Job 17 – Wees tog vir my ‘n borg, o God!

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Wees tog vir my ‘n borg, o God – 17:1-5

Job sit sy gebed voort, maar rig dit hierdie keer direk aan God.  Job vra dat God nie net vir hom ‘n getuie sal wees in die saak tussen hulle nie, maar dat Hy nog meer sal doen.  Hy vra dat God vir hom sal instaan as borg, want dit is sy enigste hoop: “Wie anders kan vir my instaan?

Job ervaar regtig dat hy op sy laaste is, dat sy tyd verby is.  Net die graf bly vir hom oor.  As die Here nie vir hom opkom nie, sal hy aan die genade van sy drie vriende oorgelaat wees, en dié kan regtig nie meer enigiets van betekenis met hom deel nie: “U het die verstand van my vriende vir rede gesluit, moenie dat hulle seëvier nie.”  Hulle sal immers nie bereid wees om vir hom borg te staan en hulle besittings met hom as vriend te deel, terwyl hulle eie kinders dan potensieel gebrek sou kon lei nie.

Onder sy vriende kry Job nie een wat verstandig is nie – 17:6-10

Die ongemaklike waarheid oor sy drie vriende is dat nie een van hulle verstandig of mededeelsaam is nie.   Hulle het al die kennis, maar dit baat hulle nie, want hulle maak die verkeerde gevolgtrekkings.

Die ongemak is verder dat Job se situasie nie net ‘n effek op hom het nie.  Ander opregtes en onskuldiges slaan hulle hande saam oor wat met hom gebeur, want dit behoort só te werk dat wie rein is voor God, in krag sal toeneem.  Job se verhaal trek egter ‘n streep deur dié wysheid.

Job se vriende kies egter steeds die kortste pad in hulle beoordeling van die situasie, en probeer nie saam met hom vra wat regtig aan die gang is nie, hoe die verlies verband hou met vroomheid nie, maar veroordeel hom slegs met hulle oppervlakkige en eenvoudige teologie van oorsaak-en-gevolg.

Job wanhoop aan ‘n uitkoms – 17:11-16

Job wanhoop egter aan ‘n uitkoms, want sy dae is besig om verby te vlieg.  Al sy planne en begeertes is eintlik op die ashoop saam met hom.  Sy vriende maak asof alles weer reg sal kom, maar hy sien daar niks van nie.  Die dag word nie donker, of die nag lig, net omdat jy sê dit sal so wees nie!

Hoewel Job daarom eintlik wens dat alles net verby sal gaan, dat hy die rus van die dood sal ervaar, is hy tog bang dat die hoop dat God sal antwoord daarmee ook sal sterf, en saam met hom na die doderyk toe sal afgaan.  In sy donkerste uur laat hy steeds die hoop op ‘n woord van God nie vaar nie.  Hy soek steeds ‘n Vriend, nie ‘n Vyand nie, ‘n Borg, nie ‘n Teëstander nie.

View all posts in this series

Job


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: