Skip to main content

Job 19 – Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Dit is opmerklik dat Job in dié gesprek van hom nét met die drie vriende praat, en nie ook met die Here nie.  Waar hy in elkeen van die vroeëre gesprekke eintlik meer op sy verlange om met die Here te praat, gefokus het, fokus hy hier direk op die drie vriende en lewer ‘n uitnemende getuienis van sy diepste oortuiging oor God: “Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!” (19:25 – vgl. 16:19 waar hy oor God as sy getuie in die hemel praat).

Let op hoe Job nie net oor sy eie persoonlike verlossing praat nie, soos ons baie keer met lidmate se belydenisaflegging dié teks gebruik.  Dit gaan vir Job oor die breër prentjie van God se heerskappy nie net in sy persoonlik lewe nie, maar op die hele aarde.  Die droom van God se totale verlossing wat steeds in Job se hart brand, is dat alles wat moontlik afbreuk kan doen aan God se plan met die mensdom, onder sy heerskappy geplaas sal word, en dat God sal triomfeer in die lewe van mense op aarde.

Let ook op dat Job hieroor praat nie as ‘n vae wens wat moontlik gedwarsboom kan word nie. Dit is vir hom ‘n vaste werklikheid: “Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien.  Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie.” En voeg hy daaraan by: “Ek smag daarna met my hele lewe.” (19:27).

Vir ons wat die voorreg het om hierdie gesprek van Job vanuit die ontknoping daarvan in hfst. 38-42 te kan hoor, is dié waarskynlik een van die grootste motiverings om aan te hou in ons eie geloofstryd en aan die Here vas te hou, kom wat wil.  Want, Job het presies waarna hy met sy hele lewe gesmag het, uiteindelik gekry.  Hy het die Here gesien, met sy eie oë, en kon die transformasie van sy lewe aan die hand van God se lotsverandering beleef.

Dié twee perspektiewe – dat dit vir Job oor ‘n totale verlossing gaan, wat hy as ‘n vaste werklikheid verwag het (vgl. Hebr. 11:1: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”) – verdiep ‘n mens se besef van die prys wat dit Job kos om hieraan vas te hou:

  • Sy vriende het veroordeel en beledig. Hulle skaam hulle nie oor hulle slegte behandeling nie, al kry hulle nie dit reg om die fout wat Job begaan het, uit te wys nie.  Hy probeer hulle oortuig dat hy letterlik in die kruisvuur van ‘n hemelse geweld beland het, maar hulle skryf dit af, omdat dié ervarings nie inpas by hulle teologie nie.  Hulle wat eintlik sy vertrouelinge moes wees, verafsku hom: “dié wat ek liefhet, het teen my gedraai.” (19:19).  “Kry my tog jammer, my vriende, kry my tog jammer!” (19:21).
  • Job beleef God as iemand wat sy pad versper het, en dat hy letterlik nie verder kan gaan nie. Job se eer en aansien is van hom af weggeneem.  God behandel hom as ‘n vyand.  Dit is waarskynlik sy grootste dilemma, want dit tap sy kragte, laat sy hoop wankel.
  • Selfs sy familie het hom verlaat. Sy broers het hom in die steek gelaat, die eerste keer dat iets hiervan genoem word.  Sy huismense, selfs sy slawe, beskou hom eintlik as ‘n vreemdeling, en reageer nie op sy uitreik na hulle nie.  Die effek in sy lewe is dat hy ervaar dat hy heeltemal alleen staan.

Tóg – en dit moet ‘n mens regtig in die lig van dié diep donkerte in sy lewe raaksien – Job skryf dié teenstand en veroordeling af as van minder betekenis as die getuienis oor sy Losser wat steeds in sy hart leef, en wat hy wil opskryf vir die nageslag: “Mag my woorde tog opgeskryf word, mag dit ingegraveer word op ‘n monument met ‘n ysterpen en lood, vir altyd in ‘n rots uitgekap.” (19:23-24).

Wat Job dus in 19:25-27 skryf oor God is nie net ‘n wonderlike getuienis oor God wat hy in ‘n boek gelees en as lewensmotto aanvaar het nie.  Dit is ‘n deurleefde oortuiging waarvoor hy kan instaan selfs al vergaan al sy goed en die laaste bietjie van sy gesondheid.  Hy is van oortuiging dat dié God, wat hy tot sy afgryse as ‘n vyand ervaar, steeds regverdig sal wees, al beleef hy Hom op die oomblik nie só nie.

Job is dus ‘n venster na hoe ‘n geloof werk wat steeds aan God in die krisis van ‘n verskriklike verlies vasgryp.  En dit is ook ‘n venster na iets wat – ook vir ons – nog in die toekoms lê.  Dit is die totale verlossing wat God vir die heelal beplan.  Job maak dus op ‘n verskuilde manier iets van God se globale verlossingswerk op aarde bekend, hoewel Job weliswaar nie die omvang daarvan sou kon besef het nie.

Dit is dié verlossing waaroor die hele bediening van Jesus Christus in die NT gegaan het.  Soos die Hebreërskrywer dit uitdruk:

  • Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” (Hebr. 7:25). Die bediening van die Here Jesus het ‘n persoonlike verlossingskant wat inhou dat Hy vir altyd vir ons intree.
  • Dit bediening van die Here Jesus het ook ‘n verlossende effek op die hele aarde: “dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly.” (Hebr. 12:27), soos die apostel Johannes ook verder op uitbrei in die Openbaring.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.