Skip to main content

Job 17 – Wees tog vir my ‘n borg, o God!

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Wees tog vir my ‘n borg, o God – 17:1-5

Job sit sy gebed voort, maar rig dit hierdie keer direk aan God.  Job vra dat God nie net vir hom ‘n getuie sal wees in die saak tussen hulle nie, maar dat Hy nog meer sal doen.  Hy vra dat God vir hom sal instaan as borg, want dit is sy enigste hoop: “Wie anders kan vir my instaan?

Job ervaar regtig dat hy op sy laaste is, dat sy tyd verby is.  Net die graf bly vir hom oor.  As die Here nie vir hom opkom nie, sal hy aan die genade van sy drie vriende oorgelaat wees, en dié kan regtig nie meer enigiets van betekenis met hom deel nie: “U het die verstand van my vriende vir rede gesluit, moenie dat hulle seëvier nie.”  Hulle sal immers nie bereid wees om vir hom borg te staan en hulle besittings met hom as vriend te deel, terwyl hulle eie kinders dan potensieel gebrek sou kon lei nie.

Onder sy vriende kry Job nie een wat verstandig is nie – 17:6-10

Die ongemaklike waarheid oor sy drie vriende is dat nie een van hulle verstandig of mededeelsaam is nie.   Hulle het al die kennis, maar dit baat hulle nie, want hulle maak die verkeerde gevolgtrekkings.

Die ongemak is verder dat Job se situasie nie net ‘n effek op hom het nie.  Ander opregtes en onskuldiges slaan hulle hande saam oor wat met hom gebeur, want dit behoort só te werk dat wie rein is voor God, in krag sal toeneem.  Job se verhaal trek egter ‘n streep deur dié wysheid.

Job se vriende kies egter steeds die kortste pad in hulle beoordeling van die situasie, en probeer nie saam met hom vra wat regtig aan die gang is nie, hoe die verlies verband hou met vroomheid nie, maar veroordeel hom slegs met hulle oppervlakkige en eenvoudige teologie van oorsaak-en-gevolg.

Job wanhoop aan ‘n uitkoms – 17:11-16

Job wanhoop egter aan ‘n uitkoms, want sy dae is besig om verby te vlieg.  Al sy planne en begeertes is eintlik op die ashoop saam met hom.  Sy vriende maak asof alles weer reg sal kom, maar hy sien daar niks van nie.  Die dag word nie donker, of die nag lig, net omdat jy sê dit sal so wees nie!

Hoewel Job daarom eintlik wens dat alles net verby sal gaan, dat hy die rus van die dood sal ervaar, is hy tog bang dat die hoop dat God sal antwoord daarmee ook sal sterf, en saam met hom na die doderyk toe sal afgaan.  In sy donkerste uur laat hy steeds die hoop op ‘n woord van God nie vaar nie.  Hy soek steeds ‘n Vriend, nie ‘n Vyand nie, ‘n Borg, nie ‘n Teëstander nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.