Skip to main content

Job 24 – Waarom reken die Almagtige nie in hierdie lewe af met onregverdiges nie?

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Ná Job sy eie lot bekla het en sy angs oor die Almagtige se oënskynlik onverstaanbare optrede verwoord het, fokus hy in twee dele op die verdere onrusbarende feit dat hierdie Almagtige nie in sy almag optree teen die wydverspreide onreg van mense in die wêreld nie (24:1-17).  Hy is bewus daarvan dat die dood tog ook ‘n streep trek vir onregverdiges, waarin hy eintlik van die argumente van sy drie vriende eggo (24:18-25).

Die probleem daarmee is net dat dit vir Job lyk asof dieselfde lot regverdiges en onregverdiges tref.  Hoe kan dit reg wees?  Dít maak net nie sin vir Job nie.  God se oënskynlike onverskilligheid teenoor vromes en goddeloses bring groot verwarring vir hom.

Waarom reken die Almagtige nie in hierdie lewe af met mense wat onreg doen nie? – 24:1-17

Job sou só graag wou hê dat die Almagtige in hierdie lewe al sal afreken met mense wat onreg doen: “Waarom moet dié wat Hom ken, tevergeefs uitsien na sulke dae?” (24:1).

Want die dinge wat onregverdige mense doen, druis in teen alles wat goed en reg is.  Job noem ‘n hele aantal dinge: grensverskuiwings wat grond van mense vervreem, diefstal van vee deur die vee met hulle eie troppe deurmekaar te maak, die verdrukking van weeskinders, weduwees, armes en behoeftiges wat in die proses ondergaan, en geen beskutting teen die uitdagings van die lewe het nie, selfs koud moet gaan slaap.

Let op hoe roerend hy die afgryslike dade teen weeskinders beskryf: “Die weeskind word weggeruk van die bors waaraan hy drink.” (24:9).  Families ly deur hierdie duistere dade honger en dors … en die ergste is, hulle: “roep om hulp, maar God slaan nie ag op die onreg nie.” (24:12).  God is oënskynlik onverskillig oor die lot van mense wat onreg ly.

Job beskryf in ‘n verdere deel van sy gedig die duister dade met dinge wat vanuit die wet van die Here as sonde beskryf word: moord (6de gebod), diefstal (8ste gebod)en egbreuk (7de gebod).  Hulle wil niks met die lig te doene hê nie: “hulle is tuis by die verskrikkings van die donker.” (24:17).

Die graf maak wel ‘n einde aan sondaars – 24:18-25

Job mymer verder oor die lot van sulke sondaars, soos sy vriende dit ook gedoen het, en kom in opstand dat hulle moontlik kan dink dat hy nie weet wat die uiteindelike einde van sondaars is nie: “Is dit nie so nie?  Wie kan my tot leuenaar maak?  Wie kan my woorde weerlê?” (24:25).

Hy sê, soos die vriende, dat sondaars onder ‘n vloek staan en dat die graf ‘n einde maak aan die sondaar (24:19).  Hulle word kos vir die wurms, selfs hulle eie ma’s vergeet hulle.  God onderwerp selfs die sterkes deur sy mag: “Hy gee miskien vir hulle ‘n gevoel van sekerheid … maar Hy hou dop wat hulle doen.  Net ‘n kort tydjie is hulle belangrik, dan is daar niks van hulle oor nie … hulle word soos koringare afgesny.” (24:23-24).

Maar, die onuitgesproke probleem wat Job het, is, maar hoe word daar dan ‘n onderskeid gemaak met die einde van die vrome?  Het vromes en goddeloses dan dieselfde einde?  Hoe kan dit wees?  Hoe kan dit regverdig wees?

View all posts in this series

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar