Job 33 – Elihu 1: God hoef nie rekenskap aan jou te gee nie

Elihu begin sy eerste toespraak met ‘n bevestiging van sy eie menswees. Dit gee hom die reg om met Job te mag praat, hoewel dit ‘n gelyke reg is, omdat hy ook maar uit klei gevorm is. Maar vanuit dié posisie wil hy weet hoekom Job dan vir God beskuldig. Hy hoef mos nie rekenskap aan Job te gee nie? (33:1-13).
Elihu brei dan die drie vriende se oorsaak-en-gevolg teologie uit met twee basiese fundamentele beginsels van God se rol in die voorspoed of verlies wat mense ervaar: 1) God spreek die mens aan deur ‘n openbaring om hom te waarsku van ‘n verkeerde koers (33:14-18). 2) God spreek die mens aan deur ernstige siekte dat hy hom tot God kan wend om deur vergifnis weer gesondheid te kan ervaar (33:19-30).
God hoef nie rekenskap aan jou te gee nie – 33:1-13
Elihu begin deur sy status as skepsel van God te erken en te bevestig: “Die Gees van God het my gemaak, die asem van die Almagtige het my die lewe gegee.” (33:4). ‘n Duidelike verwysing na die twee skeppingsverhale, Genesis 1:1 en 2:7.
Aan die een kant bevestig Elihu sy menswees om sy reg om te praat met Job te verdedig: “Voor God is ek en jy gelyk.” Interessant genoeg is hy ook die enigste een van die gesprekgenote wat Job direk op sy naam noem. Die ander – Elifas, Bildad, en Sofar – het dit nie gedoen nie.
Aan die ander kant bevestig Elihu sy menswees om te verklaar dat hy nie uit die hoogte kan of gaan praat nie: “Ook ék is maar net uit klei gevorm.” (33:6). Hy kan nie aanspraak maak op een of ander status of maatstaf wat sy woorde noodwendig van groter of meer belang as die ander s’n gaan maak nie. Daaroor sal ander self moet nadink.
Dit gaan egter nie voorkom dat hy reguit gaan praat en eerlik gaan sê wat hy weet nie. Job moet hom antwoord as hy kan. Elihu wil dit nie vir hom moeilik maak nie, maar Job sal moet verduidelik hoekom hy homself as onskuldig beskou. Elihu dink nie Job sal homself kan handhaaf voor God met só ‘n houding nie: “God is meer as die mens … Hy hoef nie vir jou rekenskap te gee van sy dade nie.” (33:13).
God spreek die mens aan deur ‘n openbaring om hom te waarsku van ‘n verkeerde koers (33:14-18).
Elihu is ernstig daaroor dat God op verskillende maniere met mense praat. Hy openbaar Homself bv. deur ‘n droom of ‘n gesig in die nag, veral oor die koers wat mense se lewens inslaan. Hy doen dit eerstens om mense van verkeerde dade af weg te hou en tweedens om hulle van hoogmoed te weerhou.
God se bedoeling met sy waarskuwings is nie om seer te maak of af te kraak nie, maar tot insig te bring, om mense van die dood te weerhou, die dood sonder Hom. Hy wil niemand laat verlore gaan nie, soos Petrus jare later God se geduld in Christus sou verduidelik: “omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Pet. 3:9). Daar kom natuurlik ‘n dag waarop dit te laat kan wees vir bekering, maar God se intensie is altyd vir genade, so lank as wat dié genadetyd nog beskikbaar is.
God spreek die mens aan deur ernstige siekte dat hy hom tot God kan wend om deur vergifnis weer gesondheid te kan ervaar (33:19-30).
Op dieselfde manier moet ‘n mens oor ernstige siekte dink, sê Elihu. God spreek ook mense aan deur ernstige siekte sodat hulle hulle tot God kan wend om deur vergifnis weer gesondheid te kan ervaar. Al wat nodig is, is ‘n boodskapper (NAV het “engel” – die teks sê egter net boodskapper – dit kan dus ‘n hemelse of ‘n aardse persoon wees), iemand wat as middelaar kan optree, om nie net vir hom te kan pleit by God nie, maar ook by hom te kan pleit vir gehoorsaamheid aan God se wil.
Waar só ‘n persoon se verhouding met God herstel word en hy of sy weer reg leef voor God, dáár het die siekte sy doel gedien en dien dit tot ‘n getuienis van God se genade: “tog het God my nie gestraf soos ek verdien nie.” (33:27).
“Dit alles doen God met die mens, selfs meer as een keer. So keer God die mens weg van die graf af en laat Hy hom weer lewe.” (33:28).
‘n Mens sien Paulus op ‘n soortgelyke manier praat oor God se toorn wat ‘n openbaring is van die koers wat hy afkeur in terme van sedelike onreinheid, skandelike drifte, en onbetaamlike optrede (Rom. 1:18-32). Niemand word van dié waarskuwings uitgesluit nie: “Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade: aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid, gee Hy die ewige lewe; maar aan dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.” (Rom. 2:6-8).
En dan in taal wat eintlik met dié van Elihu ooreenkom, sê Paulus: “Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen … Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen … God trek immers niemand voor nie.” (Rom. 2:9-11).
“So far, so good.” Elihu is nog “spot-on” in terme van sy teologisering. Hy is ook baie meer genuanseerd as die drie vriende, ten spyte van sy jonkheid. Die probleem gaan kom met sy ontleding van Job se situasie, wanneer hy sy uitsprake oor God se bedoeling omdraai, en uit die lyding en benoudheid wat Job ervaar, sal aflei dat Job inderdaad móés gesondig het … en sy teologie op dieselfde wyse as die drie vriende onbarmhartig en onwys raak.
Dít sal ‘n mens in die volgende hoofstuk met sy tweede toespraak begin sien wanneer hy Job aanraai om die saak met die Here uit te maak, deur te sê: “ek sal nie weer oortree nie.” (34:31). En sy oordeel oor Job raak net so skerp soos die drie vriende s’n as hy in die vierde toespraak sê: “Moet ook nie jou toevlug neem tot sonde nie, jy verkies dit immers bo swaarkry.” (36:21).
Elihu sluit af met ‘n halwe uitnodiging aan Job om te praat, want eintlik wil hy hê dat Job net moet stilbly dat Elihu sy sê kan klaar sê. Hy praat dus vir Job eintlik dood: “Maar as jy niks het om te sê nie, luister na my, bly stil, laat ek jou leer wat wysheid is.” (33:33).
View all posts in this series
- Ons lees die boek Job van 12 Januarie af - December 29, 2015
- Inleiding op die boek Job - January 12, 2016
- Die boodskap van Job
- Job handel oor die vraag na regverdigheid
- Job handel ook oor die vraag na vroomheid
- Job deurbreek ‘n eenvoudige oorsaak-en-gevolg teologie
- Job is ‘n voorbeeld van volharding en gebed
- Ander verwante verhale
- Indeling van die boek Job
- Lees, luister, leef
- Job 1 – Sal Job vroom bly, al word hy sonder rede geruïneer? - January 13, 2016
- Job 2 – Job bly vroom, al word hy sonder rede geruïneer - January 14, 2016
- Job 3 – Job vervloek sy geboortedag - January 15, 2016
- Job 4:1-5:1 – Elifas: Gee jou vroomheid jou geen hoop nie? - January 18, 2016
- Job 5:2-27 – Elifas: Dit gaan goed met die mens wat deur God tereggewys word
- Job 6 – Julle beskou medelye met ‘n vriend as ‘n las - January 20, 2016
- Job 7 – In my bittere beproewing soek ek vergifnis
- Job 8 – Bildad: Teenspoed beteken God se afkeur en voorspoed sy goedkeuring - January 22, 2016
- Job 9 – Waarom pynig die Here my sonder dat ek dit verdien? - January 25, 2016
- Job 10 – Maak aan my bekend waarom U hierdie stryd teen my voer
- Job 11 – Sofar: As jy jou verstand reg gebruik, sal jy jou kop sonder skaamte kan oplig - January 27, 2016
- Oorsig oor die eerste gespreksrondte – Job 3-11 - January 28, 2016
- Job 12:1-13:19 – Bly liewer stil, ek wil met die Here praat - January 29, 2016
- Job 13:20-14:22 – As ‘n mens sterf, sal hy weer lewe? - February 1, 2016
- Job 15 – Elifas: Jou swaarkry en lyding bewys dat jy goddeloos is - February 2, 2016
- Job 16 – Verander van Vyand in Vriend - February 3, 2016
- Job 17 – Wees tog vir my ‘n borg, o God!
- Job 18 – Bildad: Die onheil wag jou gretig in, omdat jy God nie erken nie - February 5, 2016
- Job 19 – Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer! - February 8, 2016
- Job 20 – Sofar: Terwyl jy jou nog so vol eet, laat God sy woede oor jou losbreek - February 9, 2016
- Oorsig oor die tweede gespreksrondte – Job 12-20 - February 10, 2016
- Job 21 – Waarom bly die goddeloses aan die lewe?
- Job 22 – Elifas: Jy was onregverdig en onbarmhartig, daarom gaan jy onder - February 11, 2016
- ‘n Paar opmerkings oor ‘n moontlike ander lees van hfst. 24-27 - February 12, 2016
- Job 23 – My soeke na God is vrugteloos en maak my vreesbevange - February 15, 2016
- Job 24 – Waarom reken die Almagtige nie in hierdie lewe af met onregverdiges nie? - February 16, 2016
- Job 25 – Bildad: God is groter as jy!
- Job 26 – Met wie se hulp het jy gepraat? - February 17, 2016
- Job 27 – So lank ek lewe, sal ek niks verkeerd sê nie - February 18, 2016
- ‘n Oorsig oor die derde gespreksrondte – Job 21-27 - February 19, 2016
- Job 28 – Om die Here te dien, is wysheid; om die kwaad te vermy, is insig - February 22, 2016
- Bydraes hervat weer Donderdag - February 23, 2016
- Job 29 – Die beste jare van my lewe was as vertroueling van God - February 25, 2016
- Job 30 – Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie - February 26, 2016
- Job 31 – Ek bly verbind tot vroomheid - February 27, 2016
- Oorsig oor die gesprek van Elihu met Job en sy drie vriende – Job 32-37
- Job 32 – Elihu: My gees dwing my om te praat - February 28, 2016
- Job 33 – Elihu 1: God hoef nie rekenskap aan jou te gee nie - February 29, 2016
- Job 34 – Elihu 2: God doen niks verkeerd nie! - March 3, 2016
- Job 35 – Elihu 3: Jou vroomheid is onder verdenking - March 4, 2016
- Job 36-37 – Elihu 4: God se grootheid nooi ons uit om Hom te dien - March 5, 2016
- Job 38-39 – Wie is dit wat my bedoelinge dwarsboom? - March 7, 2016
- Job 40-42:6 – Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie - March 8, 2016
- Job 42:7-17 – Die Here verander die omstandighede van Job
- Gesprek met God bring bevryding - June 8, 2020
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar