Skip to main content

Die toekoms van Bybelskool.com

Bybelskool.com bydrae grafika
Bybelskool.com bydrae

Ek het 15 Oktober 2008 begin met die deurlees van die Bybel in ons gemeente, NGK Somerstrand.  Na sewe en ‘n half jaar nader ek nou die eindpunt van die projek.  Daar is 13 hoofstukke van Job oor, soos julle goed weet!  Op 9 Maart 2016 DV bereik ek dus die eindpunt.  Daardie aand lees ons die laaste van die 1189 hoofstukke van die Bybel in die gemeente.

Uiteraard hoop ek dat ek dit sal regkry; dat die Here my enduit sal neem!  Die pas is vinnig met ‘n hele aantal dinge wat my aandag verg.  Maar, ek is ongelooflik dankbaar.

  1. Een, dat die gemeente dit saam met my gedoen het.  Ons behoort aan ‘n kosbare gemeenskap.
  2. Twee, dat die Here my deur die dik en die dun van die leeswerk gelei het. Ek het ongelooflik baie geleer.  Die proses van luister en leef het my verder gevorm om die mens te word wat die Here van my gemaak het.
  3. Drie, dat jy, waar jy ook al in die wêreld jou bevind, die pad saam met my geloop het, hoe kort of hoe lank dit ook al is/was.  Ons is ‘n gemeenskap van meer as 1300 ingeskrewenes: van China af in die ooste regdeur Europa tot in Amerika in die weste, van Australië en Nieu-Zeeland regdeur tot in Afrika, en ‘n hele paar ander plekke!  Ek waardeer elkeen se bybly en meelewing.

Ek moet binnekort ‘n besluit neem oor die toekoms van Bybelskool.com.

  1. Sommige van my gemeentemense wil hê dat ek die sewe boeke wat nog nie op die web is nie (Genesis tot Rigters), moet aanpak saam met hulle, om die projek ook vir die meer as ‘n duisend driehonderd ingeskrewenes op die Internet te voltooi. Dit was ook aanvanklik my gedagte.  Ek sal graag wil hoor by julle of dit van waarde sou wees?
  2. Ek is egter ook oop vir suggesties uit die gemeente dat ons Woensdae in ‘n gebedsgeleentheid vir die gemeente verander, of dat ons soms fokus op leer en aktuele sake, of dat ons van tyd tot tyd kort kursusse aanbied: Alfa, Alfa Huwelikskursus, Immergroen Ouerskap, Tall Trees, Ontdek-jou-gawes ensomeer.  Dit sal uiteraard my betrokkenheid by Bybelskool.com beperk tot die antwoord van vrae, publikasies ensomeer.  Ek sou die leeswerk wat ek in die gemeente gedoen het rondom Genesis tot Rigters – voor ek met Samuel dit ook op die web begin plaas het – ook net onverwerk op die web kon plaas vir dié wat daarin belang sou stel.

Julle is welkom om saam te dink en bid daaroor.  Ek is ongelooflik dankbaar. Psalm 27:4 bly my by: Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here.” (OAV).

En julle weet wat dié vers vir my beteken as julle die motto van die Bybelskool in herinnering roep: Die Woord is ‘n huis om in te woon.  Soli Deo Gloria.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar