Skip to main content

Job 15 – Elifas: Jou swaarkry en lyding bewys dat jy goddeloos is

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.
Job-in-Despair – van “Drawings-for-the-Bible” deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Elifas gaan verder om vanuit sy eie ervaring (15:17), gerugsteun deur die woorde van die wyse mense (15:18), Job die leviete voor te lees.  In die eerste deel – 15:1-16 – fokus hy op die feit dat Job vanselfsprekend sondig moet wees.  In die tweede deel – 15:17-35 – fokus hy op die feit dat die goddelose deur angs geteister word (15:20) – en let op dat hy ‘n direkte verband tussen Job en die goddelose trek – en die dood nie sal vryspring nie (15:30). Dít moet Job tot inkeer bring, sodat hy sy sonde voor God kan bely en hy nie sy woede só op God moet rig nie (15:13).

Waarom is jy so woedend vir God? – 15:1-16

Elifas is ontsteld oor Job se gedagtegang en dink dat hy van beter behoort te weet.  Hy is bang dat sy niksseggende woorde mense sonder eerbied vir God sal laat, só asof Job self God is.  Hy is tog nie wyser as dié wat voor hom gekom het nie.  Hy het nie alleenreg op die wysheid van God nie: “Wat weet jy wat ons nie weet nie?” (15:9).

Let op hoe Elifas geen probleem het om sy eie woorde as dié van God te beskou nie!  “Beteken die troos wat van God kom, vir jou niks, die woorde wat met soveel deernis tot jou gerig is?” (15:11).  Dit lyk asof Elifas baie moeilik ‘n onderskeid tref tussen sy eie woorde en dié van God, gegewe dat hy van ‘n nagtelike gesig in sy eerste toespraak gepraat het – 4:12-5:1 – wat aan hom die boodskap oorgedra het dat geen mens ooit onskuldig kan wees in die oë van God nie, soos hy hier ook weer aanvoer: “Hoe kan ‘n mens rein wees?  Hoe kan ‘n sterfling onskuldig wees?” (15:14).

Dié boodskap was bedoel as ‘n troos aan Job, hoewel ‘n mens natuurlik wonder, soos ek vroeër geskryf het, of hierdie gesig nie ‘n bose oorsprong gehad het nie vanweë die hopelose inhoud daarvan nie.

Elifas se hoogmoed en selfversekerdheid moet ‘n mens baie versigtig maak vir die gewig wat jyself aan jou eie woorde heg wanneer jy met ander in gesprek is. Dit is asof Elifas moeilik ‘n onderskeid tref tussen sy woorde en dié van God – en dit is altyd ‘n resep vir rampspoedige raad.

Goddeloses kry hulle verdiende loon – 15:17-35

Elifas gaan voort om sy verstaansraamwerk oor wat met goddeloses gebeur met Job te deel.  Dit kom uit sy eie ervaring, maar ook gerugsteun deur die woorde van die wyses.  Hy gebruik die metafoor van ‘n enkele goddelose individu wat duidelik – in sy verstaan – op Job van toepassing gemaak kan word.

Die goddelose word sy hele lewe lank deur angs geteister, hy verval onder rowers, hy word kos vir die aasvoëls, en swaarkry en lyding storm op hom af.  Hoekom?  Want hy daag God uit en verset hom teen die Almagtige. Hy is oormoedig in sy interaksie met God.

Die goddelose se uiteinde sal verwoesting wees: die verwoesting van sy stede en huise, sy rykdom en besittings, sy eie dood sowel as die dood van sy nakomelinge, en sy woorde verdwyn in die wind.  ‘n Grusame werklikheid (vgl. Ps. 73) wat egter op gruwelike wyse op die verkeerde persoon van toepassing gemaak word.

Ironies genoeg gee dié prentjie eintlik vir Job troos, want dit is inderdaad juis nie hoe hy is nie.  Dit gee daarby vir hom verdere skietgoed in sy verdediging van homself en sy vroomheid, soos ons in die volgende hoofstuk gaan sien, want dit is nie hy wat só kwaad is nie, maar God self (16:9)!  En hy het eers rustig gelewe, vóórdat die Here van hom ‘n teiken gemaak het (16:12).  Hy kon dus nie goddeloos gewees het nie.  Die vraag is egter steeds, wat is dan fout?  Elifas help hom dus regtig nie verder om die Here se werkinge met hom te begryp nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Job


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda