 31 sien dat Job se argumentasie die warboel van deurmekaar gedagtes in sy kop begin illustreer.

‘n Mens sien al hoer meer iets raak van sy wanhopige, moedelose en selfs verbitterde ontnugtering met sy bitter lyding.  Hy kom baie naby aan ‘n totale fatalistiese opgee van enige hoop op regverdigheid en ‘n ontmoeting met God. Sy geweldige verlies vernietig amper enige verdere vashou aan God en ‘n beëindiging van sy volharding in vroomheid voor God.

Dit verklaar ook hoekom die jong Elihu hierna  tot die gesprek toetree en amper met ‘n stuk angs reageer op Job sowel as sy drie vriende se geworstel en die gevaar wat hulle loop dat hulle Godsbewussyn heeltemal sal verduister.  In sy eie vier toesprake baan Elihu die weg tot ‘n ontmoeting met God wat vir Job en sy drie vriende verlossing bring (hfst. 32-37).

Die poëtiese gedeelte van die boek sluit daarna af met die hoogtepunt van die verhaal, die twee gespreksrondtes tussen God en Job waarin die ontmoeting met God klaarheid en uitkoms bring (hfst. 38-39; 40-42:6).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar